Sake voortspruitend: ’n Reaksie op Michael le Cordeur se hervormingstrategie vir die Afrikaans-skoolkurrikulum

  • 1

Gerhard van Huyssteen (bo; foto: Twitter) en Michael le Cordeur (onder; foto: verskaf)

1. Inleiding

In Michael le Cordeur se bydrae tot LitNet se SA Skoleseminaar, getiteld “’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum”, bied hy ’n viervoudige strategie (met enkele aksiestappe) aan, saam met ’n sestal aspekte/vrae wat in hierdie strategie aandag moet ontvang. In die slotparagraaf maak hy dit duidelik wat die doel van so ’n strategie sou wees:

Die insluiting van Kaaps kan tot voordeel strek van Afrikaans: Nie net skep dit geleentheid om die verdeeldheid van die verlede te heel nie, dit sal ook bydra om die volle potensiaal van elke leerder te ontsluit soos deur die Grondwet van Suid-Afrika voorgeskryf.

Ek is opgewonde oor Le Cordeur se artikel, sy voorstelle en sy vrae. Dit smaak my na iets konkreets, iets waarmee ons met pen en papier om ’n tafel kan gaan sit en begin konkrete planne maak, begrotings opstel, werk uitdeel, hand aan die ploeg slaan. En Le Cordeur sit baie netjies vir ons ’n paar konkrete agendapunte op die tafel. (Dankie daarvoor, Michael!)

Boonop is hierdie agenda besonder tydig, gesien vanuit die werksagenda van die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), onder andere om twee baie praktiese redes:

  1. Sedert die publikasie van die jongste Afrikaanse woordelys en spelreëls in 2017 (AWS11) het die Taalkommissie hard gewerk om die woordelysgedeelte te omtower in iets wat makliker leesbaar en toegankliker vir leerders (en volwasse gebruikers) moet wees. En vanaf die begin van 2020 is ons besig om die hele reëlgedeelte op die kop te keer: Wat kort, wat hoort waar, wat hoort nie daar nie, wat kan makliker gemaak word, ens? By ons pas afgelope vergadering in Augustus het ons aan eerste konsephoofstukke begin skaaf en skryf. Die tafel lê dus gedek vir enige voorstelle, alternatiewe, vernuwings. Soos die SABC sou sê: Ke nako!
  2. In Junie vanjaar het die TK ’n besluit geneem om die werkswyse van die TK drasties te verander. Sommige van Le Cordeur se voorstelle sal baie netjies en selfs maklik by die nuwe plan geïnkorporeer kon word. Die tyd is dus ook ryp om anders oor die TK te dink.

Die doel van my bydrae is om ook konkreet en konstruktief tot hierdie gesprek by te dra – ’n gesprek waarvan ek weet dat dit vele individue en organisasies, waaronder die Afrikaanse Taalraad (ATR), die SAAWK en die DAK Netwerk, na aan die hart lê. Ek beperk my in hierdie bydrae egter tot Le Cordeur se agendapunte deur op enkele van sy teses, voorstelle en vrae voort te borduur. Uiteindelik wil ek hiermee meehelp om die agenda vir opvolggesprekke konkreter te maak en veral ook om ’n praktiese werkplan te help beraam.

Ek skryf hier vanuit my eie persoonlike perspektief en ervaring as taalkundige aan die Noordwes-Universiteit. Ek is egter ook ’n lid van die TK; waar ek namens die TK praat, dui ek dit telkens eksplisiet aan. Geen van die standpunte in hierdie bydrae moet egter aan die moederliggaam, die SAAWK, toegedig word nie.

Die feit dat ek ’n wit, middeljarige noorderling is, diskwalifiseer my waarskynlik in sommige mense se oë om enigsins aan die gesprek te mag deelneem. Ek is maar alte bewus hiervan en probeer dus sensitief daarvoor wees om myself – en die TK – dikwels ’n bietjie meer op die agtergrond te hou. Wanneer daar spesifiek oor kodifisering (oftewel normering en standaardisering) gepraat word, hoop ek egter dat die TK se kollektiewe ervaring van praktiese nut kan wees.

 

2. Le Cordeur se voorstelle binne ’n groter konteks

In haar 2012-proefskrif, Die herstandaardisering van Afrikaans: ’n praktiese benadering met die AWS as gevallestudie, bied Gerda Odendaal ’n visuele voorstelling van haar voorgestelde herstandaardiseringsmodel aan (bl 462), soos in Figuur 1 gerepliseer. Dié model gee vir ons ’n lekker kapstok waaraan ons Le Cordeur se voorstelle en die res van die bespreking in hierdie bydrae kan hang. Volgens my interpretasie het Le Cordeur se strategie en voorstelle veral te make met die twee interafhanklike taalbeplanningsprosesse statusbeplanning en korpusbeplanning (in die figuur aangedui), wat Odendaal (2012:473, 476) só opsom:

Die statusbeplanningsfase, wat bestaan uit die seleksie van aktiwiteite en funksieontwikkeling, het ten doel om die variëteit(e) te identifiseer wat moet deel uitmaak van die beoogde nuwe standaard en om dan die status van hierdie variëteit(e) te verhoog deur dit in die gebruiksdomeine bekend te stel wat deur die bestaande standaard beset word. ... Die korpusbeplanningsfase is dié fase van herstandaardisering waartydens die vorm van die bestaande standaard verander word ... na aanleiding van die eise wat aan die nuwe standaard gestel word deur die konteks waarin dit moet funksioneer ..., asook die tekortkominge en winste wat in die bestaande standaard bestaan ...

Figuur 1. Odendaal (2012:462) se herstandaardiseringsmodel

In Tabel 1 interpreteer ek Le Cordeur se strategie, aksiestappe en enkele aspekte/vrae opsommenderwys. Ek haal hom telkens verbatim aan, maar verkort van sy formulerings ter wille van oorsigtelikheid, breek komplekse punte in kleiner dele op, en bring verskillende strategieë en aspekte met mekaar in verband soos ek dit lees en verstaan.

Ek hou my graag by my lees: Ek gee slegs aandag aan die sake onder “Taalleer” en/of sake waar die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) ter sprake is. Ek beperk my dus eintlik tot slegs een deeltjie van Odendaal se herstandaardiseringsmodel, te wete kodifisering, hoewel ek aan die einde sal raak-raak aan implementering.

Tabel 1. Opsomming en interpretasie van Le Cordeur (2020) se strategie

Klik op die tabel vir ’n groter weergawe.

