|
We don’t speak like this among ourselves – language standardisation and the construction of identity
It is unlikely that Standard Afrikaans has been based on one relatively uniform vernacular. Ana Deumert has convincingly argued that what we recognise as Standard Afrikaans today is a construction to be attributed to language entrepreneurs who strove for a unique South African identity towards the end of the nineteenth and early 20th century. This led to deliberately discarding some of the then metropolitan Dutch linguistic norms.
The Afrikaans negative and diminutive systems will be shown to be the linguistic outcome of these conceptions of identity and purity.
Wij spreken zo niet onder ons – taalstandaardisasie en die konstruksie van identiteit
Dit is onwaarskynlik dat Standaardafrikaans terug te voer is op een relatief uniforme vernakulêr. Ana Deumert toon oortuigend aan dat wat ons vandag as Standaardafrikaans herken, ’n konstruksie is wat ons te danke het aan die strewe van taalentrepreneurs teen die einde van die 19de en vroeë 20ste eeu. Hulle het aan ’n eie Suid-Afrikaanse identiteit gebou. Dit het soms daartoe aanleiding gegee dat daar bewus teen die Nederlandse norm ingegaan is.
Na aanleiding van die Afrikaanse negasie- en diminutiefsisteme word aangetoon hoe bepaalde identiteit- en suiwerheidsideale linguisties gekonstrueer is.
In hierdie artikel wil ek na aanleiding van onder andere die fundamentele en inspirerende werk van Deumert (2004) aantoon dat die interne geskiedenis van Afrikaans in die verlede dikwels te simplisties voorgestel is. Dit is onwaarskynlik dat Standaardafrikaans teruggaan op enkel en alleen een relatief uniforme vernakulêr/koine wat reeds teen die einde van die 18de eeu gestabi biliseer het. Wat ons vandag as Standaardafrikaans herken, is veel eerder ’n konstruksie wat ons aan taalentrepreneurs1 te danke het. Hulle het hul ten doel gestel om die "eerlike" landadel ’n stem te gee teenoor ’n hovaardige koloniale bestel (Deumert 2004:45–54). In die strewe na die konstruksie van ’n eie identiteit het ook Afrikaner-nasionalisme2 ’n nie onbelangrike aandeel nie gehad in die stryd om die opwaardering van Afrikaans as ampstaal.
Ek gee eers ’n kort uiteensetting van die standaardiseringsproses (§2). Vervolgens gaan ek in op die konstruksie van Standaardafrikaans (§3). Daarna toon ek aan in watter mate Standaardafrikaans in sekere opsigte die resultaat is van ’n strewe na ’n eie identiteit, wat soms daartoe gelei het dat bewus teen die Nederlandse norm ingegaan is (§4). Ek bespreek twee voorbeelde wat laat blyk hoe die identiteit- en suiwerheidsideale linguisties gekonstrueer is: die negasie- en die diminutiefsisteme (§5). Die laaste paragraaf bied ’n konklusie.
2. Die standaardiseringsproses
In die verlede is daar vanuit linguisties georiënteerde benaderinge met betrekking tot die standaardisering van taal dikwels uitgegaan van ’n streeks- of sosiale dialek wat die fonologiese, morfologiese en sintaktiese basis van die standaardvariëteit verteenwoordig. In die geval van Afrikaans word daar dikwels uitgegaan van ’n veronderstelde sosiolek genaamd Oosgrensafrikaans as basis van Standaardafrikaans (Van Rensburg 1984:514; 1989:436-67; 1990:66-7; Ponelis 1987:9; Du Plessis 1987a:108 e.v.; 1987b:44 e.v.) wat teenoor twee ander aanleerdersvariëteite, Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans, staan. Terwyl Oosgrensafrikaans teruggaan op natuurlik voortgesette dialektiese vorme van Hollands, spruit die twee sogenaamde aanleerdersvariëteite uit intertaalvorme3 as gevolg van taalkontak. Op die gebreke van hierdie opvatting is uitvoerig ingegaan deur Grebe (1997). Hoewel reeds uitvoerig op die gebreke van hierdie opvatting van Standaardafrikaans as wesenlik voortgesette Oosgrensafrikaans gewys is (Grebe 1997), word dit nog steeds dikwels in studies oor Afrikaans vermeld.
Standaardtale wat slegs op een dialek gebaseer is, kom egter nie algemeen voor nie en meestal is hulle die resultaat van dialektiese gelykmaking en koineïsering. Haugen (1972:226) wys daarop dat dit agteraf, as ’n taal eers gekodifiseer en ontwikkel is, byna onmoontlik is om te agterhaal wat die bron daarvan is. Die meeste standaardtale dien dus beskou te word as die resultaat van veelvoudige seleksie, dit wil sê, ’n komplekse rekombinasie van kenmerke van verskillende dialekte.
Vir Standaardnederlands toon Van der Sijs (2004) byvoorbeeld aan dat die invloed van Duits groot was in die vorming van die standaardtaal. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die naamvalsisteem. Die ooreenkoms tussen Standaardnederlands en Hoogduits is te opvallend om toevallig te wees, veral as mens ook weet dat geen enkele Nederlandse dialek in die 17de eeu nog naamvalle vertoon het nie en dat die naamvalsisteem van Middelnederlands daar heel anders uitgesien het.
Die sentrale stelling van Deumert in haar studie oor die standaardisering van Afrikaans is dat taalverandering aan die Kaap nie gelei het tot ’n rigiede sisteem van diglossie met aan die een kant as hoë variëteit Nederlands en sy akrolektiese variëteite en aan die ander kant as lae variëteit basilektiese variëteite van Kaaps-Hollands4 nie. Volgens Deumert is die ontwikkeling van Afrikaans tot standaardtaal gevolglik nie reduseerbaar tot die vervanging van Nederlands deur ’n lae variëteit daarvan, dit wil sê ’n bepaalde vorm van Afrikaans wat as ’t ware sinds honderd jaar vantevore daarop lê en wag het nie.5 Die taalstratifikasie (sosiaal, geografies en etnies) was volgens Deumert veel komplekser.
