|
S.V. Petersen’s magazine stories
S.V. Petersen (1914–1987) is known for his poetry and is regarded as the first black Afrikaans poet. He started his writing career with a number of short stories and sketches that were published in journals and magazines. These texts give a rare insight into so-called “coloured” urban and rural life during the 1940s. The article places the texts within the socio-political context of their time and gives an overview of characteristic themes and linguistic features.
S.V. Petersen se tydskrifverhale
S.V. Petersen (1914-1987) is bekend vir sy poësie en word beskou as die eerste swart Afrikaanse digter. Sy skryfloopbaan het begin met ’n aantal kortverhale en sketse wat gepubliseer is in joernale en tydskrifte. Hierdie tekste bied uitsonderlike insig tot die plattelandse en stedelike kultuur van die sogenaamde “nieblanke” gedurende die 1940’s. Die artikel plaas die tekste binne die sosiopolitieke konteks van hul tyd en gee ’n oorsig van die tematiek en taalkundige elemente.
S.V. Petersen se tydskrifverhale
1. Inleiding
Sidney Vernon Petersen is op 22 Junie 1914 op Riversdal gebore. Hy voltooi sy laerskoolopleiding op sy tuisdorp en matrikuleer aan die Hoërskool Trafalgar in Kaapstad. In 1933 kwalifiseer hy as onderwyser aan die Opleidingskollege Battswood en begin sy onderwysloopbaan op Ladismith in die Kaapprovinsie. Hy keer terug na Kaapstad en hou skool in Distrik Ses terwyl hy deeltyds studeer aan die Universiteit van Kaapstad vir ’n BA-graad in Afrikaans, Engels en Wiskunde. Vir prestasie in Afrikaans word die Universiteitsmedalje aan hom toegeken.
Hy word later hoof van die Opleidingskollege Battswood se primêre afdeling en in 1947 hoof van die Hoërskool Athlone, waar hy aanbly tot sy aftrede in 1975.
Hy ontvang verskeie eerbewyse, waaronder ’n erepenning in 1959 van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot Afrikaans en die Dekorasie vir Voortreflike Diens in 1982. Ereburgerskap van sy geboortedorp, Riversdal, word in 1988 postuum toegeken. Petersen onderneem verskeie buitelandse reise, onder andere na Nederland, Engeland en die VSA, waartydens hy lesings oor die letterkunde en opvoedkunde lewer. Hy sterf op 30 Oktober 1987.
Petersen se eerste skryfwerk word vanaf 1940 in tydskrifte soos Die Naweek, Suid-Afrika en Die Huisgenoot gepubliseer (Kannemeyer 1982:169). Hy is veral bekend as digter en word beskou as die eerste swart Afrikaanse digter (Gerwel 1985:11). Sy debuutbundel Die enkeling verskyn in 1944 en hy volg dit op met Die stil kind en ander verse (1948), Meditations on the Brink (1962), Die kinders van Kain (1960), Suiderkruis (1965), Nag is verby (1980) en Laat kom dan die wind (1985).
Petersen publiseer in 1945 die roman As die son ondergaan wat as wenner van ’n romanwedstryd aangewys is. Sy kortverhale en sketse wat in die vroeë veertigerjare in Die Naweek verskyn het, is minder bekend, maar literêr-histories van belang. Van die temas en vormlike elemente wat daarin voorkom, word teruggevind in As die son ondergaan en toon ook ooreenkomste met die werk van jonger swart Afrikaanse skrywers. Hieronder tel die geestige tekening van werkersklastipes, die hantering van sosiopolitieke kwessies soos kleurdiskriminasie, identiteitsoeke en die aanwending van Kaaps.
Petersen se verhale moet gelees word teen die agtergrond van die politieke en maatskaplike konteks van die laat dertiger- en vroeë veertigerjare toe dit verskyn het.
2. Sosiopolitieke konteks
Die beleid van die belangrikste wit politieke partye jeens sogenaamde nieblankes in die dertigerjare kan volgens Van der Ross (1986:115) in een woord saamgevat word: segregasie. Op nasionale vlak was die Verenigde Party van Hertzog en Smuts aan bewind en die berugte “Hertzog Bills” wat reeds in die twintigerjare opgestel is om swart mense van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder, word verder uitgebrei met ander diskriminerende wette.
Die bruin mense bly egter nog ’n onopgeloste “vraagstuk”. Teenoor die bruin mense is Hertzog en Smuts ambivalent: enersyds is daar kwessies soos bloedverwantskap, kulturele bande en selfs ’n verantwoordelikheidsin teenoor die bruin mense, en andersyds is daar vooroordeel en vrees (Van der Ross 1986:115).
Die sistematiese ontneming van swart mense se burgerregte laat egter vrese by bruin mense ontstaan dat dit ook mettertyd húlle lot sal wees. Die gevolglike verwydering van bruin mense van die gemeenskaplike kieserslys, die instel van residensiële segregasie en die verbod op gemengde huwelike is dus nie ’n verrassing nie. Ook in die werkplek word bruin mense teruggedruk met die afskaling van opgeleide werksgeleenthede wat lei tot groter werkloosheid.
Dit het onteenseglik ’n uitwerking op die bruin mense se maatskaplike posisie. Hierdie tydvak word dus ook gekenmerk deur ’n toename in armoede en verwante siektes soos tuberkulose, deur maatskaplike verval en oor die algemeen ’n agteruitgang in die maatskaplike posisie van die bruin mense. Die bruin politiek word oorheers deur politieke aksies vir die behoud van burgerregte, maar ook deur strategieë om hul maatskaplike posisie te verbeter. Inisiatiewe soos die Coloured-European Councils het ten doel om bestek op te neem van die sosio-ekonomiese posisie van die bruin mens ten einde maatreëls in te stel om dit te verbeter.
Die gees van hierdie tyd word weerspieël in ’n hoofartikel in The Sun, ’n dagblad gemik op die bruin middelklas, waarin aangevoer word dat “while ‘political’ liberty should be the goal of the Coloureds, in the short term ‘economic’ independence, social uplift and moral development points the way to its attainment” (Lewis 1987:156). Hierdie “political quietism and pragmatic self-upliftment” (Lewis 1987:156) sou uiteindelik nie die gewenste resultate hê nie, omdat dit juis in hierdie tydvak was dat die bruin mense van al hoe meer burgerregte ontneem is.
Terreblanche (2002:281) meen dat die swakhede in swart politieke protes gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu gewyt kan word aan die hervormingsgesindheid van politieke leiers. Hierdie gesindheid en goeie wil is geskoei op die beginsels van die Kaapse liberale tradisie en die ironie is dat terwyl die regerende wit partye met die segregasie-wetgewing hul rug op die liberale tradisie gedraai het, swart leiers nog daaraan geglo en vasgeklou het.