 

3. Oor die doelstelling en skopus

Met Le Cordeur se doel met die strategie is ek dit volledig en heelhartig eens: Ons moet brûe bou, en alle planne (talig, ekonomies, sosiaal, noem maar op) moet gerig wees op ’n beter toekoms vir ons kinders. Beide hierdie beginsels is nie bloot teoreties nie, maar bied juis ook eintlik praktiese meetsnoere. Want vir elke plan wat jy maak, moet jy vra:

  • Hoe gaan dit help om brûe te bou?
  • Hoe gaan dit bydra tot ’n beter toekoms vir Suid-Afrika se kinders?

In die res van hierdie afdeling wil ek graag enkele algemene punte oprakel met betrekking tot die skopus wat gestel word in Le Cordeur se inleidende sin: “Die insluiting van Kaaps kan tot voordeel strek van Afrikaans.”

3.1 “Kaaps”

Die eerste punt is vir my die belangrikste vraag wat eintlik alles geld wat Le Cordeur voorstel: Waarom slegs Kaaps? Waarom nie liewer ál die gebruikersvariëteite van Afrikaans nie? Waarom nie én Kaaps, én Gariepafrikaans, én Boelands, én Krooafrikaans, én Namakwalands, én KwaZulu-Natalse Afrikaans nie, om maar net ’n paar te noem?

Ek vermoed my vraag spruit dalk daaruit dat ek en Le Cordeur (en moontlik ’n klomp ander mense) nie noodwendig dieselfde definisie van Kaaps deel nie. As ek byvoorbeeld kyk na statistiek wat hy aanbied in ’n 2015-artikel wat in Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het, dat Kaaps “die moedertaal is van ongeveer 2,5 miljoen leerders, oftewel ’n groep gesinne in die Wes-Kaap wat in totaal 3,3 miljoen beloop”, vermoed ek dat sy siening ooreenstem met die siening van onder andere Fritz Ponelis (1987) en Theuns Botha (1989) dat Kaapse Afrikaans sinonimies is met Suidwestelike Afrikaans en dat hy dus Boelands, Kaapse Moesliemafrikaans, Overbergafrikaans, en so meer onder die benoemer Kaaps insluit.

Synde geen sosiolinguis nie, skaar ek my veiligheidshalwe by die definisie van Frank Hendricks in Kaaps in Fokus (2016) waar hy sê:

... Kaaps [is] dus variasietaalkundig te bestempel as ’n variëteit van die dialekbundel Suidwestelike Afrikaans, wat as vorm van Omgangsafrikaans histories teruggryp na die sewentiende-eeuse invloed van slawe op die vorming van Afrikaans, wat tans grootliks manifesteer as ’n sosiolek wat met die werkersklas van die Kaapse Skiereiland geassosieer word, en wat in terme van sy dominante sprekerskorps as Afrikaanse kleurvariëteit getipeer kan word.

Ek vermoed Christo van der Rheede hou hom ook by hierdie definisie van Hendricks, want in sy bydrae in Kaaps in Fokus (2016) skat hy die grootte van die taalgemeenskap van Kaaps op ongeveer 700 000, met die grootste konsentrasie van sprekers van Kaaps in Mitchells Plain en Blue Downs.

Of dit nou 700 000 of 3,3 miljoen mense is, is nie werklik belangrik vir die argument nie. Waaroor dit gaan, is dat hierdie uiteenlopende getalle illustreer dat daar dalk nie eenstemmigheid is oor wat die definisie van Kaaps is nie. As ons nie iewers ’n gedeelde verstaan kry nie, gaan mense die hele tyd bymekaar verby praat. En dit geld nie net taalbenamings en terminologie nie, maar ook ’n gedeelde verstaan van die geskiedenis.

Ek sou dus graag die volgende punt op die agenda van toekomstige gesprekke wou plaas: Definisie en omlyning van variëteitsbenamings (spesifiek Kaaps).

3.2 “Die insluiting van ...”

Variasietaalkunde (oftewel sosiolinguistiek) is een van die jongste velde in die taalkunde. Dit was eers in die 1960’s dat internasionale taalkundiges programmaties na taalverskeidenheid begin kyk het. Die tendens het eers in die laat 1970’s, vroeë 1980’s in Suid-Afrika en Afrikaans posgevat. Dat daar dus sedert die 1980’s groter belangstelling in en erkenning van Afrikaanse variëteite was, strook nie net met internasionale taalkundetendense nie, maar ook met die tydsgees wat rap aan die verander was in Suid-Afrika.

Dié tendense het ook in die werksaamhede van die TK gestalte gevind. Enkele voorbeelde ter stawing:

  • Sedert die 1980’s het variasietaalkundiges soos Christo van Rensburg, Hans du Plessis en Fritz Ponelis in die TK gedien, en hulle het júis doelbewuste pogings aangewend om die standaardiseringsproses oper te maak.
  • In AWS8 (1991) word “spesiale aandag gegee aan die weergawe van Afrikaans van woorde wat aan Afrikatale ontleen is” (bl 2).
  • Vir die eerste keer in die geskiedenis van die AWS verskyn “Nederlands” nie meer in die formulering van die grondbeginsels van die spelreëls in AWS8 (1991) nie – die overtste teken van die einde van die sogenaamde vernederlandsingsfase van Standaardafrikaans.
  • Vir AWS9 (2002) word hierdie tendens voortgesit deur onder andere Van Rensburg, Du Plessis en Ernst Kotzé, maar nou ook vir die eerste keer deur twee bruin TK-lede, Tony Links en Larry Pokpas.
  • Taalgebruikskundiges soos Anton Prinsloo (en ander) sorg daarvoor dat ’n lys van informele, vernakulêre Afrikaans (kyk Du Plessis 1987; Hendricks 2016) ingesluit word in AWS9.
  • In AWS10 (2009) verskyn ’n groot klomp woorde uit veral Kaapse Moesliemafrikaans vir die eerste keer in die AWS, terwyl Elvis Saal as TK-lid spesifiek gevra word om meer woorde uit die verskillende bruin gemeenskappe vir opname voor te stel.
  • Vir AWS11 (2017) het die TK ’n grootskeepse poging aangewend om hordes woorde uit ál Afrikaans se variëteite in te sluit – ’n poging wat sterk aangedryf is deur Frank Hendricks as ondervoorsitter van die TK.

Dit is en was dus vir minstens die afgelope 30 jaar die standpunt van die TK dat Standaardafrikaans gevoed word deur ál die gebruikers- en gebruiksvariëteite. Hierdie standpunt word só verwoord in AWS11 (2017:v):

Standaardafrikaans is die dinamiese, lewende produk van kontak tussen die verskillende variëteite wat in die Afrikaanse taalgemeenskap in den brede gebruik word. Die Taalkommissie moedig daarom die ontwikkeling en gebruik van al die variëteite van Afrikaans in verskillende kontekste aan, aangesien die standaardtaalvorm juis gevoed en op die lange duur verander en gewysig word deur ontwikkelinge en aanpassings in sy onderbou.