Aan die Kaap het daar ’n wye spektrum aan spreekwyses ontwikkel wat tot aan die begin van die 20ste eeu bly voortbestaan het. Hierdie sienswyse word gedeel deur Den Besten (1989) en Roberge (1995). Hulle beskou die standaardisering van Afrikaans immers nie as ’n reglynige proses nie, maar as die saamloop van meerdere ontwikkelingsbane en variante. Hieruit is deur ’n proses van fokussering6 en seleksie op basis van bepaalde sosiale en politieke ontwikkelinge aan die Kaap bewus ’n nuwe standaardtaal gekonstrueer wat as doel gehad het om as draer te dien van bepaalde politieke en sosiale ideale deur opvallend te kontrasteer met Standaardnederlands van die moederland.
Deumert (2004) lê uit hoe hierdie proses volgens haar verloop het. Sy wys byvoorbeeld daarop dat die meeste standaardtale ’n veelvoudige herkoms het en deur uiteenlopende vorme van taalkontak tot wasdom kom, maar tewens deur die wisselwerking tussen gesproke en geskrewe taal. Anders as die reglynige en betreklik snelle ontwikkelingsgeskiedenis waarvan die Suid-Afrikaanse Filologiese Skool (vergelyk eindnota 5) uitgaan, konkludeer Deumert op grond van haar ondersoek dat Afrikaans langsamer ontwikkel het as wat aanvanklik gemeen is. Sy het ’n korpus Kaapse tekste (die Korpus Kaaps-Hollandse Korrespondensie)7 onderwerp aan ondersoek, waaruit blyk dat die variasie tot ver in die 20ste eeu voortgeduur het. Afgesien van taalkontak en akkulturasie het ook politieke en sosio-ekonomiese faktore meegewerk.
3. Die konstruksie van Standaardafrikaans
Anders as wat gewoonlik aanvaar word, was die taalsituasie aan die Kaap gedurende die 18de eeu nie eenvoudig diglossies met die Kaaps-Hollandse Vernakulêr (Afrikaans) as inheemse lae variëteit en Nederlands as die hoë variëteit wat in die skole onderrig en in formele situasies gebesig is nie. In plaas van so ’n "gebruiksgeoriënteerde" diglossie veronderstel Deumert (2004:64) ’n situasie van "gebruikersgeoriënteerde" dialektiese diglossie. Dit het ingehou dat variëteite dig by die Nederlands (matri- en akrolekte) nie die hoë variëteit gevorm het vir die gehele taalgemeenskap nie. Aan die Kaap was daar groepe vir wie die hoë variëteit die eerste taal was wat hulle ook in informele situasies gebruik het, maar daar was eweneens groepe wat hierdie hoë variëteit nie beheers het nie. Die gebruik van die hoë en lae variëteite en variante vorme was nie alleen afhanklik van die domein (formeel/informeel) nie, maar is tewens bepaal deur sosiale kenmerke soos klas, etnisiteit en ras. Die gesproke Kaaps-Hollandse vernakulêr het ’n veelheid van variëteite en variante bestryk, was erg onvas en sou eerder gekenmerk kon word deur ’n sosiolinguistiese dialekkontinuum te veronderstel.
Met behulp van hierdie wye spektrum aan spreekwyses waar al na gelang die konteks gebruik gemaak kon word, het aanvanklik die dialekskrywers identifiseerbare karakters op grond van taalvariasie getipeer. Hulle navolgers, die taalentrepreneurs op hierdie ryke "taalmark’', het hierdie heteroglossiese taalkontinuum omvorm deur stemme te laat opklink wat ’n gemeenskapsidentiteit laat hoor het (Deumert 2004:45-54).
Tydens die 19de eeu het daar aan die Kaap ’n skryftradisie ontstaan wat gestadig verder ontwikkel het.8 Tiperend vir hierdie Kaapse dialektekste was die gebruik van die opvallendste kenmerke van die Kaaps-Hollandse vernakulêr. Die oogmerk van die skrywers daarvan was ongetwyfeld om hulle te bedien van dit wat hulle as die plaaslike Kaaps-Hollandse dialek beskou het. Mens moet egter besef dat dialektekste normaliter sosiolinguistiese stereotipes reflekteer en daarom nie noodwendig linguisties outentiek is nie. Hierdie tekste gaan trouens dikwels mank aan stereotiepe oordrywing en oorveralgemenings en moet daarom geïnterpreteer word as ’n komplekse, sosiaal bemiddelde representasie van die vernakulêr.
Hierdie tekste vertoon dikwels ’n versmelting van verskillende niestandaardkenmerke wat nie per se tegelykertyd (in algemene en frekwentatiewe sin) voorkom in die spraak van outentieke dialeksprekers nie. ’n Tipiese procédé is om die teks gewoon te deurspek met stereotiepe kenmerke van die ongepolyste niestandaardtaal. Prototipiese koloniale karakters soos Arma Boer, Boereseun, Een Burger, Polly Lekkergoed, Grietje Beuzemstok, Klaas Waarzegger, Kaatjie Kekkelbek e.a. is gevolglik in die Kaapse tekste ten tonele gevoer. Die taalgebruik van hierdie tekste moet derhalwe geïnterpreteer word as ’n kulturele stereotipe van die alledaagse gesproke taal - ’n nabootsing gebaseer op oorveralgemening.
Hierdie dialektekste was baie populêr, ook onder die Moslemgemeenskap van die Bo-Kaap en die Morawiese sendinggemeenskap in Genadendal wat oor ’n eie drukpers beskik het. So het ’n gestileerde linguistiese en sosiale prototipe ontstaan wat die gewone boer en die landvolk (geakkultureerde inheemses) geportretteer het as simboliese teenoorgesteldes van die hovaardige koloniale Engelsman en stedeling.