Die ouer, gematigde leiers kry egter meer teenstand van die jonger geslag. Die voorste bruin politieke organisasie van hierdie tyd, die African People’s Organisation (APO) van dr. Abdullah Abdurahman, kom onder druk van die opkomende geslag jongeres, wat ’n heenkome vind in die National Liberation League (NLL) waarin Abdurahman se dogter, Cissy Gool, ’n leidende rol speel. In die veertigerjare bou die politieke druk verder op en met die sterfte van dr. Abdurahman word ’n leemte gelaat in die leierskorps van gevestigde organisasies soos die APO terwyl militantheid oplaai onder die jonger intellektuele, wat ’n tuiste vind in die Teacher’s League of South Africa (TLSA) en die NEF (New Era Fellowship).
Die aanleidende oorsaak vir die politieke spanning in bruin geledere in hierdie tydvak is die aanstelling van die CAC (Coloured Affairs Commission) wat die weg voorberei het vir ’n departement van kleurlingsake (die Coloured Affairs Department, oftewel CAD), ’n afsonderlike liggaam wat na die belange van die kleurlinge moes omsien en skakel tussen die regering en die bruin gemeenskap. Alhoewel Smuts hom aanvanklik teen die skep van afsonderlike instellings vir bruin mense verklaar het en begrip toon vir die hantering van blank en gekleurd op gelyke gronde, kom hy meer onder druk van D.F. Malan wat ondubbelsinnig vra vir skeiding tussen die groepe.
’n Aantal prominente bruin leiers, onder wie G.J. Golding en D. van der Ross, assosieer hulle met die CAC en CAD. Dit open die weg vir die radikale jongeres om die leierskap van die TLSA oor te neem en dit in ’n meer radikale rigting te neem. Hierdie jong turke is goed opgelei: die meeste gee onderwys aan skole in die Kaapse Skiereiland, waar hulle ’n groot rol speel in die politieke bewuswording van bruin jongmense. Die TLSA spreek hierdie generasie aan; hul teoreties-ideologiese taal met invloede van Marxistiese denkers soos Trotsky, deurspek met sarkasme en ander retoriese middele, vind byval by jongmense wat ’n uitlaatklep soek vir hul frustrasie en woede oor die sistematiese implementering van apartheid.
Hulle mobiliseer in die breë anti-CAC- en anti-CAD-groepering wat die CAC en CAD sien as ’n voortbouing op die “Hertzog Bills”. Een van hul segspersone, adv. Bennie Kies, verklaar dat “we reject any special C.A.D. or commission because we want full democracy … but at the same time we must realise that we cannot be free from such measures until we destroy the whole colour-bar system” (Van der Ross 1986:174).
Hierdie gisting werk deur die hele bruin gemeenskap, en feitlik elke familie en elke organisasie het ’n standpunt en posisie ten opsigte van die CAC en CAD ingeneem. Die politieke spanning kring wyd uit. Dit word selfs tot op die platteland gevoel en bring verwydering in huisgesinne en gemeenskappe. Organisasies soos die Coloured People’s National Union (CPNU) en die Teachers’ Educational and Professional Union (TEPA) ontstaan binne hierdie politieke woelinge as ’n tuiste vir die meer behoudende deel van die bruin gemeenskap. Die spanning tussen ’n radikale versetsingesteldheid en ’n behoudende, akkommoderende ingesteldheid sou vir jare die bruin politieke landskap oorskadu en is ook aantoonbaar op andere terreine soos sport en kultuur, waar ’n keuse gemaak moes word tussen deelname aan regeringstrukture en die boikot daarvan.
Hierdie spanninge raak ook vir Petersen, wat kritiek moes verduur vir sy betrokkenheid by werksaamhede van die destydse Departement van Kleurlingsake, onder andere die uitsending van die SAUK-radioprogram, Protea, wat op die bruin mense gemik was.
’n Ander verskynsel wat in die bruin gemeenskap beroering veroorsaak het en tot in die kern van families ingewerk het, is “passing” / “wit speel”. Reeds voor die instelling van apartheidswette soos die Groepsgebiede- en Bevolkingsregistrasiewette het ’n groot aantal bruin mense hulself laat herklassifiseer as wit en met wit persone getrou om sodoende die wurggreep van kleurdiskriminasie vry te spring en ’n beter ekonomiese en maatskaplike posisie te bekom.
Ondanks die feit dat “wit speel” wydverspreid voorgekom het, is betreklik min studies daaroor gedoen. Watson (1970) ondersoek dit in ’n skool in Observatory (Kaap) en wys hoe belangrik dit was vir die voornemende “pass-whites” om toegang te verkry tot ’n wit skool, of bufferskool, om uiteindelik as wit deur te gaan. Hy wys voorts op aspekte soos Europese gelaatstrekke, ’n wit velkleur, Engelse aksent en ’n respektabele (wit) leefstyl as deurslaggewend in die proses van “passing” (Watson 1970:17). In sy studie oor gedwonge verskuiwing in die Kaapse skiereiland voer Western (1981:207) aan dat “successful passing into the self-evidently advantageous status of White requires cultural parity, economic parity, and parity of pigmentation and physical appearance.”
Aangesien die boonste laag van die bruin gemeenskap ’n relatief klein deel beslaan het, het “passing” vir liggekleurde bruin mense ’n keuse gebied: “either moving up into the élite or leapfrogging over it into the lower ranks of the White estate” (Watson 1970:17).
Die sukses en statistieke van “passing” kan moeilik gepeil word, omdat diegene wat suksesvol was, dikwels verhuis het na ’n ander streek en elke maatreël sou getref het dat hulle wit bure nie die waarheid agterkom nie. Groot getalle “pass-whites” het dus uit die Kaap verhuis na Johannesburg en daar ’n nuwe lewe as blankes begin. Voorts is alle kontak met familie en vriende verbreek en die impak hiervan op familiebetrekkinge sou vir jare gevoel word. In sy onderhoude met mense oor “passing” bevind Western (1981:212-3) dat houdings wissel: terwyl sommige ongunstig, neerhalend en selfs woedend reageer het, was die houding van die meeste respondente: “Well, it was their (the Pass-Whites’) business.”
Watson (1970:23-24) noem dat die reaksie wissel van simpatiek tot vyandig en dui aan dat vyandigheid veral gevind word in die geledere van die intellektuele elite wat bestaan het uit die jonger, radikale onderwysers en prokureurs. Hulle beskou die “pass-whites” as uitverkopers wat hul rug op die bruin gemeenskap gedraai het.