Ek probeer hiermee slegs aandui dat die wiel darem al vir meer as 30 jaar besig is om te draai, ten minste dan in die TK se werksaamhede. Terselfdertyd respekteer ek Le Cordeur se siening en is dit ten volle daarmee eens dat dit alles seer sekerlik nie genoeg was nie, dat meer pogings aangewend kon gewees het, dat daar met meer deernis en uitreiking opgetree kon gewees het. En daarvoor kan ’n mens natuurlik nooit genoeg om verskoning vra nie.

Laat ons nie nou weer die foute herhaal nie.

Om in die standaardiseringsproses slegs een spesifieke variëteit uit te sonder vir insluiting, sou volgens die TK ’n onreg doen aan die gebruikers van ander variëteite. Dit is so dat standaardisering in ander tale van die wêreld (waaronder Italiaans, Spaans, Nederlands, Frans, Zoeloe en Xhosa) oor die eeue heen aangedryf word deur die sprekers van die variëteit met die meeste mag, met die dikste stem, met geld (kyk onder andere Van der Horst 2008). Dit was ook so met betrekking tot Afrikaans. Die afgelope paar jaar sien ons steeds dieselfde tendens, want die luidste stemme in die huidige standaardiseringsgesprek is grotendeels die Kaapse gesaghebbendes: die akademici van die Universiteit van Wes-Kaapland en die Universiteit Stellenbos, skrywers en digters wat in Kaaps skryf, joernaliste wat Kaaps magtig is, politici en besluitnemers in die Wes-Kaap. Dit is uiteraard te verwagte, en niemand hoef verwonderd daaroor op te kyk nie; dis die voorspelbare en normale gang van sake.

Maar al is die natuurlike kragte van (standaard)taalontwikkeling sterk, sou ek tog wou pleit dat ons ten minste doelbewus moet poog om nie wéér gebruikers van ’n klomp variëteite uit te sluit nie. Standaardisering moet inklusief eerder as eksklusief wees – al is dit dan om versugtende versene teen evolusionêre prikkels te slaan.

In plaas van om meer verdeeldheid te skep, moet ons die “geleentheid om die verdeeldheid van die verlede te heel”, soos Le Cordeur voorstel, met al onse hande aangryp.

3.3 Standaardafrikaans naas algemene Afrikaans

Ek sou ook graag wou pleit dat ons wegdoen met die terme Standaardafrikaans, standaardtaal en standaardisering. Hierdie terme het nou ver genoeg op Steven Pinker (2003) se eufemismetrapmeul gevorder dat ons kan sê dit is gelade terme wat liefs met iets nuuts, iets hedendaags vervang kan word. Nederlandse gebruikers het in die 1960’s sterk begin voel dat die term Algemeen Beschaafd Nederlands (ABN) agterhaal is omdat dit sou suggereer dat mense wat nie ABN magtig is nie, “onbeskaafd” is. Dit het toe plek gemaak vir Standaardnederlands (Van der Sijs 2004).

Die term Standaardafrikaans het dieselfde pad geloop, soos Hein Willemse omvattend bespreek in sy 2011 stuk “Om ’n veelkantiger Afrikaans te bedink”. Kort voor lank het ook dié term vir sommige gebruikers ’n geurtjie begin kry: Wat nie standaardtaal is nie, is nie “op standaard” nie, en dit kan dan deur ’n handjievol oningeligtes as minderwaardig beskou word. Boonop word Standaardafrikaans deur sommige mense verkeerdelik gelyk gestel aan Afrikaans, of word Standaardafrikaans (verkeerdelik) as ’n gebruikersvariëteit eerder as ’n gebruiksvariëteit gesien (kyk ook Kotzé 2014). Dit alles het tot gevolg dat die term Standaardafrikaans nie meer as term deug nie.

Ek bepleit die afgelope paar jaar al dat ons eerder van algemene Afrikaans (met kleinletter en al, asseblief tog) as van Standaardafrikaans moet praat. Op Taalportaal definieer ons dit só:

General Afrikaans is that form of Afrikaans that all Afrikaans speakers/writers, to a greater or lesser extent, have in common. Some of the manners of speaking/writing might be more common in certain groups or communities than in others, but are nonetheless generally understandable and/or recognisable in the larger Afrikaans community. It is therefore the most widespread and unmarked form of Afrikaans. (Van Huyssteen 2020)

Om dit konkreet te maak: Die Afrikaans wat ek en jy elke dag in die media lees, oor die radio hoor, of op televisie sien en hoor, is algemene Afrikaans. Algemene Afrikaans is die Afrikaans wat professionele taalgebruikers elke dag in die openbaar gebruik. Dis die Afrikaans wat gepraat word deur mense wat aangestel word as joernaliste, teksredakteurs, vertalers, omroepers, aanbieders, nuuslesers en akteurs; dis die Afrikaans van sangers, digters, romansiers, dramaturge, podsenders, vloggers en bloggers; die Afrikaans van opinievormers wat uitgenooi word om op TV te verskyn, oor die radio ’n opinie te lug, vir ’n tydskrif iets te skryf. In kort, dit is die Afrikaans wat in die hoofstroom gebruik word; soos Kotzé dit al in 2011 genoem het: Hoofstroomafrikaans.

Die implikasie hiervan?

Soos wat die demografie van die mense in die openbare media verander, so bly algemene Afrikaans organies verander en groei. Soos wat Afrikaans se hoofstroomfunksies verander, so verander algemene Afrikaans. Niks meer g’n niks se “geïdealiseerde taalvorm” wat iewers uitgedink word nie, maar eerder ’n konkrete, meetbare en beskryfbare vorm van die taal wat in skole onderrig kan word.

Om te “standaardiseer” word dan om hierdie algemenetaalvariëteit te kodifiseer of te beskryf; normering is nie meer iets wat van bo na onder plaasvind nie, maar is eintlik gewoon die vestiging van konstruksies deur herhaalde gebruik. (Kyk Tabel 2.)

In die res van hierdie artikel gebruik ek die term algemene Afrikaans; wie dit behaag, mag dit al lesende met Standaardafrikaans vervang, maar moet asseblief in ag hou dat ek eintlik iets anders bedoel. Let daarop dat die TK ook steeds die terme standaardiseer en Standaardafrikaans gebruik.