Wat aanvanklik heel spontaan gefabriseer is, het hoe langer hoe bewuster geword. Hierin het politieke en sosiale kragte meegewerk. Vóór die einde van die 19de eeu het ’n gemeenskaplike basiskoine wellig nouliks bestaan. Dit het eers in die loop van die eeu ontwikkel, sodat daar op basis hiervan pas teen die begin van die 20ste eeu met standaardisering begin kon word.
4. ’n Eie identiteit
Diegene wat verantwoordelik was vir die fokusseringsproses, het tot hoofsaaklik die opkomende professionele klas behoort en hulle het tewens ’n belangrike rol vervul tydens die opkoms van Afrikaner-nasionalisme vanaf die einde van die 19de eeu. Boonop kon alleen hierdie betreklik goed-opgeleide klas bepaalde taalvorme as Neerlandismes eien vanweë hul vertroudheid met die Nederlandse norm. Hulle kon dan ook moeiteloos heen en weer oorskakel tussen die nuwe opkomende standaard ( Afrikaans) en Nederlands.
Die fokusseringsproses is heel bewus in bepaalde bane gestuur. Dit blyk duidelik uit die volgende uitspraak van die vroeë Afrikaanse skrywer Melt Brink (1842-1915):
Ik heb mij, wat de taal betreft, zooveel mij zulks mogelijk was, aan de middenweg tussen goed Hollands en Patriots gehoude. De eerste omdat ik denk dat deze voor velen gemakkelijker zal lezen, en ten tweede omdat ik het Patriots te overdreven acht, wij spreken zo niet onder ons. Ik heb het Kaaps-Hollands zoals wij het gewoonlijk spreken gevolgd. ( Kannemeyer 1984:71.)
Tydens die standaardiseringsproses moes daar tussen konkurrerende vorme en konstruksies gekies word. Uit die Korpus Kaaps-Hollandse Korrespondensie is dit duidelik dat daar tot vroeg in die 20ste eeu nog ’n groot variasie was ten opsigte van dié kenmerke wat Afrikaans as verskillend van Nederlands tipeer. Maar tydens die periode dat Afrikaans verfyn moes word, is daar allig ten gunste van kenmerke beslis wat nie noodwendig tot ’n bepaalde lek behoort het nie. Sulke kenmerke het egter voldoen aan bepaalde ingebeelde idees oor "suiwerheid" wat die Afrikaner-nasionalisme ingespan het of wat voldoende afstand tussen die nuwe norm (Afrikaans) en Nederlands geskep het. Bepaalde vorme uit die variasiekontinuum is óf as te basilekties (“Hotnotstaal”) óf as te Nederlands beoordeel.
Die vroeë Afrikaanse gedig "Di Afrikaanse Taal" van J. Lion Cachet (1838-1912) in Brink (2000:15) laat hierdie nasionale suiwerheidsnorme sien:
Di Afrikaanse Taal
Ek is ’n arme boernôi;
By fele min geag:
Mar tog is ek fan edel bloed,
En fan ’n hoog geslag,
Uit Holland het myn pa gekom,
Na sonnig Afrika;
Uit Frankryk, waar di druiftros swel,
Myn liwe mooie ma.Hul skel my uit fer Hotnots myd;
Mar ek gé daar ni om;
Want an myn lippiis kan jy siin,
Fan wat geslag ek kom[ …]
Myn sussi, wat van Holland kom,
Di hou ferniit haar groot:
Di lig is al te skerp fer haar;
Sy is al amper dood. …
Die volgende reël uit die gedig "Fooruitgang" (Brink 2000:9) van C.P. Hoogenhout (1843-1922) gee eweneens blyke van ’n nasionale gevoel en suiwerheidsideale: “'Leer maar Engels, dit maak salig!' skre hul uit met groot geraas,/ 'Hollands sal fan self kome, Afrikaans is Hotnotstaal!'"
Uit hierdie sitate blyk watter argumente teen en vir die opwaardering van Afrikaans gevoer is. Veral in sommige kringe is Afrikaans as ’n verbasterde patois of as "Hotnotstaal" beskou. Maar ook die goeie afkoms van Afrikaans en sy eienheid as behorende tot Afrika is beklemtoon. Hierdie twee standpunte is ook in die standaardiseringsproses verreken: nie te veel oorhel na die basilektiese/kreoolse nie, maar tewens ’n eie Afrikaanse identiteit laat sien.
5. Voorbeelde
Hier onder bespreek ek twee voorbeelde wat laat sien hoe hierdie identiteit- en suiwerheidsideale linguisties gekonstrueer is.
5.1 Nie-2: dubbele ontkenning
NIE-2 vorm een van die opvallendste verskille tussen moderne Standaardafrikaans en Nederlands. In die vroeë Kaapse tekste en die Korpus Kaaps-Hollandse Korrespondensie wat deur Deumert ondersoek is, is die frekwensie van NIE-2 nogal laag – in die Korpus slegs 21 persent van gevalle (363 op 1746).9 Ook die spreiding van NIE-2 oor die verskillende skrywers van hierdie tekste val op. Slegs ’n derde gebruik soms die konstruksie. Vir geeneen is die konstruksie die norm nie, maar as hulle hul wel daarvan behelp, is dit volkome in ooreenstemming met die struktuur van Standaardafrikaans. Dit is daarom des te verwonderliker dat NIE-2 as ’n kenmerk van Standaardafrikaans opgeneem is, veral as mens in ag neem dat hierdie konstruksie geassosieer is met die kreoolse gedeelte van die spraakgemeenskap (as die taal van ’n "Hotnots myd" beoordeel is) en dat dit daarom geen opvallende prestige kon gehad het nie. Boonop het NIE-2 slegs sporadies in die meso- en akrolektiese variëteite voorgekom. In die vroeë dialektekste is NIE-2 veral gekleurde sprekers in die mond gelê.
