Reaksie op Michael le Cordeur se mening oor Kaaps in die Afrikaans-kurrikulum

  • 9

Michael le Cordeur lewer ’n prikkelende bydrae getitel “’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum” (LitNet-nuusbrief, 2020-10-19). Tog is daar ’n paar sake waaroor menings gewissel sou kon word:

1. Le Cordeur se sentrale argument is dat moedertaalonderrig wêreldwyd die beste resultate lewer; ’n argument wat as ’n aksioma aangebied word. Vir die doel van hierdie reaksie kan dit as ’n gegewe aanvaar word. Meer problematies is sy betoog dat om in Afrikaans te leef en in Engels skool te gaan, sonder meer gelykgestel kan word aan die situasie waarin leerders in Kaaps leef en in Standaardafrikaans onderrig ontvang. Naas bepaalde leksikale items, uitdrukkings en uitspraak verskil Kaaps nie radikaal van Standaardafrikaans nie. Indien ons gelyk het, is die pleidooi van Le Cordeur om dit orals deel van ’n Afrikaans-kurrikulum te maak, natuurlik absurd. In hierdie opsig is die situasie van Kaaps teenoor Standaardafrikaans ook kwalik vergelykbaar met dié van Afrikaans en Nederlands in die 19de en vroeë 20ste eeu: Nederlands verskil onder meer grammatikaal en ten opsigte van uitspraak radikaal van Afrikaans.

2. Le Cordeur sê ook onomwonde (en dit is ’n sentrale deel van sy argument) dat daar vandag byna sewe miljoen “Afrikaans-huistaalsprekers [is], van wie 3,4 miljoen mense Kaapse Afrikaans as moedertaal het”. Die feite is anders. Volgens Carstens en Raidt (2019:242), met verwysing na Ponelis (1987:9), word Kaaps hoofsaaklik in bepaalde gebiede gepraat; “[d]it sluit grotendeels die huidige Wes-Kaap-provinsie in.” Volgens hulle statistieke is daar 6,8 miljoen sprekers van Afrikaans in Suid-Afrika (bl 799), van wie 2 820 643 in die Wes-Kaap woonagtig is (703). Le Cordeur sê self dat “nie alle bruin mense Kaaps” praat nie. Boonop is ’n beduidende aantal van die ongeveer 2,8 miljoen sprekers van Afrikaans in die Wes-Kaap wit en praat die oorgrote meerderheid nie Kaaps nie. Le Cordeur beweer dat daar “talle wit sprekers van Kaaps” is, maar verstrek geen feitelike gegewens nie. Maar al is ’n mens ook hoe toegeeflik en welwillend; al praat 50% van alle Wes-Kaapse inwoners Kaaps, is dit steeds net 1,4 miljoen sprekers. Le Cordeur oordryf dus. Dit is ook ’n vraag of alle bruin mense in die Wes-Kaap Kaaps praat.

