Oor Kaaps en herstandaardisering: ’n mening

  • 5

Met verwysing na Michael le Cordeur se stuk “’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum” (LitNet-nuusbrief 822, 22 Oktober 2020) wil ek graag ’n paar opmerkings maak en vrae stel. Laat my onmiddellik sê dat ek volledig ten gunste van moedertaalonderrig is, veral in die primêre skool. Ek verskil dus nie met die skrywer hieroor nie. Ek het egter verskeie vrae en opmerkings oor sy stuk, veral die volgende, in geen bepaalde rangorde nie:

1. Ek bely dat ek nog nooit ’n diepgaande studie daarvan probeer maak het nie, maar hoe word Kaaps of Kaapse Afrikaans gedefinieer? Wat is die onderskeidende kenmerke daarvan? Hoe verskil dit van Standaardafrikaans: slegs wat woorde- en uitdrukkingskat betref, of ook sinsbou, uitspraak en grammatika? Hoe weet ek dat ek Kaaps hoor en nie Overbergs of Bolands of Namakwalands nie?

2. Le Cordeur impliseer, enersyds deur sy pleidooi vir moedertaalonderrig en andersyds deur frases of stellings soos “waar die kind se huistaal Kaapse Afrikaans is”, “mense Kaapse Afrikaans as moedertaal het” en “Kaaps is dus groter as vier van Suid-Afrika se amptelike tale – ’n moedertaal waarmee rekening gehou moet word”, dat Kaaps ’n identifiseerbare taal is. Terselfdertyd hanteer hy dit ook as slegs ’n variëteit van Afrikaans, onder meer deur sy gebruik van die term Kaapse Afrikaans. Indien eersgenoemde die geval is, is daar nog heelwat te doen voordat Kaaps as onderrigtaal gebruik kan word, soos hy self in sy par 9.ii suggereer.

Indien Kaaps egter as ’n variëteit van Afrikaans beskou word, soos wat skynbaar wyd aanvaar word, is die vraag waarom Kaaps as variëteit vir spesiale behandeling uitgesonder word. Is dit bloot omdat daar volgens hom 3,4 miljoen sprekers daarvan is? Dan maak ’n mens jou mos aan meerderheidsheerskappy (majoritarianism) skuldig, want hoekom anders moet dié 3,4 miljoen mense voorkeur kry bo sprekers van ander variëteite?

Hiermee hang saam die vraag wat die geografiese voetspoor van Kaaps is. Waar hou mense op om Kaaps te praat? Anderkant Sir Lowryspas en Du Toitskloof? Anderkant die Overberg en die Swartland? In Namakwaland, die Karoo, die Oos-Kaap?

In sy par 9.i sê Le Cordeur daar moet “vereis word [vereis, let wel] dat minstens een roman of drama en minstens die helfte van die gedigte wat voorgeskryf word op skool, in Kaaps moet wees”. Moet dit ook geld in KwaZulu-Natal, Gauteng, Limpopo? Indien wel, hoekom moet Kaaps so sterk figureer in streke waar dit onbekend is?

3. Indien aanvaar word dat Kaaps ’n variëteit van Afrikaans is en nie ’n afsonderlik identifiseerbare taal nie, en indien daardie variëteit spesiale behandeling in skoolkurrikula ontvang, dan moet dit billikerwys ook gedoen word in ander tale waarin soortgelyke variëteitsverskille kan voorkom, nie net vir ander streeksvariëteite van Afrikaans nie – argumentshalwe die verskille tussen stedelike Zoeloe en Xhosa aan die Witwatersrand vergeleke met dié van onderskeidelik landelike noordelike KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

4. Gestel dat Kaaps geografies hoofsaaklik in die groter Skiereilandgebied en omliggende dorpe gepraat word en gestel dat “Kaaps in die skoolkurrikulum verreken moet word in die skole waar die leerders hoofsaaklik Kaaps as huistaal het”, soos wat Le Cordeur sê, hoe gaan dit toegepas word? Slegs in woonbuurte waar “mense [tradisioneel] Kaapse Afrikaans as moedertaal het”? Wat van buurte in die geografiese gebied van Kaaps wat dit nié “as moedertaal” het nie? Wat van skole wat toenemend “gemengde” leerderbevolkings het? Wie gaan besluit watter skole Kaaps in hulle kurrikulum moet verreken en watter nie? Sou die sentrale of ’n provinsiale regering so iets toelaat? Gaan dié soort onderskeid die toets van grondwetlikheid (sien veral artt 9, 29 en 36 van die Grondwet, 1996) oorleef? Sou dit ’n vorm van billike diskriminasie uitmaak?