NIE-2 het vir veel kontroverse in die Afrikaanse historiese taalkunde gesorg. Gevalle van sogenaamde NEG-deurslag ("negative spread") is nie onbekend in diverse Wes-Germaanse lekte nie (vgl. Pauwels 1958:435-57). Veral die Suid-Afrikaanse Filologiese Skool (vergelyk eindnota 5) het hierdie ooreenkomste aangegryp in hul argumente dat NIE-2 geen kreoolse kenmerk is nie en gewoon voortspruit uit en ’n verdere ontwikkeling verteenwoordig van ’n eienskap wat reeds in 17de-eeuse Nederlands bestaan het. Maar nadat Den Besten (1985; 1986) diverse negasiesisteme van Wes-Germaans binne die kader van die Afrikaanse sisteem ondersoek het,10 kom hy tot die slotsom dat, soos Nienaber reeds in 1934 vermoed het, substratuminvloed buite kyf staan.11
Uit vroeë dialektekste blyk dit duidelik dat die gebruik van NIE-2 bepaal is deur register en styl (Deumert 2004:196–204). Nie alleen is die gebruik van negasie frekwenter in die gesproke taal nie, maar NEG-deurslag as emfatiese strategie is tewens kenmerkend vir die informele spreektaal en taalkontaksituasies. Hierdie emfatiese funksie van NIE-2 het verlore gegaan toe dit as bereiksmerker ("scope mark") gegrammatikaliseer het. Uit die analises van Den Besten (1985) en Nienaber (1994) (vgl. eindnota 11 en ook Roberge 2000:148) word dit duidelik dat die innovasie en herstrukturering sy ontstaan in die veeltalige kreoolse gemeenskap het.
Maar nou is dit waarskynlik juis hierdie sosiale en stilistiese kenmerke van NIE-2 wat daarvoor gesorg het dat dit gestandaardiseer is. Die sosiolinguistiese eienheid van NIE-2 het die deurslag gegee. Simbolies is die nuwe standaardtaal teenoor Nederlands beklee as behorende tot die volk.
Die enigste ondersteuning vir die veronderstelling dat ’n volkse, van oorsprong kreoolse kenmerk, bewus tot die standaardtaal verhef is, is te vinde in Deumert (2004:169–204) se interpretasie van haar analises van die Korpus Kaaps-Hollandse Korrespondensie. Dit sou daarom interessant wees om na te gaan of daar ook genotuleerde besluite of terloopse opmerkinge in hierdie verband gedokumenteer is.
Nog tot die eerste kwart van die 20ste eeu was NEG-2 ’n veranderlike kenmerk met ’n lae frekwensie. Maar die nuwe standaardtaal moes wat bepaalde kenmerke betref, doelbewus met die ou koloniale standaard kontrasteer. Hierdie assosiasie van NIE-2 met die eerlike Afrikaanse boer en landvolk het sy wortels in die populêre dialekskryftradisie uit die jare 1850. Maar vanweë die reëlmatige en vaste struktuur wat reeds in die grammatikas van die GRA12 vasgelê is, het dit tog weer opvallend en ondubbelsinnig gekontrasteer met die onvaste en veranderlike asook gemengde variëteite van die gekleurdes en onderklasse.
Standaardafrikaans was dus ’n konstruksie wat bewus moes kontrasteer met Nederlands en die Nederlandse norm in bepaalde gevalle duidelik afgewys het. Die volgende opmerking laat dit duidelik sien:
Ook van die kant van Nederlands dreig ons ’n gevaar. Ons weet hoe moeilik dit vir ’n openbare spreker was wat gewoond geraak het aan sijn soort Nederlands om ’n Afrikaanse aanspraak te lewer. Hy verval onbewus in Nederlandse vorm. Dit geld ook van schrijwe (…) Eers in die laaste jare na veel studie en bewuste strewe, kan ’n mens ’n groot verbetering opmerk. Dit gaan hand aan hand met ’n toenemende hoogskatting van ons taal wat (…) ’n so suiwer moontlike gebruik eis. (Malherbe 1917:44)
5.2 Die diminutiefsisteem
Gedurende 1987 het ek opnames gemaak in die omgewing van my geboortedorp, Swellendam, ten einde ’n indruk te kry van die taalgebruik van die trekboere "over de bergen van Afrika" tydens ongeveer die aanvang van die Groot Trek. Die respondente was toe almal ouer as 75 jaar. Hierdie mense sou dus hul Afrikaans verwerf het op basis van sprekers wat rondom 1870 gebore is – min of meer in die tyd toe die standaardisering van Afrikaans oorgegaan het in ’n bewuste proses. Opvallend van hulle taalgebruik, waaroor eerder verslag gedoen is (Grebe 2004), was die aanwending van die diminutiefmorfeem [-t∫i], tiperend vir die Kaapse tongval van die gemeenskap met oorspronklik die Bo-Kaapse Maleiergemeenskap in die kern, daar waar Standaardafrikaans nou [-ki] het. Dit is intrigerend, omdat hierdie sprekers verteenwoordigend is van die vroeë dialekbundel Burgerafrikaans wat veronderstel is om weinig intertaalkenmerke te vertoon. Opgetekende voorbeelde sluit in: slootjie; meisietjie; jongetjie; soutribbetjie; emmertjies; bordjie.
