Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite

  • 4

Illustrasie: Hanlie Malan

Die gesprek oor die herstandaardisering van Afrikaans word sedert die 1980’s al sterker gevoer. Dit is klaarblyklik nie maklik nie. Waarom lyk dit of daar nog niks formeel gebeur het nie? Gebeur dinge dalk agter die skerms? André Gouws het met ’n aantal kenners en belanghebbendes oor die pad vorentoe gepraat.

“Die standaardisering van enige taal is veel meer ingewikkeld as wat dikwels algemeen geglo word; boonop is daar verskillende, uiteenlopende standpunte oor wat standaardisering (moet) behels."

“Dié standpunte word soms ingebed in teoretiese, akademiese raamwerke; ander kere is dit persoonlike, emosionele betoë. Die een soort is nie minder geldig as die ander nie, en ons moet daarom wedersyds erkenning gee dat dit nie nét ’n kopsaak is nie, maar ook nie nét ’n hartsaak nie,” sê Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie.

“As dit van bo na onder gedoen word (byvoorbeeld deur ʼn owerheid), is dit dikwels (nie altyd nie) gedoem tot mislukking. Nee, standaardisering moet vanuit voetsoolvlak gedoen word, vanaf die skrywers en uitgewers en mediahuise.”

Ook Conrad Steenkamp, hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), is ten gunste van ’n proses met wye deelname. “Die ‘her’-standaardisering van Afrikaans is nie net ’n tegniese, taalkundige kwessie met ’n tegniese, taalkundige oplossing nie. Meer aandag moet aan die sosiale, politieke en emosionele aspekte daarvan gegee word; baie sterker deelname van onder en wyer kommunikasie is nodig om mense ’n gevoel van eienaarskap te gee. Die Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies sal ingespan moet word om hierdie proses te ondersteun.”

Luister fyn op voetsoolvlak

Talle belanghebbendes meen een manier om die proses sterker te dryf is om streeksvariëteite méér prominent deel van die gebruikersdomein te maak.

Die skrywer en oudpredikant Willa Boezak sê daar moet baie fyner na mense geluister word, na hoe mense op voetsoolvlak praat. “Die gebrek aan die standaardisering van variëteite soos Nama-Afrikaans, Griekwa of Kaaps, wat verreweg die grootste variëteit is, lei tot ’n gevoel van minderwaardigheid onder mense; hulle voel hul taal word as minderwaardig beskou en dit word nie in skole of kerke aanvaar nie.” Hy sê dis een van die redes waarom so baie bruin mense verengels.

Gerda Odendaal, mederedakteur by die WAT, verduidelik dat daar ’n gunstige “atmosfeer” geskep moet word vir herstandaardisering om te slaag. Dit kan gedoen word deur die status van ander variëteite van die taal eers te verhoog en deel van gebruiksdomeine te maak wat nou deur Standaardafrikaans beset word.

Odendaal, wat in haar persoonlike hoedanigheid gepraat het, is al lank gemoeid met die kwessie van herstandaardisering en het haar doktorale proefskrif daaroor voltooi. Sy sê variëteite van Afrikaans word wel al meer in die openbare gebruikersdomein opgeneem, wat die weg baan vir meer formele standaardisering later. Odendaal verwys na boeke, toneelstukke, tydskrifte, koerante en Bybelvertalings wat al in Kaaps verskyn. Ander variëteite word egter nie dikwels verteenwoordig nie.

Frank Hendricks van die UWK se Departement Afrikaans is eerder ten gunste van die “hervorming” van Afrikaans as herstandaardisering. Hy sê dit sal gebeur as meer variëteite in die gebruikersdomein opgeneem word. “Die hervorming van Standaardafrikaans hou onder meer in dat histories gemarginaliseerde omgangsvariëteite, soos Kaaps en Oranjerivierafrikaans, toenemend benut word as voedingsbronne vir Standaardafrikaans, en wel as historiese regstelling ten bate van die Afrikaanse taal.”

Jana Luther, taalpraktisyn by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en lid van die Taalkommissie, sê meer moet op dié gebied gedoen word. Sy sê dat meer skrywers nodig is wat in variëteite skryf en dat hulle gehelp moet word om hulle stemme en stories te laat hoor. “Skrywers het uitgewers nodig wat hulle manuskripte vir publikasie aanvaar; koerante, tydskrifte wat hulle nooi om te skryf, hulle bydraes publiseer. Skrywers het lesers nodig, lesers skrywers wat skryf wat hulle wil lees.”

Boezak meen koerante doen al op ’n klein manier hul deel; daar is byvoorbeeld die Kaapse Son, en Rapport het ’n tweeweeklikse rubriek in Kaaps deur die skrywer Nathan Trantraal. “Ons moet begin om eers alles wat daar is te versamel. Alles te versamel wat mense gewoonlik gebruik, twee of drie jaar lank, en dan moet ons kyk of ons dit kan invoeg in die HAT of WAT. Dis ’n langtermynproses. Baie mense aanvaar nie al die ander variëteite nie. Net die standaard. Versameling is ’n goeie manier om ander variëteite te begin formaliseer.”

Nuwe reëls moet aanklank vind

Van Huyssteen stem saam. “As daar geen korpusmateriaal is om die beskrywing van die ortografie op te baseer nie, loop jy die gevaar om reëls te maak wat volksvreemd is en dus moeilik inslag en aanklank sal vind.”

