Die effek van COVID-19 op skole: ’n onderhoud met Liesel Ebersöhn

  • 0

Liesel Ebersöhn (foto: verskaf)

Hoe het die regering se hantering van COVID-19, asook die virus en effek daarvan op mense se gesondheid, tot dusver die land se skole en die aard van opvoeding geraak? Hans Pienaar gesels met Liesel Ebersöhn, professor aan die Universiteit van Pretoria, waar sy direkteur van die Eenheid vir Veerkragtigheidstudies is. Sy is ook sekretaris-generaal van die Wêreldraad vir Opvoedkundenavorsing

Kan ’n mens sê die pandemie en soortgelyke situasies is ’n nuwe manier vir mense om aanpasbaarheid te ontwikkel, nuwe maniere van veerkragtigheid, dit wil sê kan ’n mens dit sien as ’n groot eksperiment?

Absoluut, absoluut. Menslike groei en ontwikkeling word altyd deur uitdagings gedryf. Wanneer ons van veerkragtigheid praat is daar gewoonlik buitengewone uitdagings by betrokke. As dit sommer net elke dag se aanpassings is, sal ons praat van hantering (coping), maar van veerkragtigheid (resilience) as die soort skok in die stelsel of die uitdaging ekstreem of buitengewoon is. Dis ’n moment waar jy vir jouself vra, het ek die soort kundigheid, die soort vaardighede, om hierdie uitdaging te bowe te kom, en indien nie, word jy uitgedaag om ’n nuwe soort aanpassing aan te leer. As jy dink hoe die kinders praat, met apps, so gaan jy amper kyk in jou persoonlike repertoire watse soort apps of toepassings jy het en as jy nie voldoende wapentuig het nie, dan gaan jy ’n nuwe soort toepassing of app moet leer vir jouself.

 

Menslike groei en ontwikkeling word altyd deur uitdagings gedryf. Wanneer ons van veerkragtigheid praat is daar gewoonlik buitengewone uitdagings by betrokke.

 

Is daar nie eintlik baie goeie-nuus-stories wat ’n mens kan kry uit die pandemie nie? 

Ek dink daar is meer goeie-nuus-stories as wat daar negatiewe-nuus-stories is. Suid-Afrikaners, eintlik Afrikane, is bekend daarvoor dat ons heeltemal gewoond is aan uitdagings en dat ons baie vinnig reageer op uitdagings. Van die mooiste stories gaan oor kollektiewe response, nie net mense wat as individue opgetree het nie, maar mense wat in groepe saamgewerk het om hierdie uitdaging te bowe te kom. Skole wat baie gegoed was wat in die tyd van vlak 4 het byvoorbeeld nie skool toe kon gaan nie, en hulle het 3D-drukkers gebruik om maskers vir gesondheidswerkers te druk. Baie oulik, nè, en dit was ’n kind se inisiatief om dit te doen. Ek dink ook aan mense wat vir mense wat alleen was, inkopies gaan aflaai het by hulle voordeure. Ek dink aan kinders wat ontsettend vinnig gereageer het om aanlynleertake self op te neem, dus moes hulle hulle selfregulering, wat gewoonlik baie keer eers gebeur op universiteitsvlak of naskoolvlak, spoedig begin aktiveer en gebruik om by te bly. Gesinne het leerwerk gedruk en ’n pa wat op pad werk toe was, het gesorg dat pakkies skoolwerk afgelewer is by gesinne wat, een, nie data gehad het nie, of twee, nie toegang gehad het tot ’n drukker nie. Ek dink daar is ongelooflik baie sulke voorbeelde as dit kom by leer en dan by gesondheid. It’s there for the taking – jy kan besluit hoe jy na die response wil kyk.

Die situasie is sekerlik ’n bietjie anders in die plattelandse gebiede, veral onder swart kinders. Kan ’n mens soortgelyke stories daar ook kry?