Den Besten (1989:210) merk op dat, ongeag die duidelike verskille tussen die Afrikaanse verkleiningsisteem en die Nederlandse, Afrikaans nietemin opvallend met die Hollandse dialekte ooreenstem:
Standaardndl. | Niestandaardndl. (Hol.) | Afrikaans |
---|---|---|
maan+tje
|
maan+tje | maan+tjie |
bom+etje
|
bom+etje | bom+etjie |
paard+je
|
paard+je | perd+jie |
huis+je
|
huis+ie | huis+ie |
kop+je
|
kop+ie | kop+ie |
boom+pje
|
boom+pie | boom+pie |
koning+kje
|
koning+kie | koning+kie |
Die enigste verskil tussen Afrikaans en Nederlands skyn die verskil in die vokaal van die diminutiewe allomorf te wees: [-i] teenoor [-É™] , maar hierin kom Afrikaans dan weer met sy dialektiese Hollandse basis ooreen. Le Roux (1921:42) bevestig dit: "Vkl. Wdn. worden in ’t Afr. op dezelfde wijze als in ’t Ndl. gevormd, met dit verschil, dat met ’t Ndl. –je in ’t Afr overeenkomt –ie, met Ndl. –tje Afr. –tjie …" Desondanks is daar tog een belangrike verskil wat nie direk uit die spelling blyk nie. In Nederlands kom daar telkens [-t ∫É™] voor waar Standaardafrikaans [-ki] het – al word ook –tjie gespel, word dit as –kie uitgespreek. Maar nog tot vroeg in die 20ste eeu was die verskil tussen Nederlands en Afrikaans enigsins komplekser. Toe was daar twee konkurrerende sisteme. In die suidwestelike variëteit met die Boland as kerngebied het [-t∫i] algemeen voorgekom, terwyl [-ki] elders skynbaar die voorkeurvariant was.
Noudat [-ki] die enigste moontlikheid in Standaardafrikaans is, kom [-t∫i] alleen nog voor as gestigmatiseerde suidwestelike Kaapse variant. Vandag val dus nog net die swaar gestigmatiseerde suidwestelike variëteit van Afrikaans binne die bereik van die Hollandse sisteem. Ponelis (1993:161) konkludeer tereg dat ander variëteite van Afrikaans, met inbegrip van Standaardafrikaans, geen direkte aansluiting met enige Nederlandse variëteit meer vertoon nie. Hy vermoed wel dat [-ki] ’n vormverwante variant (refleks) kan wees van die Oudgermaanse suffiks *-(i)kîn wat in Hollandse dialekte bly voortbestaan het toe die variante met palatalisering ongepalataliseerde vorme begin verdring het. Ponelis (1993:160) wys ook op verwante variante in Suidhollandse dialekte met [-xi] soos in [tauxi] touwchie.
Anders as Ponelis (1988; 1990; 1993) se vermoede dat die [ki]-sisteem primêr terug te voer is op die Oudwesgermaanse uitgang *-(i)kîn, betwyfel Den Besten (2000:8-11) dit. Op grond van linguistiese ontledinge toon laasgenoemde oortuigend aan dat hierdie hipotese onhoudbaar is. Die Wes-Kaapse sisteem met [-t∫i] is volgens Den Besten direk afleibaar van die Suid-Hollands-Utrechtse sisteem. Hy konkludeer: “Dit betekent, dat we moeten aannemen, dat het Kaaps systeem nog dicht bij het oorspronkelijke Zuid-Afrikaansche diminutiefsysteem staat, terwijl het Standaard-Afrikaanse systeem daarvan is afgeleid."
Oor die diminutiefsisteem merk Le Roux (1921:42) op dat –tjie in gedeeltes van die Transvaal en die Vrystaat oorgaan tot –kie. Ook Steyn (1988) wys daarop dat S.J. du Toit in die sestiende van sy 71 stellings opmerk dat “op verskeie plekke in die onderveld word verkleinwoorde gemaak met -ki in plaas van –tji (hoewel oek al weer ni altyd ni)” (Du Toit 1891:51).
Tydens die eerste Afrikaanse Taalkongres wat op 15 en 16 Januarie 1896 in die Paarl plaasgevind het, is ’n "adviseerende stem" uitgebring waarin bitji verbasend genoeg 45 stemme gekry het en biki ’n skamele 25. Ook interessant is die opmerking van Steyn (1988:66) dat die meeste van die afgevaardigdes Kaaplanders was omdat die Transvalers en Vrystaters deur die Jameson-inval in die ZAR verhinder is.
Op 18 September 1915 het die Suid-Afrikaanse Akademie voor Wetenskap en Kuns op sy sesde jaarvergadering die voorgestelde reëls vir Afrikaans goedgekeur. Daar is op die verkleiningsmorfeem –tjie/-djie ten koste van –kie besluit. Hieroor het Malherbe (1917:21) opgemerk dat dit ’n beslissing was ”waarbij alle binnelanders wat –kie sê [my beklemtoning – HPG], hulle met vrijmoedigheid kan neerlê”.
J.J. Smith van De Huisgenoot (aangehaal deur Steyn 1988:69) het in Junie 1917 geskrywe dat indien –kie in plaas van –tjie toegelaat sou gewees het, die gevaar sou bestaan dat dit eweneens by ander woorde gebruik kon word. Hieruit blyk dat die uitspraak met die k toe stellig nog afgekeur is en hoofsaaklik ’n "onderveldse" variant was.
Later sou hierdie waardeoordeel, gebaseer op projeksie,13 omkeer. Hoe dit ook sy, die vraag na die redes waarom variante met [-t∫i] uit Standaardafrikaans geweer is, bly relevant. Hierdie gepalataliseerde variante was immers in ooreenstemming met die Nederlandse norm en selfs destyds die voorkeurvariante.
Op hierdie vraag kan ek op grond van enkele aanwysinge hoogstens ’n tentatiewe antwoord gee. Ek vat kort saam. Afrikaans het vroeër twee diminutiefsisteme geken: in die suidwestelike variëteit [-t∫i] in bepaalde kontekste waarin ander variëteite [-ki] voorgekom het. [-ki] was veral algemeen in gebiede anderkant die eerste Kaapse berge, dieper die binneland in, maar soos uit meerdere gegewens in die literatuur afgelei kan word, ook weer nie altyd nie. Omdat die suide aanvanklik die toon aangegee het, is die variante met [-t∫i] gestandaardiseer, soos nog steeds blyk uit die -tjie/djie-spelling van Standaardafrikaans.