3. Daar is ’n leemte in Le Cordeur se omskrywing van ’n taal. ’n Taal is volgens hom “’n instrument vir denke en kommunikasie en om kennis te verwerf” en “ook ’n kulturele en estetiese middel sodat leerlinge in staat sal wees om daarmee uitdrukking te gee aan kulturele diversiteit”. Maar om as ’n instrument vir kommunikasie te dien, is ’n (standaard)taal ook bo-individueel; dit gee, ideaal gesproke, gelyke geleentheid vir kommunikasie aan alle sprekers daarvan. Variëteite vestig inderdaad diverse identiteite – en dit is goed ook in tye van globalisering – maar steeds is daar by elke standaardtaal die behoefte aan algemene kommunikasie oor grense heen. Die hele Vlaamse beweging en die “taalstryd” in België is ’n goeie voorbeeld. Gou is besef dat ’n taal wat in variëteite versplinter is, geen weerstand kan bied teen ’n magtige kultuurtaal soos Frans nie. Daarom is ’n feitlik kunsmatige eenheidstaal geskep, dikwels met groot opofferings van sprekers van variëteite (en selfs “tale”, soos Wes-Vlaams). Ook hulle het dikwels vervreemd gevoel, veral aan die universiteite. Maar dit was ’n opoffering ten bate van die uitbou van ’n volwaardige kultuurtaal met hoër funksies, waarmee bowendien geld verdien kon word. Le Cordeur se pleidooi vir onderrig in Kaaps is onprakties (op verskeie aspekte daarvan wys Tom McLachlan in sy reaksie), maar dit dryf ook ’n wig in tussen Kaaps en Standaardafrikaans (en die sprekers van die twee variëteite). Is dit Le Cordeur en ander voorstanders van Kaaps se voorneme om Kaaps slegs vir literêre werke te gebruik, of ook vir wetenskaplike werk? In laasgenoemde geval gaan dit Standaardafrikaans verswak, wat reeds oor woordeboeke, wetenskaplike en letterkundige werke en dergelike beskik en tans ’n opdraande stryd teen Engels voer. Dus twee soorte Afrikaans in ’n land waarin Engels alreeds die oorheersende taal van die openbare lewe en die hoër onderwys is? ’n (Waarskynlik onbedoelde) gevolg van Le Cordeur se strewe sal wees dat leerders in Kaaps ná skool dan maar in Engels gaan studeer, publiseer en uiteindelik leef, want ’n korpus wetenskaplike werke ontbreek byna volledig in Kaaps.

4. McLachlan opper in sy reaksie ’n belangrike kwessie: Wêreldwyd het die destyds sosiopolitieke denke en wêreldbeskouings radikaal verskil van dié van die tweede helfte van die 20ste eeu en vandag. Dit is heel ter sake wanneer Le Cordeur met wrewel praat oor die sosiale ongeregtigheid waarmee die standaardisering van Afrikaans geskied het as gevolg van die “suiweringsproses” waarin Standaardafrikaans gesien is “as ‘beskaafde Afrikaans’ teenoor ander variëteite (soos Kaaps) wat as ‘onbeskaafd’ beskou is”. Dit is nogal ’n ietwat ongenuanseerde en selfs oordrewe siening, want talle Khoi- en Maleise woorde bestaan al lank in Afrikaans en het deel van die woordeskat gebly. Nietemin, hierdie siening kry ’n mens ook by sommige ander taalkundiges wat hulle dikwels bekla oor die “vernederlandsing” van Afrikaans, veral in die gesaghebbende Woordelys en spelreëls. Maar Afrikaans moes destyds ’n stryd om oorlewing voer teen twee groot kultuurtale, Nederlands en Engels. Om strategiese redes kon aanhangers van Nederlands nie vervreem word nie. Waar nuutskeppings nie dadelik beskikbaar was nie, was Nederlands in elk geval die enigste bron waaraan ekwivalente vir Engelse wetenskaplike terme ontleen kon word. Maar ook om ander redes was dit strategies belangrik: Afrikaans kon dadelik die Nederlandse letterkunde opeis as deel van sy literêre verlede en hom op hierdie wyse posisioneer as ’n taal met tradisie. Dit is nie onbelangrik nie: Die Franse smaaksosioloog Bourdieu het daarop gewys dat ’n tradisie (al is dit geskep) legitimiteit verleen aan enige “dissipline” of aktiwiteit, soos die fotografie. Kreolisering het tóé kwalik die erkenning geniet wat dit vandag in ’n postkoloniale denkraamwerk het.

5. Spelling is een van die kardinale sake wanneer daar oor Kaaps gedebatteer word. Dit blyk uit lesersbriewe in die pers dat juis dit een van die ernstigste bedenkinge is wat skrywers van Standaardafrikaans oor Kaaps het. Hulle sien dit soms as ’n taalvorm met “verkeerd gespelde” woorde as kenmerk. Die spelling is trouens een van die kwessies waarom die Afrikaanse taalbeweging aanvanklik soveel teenstand ondervind het. GR von Wielligh sê dat lesers en skrywers teësinnig vir die radikaal nuwe spelvorme soos y vir ei was. Selfs die meeste lede van die Genootskap van Regte Afrikaners was daarteen (Steyn 2014:23). SJ du Toit het by die aanvang van die 20ste-eeuse taalbeweging teenoor Gustav Preller erken dat een van die redes vir die mislukking van die Patriot-beweging “gelege was in die fonetiese rigting wat hy gevolg het”. Du Toit het “aan die hand gegee ’n skrifbeeld van Afrikaans te soek wat soveel as mogelik verband moes bewaar met die Nederlandse stam-taal” (Steyn 2014: 154). Twee spellingsisteme vir dieselfde taal – trouens ook elke spellinghervorming – benadeel ’n taal, nie soseer om taalkundige redes nie, maar om letterkundige en algemene kulturele redes. Dit maak die deel van die literatuur wat reeds op skrif gestel is, altyd moeiliker toeganklik vir ’n deel van die taalgemeenskap, veral die jong taalgebruikers. Selfs sterk-gevestigde kultuurtale soos Engels en Frans pak geen spellinghervorming aan nie.