Ek dink nie dit is eers platteland of ras nie – ek dink sodra daar sosio-ekonomiese agterstand is, is dit problematies en is die maniere om hierdie geweldige uitdaging aan te spreek net groter. In ons land, waar daar strukturele ongelykhede is, beteken dit mense se moontlikhede om by hulpbronne uit te kom is anders, en dit is vir jou erger as jy kom uit ’n lae sosio-ekonomiese groep. Iets wat wel interessant is in ons land, is dat ons ’n la-a-a-ang tradisie het – eintlik nie net in ons land nie, as ’n sub-Sahara-respons, as ’n Afrosentriese reaksie op uitdaging – dat ons mense bymekaar kom. In Engels gebruik ek die term flocking. In ander dele van die wêreld is die sielkundige reaksie op uitdagings dat mense veg of vlug. Met 9/11 het ons gesien dat mense soos swerms bymekaar gekom het en ook dat hulle flou geval het – die terme is faint, swarm, fight or flight, en in ons land sien ons flocking, en flocking is amper so ’n bietjie laer trek, kudde vorm. In Brasilië het hulle die woord na Portugees vertaal as afluir, wat beteken hoe strome bymekaarkom in een groot stroom. Die idee van flocking as ’n sterk Afrosentriese respons op uitdaging is dat mense hulpbronne deel, selfs al is daar min hulpbronne, selfs al is jy arm, selfs al is jy ver van hulpbronne op die platteland. Eintlik is al die voorbeelde wat ek netnou genoem het, voorbeelde van sulke soort flocking. En dit gebeur ongeag ras, klas of geslag –  dit lyk of Suid-Afrikaners so reageer op ’n krisis, en dit het dan weer gebeur hierso. En dit gebeur of jy nou in ’n township bly, of jy bly in die platteland ver af naby Oshoek se grens of Swaziland, en of jy in Pretoria in ’n omgewing is in ’n plek met baie welstand – mense kom saam; dit is kollektiewe welsyn eerder as kompeterende, individuele welstand wat voorkom.

Mense praat van die “Covid-generasie”, en vir sommige mense is dit nie ’n lekker term nie, want die pandemie is maar nog net ’n paar maande aan die gang, en selfs al is die virus met ons vir ’n paar jaar, gaan dit tog nie die skole so affekteer nie. Wat dink jy van die term Covid-generasie?

Wel, ek dink dit kan ’n brand (handelsmerk) wees wat baie goed kan wees. As ek dink aan die #FeesMustFall-generasie ... As gevolg van hulle, daai response, daai jongmense wat opgestaan het en gesê het die ongelykheid vir toegang tot hoër onderwys is nie reg nie, het gemaak dat ons universiteite ongelooflik paraat was om te reageer nou op die uitdagings met COVID-19. Ons het klaar aanlyn leer gehad, ons kon baie maklik oorgaan na hibriede leerstelsels, en ook daar wees om skole te help daarmee, so ek dink op dieselfde manier kan die COVID-19-generasie miskien baie trots wees op die soort van waardes en hanteringstrategieë wat ons nou leer, kollektief, wêreldwyd; so ek dink dit was ’n moment in die wêreld wat betekenisvolle, gedistilleerde impak gehad het op mense se identiteit. As ek dink aan my seun in graad 11, en hoe hy baie vinnig vir ons kon kom sê hy het agtergekom wat dit is wat saak maak in sy lewe, dat hy skielik anders dink aan ’n beroepsbesluit – wat vir hom saak maak is om by sy familie te wees, om vir mense liefde te kan wys, en om sekuriteit te kan hê in tye van krisis, en hoe dit hom beïnvloed het. Nou daai soort leeraksie kan net gebeur met so ’n moment en dis wonderlik as dit die mooi is van ’n etiket kan dra van die “Covid-generasie”.