Vanaf die einde van die jare twintig van die vorige eeu het die noorde van die land steeds belangriker geword – die ekonomiese sentrum het immers reeds daar gelê en in 1936 is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie in Johannesburg gevestig. Omdat as gevolg daarvan ’n groter ewewig tussen noord en suid daaruit voortgekom het, is in noordelike publikasies in toenemende mate die stryd aangebind teen tipiese Bolandse vorme. Coetzee (1948) noem voorbeelde soos (met die noordelike vorme eerste): more/môre, sop/soep en ertappel/aartappel.
’n Kenmerkende eienskap van ouer Afrikaans hang hiermee saam. T.H. le Roux (1910) vermeld dat palatalisasie vroeër in Afrikaans veel algemener voorgekom het as wat tans in Standaardafrikaans toegestaan word. Veral [k] en [x] was onderhewig hieraan:
kind: kjint; kjent; tjeent
gee: sjee.
Den Besten (2000:22) wys uit dat Le Roux (1910) hierdie vorme van palatalisasie aandui as voorkomend in die noordelike en oostelike gedeeltes van die Kaapkolonie en in die Vrystaat en Transvaal. Slegs die palatalisasie van [x] tot [t∫] het ook in beperkte mate in die Boland voorgekom.14 Swaar vorme van palatalisasie is in verband gebring met die KhoeKhoe-substratum en gevolglik mettertyd swaar gestigmatiseer. Dit het aanleiding gegee tot ’n aanvanklik tot die binneland beperkte sogenaamde teenreël [t∫] > [k]. Met meegaande hiperkorreksie het dit volgens Den Besten gelei tot die substitusie van die diminunitief-[-ki] vir -[-t∫i].
My hipotese is dat die stigmatisering van swaar vorme van palatalisasie in die binneland mettertyd ook die palatale diminutief-[t∫i] wat in die Boland steeds die gangbare norm was, negatief getref het. Die spelling was toe reeds ingeburger, maar aan die uitspraak kon nog getorring word. Die noordelike uitspraakvariant met [-ki] het kragtiger geword deurdat die Bolandse variante met die affrikaat [t∫] steeds sterker gestigmatiseer is en voorts foutiewelik in verband gebring is met steeds meer vermeende kreoolse invloede wat nie gestrook het met die sterker wordende rassuiwerheidsideale van Afrikaner-nasionalisme nie.
Hierdie stigmatiseringsproses van die diminutiewe [t∫] moet binne konteks gesien word van die kreoolse, Kaapse tongval met in die kern daarvan die Bo-Kaapse Maleiergemeenskap. Opvallend is die affrikaat [dz] teenoor die [j] van ander minder kreoolsgekleurde variëteite, byvoorbeeld: jy [dzy]; jou [dzou]; julle [dzulle]; jaar [dzaa]; Jesus [dzisas] ens. Toe die ek-spelling byvoorbeeld in 1920 deur die Akademie ingevoer is, het prof. N.J. Brümmer van die Stellenbosse Kweekskool sterk kapsie gemaak. Hierdie uitspraak, het hy betoog, is vanuit die Kaap oor Worcester na die noorde versprei. Verder het hy opgemerk: “Om het tans als algemeen geldend te verklaren is ’n overwinning van de Slamaaiers” (Akademie-jaarboek 1920:74-75). Die [ε] van ek (teenoor ik) verteenwoordig ’n geval van vokaalverlaging wat net soos affrikatisering tiperend is vir die tipies Kaapse tongval waarna hier bo verwys is (vgl. regtig/régtàg, gedoen/gàdoén, lemoen/làmoén, magtig/mágtàg).
Uit Brümmer se opmerking blyk duidelik hoe betuttelend en neerbuigend geoordeel is oor tipiese Kaapse vorme wat in verband gebring is (in die geval van die diminutief-[-t∫i] ontereg) met gekleurde sprekers. Alles dui daarop dat dit presies so gegaan het met die palatale [-t∫i]-variant van die diminutief. Die affrikaat [t∫] is stellig in verband gebring met die affrikaat [dz], tiperend vir die taal van die kreoolse Bo-Kaapse Maleiergemeenskap. Die stigmatisering van die [t∫i]-uitspraak is miskien aanvanklik aangevoer vanuit die noorde, maar juis omdat mense veral in die suide gevoelig was vir die smet van "Hotnotstaal" ook daar deurgevoer. Anders kan nie verklaar word waarom dit teenswoordig oor die hele spraakgebied as onbeskaafd beoordeel word nie.
Ons sien dus dat dit met die verkleiningsmorfeem presies andersom gegaan het as met NIE-2, terwyl dieselfde identiteitskeppende kragte werksaam was waarmee volk en taal op mekaar afgestem is. Die Nederlandse herkoms van die [t∫i]-variante is toe nie meer aangevoel nie, maar juis geassosieer met die gekleurde bevolkingsgroep aan die rand van die wyer spraakgemeenskap. Hierdie groep het bowendien nie meegetel in die nasionaliteitstrewe van die Afrikaner nie. Daarom moes hierdie variante die aftog blaas.
6. Ten slotte
Ek het geprobeer om aan te toon dat bepaalde kenmerke van moderne Standaardafrikaans nie oortuigend verklaar kan word deur één onderliggende basisdialek te veronderstel nie, maar dat die wisselwerking tussen die verskillende variëteite van die gesproke en geskrewe taal soms van deurslaggewende belang was vir die totstandkoming van die standaardtaalvorm. Daarmee saam is bewus gewerskaf aan ’n eie identiteit deur soms teen die Hollandse norm in te gaan. Soms is daar ook wel "laer getrek" ten einde "onsuiwerhede" te vermy. Tog bly Standaardafrikaans soos in die mond van Jan Rabie die enigste ware produk van geslaagde nierassige samewerking in Suid-Afrika.
Bibliografie
Barkhuizen, J.H., H.P. Stander en G.J. Swart. 1992. Hupomnēma. Pretoria: Dept. Grieks, Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, Universiteit van Pretoria.