’n Anomalie van die bruin sosiopolitieke opset van hierdie tydvak is dat daar ten spyte van politieke onderdrukking ’n geleidelike verbetering in bruin mense se opvoedkundige en ekonomiese posisie plaasvind. In die Kaapse Skiereiland en groot plattelandse dorpe soos Paarl, Worcester, George en Oudtshoorn word stadigaan ’n bruin petit bourgeoisie gevestig. In hierdie tyd vind daar ook ’n toename in verstedeliking plaas en gebeur dit dat baie jongmense na die Kaap kom om in tekstielfabrieke en ander bedrywe te werk en sodoende hul ekonomiese en sosiale status verhoog.
Terwyl die politiek van die dag hoofsaaklik gemoeid is met die behoud van burgerregte en agitasie teen segregasiemaatreëls, is daar op maatskaplike terrein maatreëls vir die opheffing van die bruin mense. Taal- en kultuurkwessies neem ’n minder belangrike plek in. Eweneens is kwessies van (bruin/kleurling-) identiteit minder problematies, maar speel tog ’n prominente en onmiskenbare rol. Mense soos Jimmy La Guma (vader van die skrywer Alex La Guma) beywer hulle vir bruin identiteit wat ook in die letterkunde uitgebou moet word. In ’n brief aan The Cape Standard (’n Kaapse weekblad wat op bruin mense gemik was) sê La Guma dat “too little of the Coloured man’s literary efforts have been preserved and I would like to see more young writers producing work and helping to create a literary tradition among the Coloureds” (aangehaal in Field 2001:68). Dit is opgevolg met verdere versoeke, onder andere deur die Kaapse burgemeester en skrywers soos Peter Abrahams (kyk Field 2001:70-2). Koerante soos The Sun en The Cape Standard bied die ruimte vir opkomende skrywers om te publiseer.
Die posisie van Afrikaans in die bruin gemeenskap is in hierdie tyd prekêr. Alhoewel mense in die werkersklas en plattelandse gebiede grotendeels Afrikaans is, is daar geen Afrikaansmedium hoërskole vir bruin mense nie en opleiding geskied deur medium van Engels aan inrigtings soos Trafalgar, Battswood en Zonnebloem. Engels oorheers ook die intellektuele en kulturele terreine. Terwyl bogenoemde koerante oorwegend Engels is, bring ’n vlugtige kyk aan die lig dat enkele stukke tog in Afrikaans gepubliseer is. So verskyn byvoorbeeld in The Cape Standard van 5 November 1940 die Afrikaanse gedig “Moederland” van ene Job Philips, ’n kinderstorie, “Toe gaan die deur saggies oop” van Henry Carolissen, en die gedig “Verlange” deur E.E. Abrahamse – ’n gedig wat ooreenkomste toon met Petersen se natuurpoësie. Op 14 Januarie 1941 verskyn ’n Afrikaanse artikel oor die eeufees van die Volkskerk waarin verwys word na hul mondstuk De Volksvriend, klaarblyklik ’n Hollands-Afrikaanse blad. Ewe interessant is ’n artikel op 17 Januarie 1939, waarin berig word dat Jimmy La Guma op Kalkbaai ’n National Liberation League protesbyeenkoms teen segregasie in Afrikaans toegespreek het.
Die sfeer waarin bruin intellektuele in hierdie tydvak egter beweeg het, was hoofsaaklik deur medium van Engels en daarom is Petersen se verskyning op die Afrikaanse literêre landskap soveel te meer merkwaardig. Weliswaar is daar niks binne eie geledere wat dié rigting aandui, voorafgaan of selfs aanmoedig nie en sou die feit dat Petersen van huis uit Afrikaans was en hom waarskynlik geroepe gevoel het om pen op papier te sit, die beweegrede wees.
Terselfdertyd was daar ook die tradisie van Afrikaanse skryfwerk wat bestaan het onder die Morawiërs in hul tydskrif De Huisvriend / Die Huisvriend en die tydskrif van die APO (kyk Pheifffer 1996).
Soos aangedui begin hierdie oeuvre met die kortverhale en sketse wat in Die Naweek verskyn. Dié tydskrif word vanaf 1940 deur Unie-Volkspers Bpk. uitgegee as ’n weeklikse blad, met E.B. Grosskopf as eerste redakteur. Dit onderneem om ’n “waardevolle bron van inligting” te wees asook “kultuurdraer sonder prekerigheid en ’n verskaffer van gesonde afleiding” (aangehaal in Muller 1990:456). Daarin verskyn onder andere wysgerige artikels en skryfstukke wat op huisvlyt gerig is, maar ook kreatiewe werk met ’n meer populêre aanslag en vertalings uit die wêreldliteratuur. Uys Krige skryf onder andere oor oorlogsavonture in Italië.
Dat Petersen sy verhale in Die Naweek gepubliseer het, kan waarskynlik toegeskryf word aan dié tydskrif se aanklank by die liberale politiek van die Verenigde Party.
3. Tematiese oorsig van die tydskrifverhale in Die Naweek
3.1 “Belydenis van ’n stedeling”: stad vs. platteland
’n Opvallende tendens in die letterkunde van hierdie tydvak is die narratiewe wat die toenemende industrialisasie en gevolglike verstedeliking teken. February (1981:80) verwys na “the familiar theme in Afrikaans literature of the rural person in an urban setting” terwyl Roos (1998:39) meld dat “die realiteit van verstedeliking en ’n aanvaarding van die stadsbestaan se nuwe uitdagings, steeds die tema van baie romans gedurende hierdie periode (vorm)”. In die Engelse letterkunde vind dit neerslag in die bekende Jim-comes-to-Jo'burg-tema waarvan Alan Paton se Cry the beloved country (1948) eksemplaries is.
In As die son ondergaan word dié tema ook aangesny. Die hoofkarakter, Frans, wie se kanse om hom in die onderwysberoep te bekwaam hom ontneem is deur ’n onselfsugtige maar onbesonne daad van sy vader, vertrek na die stad om in die fabrieke te werk en sodoende aan die saai bestaan van die platteland te ontkom. Na ’n kortstondige en ontnugterende episode met Jeanette, die vrou van sy drome, begeef hy hom in ’n huwelik met Karolien. Dit is egter gedoem en Frans versink gaandeweg al dieper in alkohol wat vir hom ontvlugting moet bied. Eindelik bly daar net ontgogeling oor en gee hy hom oor aan die drank totdat sy ouers hom kom haal en eindelik weer bevry uit die afwaartse spiraal.
Nienaber (1977:116) sinspeel op die titel wanneer hy meld: “Frans is, soos die son, aan die ondergaan … sy aanvanklike heilsoord, die grootstad, het dus uiteindelik sy onheilsoord geword.” Ondanks die tegniese gebreke is die roman vir die meeste kritici van literêr-historiese belang omdat die lewe van die bruin mense vir die eerste keer in Afrikaans van binne uit geteken word.