Ons het nou een van die strengste grendelstate in die wêreld gehad. Wat dink jy was die effek daarvan op die kinders se benadering tot gesag en reëls en wette, of het hulle nie regtig notisie geneem daarvan nie? 

Ek dink die idee van ’n regverdige wêreld – wat is regverdig? wat is norme? wat is eties? – is waarskynlik baie bespreek om gesinsetenstafels, of miskien as ’n broodjie gebak is, en ek dink weer eens dit was versnelde leer. So iets wat miskien eers in jou twintigs, of dertigs of veertigs gebeur wanneer jy moet dink aan ’n etiese kwessie, het baie vinnig met kinders gebeur van voor skool tot met matriek, wat hulle moes dink: Is ek bereid om reëls te volg, om myself te benadeel of om vertraagde bevrediging te hê ten gunste van die gemeenskaplike beswil? Is ek bereid om nou te sien ons kry ’n bietjie swaar, ons kan nie reis nie, ons kan sekere dinge nie koop nie, ons mag nie uitgaan in die aande soos ons wil nie, maar dit beteken waarskynlik dat die meerderheid daarby gaan baat. En dan ook om te sit en daardie gespreksgeleentheid te kan hê in ’n gesin om te kan vra: Maak dit sin om sulke ontsettend streng, klaarblyklik onregverdige wetgewing te hê wat neergedruk word op burgers? En wat is die soort response wat ’n gemeenskap kan hê – wat is geregverdig en wat is gemagtig? – maar dan gaan ons nog steeds sê ons stem nie saam nie.

 

Ek dink die idee van ’n regverdige wêreld – wat is regverdig? wat is norme? wat is eties? – is waarskynlik baie bespreek om gesinsetenstafels, of miskien as ’n broodjie gebak is, en ek dink weer eens dit was versnelde leer. So iets wat miskien eers in jou twintigs, of dertigs of veertigs gebeur wanneer jy moet dink aan ’n etiese kwessie, het baie vinnig met kinders gebeur van voor skool tot met matriek, wat hulle moes dink: Is ek bereid om reëls te volg, om myself te benadeel of om vertraagde bevrediging te hê ten gunste van die gemeenskaplike beswil?

 

Die ander groot ding wat natuurlik in die onlangse verlede gebeur het, was die groen beweging rondom Greta Thunberg. Vind jy kinders maak die konneksie tussen die pandemie en die nodigheid om na die ekologie te kyk?

Ek dink so. In die eerste plek is die jonger generasie ’n meer ekologies bewuste generasie. Dit was al klaar ’n gegewe gewees en met die intimiteit en intensiteit van sosiale media wat vir kinders gewys het wat letterlik gebeur as mense soos in Star Trek mode uit die natuur gelig word ... dit was meer kragtig as wat enige klasgesprek kon gewees het. In opvoedkunde praat ons van ervaringsleer, experiential learning, wanneer ons deur iets gaan en ’n les baie vinnig uitgewys word. Met ekologiese leer was COVID-19 een groot leerlaboratorium om vinnig vir kinders te wys wat kan gebeur as mense nie in die natuur is nie en hoe tree ’n mens dan weer toe op ’n verantwoordelike manier.

Dit was nou alles goed en wel vir kinders wat op flocking en kollektiewe meganismes kon staat maak, maar daar was sekerlik baie kinders wat in disfunksionele huise grootword en wat nie so goed daaraan toe was nie. Skole is nie meer vir hulle ’n toevlug nie. Hoe hanteer sulke kinders dit – is dit te vroeg om te sê; moet daar nog navorsing gedoen word?