Is daar enigsins nou ruimte vir ’n nasionale gesprek oor herstandaardisering of die verhoging van meer Afrikaanse dialekte tot die gesprekdomein?

Van Huyssteen dink so. “Daar is plek vir ’n nasionale gesprek hieroor, solank dit op praktiese uitvoerbaarheid gerig is en van die grond af gebeur. Naas ’n beginselgesprek moet daar ook praktiese gesprekke wees oor wat dit is en hoe dit gedoen moet word. Dis alles goed om te sê ‘herstandaardiseer’, maar wat beteken dit in die praktyk? Wat is die verskil tussen standaardisering en herstandaardisering? Vanuit ’n bepaalde perspektief beskou, was elke uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) eintlik maar die resultaat van ’n proses van herstandaardisering oor die jare wat daardie spesifieke uitgawe voorafgegaan het.”

Odendaal sê die aanvanklike standaardisering is nie iets wat sommer net gebeur het nie. “Dit was ʼn proses wat gepaard gegaan het met kongresse en debatte in koerante oor die geldigheid van Afrikaans as standaardtaal, die gebruik van Afrikaans in koerante, as onderrigmedium. Dit alles het uiteindelik die ideale teelaarde geskep vir die ontwikkeling van ʼn ortografie vir Standaardafrikaans. Dieselfde geld herstandaardisering.”

Taalgidse en woordeboeke reeds meer inklusief

Vele belanghebbendes stem saam dat (onder meer) die AWS die weg begin baan vir verandering. Die laaste twee uitgawes van die AWS sluit al meer woorde uit ander variëteite van Afrikaans in, sê Odendaal. Van Huyssteen wys daarop dat die Taalkommissie moeite doen om woorde uit ander variëteite van Afrikaans in die AWS op te neem. Hendricks meen veral die 11de uitgawe, wat in 2017, presies ’n eeu ná die eerste uitgawe, verskyn het, is ’n belangrike rigtingaanwyser betreffende die hervorming van Standaardafrikaans. Dié uitgawe van die AWS is heelwat meer inklusief, en die samestellers bevestig in die voorwoord dat verskillende variëteite deel het aan Standaardafrikaans.

“Ek kan met alle vrymoedigheid sê dat die Taalkommissie verbind is tot die (her)standaardisering van Afrikaans – in alle fasette. Duisende woorde uit die verskillende variëteite en gebruiksfere van Afrikaans is oor die afgelope twee (en meer!) dekades in die verskillende uitgawes van die AWS ingesluit; verouderde woorde word geskrap; reëls word geskaaf om ’n ruim en nuwerwetse beskouing van Afrikaans te reflekteer,” sê Van Huyssteen.

Boezak sê hy het die AWS se laaste uitgawe deurgewerk en was “regtig verbaas” oor hoe baie Kaapse en Nama-woorde daar is. “Daar is wel beweging, maar die gaping tussen beweging op formele vlak en wat byvoorbeeld op skool gebeur, is nog groot. Iets is verkeerd as ‘antie’ in die AWS erken word, maar op skool word dit verkeerd gemerk as kinders dit gebruik. Dit help dan nie as dit in die AWS staan nie.”

Die navorsingsinstituut VivA het ook ’n woordeboek van eietydse Afrikaans geskep, wat gratis aanlyn beskikbaar is en woorde uit alle variëteite van Afrikaans lys. Dit word gereeld bygewerk.

Maar daar is ook die gevoel dat byvoorbeeld die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) nie genoeg doen om woorde van vele variëteite van Afrikaans op te neem nie.

Volgens Odendaal sal herstandaardisering ’n proses moet wees “wat nie sommer deur ʼn liggaam deurgevoer kan word sonder dat daar daaroor gesprek gevoer word nie, of sonder dat die gebruiksdomeine van die ander variëteite van Afrikaans uitgebrei word nie. Die pad vorentoe vir die herstandaardisering van Afrikaans gaan moet behels dat daar groter samewerking tussen organisasies, instansies en rolspelers moet plaasvind.

“Die suksesvolle toekoms van die herstandaardisering van Afrikaans lê in versoening van variëteitgemeenskappe van Afrikaans en samewerking tussen taalorganisasies, taalliggame en universiteitsdepartemente. Elke taalhaan kan nie meer koning kraai op verskillende herstandaardiseringsmishope nie. Al die sprekers van Afrikaans sal saam moet nes skrop indien ons hierdie proses suksesvol wil deurvoer.”

* André Gouws is ’n lektor aan die Skool vir Kommunikasiestudies op NWU se Potchefstroom-kampus. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

  • 4

Kommentaar

  • Gerda Odendaal is tans werksaam by die WAT en nie by die Dept. Afrikaans en Nederlands aan die US nie.

  • Hanno Visagie

    Leon Lemmer meld : Die onderliggende grief is dat Standaardafrikaans feitlik uitsluitlik deur blanke mans geskep is. Die mense wat in die LitNet-artikel genoem word, het twee dinge gemeen: Hulle veroordeel nie Kaaps in soverre dit Engels is nie en hulle het nie die moed van hulle oortuiging om hulle ten gunste van suiwer(der) Afrikaans uit te spreek nie. Die opmerking dat Afrikaans in iedere uitgawe van die AWS aangepas of verder gestandaardiseer word, impliseer dat die hervorming of transformasie van Afrikaans oorbodig is. Daar word reeds eerder te ver as te min agteroor geleun om polities byderwetses ter wille te wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top