Berns, J.B. en J. van Marle. (reds.). 2000. Overzees Nederlands. Lezingen gehouden op het symposium van de afdeling Dialectologie van het P.J. Meertens-Instituut op vrijdag 26 november 1993. Amsterdam: Meertens-Instituut.
Blount, B.G. en M. Sabches. (reds.). 1977. Sociocultural Dimensions of Language Change. New York: Academic Press.
Boretzky, N., W. Enniger en T. Stoltz. (reds.). 1985. Akten des 1. Essener Kolloquuium ber Kreolsprachen und Sprachkontakte. Bochum: Studienverlag Dr. N. Brockmeyer.
Botha , T.J.R. e.a. (reds.). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Kaapstad: Academica.
Brink, André P. 2000. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Coetzee, A.J. 1948. Standaard Afrikaans. Intreerede by die aanvaarding van die R.K. Fraay-leerstoel in die Afrikaanse Taal- en Volkskunde aan die Universiteit van die Witwatersrand. Johannesburg: Pers van die Universiteit van die Witwatersrand.
Den Besten, H. 1985. Die doppelte Negation im Afrikaans und ihre Herkumft. In Boretzky, Enniger en Stoltz (reds.) 1985, pp. 9–42.
—. 2000. De diminutief in het Afrikaans: Kloeke en Ponelis opnieuw beschouwd. In Berns en Van Marle (reds.) 2000, pp. 7–39.
—. 1986. Double negation and the genesis of Afrikaans. In Muysken en Smith (reds.) 1986, pp. 185–230.
— .1989. From Khoekhoen foreigntalk via Hottentot Dutch to Afrikaans: the creation of a novel grammar. In Pütz en Dirven (reds.) 1989, pp. 207–49.
Deumert, A. 2004. Language Standardization and Language Change. The dynamics of Cape Dutch. Amsterdam: John Benjamins.
Di eerste Afrikaanse Taalkongres, gehou an di Paarl, 15 en 16 Jannewari 1896. Paarl: D.F. du Toit en Co.
Du Plessis, H. 1987a. Aspekte van Suidwes-Afrikaans met spesifieke verwysing na die Afrikaans van die Van der Merwes. Pretoria: RGN-verslag.
— 1987b. Variasietaalkunde. Pretoria: Serva.
Du Plessis, H. en T. Du Plessis. 1987. (reds.). Afrikaans en taalpolitiek. Pretoria: HAUM.
Du Toit, S.J. 1891. Afrikaans as volkstaal, 71 theses, of stellinge. Paarl: D.F. du Toit en Co.
Grebe, H.P. 1997. Die historiografie van Afrikaans in heroënskou. Ongepubliseerde D.Litt.-proefskrif, Universiteit van Pretoria.
—. 2004. Onder de stolp van de tijd vandaan: een voorstudie naar de standaardisering van Afrikaans. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 11 (1): 65–81.
Haugen, E. 1972. The Ecology of Language. Stanford: Stanford University Press.
Kannemeyer, J.C. 1984. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. (Tweede uitgawe.) Volume Een. Pretoria: Academica.
Le Page, R.B. 1988. Some premises concerning the standardization of languages, with special reference to Caribbean Creole English, International Journal of the Society of Language, 71, 1988:25–36.
Le Roux, T.H. 1910. Beschrijvende klankleer van het Afrikaans. Leiden: Stijthoff. Diss. Leiden.
Le Roux, J.J. 1921. Handleiding in het Afrikaans voor Nederlanders. Amsterdam: S.L. van Looy.
Malherbe, D.F. 1917. Afrikaanse Taalboek. Bloemfontein: Nationale Pers.
Mesthrie, R. 1995. Language and Social History: Studies in South African Sociolinguistics. Kaapstad: David Philips Publishers.
Muysken, P. en N. Smith. (reds.). 1986. Substrata versus Universals in Creole Genesis. Amsterdam: John Benjamins.
Nienaber, G.S. 1994. Na 60 jaar weer nie-2. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 21, 1994:68-149.
Pauwels, J.L. 1958. Het dialect van Aarschot en omstreken (Bouwstoffen en studieën voor de geschiedenis van het Nederlands V, 1). Brussel: Belgisch Interuniversitair Centrum voor Nederlandistiek.
Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse Sintaksis. Pretoria: J.L. van Schaik.
—.1987. Die eenheid van die Afrikaanse taalgemeenskap. In Du Plessis en Du Plessis. (reds.) 1987, pp. 3–15.
—. 1988. Historiese verband van die Afrikaanse diminutiefsvorm. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 28, 1988:311–26.
—. 1990. Historiese klankleer van Afrikaans. In Annale Universiteit van Stellenbosch
1990/1. Stellenbosch : Universiteit van Stellenbosch.
—. 1993. The Development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang.
Pütz, M. en R. Dirven. 1989. Wheels within wheels. Frankfurt am Main: Peter Lang.
Raidt, E.H. s.a. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou Beperk.
Roberge, P.T. 1995. The formation of Afrikaans. In Mesthrie 1995, pp. 68–87.
—. 2000. Etymological opacity, hybridization, and the Afrikaans brace negation. American Journal of Germanic Linguistics and Literature, 12, 2000:101–76.
Rubin, J. 1977. New insights into the nature of language change offered by language planning. In Blount en Sabches (reds.) 1977, pp. 253–70.
Steyn, J.C. 1988. Enkele skryftaalprobleme van Afrikaanse koerante in die “owergangstijdperk” tot omstreeks 1917. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 6(3).
Van der Sijs, N. 2004. Taal als mensenwerk, de geschiedenis van het ontstaan van het ABN. Den Haag: SdU Uitgevers.
Van Rensburg, M.C.J. 1984. Die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare. Pretoria: RGN-verslag.
—. 1989. Soorte Afrikaans. In Botha e.a. (reds.) 1989, pp. 436–67.
—. 1990. Taalvariëteite en die wording van Afrikaans in Afrika. Bloemfontein: Patmos.