Om die effek te sien van wat gebeur het, beide die positiewe en die negatiewe uitkomste, het ons tyd nodig, het ons navorsing nodig. As ons kruisseksioneel net na ’n moment kyk, dan is duidelik dat vir kinders wat al klaar ekstreme uitdagings, chroniese uitdagings ervaar het, hierdie toestande ondenkbaar swaar was om deur te gaan. Baie kinders gaan skool toe net om kos te kry, hulle gaan nie eens skool toe om te leer nie. So as daai weg is, wat doen jy dan? En as jy teruggaan na huise toe waar daar klaar addisionele stres op die huishouding is met ’n mamma of pappa wat nie werk kry nie en daar is klaar moontlik geweld en jy’s honger en jy het nie maats nie, dan kan ’n mens reeds antisipeer dat dit erger gaan wees. En as ons kyk na die statistieke, die maatskaplike statistieke wat ons gesien het in ons land, was die gevalle van gesinsgeweld baie meer.

Kan ’n mens dan sê dat die alkoholverbod goed was vir sulke kinders?

Dis so ’n moeilike stelling om te maak. Daar is so baie argumente. Aan die een kant het die alkoholverbod miskien onmiddellike positiewe effekte gehad, veral op die gesondheidstelsel sodat daar ’n moontlikheid was vir mense om toegang te hê tot gesondheidsorg; aan die ander kant het dit ’n hele ekonomiese nis van gesinsvlakinkomste, huishoudinginkomste, net absoluut afgesny met dan natuurlik ’n verhoging van spanning en negatiewe gedrag. Die twee is soos op ’n wipplank – hoe gaan ’n mens hulle ooit teen mekaar afspeel? Ek dink dit was ’n vreeslike moeilike besluit – dit sal vir my moeilik wees om te sê of dit net goed of net sleg was.

 

En dan op strukturele vlak: Ek is deel van ’n wêreldorganisasie wat spesifiek kyk na hoe globale uitdagings opvoedkunde en onderwys beïnvloed, en die een begrip wat baie gebruik word is digitale ongelykheid. Daar is kinders wat nie toegang het tot data nie, wat nie toegang het tot die hardeware nie, wat nie toegang het tot die geletterdheid om te kan werk weg van ’n skool af nie.

 

’n Ander ding waaroor ek gewonder het, en jy het dit nou so half bevestig: Daar was groepe wat die pandemie beter hanteer, so ’n mens kry twee strome in skole van kinders wat die ding nie so goed hanteer nie, en ander wat uitblink. Dink jy ’n mens gaan strome kry waar kinders voel hulle is agter by die ander?

Ja. Daar is verskillende strome – van die strome het te doen met kinders se inherente sterktes, hulle eienskappe, so party kinders se aangebore talente maak dit vir hulle makliker om op hul eie onafhanklik te leer. En ’n mens kry kinders wat meer sosiale leer of begeleide leer nodig het. So daar het ons al klaar ’n splitsing, waar party bevoordeel is deur onafhanklike leer, want hulle het klaar die wapenrusting gehad om dit behoorlik te doen. Ander, buiten dat hulle die skok gehad het van aanpas, was ewe skielik geïsoleer van enige ondersteuning om effektief te kan leer. So daai is op persoonlike vlak, dit wat ’n mens mee gebore is. En dan op strukturele vlak: Ek is deel van ’n wêreldorganisasie wat spesifiek kyk na hoe globale uitdagings opvoedkunde en onderwys beïnvloed, en die een begrip wat baie gebruik word is digitale ongelykheid. Daar is kinders wat nie toegang het tot data nie, wat nie toegang het tot die hardeware nie, wat nie toegang het tot die geletterdheid om te kan werk weg van ’n skool af nie. Die ongelykhede is op verskillende skale, van die persoon tot sy omgewing tot dit wat hy as hulpbronne beskikbaar het. Ons gaan moet sien oor ’n tydperk hoe hierdie inperking vir geleenthede ’n effek het op uitkomste vir leer en persoonlike ontwikkeling. Ons kan op die oomblik net projeksies maak.

Ek het gehoor van ouers op die platteland wat materiaal met WhatsApp-groepe aangestuur het. Het jy so iets teëgekom?