Tabel 2. Nuwe terme

Ou term

Nuwe term

Standaardafrikaans

algemene Afrikaans (ook Hoofstroomafrikaans)

standaardtaal

algemene taal

standaardtaalvariëteit

algemenetaalvariëteit

standaardiseer

kodifiseer/beskryf algemene variëteit

standaardisering

kodifisering/beskrywing van algemene variëteit

normeer

vestig

normering

vestiging

 

Dit hoef nie veel ingewikkelder as dit te wees nie. In ’n skoolkurrikulum moet leerders bewus gemaak word van die feit dat daar ’n algemene vorm van Afrikaans is wat verstaanbaar onder die grootste deel van die taalgemeenskap sal wees en dat jy daardie vorm liefs sal gebruik as jy met ’n groot groep (onbekende) mense praat, soos byvoorbeeld oor die radio.

En dan moet hulle leer dat daar verskeie gebruiksvariëteite van Afrikaans is, waaronder formele variëteite soos Kanselafrikaans en Regsafrikaans. Jy sal waarskynlik ’n formele gebruiksvariëteit gebruik as jy ’n werks-e-pos vir iemand stuur, of as jy ’n wetenskaplike artikel skryf, of as jy ’n instruksiehandleiding vir jou medewerkers opstel.

En dan is daar gebruikersvariëteite van Afrikaans wat jy byvoorbeeld kwistig en kreatief kan gebruik – in essays en blogs, in romans en gedigte, op Snapchat en Instagram. En hulle moet leer dat hierdie vernakulêre die boustene van Afrikaans is, die grondstof of rou materiaal waarmee jy so baie kan vermag as jy weet hoe om dit effektief aan te wend. En hulle moet veral leer dat die een nie belangriker as die ander ene is nie.

In kort: Laat die leerders leer van taal, van algemene Afrikaans en van Afrikaans se gebruiks- en gebruikersvariëteite. (Kyk hieroor ook Kotzé se 2014-artikel “Afrikaans as besitting, en die vraagstuk van herstandaardisering”.) Die een moenie ten koste van die ander wees nie, want dan leer hulle nooit die volle prentjie van wat taal eintlik is en kan doen nie. Of erger, dan leer hulle nooit om respek vir ander mense se eiesoortige tongval te hê nie.

Ek sou dus graag die volgende vrae op die agenda wou plaas:

  • Hoe kan ons in die skoolkurrikulum kennis oor en sensitiwiteit vir Afrikaans se gebruiks- en gebruikersvariëteite kweek?
  • Hoe lyk die algemenetaalvariëteit wat in skole onderrig word vir gebruik in formeler kontekste?

Die tweede vraag kom in meer besonderhede in afdeling 5.3 hier onder aan bod.

3.4 “tot voordeel van Afrikaans”

My laaste opmerking oor Le Cordeur se doelstelling het maar eintlik net te make met ’n klippie in my eie skoen. Ek hou maar net nie daarvan as ’n mens iets “ter wille van die Taal” doen nie, want dan raak dit so maklik ’n emosionele warboel. Wat persoon A “ter wille van Afrikaans” doen, word deur persoon B gesien as iets wat juis die taal tot nadeel strek, en omgekeerd. Dit lei boonop tot die – misplaaste – metafoor dat Afrikaans ’n siestoggies nooientjie in ’n nartjie is wat deur al wat ’n berede held is, beskerm en verdedig moet word. Wat dan gewoonlik weer lei tot ’n klomp vergrype in die Naam van die Taal ...

Nee, enige taal is en bly ’n funksionele middel wat deur mense gebruik word om ’n bepaalde doel te bereik – niks meer nie, niks minder nie. So gesien moet ’n mens nie planne beraam en strategieë hê om Afrikaans tot voordeel te wees nie, maar eerder om Afrikaanssprekendes tot voordeel te wees.

3.5  Samevattend

Bostaande in ag genome sou ek dus graag wou voorstel dat ons liewer ons doelstelling só herformuleer:

Die insluiting van al Afrikaans se variëteite kan tot voordeel strek van alle Afrikaanssprekendes: Nie net skep dit geleentheid om die verdeeldheid van die verlede te heel nie, dit sal ook bydra om die volle potensiaal van elke leerder te ontsluit soos deur die Grondwet van Suid-Afrika voorgeskryf.

Die drie agendapunte wat ek voorgestel het, hark ek weer in afdeling 6 saam met ander agendapunte bymekaar. Vervolgens gee ek eers aandag aan daardie strategieë en aksieplanne van Le Cordeur wat van toepassing is op die AWS, soos in Tabel 1 opgesom.

 

4. Die AWS

4.1 Kaapse woorde wat reeds in die AWS opgeneem is

Le Cordeur sê dat daardie Kaapse woorde wat reeds in die AWS opgeneem is, ter wille van eenvormigheid so gehou moet word – spelling, betekenis en al. Dit is aan die een kant ’n goeie idee, want dan was die vooruitgang wat al gemaak is, nie verniet gewees nie. Aan die ander kant moet ’n mens wel oorweeg of dit wenslik is, gegewe die feit dat die besluite van die TK soms onder skoot kom van sommige Kaapse sprekers.

In Son op Sondag van 6 Augustus 2017, in die artikel “Dit gons nou oor die ‘AWS’”, berig Eldridge Jason byvoorbeeld dat ’n groep bruin akademici verontwaardig is oor die Kaapse woorde wat in AWS11 opgeneem is. Aangesien die skakel nie meer op die webwerf aktief is nie, moet ek my op my geheue verlaat, maar sover ek kan onthou, het dit veral gegaan oor die woorde Sabela (taalbenaming), sabela (werkwoord) en skanghagha. Die aanklag teen die TK was dat slegs “negatiewe” woorde, wat met tronk- en bendetaal geassosieer word, in die AWS opgeneem is.

Voor die berig geplaas is, het ek op Vrydag 4 Augustus 2017 in ’n lang telefoniese onderhoud aan Eldridge Jason verduidelik en gemotiveer waarom dié woorde – naas hordes ander woorde uit ál Afrikaans se variëteite – in AWS11 opgeneem is. Dié perspektiewe het egter nooit die berig van 6 Augustus 2017 gehaal nie, en ek het daarom op 6 Augustus by Son Koerant op Facebook die volgende reaksie namens die TK geplaas (hier met enkele redaksionele wysigings):

  • Alle woorde wat in die AWS opgeneem word, moet aan sekere vereistes voldoen (kyk ble vi-vii in die AWS). Een daarvan is dat dit potensiële spellingprobleme moet oplewer. In Sabela/sabela se geval is daar ’n hoofletterkwessie: Die taalbenaming word met ’n hoofletter geskryf; die werkwoord met ’n kleinletter. En gebruikers kan sekerlik ook wonder of dit met ’n kappie-e geskryf moet word, ensovoorts. Ek dink skanghagha se potensiële spelprobleem spreek vanself. Dit is dus die hoofredes waarom die woorde oorweeg en opgeneem is.
  • Vervolgens moet woorde aan bepaalde maatstawwe voldoen (kyk bl x in die AWS). Hieronder val onder andere dat dit:
    • met ’n hoë frekwensie moet voorkom
    • wyd bekend moet wees (nie net in een gemeenskap nie)
    • in ander bronne opgeteken moet wees
    • ’n unieke benoemer kan wees
    • nie aanstootgewend moet wees nie
    • (’n Woord hoef nie aan ál die kriteria te voldoen nie.)