Ek is geen onderwyskundige nie, maar ek wonder ook wat die uitwerking van onderwys in ’n niestandaardvorm van enige taal uiteindelik op die naskoolse beroepslewe van ’n leerder sal wees.

5. Stellings soos “Desondanks het standaardisering voortgegaan om die kreoolse aard van Afrikaans te ontken, terwyl die taal gesuiwer is van Khoi- en Maleisiese en slawe-invloede” word gereeld gemaak, nie net deur Le Cordeur nie. Dat daar in die verlede heethoofde was wat allerlei booshede in Standaardafrikaans raakgesien het en dit daaruit wou weer, is ongetwyfeld so, maar ongenuanseerde, apodiktiese stellings soos dié is nie net onwaar nie, maar ook onbillik. Daar is eenvoudig te veel woordeskat-, uitdrukkings- en grammatikale elemente in Afrikaans wat dit aanveg – dink maar net aan woorde soos baie, piesang en piering, of iteratiewe soos gou-gou en nou-nou.

Wat die makers van sulke stellings – is dit nie dikwels maar politieke korrektheid nie? – geriefshalwe versuim om te noem, is hoofsaaklik twee sake: (i) Omstreeks vanaf Uniewording (toe daar daadwerklik met die standaardisering van skriftelike Afrikaans begin is) tot ná die Tweede Wêreldoorlog het daar wêreldwyd sosiopolitieke denke en wêreldbeskouings gegeld wat radikaal verskil het van dié van die tweede helfte van die 20ste eeu en vandag. Selfs ’n konsep soos menseregte het kwalik bestaan. Om dit te ignoreer, is ten minste onwetenskaplik. (ii) Kort ná Uniewording moes Afrikaans hom as mede- amptelike taal volledig op die hoogste staatsvlak naas Engels, toe reeds ’n wêreldtaal, handhaaf. Dit het eise aan die taal gestel waaraan nie rustig met verloop van tyd en deur natuurlike taalontwikkeling voldoen kon word nie. Sulke eise word nie vandag aan Standaardafrikaans, Kaaps of enige ander variëteit gestel nie.

6. Nog ’n term wat lustig ten opsigte van Afrikaans rondgegooi word, is herstandaardisering. Niemand sê egter presies wat dit moet of sal behels, hoe dit gedoen moet word en wie dit moet doen nie. Behels dit die verandering van sekere grammatikale kenmerke van Afrikaans? Die opname van woordeskat- en uitdrukkingselemente uit verskillende variëteite? Ortografiese herstandaardisering? Wysiging van sintaktiese patrone? Gaan iemand of ’n komitee sit om dit te bewerkstellig? Hoe gaan dit toegepas of deurgevoer word?

Le Cordeur sê “’n [S]taande komitee bestaande uit kenners van Kaaps [moet] ten nouste met die Taalkommissie saamwerk om daardie lys [die lys Kaapse woorde in die AWS1 se Woordelys] voortdurend aan te vul soos wat die Kaapse leksikon ontwikkel en deur die Afrikaanse landskap versprei.” Ek was bykans twee dekades lank lid van die Taalkommissie. Voor en gedurende my tyd is herhaaldelik probeer om lede uit die “Kaapssprekende bruin” gemeenskap te werf. ’n Paar het net vir kort tydjies gedien – die langste dienstydperk was dié van Frank Hendricks, wat by sy uittrede ondervoorsitter van die Taalkommissie was. Wanneer so ’n komitee dus saamgestel is (deur wie?) en doeltreffend funksioneer, kan ons weer praat.

7. Wat in dien verbande bygevoeg kan word, is dat die vinnige en suksesvolle standaardisering van skriftelike Afrikaans in die eerste driekwart van die 20ste eeu bevorder is deur die entoesiastiese en aktiewe deelname van veral die wit sprekersgemeenskap (weer: dit was ander sosiopolitieke tye!). Uit my betrokkenheid by verskillende terminologieprojekte van enkele van ons Ntu-tale en die nasionale taalliggame van PanSAT, asook die ondervinding in die Taalkommissie, kan ek sonder twyfel sê dat as die sprekersgemeenskap nie daadwerklik betrokke is nie, herstandaardisering (wat dit ook al behels) en komitees se werk nie gaan slaag nie.

8. In par 9.iii sê Le Cordeur dat onderwysers opgelei moet word om Kaaps kreatief in die klaskamer aan te wend, maar voeg by: “Ook in hierdie geval moet gehou word by die woorde wat reeds in die AWS opgeneem is en hoe dit daar gespel word.” Die AWS wil nie en kan nie naastenby ’n volledige opgaaf van alle Afrikaanse woorde wees nie. Dit gee slegs in sekere opsigte leiding. Om die kreatiewe aanwending van Kaaps te beperk tot die klompie van sy woorde wat in die AWS opgeneem is, is naïef.