Vir February (1981:84-85) verteenwoordig die roman ’n verspeelde kans om die sosiaal-politieke wurggreep waarin die bruin mense en ander groepe van die onderdrukte massa hulle in hierdie tydvak bevind, te teken. ’n Opvallende kenmerk van die verhaal is die hoofkarakter se mymering oor die plattelandse sfeer, en dit sou tekenend wees van ’n wegskram van die harde werklikhede van die dag. February (1981:87) beskou dit as ’n verhaal “devoid of soul and intimacy”, en oor die hoofkarakter, Frans Hendricks, sê hy dat “he remains a lost soul, a-political in his aspirations, non-revolutionary in his frustrations” (February 1981:86).
Willemse (1984:12) sluit hierby aan en postuleer dat Petersen se ontvlugting in die pastorale spruit uit individualisme wat saamgaan met Petersen se onvermoë om aansluiting te vind by die onderdrukte massa. Willemse (1984:18) vind hierdie ambivalensie tiperend van swart intellektuele in die Suid-Afrika van voor 1948: hierdie groepering sou vervreemd staan van die heersersorde én die swart werkersklas. Gerwel (1985:12) wys op die teenstrydige gebruik van die woord vryheid in Petersen se gedigte en vind dit tekenend van die “verwarde bewussyn van die vervreemde intellektueel”.
Die verhale en sketse van Petersen wat in Die Naweek verskyn het, toon ooreenkomste met die temas wat in As die son ondergaan aangesny word en kan moontlik as voorstudies van die roman beskou word.
Een van hierdie tekste is “Dorpenaars”. Dit is in wese ’n skets van kleindorpse persoonlikhede met die hoofkarakter oom Kallie wat gedurig stories aandra en die waarheid verdraai. Ander karakters is dronk Serien en Gaggie, ’n armsalige figuur wat die kinders bang maak. Die verhaal jukstaponeer die gejaagdheid van die stad met die rustigheid van die platteland; onder andere word gewag gemaak van die dorpenaar wat tydsaam is en nie sy kos heel-heel hoef in te sluk terwyl hy hom haas vir ’n bestelling nie.
“Wysheid langs die pad” is grotendeels ’n natuurbeskrywing van die Klein Karoo. Die verteller neem die leser op ’n reis deur die streek en wys die eiesoortige flora, fauna en landmerke van plekkies soos Zoar, Amalienstein, Hoeko en Gwarrievlak uit. Die verteller spreek die leser, wat vermoedelik ’n stedeling is, direk aan en openbaar ’n pedantiese ingesteldheid jeens die leser: vanweë sy/haar gebrekkige stadsagtergrond kan hy/sy nie die omvang en skoonheid van die landstreek ervaar nie.
“Voetganger in die nag” skets ’n armsalige figuur met slegte herinneringe aan vroue; sy pleegmoeder het hom nie liefde gegee nie en sy vrou het hom onlangs verlaat vir ’n ander man. Terwyl hy deur die strate van die stad stap, oorweeg hy selfmoord, maar deins daarvan terug as hy sien hoe ’n ander persoon deur ’n trein vertrap word. Sy uiteindelike besluit, “weg van die dood met sy gruwel … terug na die stad, met sy lewe”, blyk ’n holle en treurige vooruitsig te wees omdat dit voorafgegaan word deur ’n beskrywing van die stad wat die ongenaakbaarheid en leweloosheid daarvan beklemtoon.
Die verteller in “In die hart van die stad” beskou die geroesemoes van die stad vanaf ’n afstand. Terwyl hy aan die een kant afkeurend staan teenoor die oppervlakkigheid en leë vertoon van die stadsmens, is daar erbarming teenoor die koerant- en blommeverkopers wat daagliks in ’n stryd gewikkel is, maar tevrede is: “ons het oek maa’onse aps-en-douns; net soes elke-iene … bisnis is ghoet, Nou komplyns. Ennie-hau – as die slegte tye kom, sal ons maa’ tevriede moet wies. Die son skyn nie elke dag nie” (p. 14).
Die verwysing na die Kainsmerk wat later in die gedig “Die merk” (uit die bundel Die kinders van Kain) voorkom, val hier op: “Kinders van die stad. Kinders wat die Kainsmerk dra. Bruinkinders wat nie eendag stadsklerke of soiets gaan word nie” (p. 14). Wanneer die verteller ’n armsalige vroutjie deur die tremvenster sien, roep hy ’n onderwyseres in herinnering: sy het met weinig opleiding en op haar skewe manier vir hom Engels geleer en toe sy uiteindelik aftree, het haar geestesgesondheid ook agteruit gegaan. Alhoewel die laaste deel van die verhaal struktureel nie invoeg by die voorafgaande nie, is daar ’n poging om motiewe soos verganklikheid deur te voer en binding te bewerkstellig met die herhaling van volkse uitroepe.
“Klaas Danster” is ’n skets van ’n plattelandse werkersklasfiguur en sy seuntjie, Klonkie. Die aanvang van die verhaal skets eers vir Apie wat op Saterdae met sy donkiekarretjie van die plaas af dorp toe kom, ’n lekker dop vat en sy roes afslaap op die karretjie terwyl die donkies dan self die pad huis toe vind. Die hooffiguur, Klaas Danster, was ’n besonderse vakman wat swepe kunstig kon vleg. Hy is ook bekend vir sy lakoniese sêgoed en het gereeld Saterdagoggende by die werkswinkel van die jong verteller se pa aangekom met sy swepe, wat hy aan die boere verkoop het. Die verteller en Klonkie kon dan lekker saamspeel, iets waarmee die ma van die verteller nie baie ingenome was nie, omdat Klaas en Klonkie benede hul stand en status was. Die verteller bekommer en ontferm hom oor Klaas en Klonkie en sien in hulle meer as drosters: hy sien die mens in hul raak en nie hul herkoms of stand nie. Die twee verdwyn op ’n dag spoorloos, tot verslaentheid en onbegrip van die verteller.
In hierdie verhaal laat blyk Petersen ’n klasbewussyn wat ongelukkig nie verder uitgebou word in ’n analise van die Suid-Afrikaanse sosiale formasie van die dertiger- en veertigerjare nie.
3.2 “Die merk”: die raskwessie
Petersen se vroeëre poësie word getipeer as “krete en direkte stellings van protes en beklaging” teen die maatskaplike posisie van die bruinmens (Gerwel 1985:12). In gedigte soos “Bede”, “Verwantskap” en “Kinders van Kain” word die bitterheid en wrewel van iemand wat aan die ontvangkant van kleurdiskriminasie staan, aan die orde gestel. Hierdie temas word ook in sy sketse en verhale aangetref.