Op grond van ons uitvoerige navorsing oor hierdie twee woorde (en al die ander wat opgeneem is), én op grond van die ekspertkennis van prof Frank Hendricks (Universiteit van Wes-Kaapland), is daar besluit dat dié woorde wel aan genoegsame kriteria voldoen om opgeneem te word. (Ek verwys lesers ook graag na die hoofstuk van prof Hendricks in die boek Kaaps in Fokus, 2016.)

  • Ek sluit af met twee uitnodigings:
    • Ek nooi die skrywers/akademici uit om ook graag kommentaar te lewer op talle van die ander variëteitswoorde wat opgeneem is in die AWS. Is woorde soos dhaltjie, antie, mittedjale, kwaailappies, ghoemahare, sterkgevreet, geloof (ww), awê of aweh, bra‘s of brasse, groos, vaaldag, rooidag, sibbie of siebie, onlekker, berk, breyani of brijani – om maar ’n paar te noem – ewe betreurenswaardig? Ons hoor graag van julle!
    • Al vir baie jare lank rig die Taalkommissie op verskeie fora versoeke vir mense om vir ons lyste woorde te stuur wat hulle dink verdien om deel van formele, geskrewe Standaardafrikaans erken te word. Ons het op dié manier al baie woorde uit byvoorbeeld die Moesliemgemeenskap opgeneem, soos ook woorde wat chemici voorgestel het, of woorde uit die sportwêreld. Soos altyd, bly dié uitnodiging staan, want die Taalkommissie wil graag die goeie samewerking met die skrywende gemeenskap voortsit ten einde Afrikaans in sy volle omvang te laat groei.

Nie ek óf die TK het helaas ooit ’n antwoord hierop ontvang nie.

Die punt in hierdie artikel is dus dat Le Cordeur se voorstel om Kaapse woorde te behou wat reeds in die AWS opgeneem is, dalk wel onder skoot kan kom. Dit sal gaaf wees as die sprekersgemeenskap hieroor eensgesindheid kon hê, want dan weet ’n mens om die pad vorentoe met of sonder hierdie woorde te loop.

4.2 ’n Staande komitee van Kaapse kenners

Le Cordeur se voorstel dat ’n staande komitee (SK) bestaande uit kenners van Kaaps ten nouste met die TK moet saamwerk om die lys woorde in die AWS voortdurend aan te vul, is borrelende orrelmusiek in my en die TK se ore. Wat ’n jubelende dag sal dit nie wees nie as ons sulke variëteitskomitees kan hê om sáám met die TK hand aan hand aan ’n woordelys van algemene Afrikaans te werk!

’n Paar addisionele voorstelle, verfynings en opmerkings:

  • So ’n SK (of SK’s) móét ’n voetsoolvlakinisiatief wees, anders trap ons uit die staanspoor klei. As sulke SK’s nou weer deur een of ander Hogere Liggaam benoem en gekonstitueer word, loop ons dalk die gevaar dat ons in legitimiteitslaggate kan trap. Nee, hierdie SK’s moet organies saamgestel word en deur goeie werk in aansien groei.
    • ’n Voorbeeld: As iemand soos Le Cordeur vandag so ’n SK van Kaapse kenners kan saamstel, kan daar môre begin word met die werk, en kan die vrug van hul arbeid oormôre op allerlei plekke gestalte vind, waaronder in die AWS.
    • Idealiter wil ’n mens natuurlik hê so iets moet spontaan in die voorkamer van een van die gesaghebbendes ontstaan. Maar vir konkrete, praktiese doeleindes sou ’n liggaam soos die ATR, SAAWK of DAK Netwerk dalk so ’n SK of SK’s kon saamstel en konstitueer. Dit moet egter met groot omsigtigheid gedoen word.
  • Dit geld uiteraard – vanuit my persoonlike en die TK se perspektief – nie net Kaaps nie, maar ook Weskusafrikaans, Overbergafrikaans, Griekwa-Afrikaans, Boesmanlands, Laeveldafrikaans, Boereworsgordynafrikaans en die hele boksemdais. As ’n wegspring sou dit dalk wel sinnig wees om van hierdie variëteite saam te groepeer in SK’s met ’n wyer skopus (byvoorbeeld per dialekbundel), solank as wat ons nooit toelaat dat ander mense se stemme nie gehoor word nie.
    • ’n Voorbeeld: Iemand soos Le Cordeur sou kon sê: “Kom ons kom uit die wegspringblokke met ’n Suidwes-Kaapse SK van ses mense: twee Kaapse kenners, twee Kaapse Moesliemafrikaanskenners, twee Weskusafrikaanskenners. Kom ons vestig ’n werkswyse en eksperimenteer daarmee. Kom ons brei dan die model so spoedig moontlik uit om ook ander variëteite op dieselfde – of juis op ’n ander – wyse te laat saampraat.”
  • Die beskikbaarheid van finansiering hoef nie ’n beduidende rol te speel nie. Oor die afgelope honderd jaar is TK-lede nog nooit finansieel vergoed vir die werk wat hulle doen nie. Die grootste uitgawe vir die SAAWK was nog altyd sittingskoste (reis, verblyf, kos en vergaderplek), en af en toe vir eksterne mense om ’n spesifieke taak uit te voer (soos toe Christo van Rensburg in 2016/17 betaal is om die geskiedenis van die TK en AWS na te vors).

In Augustus 2020 het die TK vir die eerste keer virtueel vergader sonder dat dit die SAAWK ’n sent gekos het. Vergaderingskoste hoef dus ook nie ’n faktor te wees nie. En sou geld hier en daar ter sprake wees, is ek byna seker dat organisasies soos die ATR, die SAAWK, die DAK Netwerk en ander genader sou kon word om hand in die sak te steek.

  • Die TK (en ek is seker die SAAWK en ander vennote ook, indien dit so verlang word) sal graag alle infrastruktuur en hulpbronne beskikbaar stel vir sulke SK’s. Dit sou byvoorbeeld toegang tot beskikbare korpusse insluit, asook om gebruik te kan maak van die TK se digitaleforumplatform (waar ons onderling opname-, wysigings- en skrappingsvoorstelle bespreek).