— 1 992. Op soek na Afrikaans: oor ontbrekende perspektiewe in die Afrikaanse geskiedskrywing. In Barkhuizen, Stander en Swart (reds.) 1992, pp. 307– 29.
Eindnotas
1 Hierdie term is deur Rubin (1977) gemunt en verwys na die agente van taalstandaardisasie wat uit die heteroglossiese variasiespektrum van die taalmark probeer om "gemeenskapstemme" tot stand te bring.
2 Vergelyk Deumert (2004), hoofstuk 4.
3 De term intertaal funksioneer binne die sogenaamde "intertaalsiening" van T2-verwerwing deur volwassenes (Van Rensburg 1992:307 e.v.). As ’n volwassene probeer om ’n tweede taal spontaan te verwerf, om watter redes dan ook, bereik hy meestal geen perfeksie in die tweede taal nie. Sy vorm van die doeltaal bly steek êrens tussen die brontaal en die doeltaal. So ’n intertaal/aanleerdersvariëteit het ’n eie interne dinamiek. Hierdie "aanleerderskragte" veroorsaak o.a. substratumkenmerke in die "aanleerdersvariëteit", asook ’n neiging tot die regularisering van ondeursigtige grammatiese sisteme, soos by die onreëlmatige werkwoorde.
4 In gemeenskappe waar dekreolisering moontlik was, ontstaan daar ’n spektrum van linguistiese variasie: basilek – ’n intertaalvariëteit wat die verste verwyderd is van die doeltaal; akrolek – ’n variëteit wat wesenlik dieselfde is as die doeltaal afgesien van miskien die aksent en enkele grammatiese verskille; mesolek – ’n variëteit êrens tussen dié twee pole, maar meestal steeds baie variabel en onvas.
5 Volgens die sogenaamde Suid-Afrikaanse Filologiese Skool is die standaardisering van Afrikaans die resultaat van kodifisering en uitbreiding van ’n reeds bestaande en relatief uniforme vernakulêr/koine wat reeds teen 1775 gestabiliseer het (vgl. Raidt 1991:174). Hierdie koine sou dan deur natuurlike taalveranderingsprosesse gegroei het uit 17de-eeuse Nederlands/Hollands en het die lae variëteit binne ’n toestand van diglossie verteenwoordig. Die “Oosgrens”-hipotese waarna ek in paragraaf 2 verwys, hou verder in dat die basisdialek van Afrikaans nie alleen geografies afgegrens is nie, maar ook verskans is teen moontlike invloede vanuit die aanleerdersvariëteite van Nederlands.
6 Fokussering verwys na ’n proses van onderlinge tegemoetkoming wat dialektiese gelykmaking tot gevolg het en lei tot ’n goed-gedefinieerde bowedialektiese koine. Gefokusseerde en relatief uniforme variëteite ontstaan deur interdialektiese en onderlinge toeskietlikheid en ontwikkel meestal vinnig tot algemene bowedialektiese taalstandaarde. Dit verteenwoordig goeie en gepaste taalgedrag en word bewus nagevolg. Hoewel nog nie gekodifiseer nie, is dit tog normatief van aard – “so hoort dit”. Hierdie relatief uniforme variëteite verteenwoordig die informele beginpunt van standaardisering.
7 Die korpus behels 350 briewe van 136 individue en bestryk die jare 1880–1910. Vgl. verder Deumert (2004), hoofstuk 3.
8 Die eerste doelbewuste imitasie van die Kaaps-Hollandse spraak vind mens in die anonieme gedig "Lied ter eere van de Swellendamsche en diverse andere helden bij de bloedige actie aan Muizenberg in dato 7 Aug. 1795". Hierin word die gek geskeer met die taalgebruik van die Swellendammers. In die loop van die eeu is hierdie stereotipiese nabootsings deur steeds meer skrywers doelbewus om ’n verskeidenheid van redes gebruik.
9 Vergelyk Deumert (2004:196-207).
10 Den Besten (1985) is daarvan oortuig dat negasieverdubbeling in Afrikaans nie op Germaanse lekte terug te voer is nie. Die onderskeie sisteme verskil naamlik wesenlik:
Wes-Germaans:
|
COMP [S … NEG … {NEG; nicht-2} …V] |
---|---|
Aarschots:
|
COMP [S …NEG …{NEG; niet-2} …V] nie-3 |
Afr:
|
COMP [S …NEG-1 …V] … nie-2 |
In sogenaamde D-strukture mag NEG-1 in Afrikaans, anders as in die Wes-Germaanse struktuur, wel nie (nicht) wees.
11 Volgens Den Besten het mens hier ’n geval van interferensie uit die Nederlandse pidgin van die Khoekhoen. In Nama (’n Khoekhoense taal) word ’n sin ontken deur die negasiemerker tamá, en in spesiale gevalle tide, wat net soos in Afrikaans deurgaans aan die sinseinde staan. Die negasiesisteem in Standaardafrikaans verteenwoordig ’n oorname uit die Pidgin-Nederlands van die Khoekhoen wat reeds heel vroeg aan die Kaap moes ontstaan het. In dié vorm van Nederlands het beide negasiesisteme, dié van Nederlands (in die middelveld) en dié van Khoekhoens (aan die sinseinde), oor mekaar geskuiwe.
12 Genootskap van Regte Afrikaners. Die GRA is in 1875 in die Paarl gestig. Die Genootskap het ’n eie drukpers gehad, ’n eie ortografie ontwikkel en ook die vroegste grammatika (1876) van Afrikaans gepubliseer.
13 Die begrip projeksie hou in dat sprekers hulle in die oordele wat hulle oor variante vorme vel, bewus rekenskap gee van hul identiteit (dit dus konstrueer) na gelang van hul inskatting van die onderliggende faktore wat variasie bepaal. Vergelyk ook Le Page (1988:31).
14 Vir ’n uitvoerige beskrywing van hierdie verskynsel, vgl. Den Besten (2000:21–24).