In “Fragment uit ’n ongeskrewe roman” begin Hannes Terblanche ’n florerende winkel op ’n plattelandse dorp. Die afguns van dorpenaars wat sy ondergang voorspel, gaan by hom verby en hy ontferm hom eerder oor die armes en laat hulle toe om op skuld te koop. Sy vooruitstrewing herinner aan ’n soortgelyke oproep tot bruin mense in die veertigerjare: die bruin man moet selfstandig word (p. 25). Wanneer ’n handelsreisiger op ’n dag opdaag en Hannes uitnooi vir ’n drankie, verkrummel sy wêreld en begin hy ’n wrok ontwikkel omdat hy nie by die hotel mag ingaan nie: “Ander kan daar ingaan, ja: selfs die arm klas wat met hul vuil hakskene smôrens hier verbyslenter … selfs hulle ja; net omdat hulle witmense is!” (p. 27).
Die hoofkarakter in “Tounie van die Onderland” is die motorbestuurder van die verkoopsman Mr Saks. Hulle is op besoek by die verteller om ’n afbetaling op ’n aankoop te kollekteer. Mr Saks vergas die huisvrou op allerhande staaltjies wat die verteller verveel. Hy besluit om ’n gesprek met Tounie aan te knoop om meer van dié karakter te wete te kom.
Hy hoor dat Tounie van die Onderland, te wete Queenstown, kom, maar eintlik in Johannesburg wil bly omdat jy daar nie aan die rigiede kleurskeidslyne blootgestel is nie. In Johannesburg gaan Tounie deur as wit, terwyl hy in die Kaap altyd voel asof hy ’n krimineel is: “Ien Jou-birk is ’n man aaider swart of waait. Ek is nie ’n nytif nie, en dan speel ek Fôrrener … ek word allou om eeniewê in te gaan, en ek voel epsolietlie frie. Hier in die Kyp het ’n man altyd die fieling dat jy samwê ’n kraaim gedoen het … By al die ghrêndste plekke is altyd ’n noutis op van ‘Jôrepiens Ounlie!’ ’n Man kan nie diesentlie ’n drienk vat in ’n baar nie, want jy moet met die rafjeks opmieks!”
In “Verbode vrugte” – ook opgeneem in Tydskrif 2 (2002), ’n versameling vroeë kortverhale byeengebring deur Daniel Hugo – heers ’n gespanne atmosfeer in die ouerhuis van Bettie omdat haar pa haar vroeër die dag in die teenwoordigheid van ’n jongman met blonde hare en blou oë gesien het. Haar pa se versugting is dat sy ’n man uit haar eie ras moet neem, iemand wat haar nie later sal verstoot nie. Bettie en haar vriend, Stanley, se geluk loop egter oor en kleur speel glad nie ’n rol in hul lewe nie: “Sy en Stanley het nog nooit oor ’n blote kleurkwessie gesels nie … wat tussen hulle bestaan, is iets wat alle kleur- en standgrense oorskry” (p. 15).
Sy nooi Stanley na hulle huis sodat hy kan sien dat haar mense bruin is. Tydens die kennismaking met haar ouers blyk dit dat haar pa en Stanley se pa ou kennisse is. Die gelukkige afloop van die verhaal word weerspieël in die woorde van Bettie se pa: “Ek en jou pa was saam op skool; ek ken hom soos ek myself ken: ’n beter Bruinman as hy het ek nog nooit teëgekom nie!” (p. 23). Hugo (2002:9) voer tereg aan dat die gemoedelike afloop van die storie die sensitiewe kwessie van rasgemengde huwelike omseil.
Die verhaal “Wie laaste lag” handel oor Martha, die baasspelerige vrou van Isak, ’n onderwyser aan die plaaslike sendingskool. Sy dwing haar man om hul seun, Charles, in ’n wit skool te plaas omdat sy nie wil hê dat hy moet meng met die ander kinders nie. Op die koop toe moet Isak, wat lig van gelaatskleur is, vir Charles na die skool neem. Isak besluit om sy voet neer te sit en Charles in die sendingskool te sit. Na halfhartige protes berus Martha haar by die besluit.
Die kleurkwessie word in hierdie verhaal subtiel aangeraak en in ’n groot mate eintlik onderspeel. Op p. 23 mymer die verteller: “Die verdekselse kleurkwessie; waarom kan ’n mens nie aanskou word as ’n mens nie? Wit, en Bruin … Die een het meer kleurstof in sy vel as die ander, dis al! Want liggaamlik is albei dieselfde … en verstandelik is daar ook geen verskil nie, want ’n ongeletterde Witman beteken net so min vir sy samelewing as ’n onnosele Bruinman beteken vir sy samelewing … Daar is g’n kleurslagboom by die dood nie.” Voorts word daar gemymer oor die ooreenstemming by geboorte en dood van wit en bruin.
Die verhaal sluit af met ’n pleidooi vir die behoud van en trots op die eie: “Wil jy tog jou kind nou al leer om sy eie mense te verag, om onder vreemdes sy eie te vergeet, te versmaai?” (p. 23). Die verhaal registreer hiermee die ontwaking van identiteitsoeke onder bruin mense in hierdie tydvak en openbaar ook ’n sterk negatiewe sentiment jeens “passing” / “wit speel“.
3.3 “Passing” / “wit speel”
“Passing” word aangeraak in die verhaal “My seun”, waarin ’n ouerige egpaar per telegram ingelig word van hul seun se troue. Hulle voel uiters gebelg oor hierdie optrede. Wanneer hy uiteindelik opdaag, is dit sonder die vrou. As sy ma hom vra waar die vrou is, haal hy ’n foto uit en dit blyk dat hy met ’n wit vrou getrou het. Sy is by haar mense in die Kaap. Sy ma beveel hom om die huis te verlaat en albei word in hul hartseer geteken met die treurige versugting van die ma aan die einde: “Heer … vergewe … My seun – my seun.”
By implikasie staan die verhaal afwysend ten opsigte van “passing” en gemengde huwelike en wys heen na die futiliteit daarvan. Die feit dat hy sy ouers misken deur nie vir hulle te laat weet van sy troue nie, word telkens herhaal, so ook die moontlikheid dat hy skaam vir sy mense was. Hierop word skerp afwysend gereageer: “’n Kind wat sy vader en moeder nie meer reken nie, kry dit bitter swaar in die wêreld. En as jy my nie meer wil reken nie, hoef jy ook nie meer vir my ‘Ma’ te sê nie.”