Al bostaande sake is uiteraard slegs konkrete voorstelle en vriendelike uitnodigings. As die SK’s (of ’n bepaalde SK) ’n ander werkswyse wil volg, moet dit verwelkom word – solank as wat ons net nou begin om saam-saam skouer aan die wiel te sit. As ons nie met nuwe modelle eksperimenteer nie, gaan ons nooit die voorposte kan verskuif nie.

4.3 ’n Agenda vir die SK’s

Le Cordeur stel al ’n klompie goeie, konkrete agendapunte voor; kyk die laaste kolom in Tabel 1. Ek voeg hierby ’n paar moontlike ander sake:

  • In aansluiting by sy vraag oor watter strategie gevolg moet word om te besluit watter woorde in- of uitgesluit word, kan ’n SK dalk eers ook oorweeg watter veranderinge aan die bestaande werkswyse van die TK aangebring moet word, en spesifiek die seleksiekriteria wat die TK gebruik vir woorde in die AWS. (Kyk bl x in AWS11, asook Van Huyssteen 2017a, en beskrywings van toepassings hiervan in Van Huyssteen 2016, 2017b, 2018a, 2018b). Gesprekvoering hieroor sal natuurlik nie net die SK’s tot voordeel wees nie, maar veral ook die TK en verdere gesprekvoering in die toekoms.
  • Hiermee saam sal daar ernstig gepraat moet word oor die samestelling van korpusse (versamelings elektroniese tekste) van spesifieke variëteite. Sonder sulke hulpbronne bly die werk van ’n TK/SK eintlik maar beperk tot die verwysingsraamwerk en kennisnetwerk van die lede, wat natuurlik weer eens nie die groter doel dien nie.

In dié verband bied ek graag die gratis hulp van die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) aan om te help om tekste in ’n korpusformaat om te skakel. Sowieso kan die dienste en hulpbronne van die South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR) ingespan word om dié taak te ondersteun om ’n databasis van variëteitswoorde saam te stel.

  • ’n Woordelys is egter net een deel van die prentjie: Sonder (aangepaste) skryf- en spelreëls is dit eintlik ’n onbegonne taak. ’n SK sal met ten minste die volgende drie vrae moet afskop:
  1. Watter spelreëls in die AWS is nie van toepassing op algemene Afrikaans nie (met ander woorde, watter reëls moet geskrap word)?
  2. Watter spelreëls in die AWS moet gewysig word om voorsiening te maak vir die spelling en skryfwyse van algemene Afrikaans?
  3. Watter spelreëls moet bygevoeg word om voorsiening te maak vir algemene Afrikaans? Ek gee enkele voorbeelde van tipiese Kaapse verskynsels met voorbeelde uit ’n klein, persoonlike korpussie van Nathan Trantraal se rubrieke in Rapport:
      • [r]-weglating in die spreektaal word dikwels in die geskrewe vorm van variëteite gereflekteer; hier word byvoorbeeld as hie of soms hie’ geskrywe; vir as vi; maar as maa; swart as swat; ens. Geld dit ook die spelling van leenwoorde? Kan government geskryf word as govement? Coloured as colou’ed of col’ed? Abnormal as abnomal?
      • Vokaalverkorting word soms in die spelling gereflekteer (gaan word byvoorbeeld gan), maar ander kere nie – maar word byvoorbeeld maa en nie ma
      • Vokaalverhoging, veral /o/ wat [u] uitgespreek word en /e/ as [i], word gewoonlik in die spelling gereflekteer; soos word byvoorbeeld soes, en weet word wiet.
      • Ontronding is ook welbekend; huis word byvoorbeeld hys, huil-huil word hyl-hyl.
      • Ander algemene verskynsels sluit in nasalering en vokalisering (ons as ôs), assimilasie (op die as oppie; het nie as hettie) en prokopee (het as ‘et). (Dit is opmerklik dat Trantraal glad nie die stereotipiese /j/-affrisering (Hendricks 2016) in sy spelling weergee nie: jy word nié by hom djy nie; jammer word nié djammer)
      • In die AWS word gesê dat samestellings in Afrikaans vas geskryf word; polisie + klopjag word byvoorbeeld geskryf as polisieklopjag. Een van die kenmerke van Kaaps is dat daar heelwat (veral Engelse) leenwoorde in voorkom. Wat dan gemaak met iets soos police + raid? Bly dit police raid, of word dit verafrikaans na policeraid? Of wat gemaak met ’n mengsel, byvoorbeeld middle class + mense: Word dit middle class mense (soos Trantraal dit skryf), middle class-mense, middle classmense, of middleclassmense?
        • Kyk Hendricks (2016) vir ’n omvattende lys verskynsels en voorbeelde uit Kaaps.
  • Voortspruitend uit hierdie drie vrae, sal daar dan ook sonder meer klarigheid oor die volgende kwessies moet kom:
    1. Op watter woorde sou hierdie reëls van toepassing wees? Is dit ’n lys spesifieke woorde, of is dit reëls wat algemeen toegepas kan word, dus ook byvoorbeeld samewekingsoo’eenkôs in plaas van samewerkingsooreenkoms; pesonal in plaas van personal? (My voorbeelde.)
    2. Moet hierdie reëls ander, bestaande reëls in die AWS vervang, sodat slegs byvoorbeeld vi korrek is (en vir dus verkeerd)? Of skep ’n mens reëls om wisselvorme toe te laat, sodat sonne naas sonder, vanni of vannie naas van die, en ammel naas almal as korrek aanvaar word wanneer leerders hulle vraestelle beantwoord?
    3. Hiermee samehangend moet die SK uitvoerig aandag gee aan die belangrike kwessie van leenwoorde: Word regering naas government (of govement) erken, of slegs laasgenoemde? En by Engelse leenwoorde, volg ons die Amerikaanse spelling (organize, soos wat Trantraal dit gebruik), of die Britse spelling (organise, soos wat dit in Suid-Afrikaanse skole aangebied word)?
    4. Geld die reëls (of wisselvormreëls) alle leerders en alle formele kontekste, dus ook wanneer ’n leerder uit Limpopo ’n besigheidstudie- of geografievraestel beantwoord? Kan ’n kind in Polokwane dus ’n antwoord soos die volgende in die eindeksamen skryf?

Daa is twie groups van mense wie nie affected wôd in ienagge significant way during ’n recession ’ie, dai issie exceptionally ryk ennie exceptionally armes.

En soos Le Cordeur tereg ook vra: Gaan die vraag in die vraestel dan net op hierdie wyse gestel word, of ook op ander wyses? En sal die nasienrubrieke dan voorsiening maak vir al die verskillende wyses?