Definitief, baie. Ek dink sosiale media en WhatsApp-groepe, daai kringetjies van hoe mense saamkom, is een van die alledaagse voorbeelde van flocking. So flocking is hoe gee ons sosiale ondersteuning met die sosiale bronne wat ons het. Daai soort sosiale ondersteuning op ’n WhatsApp-groep sal ’n mens implisiete ondersteuning noem, emosionele ondersteuning vir mekaar – ons is in die groep, ons gaan dit kan doen, ons gaan deur dit kom. Eksplisiete sosiale ondersteuning gaan wees as ons iets tasbaar gee wat iemand kan gaan help – ons gaan hierdie ding print, ons neem ’n foto van hierdie rooster van ’n dag en sit dit op ’n WhatsApp-groep. Al daai sosiale netwerke word gemobiliseer vir dié soort sosiale ondersteuning.

Opvoeding dek natuurlik ’n groot veld, van kleuters tot naskools ... Ek dink nou spesifiek aan Polokwane waar ek onlangs was, en dis opvallend hoe baie van hierdie flocking nog voor Covid plaasgevind het rondom biblioteke. Die biblioteke is natuurlik tans gesluit – dink jy dit was dalk ’n fout gewees?

Dis amper so erg soos om van die ander ondersteuningsnetwerke stop te sit. Want vir mense wat nie data het nie, is die absolute ontsnapping die verryking van lees. As jy dit net in fisiese boekvorm kan doen, is die afwesigheid daarvan tragies. Dit is waarskynlik een van die inperkings wat die moeilikste is om te verstaan. As ons dink aan strukturele ongelykheid en waar mense toegang kon gehad het tot daardie soort ondersteuning, is dit ’n verlies dat dit nie daar was as ’n bron van ondersteuning nie.

 

Ek dink ouers is gedaan. Ouers het soveel addisionele rolle vertolk. Daar word gepraat van die burden of care, maar op hulle skouers het hulle die leerverantwoordelikheid, die gesondheidsverantwoordelikheid en die welstand, die gelukkigheidsfaktor gehad, saam met nog ’n ekonomiese bekommernis: Gaan ons gesin saam wees, gaan ons gesin dit maak, gaan ons goed hierdeur kom?

 

Maar as ’n mens ook dink aan die ander ent van die spektrum ... Dink jy kinders het dalk, as hulle nou meer digitaal en op die internet kon wees, van bronne buite Suid-Afrika gebruik gemaak, wat miskien van Amerika af kom of so?

Ek dink die jonger mense doen dit alreeds baie meer gereeld, as ’n norm, en ek dink hierdie toestand kon dit versnel het. Maar daar was ook ’n ongelooflike beweging van meer gesprekke omdat daar meer tyd was. Die hele idee van stadiger lewe, dat mense meer gesprek kon voer met mekaar en minder noodwendig gaan sit het op ’n anonieme basis en net gaan kyk het na ’n quick fix op ’n digitale platform ... Ek dink dit is beide – daar was miskien verkenning gewees, omdat ’n mens daai isolasie het en jy kyk meer Netflix, jy kyk meer Instagram, jy lees meer Kindle-boeke ... Maar saam met dit waardeer jy ook die feit dat jy mense in jou lewe het met wie jy kan praat, met wie jy kan interpreteer dit wat jy op die wyer platform sien, dat vir die betekenismaking daarvan daar meer tyd was om in gesprek te tree.

En wat het julle ontdek oor die deelname van ouers? Jy het nou gepraat van flocking en duidelik betrek dit ouers. Dink jy dit was merendeels ’n positiewe ervaring vir hulle gewees of het hulle te veel gestres?