Ook “Sy vader se misdaad” raak hierdie verskynsel aan. Dit handel oor Eddie, die lig-van-kleur seun, wie se pa hom die geleentheid gegee het om sy skoolopleiding aan ’n blanke skool te voltooi. Hy werk as blanke in die stad en wanneer hy eendag in Adderleystraat afkom, verloën hy sy ma en suster deur te maak of hy hulle nie herken nie. Die suster, Lillie, is baie verontwaardig oor hierdie vernedering. Die ma mymer oor die aanloop na hierdie situasie: hoe sy en haar man Eddie gesterk het in sy pogings om te “pass” en sodoende beter geleenthede te kry. Sy het Eddie betig om nie sy wit vriende huis toe te bring nie ten einde te keer dat hulle die waarheid sal uitvind; sy spog ook by haar vriende dat Eddie ’n “wit job” het. Die verhaal wys die ambivalensie in hierdie situasie uit: dat hulle vir Eddie ’n beter toekoms verseker het, maar hom eintlik in die proses verloor het. Die verhaal eindig met Eddie se ontkenning en verloëning van sy eie agtergrond wanneer hy op die toneel van ’n tref-en-trap-ongeluk sê dat die slagoffer “maar net ’n Hotnot” is.
Eddie se optrede, asook dié van die seun in die vorige storie, herinner aan Western (1981:213) se opmerking dat “the world of many Pass-Whites is painfully insecure.” “Pass-Whites” word gedwing om alle kontak met hul bruin families te verbreek ten einde hulself in die wit wêreld te beskerm. In ’n bespreking van “passing” in die Afro-Amerikaanse literatuur merk Kawash (1997:135) op: “uncertainty, which might be seen on the one side as paranoia and on the other as opportunity, is exactly the point of passing.”
Petersen se hantering van die “passing”-verskynsel toon opvallende ooreenkomste met die hantering daarvan in die Afro-Amerikaanse literatuur. In Smith (1994:43–44) se opsomming van hierdie verskynsel in dié korpus behoort die ooreenkomste duidelik te blyk. Sy voer aan dat “the narrative trajectories of classic passing texts are typically predetermined … they presuppose that characters who pass for white are betrayers of the black race, and they depend, almost inevitably, upon the association of blackness with self-denial and suffering, and of whiteness with selfishness and material comfort.” Smith voer voorts aan dat sodanige voorstelling eintlik konserwatief is omdat dit propageer dat swart mense hul posisie moet aanvaar. Die opwaartse mobiliteit wat “passing” teweegbring, word nie genoegsaam ondersoek nie; so ook nie die kruispunt van ras, klas en geslag nie. Ten opsigte van geslag merk sy op dat vroue meer gestraf word as mans in verhale oor “passing”. (Kyk ook Van Wyk 2007 vir verdere bespreking van hierdie aspek.)
Petersen se verhale wat op ras- en kleurdiskriminasie inspeel, laat steeds die indruk dat die kwessie met omsigtigheid hanteer word en dat daar van openlike kritiek en verset weggeskram word.
3.4 “Die veles”: die uitbeelding van die bruin mense
Die aspek van Petersen se skryfwerk wat deur Afrikaner-kritici aangeprys is, is sy uitbeelding van die bruin mense, en inderdaad gee Petersen soos nooit voorheen in die Afrikaanse letterkunde nie ’n beeld van die bruin mense van binne uit. Sy voorstelling van bruin werkersklastipes en die opkomende petit bourgeoisie, stadsmens en plattelander in die veertigerjare is ’n voorloper van Adam Small se tipes in die sestigerjare en die voorstellings van skrywers soos A.H.M. Scholtz, E.K.M. Dido, S.P. Benjamin en ander in resente tye.
“Ek probeer goed doen” handel oor ’n onderwyser wat ’n huishulp aanstel om sy vrou met die huiswerk te help. Sy blyk rats en vlytig te wees op die eerste dag. Die volgende dag is sy vrou siek met verkoue en dit is ook die dag waarop alles verkeerd begin. As hy die middag tuiskom, is die huishulp dronk en rammel aanmekaar ’n storie af van haar man wat haar verlaat het en dat haar familie goed geleerd is. Die verteller begin wonder oor die omstandighede wat hierdie vrou tot dronkenskap gedryf het.
In “Na sewe jaar” ontmoet die verteller-onderwyser ’n oudleerling, Skottie, wat nou ’n geharde bendelid is. Oor sy wang is ’n litteken van ’n geveg waarin hy sy dapperheid moes bewys het.
Skottie was ’n skrander leerling op skool en die feit dat hy geword het soos hy nou is, interesseer die verteller. Hy wil weet waarom Skottie so ’n pessimistiese en eng lewensuitkyk het en waarom hy niks oorgehou het van wat hy op skool geleer het nie. Hy probeer die agtergrond van Skottie ontrafel en vind uit dat Skottie se pa ’n smokkelaar was wat in die tronk gesterf het; sy ma is kort daarna oorlede en die kinders is onder die familie verdeel. Skottie het in dié buurt grootgeword en geleer om met min te oorleef.
Die verteller meen dat Skottie die slagoffer van omstandighede is en wil hom dus help om ’n werk te kry sodat hy sy lewensomstandighede kan verbeter. Skottie troef hom egter elke keer met ’n beter antwoord: hy het gesien dat sy pa sy lewe aan die Jood uitverkoop het toe hy meubels gekoop het, dus leef hy, Skottie, net van dag tot dag en word boonop onderhou deur sy vele meisies. Die verhaal toon raakpunte met die hedonisme wat Petersen in die gedig “Die Veles” voorstel.
“Hennie Bloubok” is nog ’n verhaal van ’n belowende jong man wie se lewensideaal, om onderwyser te word, nie bewaarheid word na die afsterwe van sy ma nie en wat daarna in dronkenskap verval. Hy trou met ’n ouer vrou met ’n klomp kinders en verval verder in uitsiglose omstandighede waaruit hy nie kan ontsnap nie. Die verhaalgegewe van die karakter Hennie toon opvallende ooreenkomste met die lotgevalle van Frans Hendricks in die roman As die son ondergaan en die verhaal sou selfs as ’n voorstudie van die roman beskou kon word.
Terwyl Frans deur sy ouers uit dronkenskap en verval gered word, kom daar ’n ommekeer in Hennie se lewe as hy besluit om weermag toe te gaan. Dit bring weer die helder blik van vroeër terug in sy oë.
Die verteller in “Ek word diaken” het een swakheid: hy kan nie nee sê nie en dit lei daartoe dat hy in moeilike situasies beland met mense soos ou Lang Louw wat vir hom geld skuld en nou is hy te skaam om dit terug te vra. So het dit gebeur dat hy verkies is tot diaken omdat hy nie nee kon sê nie. Hy sit en verknies hom oor sy posisie tydens ’n kerkdiens en verkyk hom aan die ander kerkgangers totdat die duiwel hom wil verlei met allerhande ongoddelike gedagtes en hy daaruit loskom deur tog nee te sê! Dié skets van kleindorpse persoonlikhede en hul maniere gee ook iets van die ouwêreldse tydsgees.