9. As Kaaps dus “’n moedertaal [is] waarmee rekening gehou moet word” en die gebruikers daarvan ernstig en entoesiasties genoeg daaroor is, moet hulle uit eie geledere die norme en standaarde vir die spel en skryf daarvan opstel – die AWS gee immers net leiding oor hoofsaaklik spelling, skryfwyse en sekere morfologiese sake, en nie juis oor sinsbou, grammatika ens nie.

10. Ten slotte: Ek erken sonder die minste huiwering die reg van mense wat enige variëteit of dialek van enige taal gebruik, om daardie variëteit of dialek te koester en te bevorder. Dit is prysenswaardig. Dit bly vir my egter vreemd waarom slegs Kaaps naas Standaardafrikaans aan die groot klok gehang word en waarom geëis word dat dié variëteit voorkeurbehandeling kry.

Dit is ook onbillik en onwetenskaplik om die werk wat mense in die verlede in heeltemal ander omstandighede, met heeltemal ander denkraamwerke en met heeltemal ander behoeftes vanuit die 21ste eeu te veroordeel en verdag te maak deur ongegronde stellings soos “het standaardisering voortgegaan om die kreoolse aard van Afrikaans te ontken, terwyl die taal gesuiwer is van Khoi- en Maleisiese en slawe-invloede” en “Die standaardisering van Afrikaans het dus met sosiale ongeregtigheid gepaardgegaan”. ’n Mens kan net sowel sê die evangelie is ongeldig omdat die Romeine sosiale ongeregtigheid teenoor die Jode gepleeg het en hulle aan menseregtevergrype skuldig gemaak het, of mense mag nie Volkswagens koop nie omdat dit ’n Duitse fabrikaat is wat deur Hitler bevorder is en die Duitsers boonop die Jode probeer uitwis het, of dat ons weens die gruwelike sosiale ongeregtighede wat wêreldwyd met die Britse kolonialisme gepaardgegaan het, Engels uit skole en sommer Suid-Afrika moet verban. Dit is tog absurd. As foute van die verlede reggestel moet word, moet dit deur daadwerklike optrede gedoen word, nie deur met die wysheid van terugskouing vingers te wys nie.

Standaardafrikaans word nie net deur sulke halwe waarhede verdag gemaak nie, maar ook deur die aandrang op “herstandaardisering”, sonder om te sê wat dit moet behels, of hoe dit moet geskied en deur wie. Standaardisering is immers nie ’n eenmalige handeling of selfs proses nie. Dit geskied deurlopend en dikwels onopvallend. Ek is reeds meer as 50 jaar doenig met Afrikaans en die toepassing en gebruik daarvan – as dosent, onderwyser en taalpraktisyn, en as Taalkommissielid. Ek kan getuig van die veranderinge wat in dié tyd in ons taalnorme en ‑standaarde ingetree het, wat niks anders as deurlopende en geleidelike “herstandaardisering” is nie.

Die Kaaps-bepleiters en die herstandaardiseringsvoorstanders moet ophou om in vae en verdagmakende terme praat en die daad by die woord begin voeg.

JD McLachlan

****

1 Afrikaanse Woordelys en Spelreëls

Lees ook:

’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum

Reaksie op Michael le Cordeur se mening oor Kaaps in die Afrikaans-kurrikulum

Sake voortspruitend: ’n Reaksie op Michael le Cordeur se hervormingstrategie vir die Afrikaans-skoolkurrikulum

Kaaps in fokus-referaat: Verrekening van Kaaps en ander taalvariëteite in die onderwys

ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans

Video: "Die toekoms van Kaaps"-webinaar

Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite

Kaaps en (her)standaardisering

Kaaps: deel van die standaard?

Lees ook op LitNet Akademies:

''Ons skryf soos ons praat'': Informalisering van geskrewe Afrikaans onder Afrikaanse tieners

Wij spreken zo niet onder ons - taalstandaardisasie en die konstruksie van identiteit

  • 5

Kommentaar

  • Uitstaande argumente, Tom. Indien aansprake op ’n taal se herstandaardisering gemaak word, moet die feite deeglik gefundeerd en die basis vir die proses solied en gegrond wees. Jy wys op ernstige krake in die basis.

  • Johann Basson

    Dit staan die voorstanders van Kaaps vry om leierskap te toon en ‘n Genootskap vir Regte Kaaps te stig om Kaaps te standiseer en tot sy reg te laat kom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top