Ek dink ouers is gedaan. Ouers het soveel addisionele rolle vertolk. Daar word gepraat van die burden of care, maar op hulle skouers het hulle die leerverantwoordelikheid, die gesondheidsverantwoordelikheid en die welstand, die gelukkigheidsfaktor gehad, saam met nog ’n ekonomiese bekommernis: Gaan ons gesin saam wees, gaan ons gesin dit maak, gaan ons goed hierdeur kom? Die reaksie van ouers is waarskynlik net so goed soos die reaksie van onderwysers. Ons onderwysers se lof word heeltemal te min besing tydens hierdie pandemie – net soos wat gesondheidswerkers voor aan die linie was, was onderwysers ook heel voor in die linie as ’n buffer om te sorg dat die lewe aangaan, dat leer aangaan. Ons het ’n vreeslike oulike studie gedoen, saam met Penn State University. Ons het data wat ons klaar gehad het oor hoe om ’n gesprek te voer met leerders, hoe om kritiese denke by kinders teweeg te bring, gebaseer op ’n studie wat ons gedoen het op die platteland van Mpumalanga, ontwikkel in ’n video en vertaal na vier tale in Suid-Afrika: Afrikaans, Engels, Xhosa en Sotho, en die skakel op ons webwerf gesit.

Hier is ’n skakel na die studie.

Ouers kon vinnig sien, wanneer jy besig is met jou kind se leer, wat die soort vrae is wat jy moet vra, so dit was ’n soort wetenskapsreaksie om te probeer om gebruikers met opvoedkundebevindinge te help. En daar is wêreldwyd sulke soort reaksies, wat ook vreemd is, want akademici is gewoonlik ontsettend beskermend oor hulle kennisbasis. En ewe skielik was dit met ’n oop hand van wat weet ons, hoe kan ons dit vinnig gebruik en hoe kan ons dit verpak op ’n manier wat gebruikersvriendelik is vir ouers om hulle te kan help met hulle kinders?

Jy praat van vier tale ... Ek staan buite die opvoedkunde en het nie meer kinders wat studeer nie, maar dit lyk vir my asof daar ’n probleem is met die besef veral in regeringskringe van die belangrikheid van moedertaalonderrig?

Absoluut, absoluut.

Dink jy hierdie hele ervaring sal ’n bietjie ’n groter besef by hulle bring van die belangrikheid van moedertaalonderrig?

Dit is ’n diepe wens dat dit sal gebeur, en daar is belangegroepe oor die spektrum van Suid-Afrika tale wat dryf dat dit op die agenda geplaas moet word. En van daardie drukgroepe was al suksesvol genoeg om te sê dat moedertaalonderrig in die grondslagfase daar moet wees. Een van die grootste verliese die afgelope 25, 30 jaar in ons land is die ontkenning van ons diversiteit en die idee dat taal monokultureel is. Ons het nog op skool ’n verskeidenheid tale gehad tot die destydse standerd 7, graad 9 nou, waar ons kinders en kleinkinders ewe skielik die idee het dat daar een taal is waardeur ’n mens dink en droom en praat en idees vorm – wat so ’n stuiting gee op vernuwing en kreatiwiteit en ’n miskenning is van identiteit. 

En is dit die geval elders in die wêreld ook? Hoe sien akademici elders in die wêreld die situasie in Suid-Afrika wanneer dit kom by hierdie kwessie van moedertaalonderrig?

Ek dink daar is ’n sterk beweging wêreldwyd. Ek het ’n kollega, Ingrid Gogolin, by Hamburg-universiteit – sy dien saam met my op die wêreldraad vir opvoedkundenavorsing. Sy werk spesifiek oor linguistiese diversiteit en om dit te sien as ’n bate. Hulle het modelle met migrantekinders en ook vlugtelingkinders in Duitsland ontwikkel waar linguistieke diversiteit gemobiliseer word as ’n sterkte in ’n klaskamer. ’n Onderwyser sal ’n kind wat ’n ander taal praat, langs ’n kind sit wat Duits praat en hulle twee eers laat saampraat om te probeer agterkom wat die onderwyser sê en dan teruggaan na die klas toe sodat leer kan plaasvind. Maar leer en taal word gesien as ’n sosiale interaksie en dit word gesien as ’n verarming as ’n monokulturele of monotaalagenda voorgesit word as die enigste agenda.