“Bandeloos” is ’n skets van ’n groenteverkoper wat op Saterdagoggende deur die dorp trek. Hy is doodtevrede met sy karige loon en besittings, want “wat maak ’n man met meere geld; jy spent weer alles.”
Die verhaal gee ook ’n perspektief op die Tweede Wêreldoorlog: “Die Kyp-kô het nie aams. Wat beteken nou soldare son’e gawere?” Diegene wat noorde toe gaan na die oorlogsfront, kom almal weer terug met die "Kyp-taaims”. Die bedoeling van laasgenoemde is dat hulle as gesneuweldes vermeld word in die oorlogsberigte. Ook die skets “Rotjies” sluit aan by die diskoers oor die bruin mense se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog en die ongelyke behandeling wat hulle ontvang het: “Die ghawwement sal my vat as ek opjôin, maa’ hy wil nie hê ek moet skiet nie. Dis nie vê nie … Ek sê, aam de kal-let mên, ewwerietaaim. Aafte’ ôl, wat nodig is, is mênpaue”.
“Hanoverstraat se Mense” skets verskillende karakters in die omgewing van hierdie bekende landmerk in die Distrik Ses van weleer: die haarkappers, kleremakers (snyers), leeglêers, polisiemanne en nog vele ander word met deernis beskryf.
“Op Nuweland” teken op geestige manier elke Saterdag se uittog na dié bekende rugbystadion om na ’n wedstryd tussen twee plaaslike spanne te gaan kyk. Besonder treffend is Petersen se beskrywing van die toeskouertipes en hul gevatte opmerkings, grootpratery en geterg. Die volgende stukkie kommentaar op die spel gee ’n aanduiding daarvan: “Vat raak daai wieng, vat raak man! … daa’ gaat hy! Gooi weg, man! Gooi weg vi’ die sente’! So ja … Aag – pittie!” (p. 29).
“Herinnering” is ’n terugblik op ’n geliefde skoolhoof wat na ’n naburige dorp verplaas word. Die verteller se bewondering vir die persoon omdat hy reeds baie van hom kon leer, blyk duidelik.
Die verteller in “Sommer mymering” peins oor die innerlike en uiterlike van mense en hoe onmoontlik dit is vir ’n buitestander om te weet wat in die binneste van ’n persoon aangaan. Die verteller mymer dan oor sy/haar kinderdae en die speletjies wat op maanligaande gespeel is. ’n Besondere aanwins van die verhaal is die optekening van rympies wat gepas was vir die gemoedstoestand en lewensituasie van die plattelandse mens; vgl.: “ons se ma se kinders,/ ons se ma se kinders,/ die bokkie sê a-mê!/ ek wil ’n stukkie hê!” En ook: “Gooi my hier, gooi my daar/ Gooi my binne-in die mouterkar/ Hou daar Dollie, hou daar,/ Hou daar Dollie, hou daar” (p. 12).
4. Enkele opmerkings oor die gebruik van taal
Dit val op dat Petersen deurgaans die standaardvariëteit van Afrikaans in sy poësie gebruik terwyl hy in die tydskrifverhale, wat vroeër as sy poësie verskyn het, ook die Kaapse variëteit gebruik. Petersen sou waarskynlik beïnvloed gewees het deur die Afrikaanse poësietradisie waarbinne hy sy toetrede maak. Die literatuuropvattings van Van Wyk Louw en Opperman is vormende kragte in die totstandkoming van ’n poëtika en kanon wat Petersen se digwerk sou gerig het. Van Wyk Louw se versreëls “o woord, smal swaard en blink” en “die woord waarmee ek vet visse uit baie waters haal” versinnebeeld hierdie opvattings. Wanneer Kannemeyer (1983:169-170) wys op die aansluiting van Petersen by sy voorgangers, is dit ’n belangrike strategie in die invoeging van Petersen in hierdie kanon.
’n Verdere verklaring vir Petersen se keuse van literêre medium in sy prosa en poësie kan gegee word aan die hand van die onderskeid wat Bakhtin (1981) tref tussen die monologiese styl van die poësie en die heteroglossiese spraakgenres van die prosa wat by uitstek vergestalt word in die verskeidenheid sosiale spraaktipes van die roman: “a phenomenon multiform in style and variform in speech and voice”, aldus Bakhtin (1981:261).
Soos die analise hier bo aandui, slaag Petersen daarin om uiteenlopende figure in die bruin gemeenskap voor te stel en vergestalt dit in die uitbeelding van ’n verskeidenheid spraakgenres. Sy groente- en visverkopers, huisvrouens, gangsters en kleremakers van Distrik Ses, sy plattelandse arbeiders en skoolmeesters het ’n herkenbare idiolek. Sodoende benut Petersen die moontlikhede van taal om sosiale stratifikasie te representeer, maar ook om te satiriseer en gevestigde waardes te bevraagteken, ’n stylgreep wat deur Adam Small besonder effektief aangewend is en later ook deur ander swart Afrikaanse skrywers gebruik word.
Satirisering deur die gebruik van Kaaps vloei in die verhaal “Wie laaste lag” uit ’n afwysing van die “aanwendsel om ’n soort Engels-Afrikaans” te praat. Dit vind neerslag in die ortografie wat ’n fonetiese weergawe van die taalvorm blyk te wees. Die kunsmatigheid en vertonerigheid van die taalvorm sou dan die spreker (Martha Jacobs) satiriseer, vgl.:
- Jy’s laiklie ôlweis raait > likely always right
- Au nau; my haspin iers not kalléd, hie’s ’n Ostryliën > Oh no; my husband is not coloured, he’s an Australian
- So newwer as te nooit elau > never allow
- Joe kaued > you coward
- Nêsjineletie > nationality.
Martha Jacobs se man, Charles, en seun, Isak, asook die verteller gebruik oorwegend die standaardvariëteit. Slegs in een geval gebruik die verteller die Kaapse idioom, in welke geval die stereotipering van Jacobs duidelik blyk, vgl. “Boos, amper soos ’n dierasie staan miesies Martha Djykips daar.”
Petersen se representasie van dialoog in Kaaps is veral treffend; vgl. die volgende uittreksel uit “Hanoverstraat se Mense”: “Ek sê djies giste-aand vir Achmat sê ek, Achmat djy wiet, Hadjirah is mos nou laiklie so haai-maainded van sy in die Wôme-estyt woon; nou kom sy nie mee’ vir ons kye nie!” Die spraakgenres van ’n Kaapse figuur blyk hieruit. Veral sprekend is die voorstelling van fonologiese en leksikologiese kenmerke eie aan Kaaps. Na aanleiding van Pheiffer (1996) kan die volgende verskynsels aangedui word in bostaande aanhaling:
Fonologies
- verhoging van vokale: djies, wiet
- ontronding van vokaal: kye
- weglating van konsonant deur apokopee: giste, mee, kye
- mutasie van j na dj: djies.