6. Le Cordeur opper ’n belangrike kwessie wanneer hy vra: : “Moet alle Kaapse woorde aanvaar word as korrek?” Die Kaapse bydraes wat ons wel te lese kry, bevat dikwels ’n groot komponent Engels. Sluit Kaaps die moderne Engelse woorde in wat altans in Standaardafrikaans nie erken word nie? Vir baie gebruikers van laasgenoemde vorm van Afrikaans is dié groot hoeveelheid Engels in Kaaps ’n belangrike struikelblok in die aanvaarding daarvan. Dit voel vir party van hulle of dit onbewus ’n polities korrekte kortpad na verengelsing is.

7. Dit is opvallend dat van die poësie wat Le Cordeur aanhaal, soos die gedig van SV Petersen (en in literêre werke waarna hy verwys) én in die aanhaling van Adam Small later, gebruik gemaak word van Standaardafrikaans. Dit is onteenseglik waar dat Kaaps dié variëteit is wat streef na hoër taalfunksies (soos literêre publikasies). Maar daar moet ook onthou word dat baie vooraanstaande bruin skrywers en digters (soos Vincent Oliphant en Clinton V du Plessis) in Standaardafrikaans skryf.

8. As herstandaardisering impliseer dat met nuwe oë gekyk moet word na variëteite (naas Kaaps ook dié van die Noord-Kaap) én dat van hulle woorde en uitdrukkings erken en wyer bekend gestel moet word, is ons dit roerend daarmee eens. Maar dat Kaaps skielik deel moet uitmaak van alle leerplanne van Afrikaans (en dat insluiting van werke daarin ’n dwangmaatreël raak) is te radikaal en herinner boonop aan al die soorte taaldwang wat die land al beleef het. Wat herstandaardisering betref, sê McLachlan iets wat ons met instemming herhaal: “Niemand sê […] presies wat dit [herstandaardisering] moet of sal behels, hoe dit gedoen moet word en wie dit moet doen nie.”

9. Ten slotte ’n opmerking oor Le Cordeur se strategie. Enige argument steun op minstens twee komponente: feitelike gegewens en retoriese strategieë. Vir die doel van hierdie skrywe kan die laasgenoemde gedefinieer word as enige strategie wat ten doel het om die leser/luisteraar te oortuig. Dikwels word uit die oog verloor dat oorreding op veel meer berus as die boodskap self. Selfs logiese en oortuigende argumente alleen is onvoldoende om ’n boodskap te laat slaag – dit het denkers oor die retorika al oortuigend aangetoon. Net so is dit gesteld met redenasies soos dié van Le Cordeur wat ten doel het om mense van ’n bepaalde standpunt te oortuig: Dit kan ook nie net steun op die feitelike inhoud alleen nie. Ander strategieë is nodig om die ontvangers te oortuig van die waarde van die boodskap. Die drie hoofwyses van oorreding (retorika) is vir Aristoteles etos, patos en logos (Korthals Altes 2014:vii). Terwyl patos ’n beroep doen op emosies en logos betrekking het op objektivering en rasionele argumente, het etos te doen met karaktereienskappe wat aanleiding gee tot ’n geloofwaardige beeld van die spreker. Volgens Aristoteles se beskouings bestaan etos op sigself uit drie komponente, naamlik praktiese wysheid, deugsaamheid en welwillendheid.1 Welwillendheid (eunoia) verwys na wat nodig is om ’n gehoor van ’n spreker (of skrywer) se goeie bedoelinge te oortuig. Daarom moet ’n spreker sy/haar gehoor goed ken en ook weet watter styl en argumente aanklank sal vind by die betrokke groepering. Dit is dus eintlik ’n vorm van bemarking. Diskoers is die uitdrukking van ’n spreker se karakter; daarom kan die belang daarvan in die beeldvorming van die spreker nooit onderskat word nie: “[D]iscourse is likely to determine deep down what message is conveyed, superseding actual semantic content […] [T]o strategically fashion one’s discursive ethos is crucial” (Korthals Altes 2014:5). Korthals Altes (2014:4) voel dat emosies inderdaad die oorredingsvermoë van ’n diskoers kan versterk. Etos, patos en logos, as die drie hoofmiddele van oorreding, ondersteun mekaar en werk saam ten einde die betroubaarheid en gesag van die spreker, en dus van sy/haar diskoers, te verseker.