  1. Ook sal ’n SK moet besluit of die reëls en woorde slegs binne skoolverband geld, of ook wanneer iemand byvoorbeeld ’n betoogstuk by die hof inlewer, of wanneer ’n wet in Afrikaans vertaal sou word? In dié verband sal daar dan ’n baie duidelike “afsnypunt” met die regering, uitgewers, vertalers en so meer onderhandel moet word, sodat mense weet vanaf datum X mag/moet leerders so skryf, of mag/moet wette so vertaal word.

 

5. ’n Konsepwerkplan

Nadat ’n SK konkrete antwoorde op vrae soos dié hier bo gekry het en beginselriglyne opgestel het, sou ’n konkrete voorstel dalk wees dat een so ’n SK (sê nou maar vir Kaaps) eers drie of vier korterige hoofstukke in die AWS takel. In dié verband sou ek die volgendes voorstel:

  • Hoofstuk 2 – Afkappingsteken (om te bereël of die afkappingsteken gebruik word om klankweglating aan te dui of nie; so ja, hoe en waar?)
  • Hoofstuk 6 – Diftonge (dit is die kortste hoofstuk in die AWS)
  • Hoofstuk 18 – Vokale (gegewe dat baie van die unieke eienskappe van Kaaps te make het met fonologiese prosesse wat betrekking het op vokale)
  • Hoofstuk 20 – Woorde van vreemde herkoms (om veral aandag te gee aan die hantering van leenwoorde uit Engels, en om te kyk of die ander reëls aangepas moet word)

Daarna lyk dit vir my na die logiese volgende stap om die woordelys van een letter in die AWS (byvoorbeeld J, wat minder as drie bladsye beslaan) te takel en te herbewerk ingevolge die voorgestelde reëls, om woorde te skrap, en om nuwe woorde by te voeg. Vir só ’n proeflopie sal dit natuurlik moeilik wees as daar nog nie ’n korpus beskikbaar is nie, maar ek is seker ’n mens sal met hulp uit die gemeenskap ten minste ’n klein korpussie van een tot vyf miljoen woorde kan versamel om mee weg te spring. Vir statistiese doeleindes het ’n mens natuurlik liefs veel en veel groter versamelings nodig, maar iets is beter dan niets.

Met konsephoofstukke en ’n konsepwoordelys in die hand kan ’n mens vervolgens die spesifieke sprekersgemeenskap (byvoorbeeld Kaaps) nader vir insette, kommentaar en kritiek. Hiervoor kan nie net die pers gebruik word nie, maar veral ook sosialemediagroepe, virtuele werkswinkels en wetenskaplike publikasies. Niks hiervan hoef dus veel geld te kos nie.

Met ’n herbewerkte konsep in die hand sou dit tyd wees om saam met die TK die konsep aan die hele Afrikaanse sprekersgemeenskap voor te hou, weer eens met geleentheid vir insette, kommentaar en kritiek. ’n Mens sal veral hierdie stap met groot omsigtigheid moet benader, want die laaste ding wat ’n mens op dié stadium sou wou doen, is om twee-, drie- of vierspalt in die gemeenskap te skep. (Uit die geskiedenis van ander tale weet ons dat doelbewuste spellinghervorming wat van bo na onder toegepas word, maklik in chaos en erge verdeeldheid kan ontaard; dink maar aan die spellinghervorming van 2006 in Nederlands, wat daartoe gelei het dat ’n groot klomp koerante weggebreek het van die amptelike Nederlandse spelling wat in skole onderrig is en in die regering gebruik is. Kyk Van der Horst 2008 en Van der Sijs 2019 in dié verband.)

’n Mens gaan natuurlik nooit ’n ieder en ’n elk tevrede stel nie, maar ’n mens sal dit wel so moet aanpak dat belangrike rolspelers – waaronder die Departement van Basiese Onderwys; Departement van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie; Departement van Sport, Kuns en Kultuur; PanSAT; SAUK, kykNET en VIA; ATR; SAAWK; Afrikaansdepartemente aan Suid-Afrikaanse universiteite; uitgewers en mediahuise; kultuurorganisasie; onderwysorganisasies; en so meer – ten minste op die plan inkoop.

Sodra dít vermag is, kan die werklike, harde werk afskop om die hele AWS te hersien met die oog op ’n nuwe uitgawe.

 

6. Ter opsomming

Gegewe Le Cordeur (2020) se insiggewende en konkrete strategie en aksiestappe, en met betrekking tot die kodifiseringstap in Odendaal (2012) se herstandaardiseringsmodel, kan die voorstelle wat in hierdie artikel gemaak word, as aksiestappe in Tabel 3 opgesom word.

Tabel 3. Opsomming van voorstelle vir kodifiseringsproses

Aksiestap

Wie

Roep ’n werksgroep saam om (oa) oor die volgende vrae te besin:

  • Moet daar een SK in die lewe geroep word, of verskeie SK’s?
  • Hoe moet hierdie SK/SK’s saamgestel word?
  • Wie dien daarin en wie is die sameroeper?
  • Wat is hulle taak en mandaat (met spesifieke verwysing na algemene Afrikaans)?
  • Hoe moet verskillende variëteite benoem, gedefinieer en omlyn word, met spesifieke verwysing ook na Kaaps?
  • Hoe kan ons in die skoolkurrikulum kennis oor en sensitiwiteit vir Afrikaans se gebruiks- en gebruikersvariëteite kweek?
  • Hoe lyk die algemenetaalvariëteit wat in skole onderrig word vir gebruik in formeler kontekste?

bv ATR; SAAWK; DAK Netwerk

Konstitueer een of meer SK’s

bv ATR; SAAWK; DAK Netwerk

Besin oor skopus, werkswyse, tydraamwerke

SK

Kry antwoorde op die volgende vrae:

  • Watter veranderinge moet aangebring word aan die bestaande werkswyse van die TK, en spesifiek die seleksiekriteria wat die TK gebruik vir woorde in die AWS?
  • Moet slegs woorde erken word, of moet nuwe reëls geformuleer word? Indien slegs woorde erken word, word dit dan geskryf ingevolge die bestaande reëls van die AWS?
  • Indien nuwe reëls gemaak moet word, moet hierdie reëls ander, bestaande reëls in die AWS vervang, of skep ’n mens reëls om wisselvorme toe te laat?
  • Geld die reëls (of wisselvormreëls) alle formele kontekste?
  • Watter spelreëls in die AWS is nie van toepassing op algemene Afrikaans nie (met ander woorde, watter reëls moet geskrap word)?
  • Watter spelreëls in die AWS moet gewysig word om voorsiening te maak vir die spelling en skryfwyse van algemene Afrikaans?
  • Watter spelreëls moet bygevoeg word om voorsiening te maak vir algemene Afrikaans?