Leksikologies
- verafrikaansing van Engelse woorde: laiklie, haai-maainded, Wôme-estyt.
In “Ek probeer goed doen” is dit interessant om te let op die aandag aan die representasie van die nasale klanke van die vrou wat weens verkoue met ’n toe neus praat. In hierdie verhaal val ook die representasie van die sleeptong Kaapse aksent van die besope vrou op; vgl. “biekos waai, ek is miesies Lesch – sou troe – ewwerie iensj.”
In die verhale wat ondersoek is, kom ook ’n aantal woorde voor wat vandag argaïes is, onder andere diender en kaparrangs. Voorts is daar woorde wat vandag pejoratief is, maar wat in die tyd van publikasie waarskynlik deel van die omgangstaal was, soos Kaffervrou.
5. Slot
S.V. Petersen se besonderse aanvoeling vir taal en sy fyn waarneming van mense word gereflekteer in sy vroeë tydskrifverhale. Dit bied ’n veelkantige beeld van die plattelandse en stedelike Afrikaanse bruin mense gedurende die veertigerjare van die vorige eeu. Hierdie deel van die bevolking is grootliks genegeer in die letterkunde en geskiedenisboeke en daarom bring Petersen se verhale ’n waardevolle aanvulling tot die gebrekkige beeld van hierdie deel van die Afrikaanse spraakgemeenskap. Die narratiewe van die nuwe-generasie swart Afrikaanse skrywers waarin die stemloses stem kry, het dus ’n waardige voorloper in hierdie verhale van Petersen. Die verhale begin ook vroeg reeds die diskoers oor taal wat ’n deurlopende tendens in swart Afrikaanse skryfwerk is.
Bibliografie
Primêre tekste van S.V. Petersen in Die Naweek
“Rotjies”, 25 Maart 1943.
“Sommer mymering”, 29 Maart 1943, pp. 11–12.
“Verbode vrugte”, 29 April 1943, pp. 15 en 23.
“Wie laaste lag”, 6 Mei 1943, pp. 22–23.
“Hanoverstraat se Mense”, 3 Junie 1943, p. 15.
“My seun”, 10 Junie 1943, pp. 10–11.
“Tounie van die Onderland”, 1 Julie 1943, p. 15.
“Ek probeer goed doen”, 4 November 1943.
“Ek word diaken”, 25 November 1943, p. 9.
“Sy vader se misdaad”, 16 Desember 1943, p. 11.
“Dorpenaars”, 9 Desember 1943, p. 9.
“Bandeloos”, 14 Oktober 1943, p. 8.
“Na sewe jaar”, 10 Februarie 1944, pp. 1 en 6.
“Herinnering”, 2 Maart 1944, p. 15.
“Hennie Bloubok”, 23 Maart 1944, p. 5.
“Klaas Danster”, 29 Junie 1944, p. 11.
“Voetganger in die nag”, 10 Augustus 1944, p. 21.
“Wysheid langs die pad”, 9 November 1944, pp. 19 en 21.
“Op Nuweland”, 16 Augustus 1945, p. 29.
“In die hart van die stad”, 27 September 1945, pp. 14 en 27.
“Fragment uit ’n ongeskrewe roman”, 24 Januarie 1946, pp. 25, 27 en 34.
Sekondêre tekste
Bakhtin, M.M. 1981. Discourse in the Novel. In Emmerson, Caryl en Michael Holquist (reds.). The Dialogic Imagination. Austin: University of Texas Press, pp. 259-422.
February, V.A. 1981. Mind Your Colour: The “Coloured” Stereotype in South African Literature. Londen en New York: Kegan Paul International.
Field, R.M. 2002. Alex la Guma: A Literary and Political Biography of the South African Years. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif, Universiteit van Wes-Kaapland.
Gerwel, G.J. 1985. Van Petersen tot die hede: ’n kritiese bestekopname. In Smith, Julian F., Alwyn van Gensen en Hein Willemse (reds.). Swart Afrikaanse Skrywers: verslag van ’n simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville op 26-27 April 1985. Bellville: UWK, pp. 11-22.
Hugo, Daniel. 2002. Tydskrif 2: ’n Herontmoeting met vroeë Afrikaanse kortverhaalskrywers. Pretoria: Lapa Uitgewers.
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Pretoria, Kaapstad en Johannesburg: Academica.
Kawash, Samira. 1997. Dislocating the Color Line: Identity, Hybridity, and Singularity in African-American Narrative. Stanford: Stanford University Press.
Lewis, Gavin. 1987. Between the Wire and the Wall. A History of South African “Coloured” Politics. Kaapstad en Johannesburg: David Philip.
Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die Suide: geboorte en groei van die Nasionale Pers 1915-1948. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Nienaber, C.J.M. 1977. S.V. Petersen: Die Kainsmerk. In Oor Literatuur 2: Opstelle oor Letterkunde en Kritiek. Pretoria en Kaapstad: Academica.
Pheiffer, R.H. 1996. “Straatpraatjies” – ’n vroeë voorbeeld van Alternatiewe Afrikaans. In Adhikari, Mohamed (red.). Straatpraatjies: Language, Politics and Popular Culture in Cape Town, 1909–1922. Kaapstad: J.L. van Schaik.
Roos, Henriette. 1998. Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu. In Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en Profiel: ’n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis, Deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik Uitgewers.
Smith, Valerie. 1994. Reading the intersection of race and gender in narratives of passing. Diacritics 24(2-3):43-57.
Terreblanche, Sampie. 2002. A history of inequality in South Africa, 1652-2002. Pietermaritzburg: University of Natal Press.
Van der Ross, 1986. The Rise and Decline of Apartheid: A Study of Political Movements among the Coloured People of South Africa, 1880-1985. Kaapstad: Tafelberg.
Van Wyk, Steward. 2007. “Passing” in die Suid-Afrikaanse literatuur: ’n vergelykende ondersoek. Stilet 19(2), September:134-143.
Watson, Graham. 1970. Passing for White: A study of racial assimilation in a South African school. Londen: Tavistock Publications.
Western, John. 1981. Outcast Cape Town. Cape Town: Human en Rousseau.
Willemse, Hein. 1984. Die wrange klag, die satire en opstandigheid van die Kleurling: Towards a critical reconstruction of the intellectual history of black Afrikaans poets. Referaat gelewer by die konferensie Economic Development and Racial Domination gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, 8–10 Oktober 1984.