Hoewel Le Cordeur se stuk waarskynlik gemik is op besluitnemers (en dus nie noodwendig primêr sprekers van Kaaps nie) mis hy ’n gulde kans om empatiese meelewing te bereik (patos) deurdat hy nie sy stuk juis in Kaaps skryf nie. Hierin verskil dit sterk van baie van hierdie selfde soort programmatiese en argumentatiewe stukke ten behoewe van Afrikaans in die laat 19de en vroeë 20ste eeu. Soms het mense wel in Nederlands vir Afrikaans gepleit, soos SJ du Toit in sy eerste artikels in De Zuid-Afrikaan in 1874 en Gustav Preller aan die begin van die 20ste-eeuse taalbeweging. Taalstryders soos Du Toit in latere publikasies, en DF Malherbe, het ook die doeltreffendheid van Afrikaans as kultuurtaal gedemonstreer, as taal wat geskik is vir die “hoër funksies”. Le Cordeur se besluit om sy argumente in Standaardafrikaans te stel gee dus implisiet te kenne dat Kaaps óf nie geskik is vir hoër taalfunksies nie óf dat dit lesers sal vervreem.

Aangehaalde werke

Carstens, WAM en EH Raidt. 2019. Die storie van Afrikaans, deel 2. Pretoria: Protea.

Du Plessis, H en LT du Plessis (reds). 1987. Afrikaans en taalpolitiek. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery.

Korthals Altes, L. 2014. Ethos and narrative interpretation. University of Nebraska Press. Sample books and chapters. Lente-uitgawe. http://digitalcommons.unl.edu/unpressamples?273 [2018, Januarie 5].

McLachlan, Tom. 2020. Oor Kaaps en herstandaardisering, LitNet, Seminare en essays, 2020-11-02

Ponelis, FA. 1987. Die eenheid van die Afrikaanse taalgemeenskap. In Du Plessis en Du Plessis (reds) 1987:3–15.

Steyn, JC. 2014. Ons gaan ’n taal maak. Pretoria: Kraal.

*

1 Volgens Korthals Altes (2014:3) stel goeie begrip of praktiese wysheid (phronesis) ’n mens in staat om ’n situasie op te som. Goeie begrip het ook betrekking op die idee van vaardigheid uit ondervinding.

Lees ook:

’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum

Oor Kaaps en herstandaardisering: ’n mening

Sake voortspruitend: ’n Reaksie op Michael le Cordeur se hervormingstrategie vir die Afrikaans-skoolkurrikulum

Kaaps in fokus-referaat: Verrekening van Kaaps en ander taalvariëteite in die onderwys

ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans

Video: "Die toekoms van Kaaps"-webinaar

Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite

Kaaps en (her)standaardisering

Kaaps: deel van die standaard?

Verandering en toekoms: om 'n kreoolse Afrikaans te bedink

Kreolisering, die Afrikaanse letterkunde en kultuur: ’n onderhoud

Die klassifikasie van Afrikaans

Afrikaans: the language of dissent

Lekker Afrikaanse woordeskat: kanalla, poenankies, nxa!