Wat dink jy is die grootste enkele verandering wat die pandemie teweeg gaan bring of besig is om teweeg te bring in die onderwys?

Die gemak met verandering. Dit is ewe skielik so deel van jou onmiddellike omgewing, die feit van verandering. Onsekerheid is normatief, dit is normaal. ’n Ou normaal wat nou ervaar word as ’n nuwe normaal en eintlik ’n konstante normaal is. En mense se selfvertroue, dat hulle met verandering kan saamleef, dat hulle die vermoë het om te kan aanpas en dat hulle kan bly floreer, dat hulle nie bang is, of kwaad is, of hartseer is as daar onsekerheid of verandering is nie. Volgens my is dit die grootste lewensles wat ons gekry het as gevolg van COVID-19.

Nou as ’n mens meer struktureel kyk, dink jy daar gaan nuwe vorme van opvoeding wees, ’n oplewing in tuisonderwys, of nuwe vorme van digitale onderwys wat miskien oor internasionale grense strek?

Ja, ja, wat ’n lieflike vraag. Ek dink in enige soort pandemie is die volhoubare veranderinge op strukturele vlak. As ’n mens dink aan die MIV-Vigs-pandemie, het die veranderinge wat ons gehad het vir gemeenskapswerkers en ouens wat gesê het, ja-nee, ons gaan help om mense gesond te hou, ons nou weer gehelp, struktureel met ons reaksie as ’n land op COVID-19. Ek het die voorbeeld genoem van FeesMustFall en hoe daai soort strukturele reaksie hibriede leer, aanlyn leer, ons gehelp het, en ek vermoed dieselfde gaan gebeur met COVID-19. Dit het ons gewys waar swak punte in ons stelsels is, of dit nou gesondheid of onderwys is; en op burgerskapsvlak, nie op regeringsvlak nie, is daar aanpassings gemaak wat nou gesien word as die manier waarop ons dit doen, en wat amper beleid gaan voorskryf, sodat daar aanpassings gemaak kan word. Ek het ’n idee die Kyk-app van aanlyn leer gaan ongelooflik groei, veral vir mense wat dit kan bekostig, mense wat kan inskryf by aanlynleeromgewings. Weer eens hang dit af van ’n kind en sy/haar omstandighede – as dit ’n kind is wat sosiale leer en sosiale ondersteuning het en eintlik op daai fisieke sosiale interaksie floreer, gaan dit waarskynlik ’n gesprek wees tussen ouers en kinders of daai kind interaksie gaan hê aanlyn, maar eintlik as ’n onafhanklike leerder gaan sit en leer. Ek dink by skole het ek groot-groot vrae oor infrastruktuur (ek het dieselfde vraag oor kerke) – as dit so duur is (en daar is baie gesprekke dat bestuur eintlik gaan oor infrastruktuur), het ons genoeg geld om die skool skoon te hou, het ons genoeg geld om die velde in stand te hou, het ons genoeg geld om die opsigter te betaal? Versus, as ons weet effektiewe leer vind plaas aanlyn, hoe kan ons hulpbronne anders gebruik as ons weet ons wil kinders net, sê, een keer ’n week, as ’n graad bymekaar kry in ’n spasie, hoe moet ’n skool dan lyk, sodat kinders kan sosialiseer ook? Maar waarskynlik het ons dan baie kleiner skole nodig wat minder geld kos. Leerkragte gaan dieselfde bly, want leer, of dit aanlyn is of in persoon, het ’n bekwame, opgeleide persoon nodig wat dit kan doen, so daar gaan nie ’n vermindering in koste daar kan wees nie. Maar ek sien daarna uit om te sien hoe die manier van ons leer en saamwees gaan verander.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top