SK

Stel korpusse van spesifieke variëteite saam

SK

Werk aan konsepspelreëls, spesifiek hoofstukke 2, 6, 18 en 20 (as voorstelle), en gee aandag aan vrae soos:

  • Moet die afkappingsteken gebruik word om klankweglating aan te dui of nie; so ja, hoe en waar?
  • Hoe word vokaalverhoging, konsonantskrapping, schwa-verlaging, ens voorts in die ortografie gevestig?
  • Word leenwoorde naas bestaande woorde erken, of slegs die leenwoorde?
  • By Engelse leenwoorde: Moet die Amerikaanse of Britse spelling gevolg word?

SK

Werk aan konsepwoordelys, spesifiek letter J (as voorstel)

SK

Konsulteer die spesifieke sprekersgemeenskap vir insette, kommentaar en kritiek

SK

Werk konsepwoordelys en -spelreëls by op grond van terugvoering uit sprekersgemeenskap

SK

Pleeg oorleg met TK oor voorgestelde veranderinge (kan ook natuurlik deurgaans geskied)

SK

Konsulteer die ganse sprekersgemeenskap vir insette, kommentaar en kritiek, maar spesifiek ook belangrike (institusionele) rolspelers

SK, TK

Op grond van terugvoering uit gemeenskap en van rolspelers, begin werk aan ander hoofstukke en letters

SK, TK

 

Bibliografie

Botha, TJR. 1989. Afrikaans sedert die negentiende eeu. In TJR Botha (red) 1989. Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Academica.

Du Plessis, Hans. 1987. Variasietaalkunde. Pretoria: Serva Uitgewers.

Hendricks, Frank. 2016. Die aard en konteks van Kaaps: ’n Hedendaagse, verledetydse en toekomsperspektief. In Hendricks en Dyers (reds) 2016. Kaaps in fokus. Stellenbosch: Conference-RAP.

Jason, Eldridge. 2017. Dit gons nou oor die “AWS”. Son op Sondag. 6 Augustus.

Kirk, Neil W. 2016. When do dialects become languages? A cognitive perspective. Doktorale tesis, Abertay University.

Kotzé, Ernst. 2011. Standaardisering en “mainstreaming” – die kloutjie by die oor. In Kwesi Kwaa Prah (red) 2011. ’n Veelkantiger Afrikaans: Streeksvariëteite in die standaardvorming. Kaapstad: CASAS.

—. 2014. Afrikaans as besitting, en die vraagstuk van herstandaardisering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):1-21.

Le Cordeur, Michael. 2015. Die kwessie van Kaaps: Afrikaansonderrig op skool benodig ’n meer inklusiewe benadering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(4):712–28. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2015/v55n4a14.

—. 2016. Kaaps: Tyd dat die taal van die Kaapse Vlakte in die formele skool verreken word. In Hendricks en Dyers (reds) 2016. Kaaps in fokus. Stellenbosch: Conference-RAP.

—. 2020. ’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum. LitNet (blog). 19 Oktober. https://www.litnet.co.za/n-strategie-vir-die-insluiting-van-kaapse-afrikaans-by-die-formele-skoolkurrikulum.

LitNet. 2020. Bybel in Kaaps. https://www.litnet.co.za/category/nuwe-skryfwerk-new-writing/bybelinkaaps.

Odendaal, Beatrix Gertruida. 2012. Die herstandaardisering van Afrikaans: ’ n praktiese benadering met die AWS as gevallestudie. Ongepubliseerde proefskrif. Stellenbosch: Stellenbosse Universiteit.

Pinker, Steven. 2003. The blank slate: The modern denial of human nature. Londen: Penguin.

Ponelis, FA. 1987. Die eenheid van die Afrikaanse taalgemeenskap. In Hans du Plessis en Theo du Plessis (reds) 1987. Afrikaans en taalpolitiek: 15 opstelle,  Pretoria: HAUM.

Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (samest). 1991. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 8ste uitgawe. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2002. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 9de uitgawe. Kaapstad: Pharos.

—. 2009. Afrikaanse Woordelys en spelreëls. 10de uitgawe. Kaapstad: Pharos.

—. 2017. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de uitgawe. Kaapstad: Pharos.

Trantraal, N. 2014. Character kom yt as jy die geld wegvat. Rapport. 23 November. https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/Character-kom-yt-as-jy-die-geld-wegvat-20141123.

Van der Horst, Joop. 2008. Het einde van de standaardtaal: een wisseling van Europese taalcultuur. Amsterdam: Meulenhoff.

Van der Rheede, Christo. 2016. Ekonomiese bemagtiging deur Kaaps. In Hendricks en Dyers (reds) 2016. Kaaps in fokus. Stellenbosch: Conference-RAP.

Van der Sijs, Nicoline. 2004. Taal als mensenwerk: Het ontstaan van het ABN. Den Haag: SDU.

—. 2019. 15 eeuwen Nederlandse taal. Gorredijk: Sterck & De Vreese.

Van Huyssteen, Gerhard B. Which Afrikaans is described on Taalportaal? Taalportaal. 14 Mei 2020. https://www.taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-1581327776768884 (27 Oktober geraadpleeg).

—. 2016. Die ortografiese realisering van komposita met en afleidings van multiwoordeiename. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 13(3). https://www.litnet.co.za/die-ortografiese-realisering-van-komposita-met-en-afleidings-van-multiwoordeiename.

—. 2017. Kommentaar. Son Koerant op Facebook.

—. 2017a. Die aard, doel en omvang van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Deel 1. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2–1):323–45. https://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a7.

—. 2017b. Opname- en elimineringskriteria vir die Afrikaanse woordelys en spelreëls: Die geval emeritus. Deel 2. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2–1):346–68. http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a8.

—. 2018a. Norme vir “huidiglik”. Literator, 39(2):a1526. https://dx.doi.org/https://doi.org/10.4102/lit.v39i2.1526.

—. 2018b. ’n Korpusondersoek na “huidiglik”. Literator 39(2):a1527. https://doi.org/10.4102/lit.v39i2.1527.

Willemse, Hein. 2011. Om ’n veelkantiger Afrikaans te bedink. In Kwesi Kwaa Prah (red.) 2011. ’n Veelkantiger Afrikaans: Streeksvariëteite in die standaardvorming. Kaapstad: CASAS.

 

Lees ook

’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum

Oor Kaaps en herstandaardisering: ’n mening

Reaksie op Michael le Cordeur se mening oor Kaaps in die Afrikaans-kurrikulum

Die ortografiese realisering van komposita met en afleidings van multiwoordeiename

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top