Afrikaans: 10 kitsfeite

Oranjerivierafrikaans is nxa!: ’n onderhoud met Anzil Kulsen

ATR-komvandaan-seminaar 2019: Van “brokwa” tot “broodgoed” – op reis met Oranjerivierafrikaans (Gariep-Afrikaans)

Geskiedkundige konferensie oor Afrikaans in die Noord-Kaap

Lees ook op LitNet Akademies:

''Ons skryf soos ons praat'': Informalisering van geskrewe Afrikaans onder Afrikaanse tieners

Wij spreken zo niet onder ons - taalstandaardisasie en die konstruksie van identiteit

S.V. Petersen se tydskrifverhale

  • 9

Kommentaar

  • Leopold Scholtz

    In die kol. Michael le Cordeur en Gerda Odendaal sal met meer as politiek korrekte argumente moet kom. Elke taal het 'n standaardvarieteit nodig. En ons het een - standaardafrikaans.

  • Ek luister graag na mense wat Kaaps-Afrikaans praat omdat dit vir my mooi en natuurlik is. Steeds sou ek dit eerder graag as 'n taal-variëteit as 'n taal in sigself wil sien.

  • Baie dankie Professors Steyn en van Coller.

    Julle slaan die spyker op sy kop met die goed-beredeneerde stuk. Dit is die reaksie waarop ek gewag het; welgedaan daarmee!

    Ns: Prof van Coller, ek geniet u "'n Pampoen vir Kersfees" verskriklik! Baie dankie vir alles wat u en Prof Steyn reeds vir Afrikaans gedoen het en steeds doen!

    In die opsig is julle onsterflik omdat julle werke en denke nog vir generasies na julle heengaan gelees, waardeer en geniet sal word.

  • Jacques du Plessis

    Kaaps is 'n belangrike deel van Afrikaans, bied unieke uitdrukkings en kleurvolle beskrywings waarvoor ek te bly is - besonderse onmisbare kleurvolle bydraes. Toe ek in die 80er jare Kaap toe is vir my diensplig in die vloot, het ek versot geword op die ontdekking van soveel interessante juwele in ons taal, en soos die heuningbos en die rooibos net in sekere streke van die land gevind word, word die smaak daarvan wyd en syd waardeer. Kyk, as jy my vir 'n oplossing hieroor vra en ek is Pretoria, dan sou ek sê, "Nee meneer, ek weet regtig nie." Maar sou ek in die Kaap wees, sou ek sê, "Ney Milanie, ek sal self nie kan sê nie."

  • Gerda Odendaal

    Leopold Scholtz, kan ek vra of jy al ooit my proefskrif gelees het? Ek glo 500 bladsye se akademiese navorsing is darem sekerlik oorgenoeg "meer as politieke korrekte argumente"?

  • Wanneer LitNet nie van kommentaar hou nie omrede dit nie voldoen aan hul politiese korrekte diskoers nie hou hulle daarvan om die kommentaar terug te hou sodat dit onsigbaar is. Derhalwe, nadat dit uiteindelik "gemodereer" is, is dit minder relevant en word dit glad nie of minder gelees, synde dat die kommentaar "wrongthink" is en teruggehou moet word vanweë die risiko dat te veel mense "gerooipil" kan word. Bravo Litnet, julle kan vir Twitter 'n ding of twee gaan leer oor sensorskap! bravo! Wie het nou weer gekla oor die NP-regering se sensorskap van weleer, seker nie julle nie! Welgedaan!

  • LitNet - die plek waar jou mening, geld en intellektuele en ondersoekende diskoers van die grootste belang is!

    Hehe, wat 'n "mindjob"!

    Julle politiese korrektheid beïndruk niemand nie.

  • Geagte Leopold, dankie, ek stem saam met jou dat Gerda Odendaal met meer as polities korrekte argumente moet kom. Elke taal het 'n standaardvariëteit nodig. En ons het een - Standaardafrikaans.

  • Baie dank moet gaan aan Professors Steyn en van Coller.

    Hulle slaan die spyker op sy kop met die goed beredeneerde stuk. Dit is die reaksie waarop ek gewag het; welgedaan daarmee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top