LitNet Akademies Weerdink: Hoe onderwysers in die tyd van COVID-19 staande kan bly

  • 1

Erika Kruger (foto verskaf)

........

Kenners glo gehalte-onderwys is die bousteen van ekonomiese vooruitgang en die opheffing van minderbevoorregtes. Dit hang grootliks af van die onderwyser se vermoë om ’n omgewing te skep wat leer moontlik maak en leerders voorberei om ’n loopbaan te volg tot voordeel van die land se ekonomie. Die Suid-Afrikaanse onderwyser moet egter dié funksie verrig in ’n omgewing wat baie keer nie hulle eie welsyn ondersteun nie.

..........

Leentjie van Jaarsveld het in haar LitNet Akademies-artikel Help, ek is ’n skoolhoof in ’n afgeleë gemeenskap! Uitdagings tot die skoolhoof se leierskap- en bestuurstyl oor die uitdagings van skoolhoofde geskryf. In onderstaande artikel vra Maryke Roberts vir Erika Kruger hoe onderwysers in hierdie pandemietyd na hul eie welsyn kan omsien.

Kenners glo gehalte-onderwys is die bousteen van ekonomiese vooruitgang en die opheffing van minderbevoorregtes. Dit hang grootliks af van die onderwyser se vermoë om ’n omgewing te skep wat leer moontlik maak en leerders voorberei om ’n loopbaan te volg tot voordeel van die land se ekonomie. Die Suid-Afrikaanse onderwyser moet egter dié funksie verrig in ’n omgewing wat baie keer nie hulle eie welsyn ondersteun nie.

In Desember het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, berig dat 1 493 onderwysers verlede jaar aan Covid oorlede is. Buiten onderwysers is algemene werkers, kringbestuurders en bestuurliggaamlede ook oorlede, wat geweldige leemtes by skole laat.

Onderwysers maak nou gereed vir die nuwe skooljaar, maar onderwyserunies voel ontevrede omdat daar nie genoeg ondersteuning vir opvoeders is nie. Nie alleen is baie poste nie gevul nie, vrese vir ’n derde koronagolf en posttraumatiese stres onder opvoeders styg dramaties. Kenners maan dat die impak op opvoeders se psigiese gesondheid nie onderskat moet word nie.

Erika Kruger van SomaSense, ’n navorser en konsultant vir organisasies soos skole om welsyn in die werksplek te verbeter, skryf die afgelope paar maande modules waar onderwysers en hoofde wenke kan kry oor hoe om ten spyte van hierdie uitdagings, steeds sterk te staan.

Erika het al by verskeie konferensies in Pole en Bulgarye oor werksplekwelsyn gepraat en via Zoom deelgeneem aan die Association for Teacher Education of Europe se lentekonferensie in Suceava, Roemenië, met haar praatjie getiteld “Teachers’ lived experience of official employee wellbeing and self-care promotion programmes”.

Haar brosjures sluit ook Move, mind, map & massage – 24 undemanding workplace wellness tips, ’n e-boek wat op haar webwerf beskikbaar is, in. Sy dra ook blogs by vir LinkedIn en ander platforms.

Erika fokus sterk op selfsorg. In haar hoofstuk in die boek Rethinking teacher education for the 21st century: trends, challenges and new directions saam met Lynette Jacobs (UV) skryf sy onder die titel “Teachers’ workplace and personal wellness: perspectives from South African legislation and policies” dat toekomstige opleiding onderwysers as mense, veral in die Suid-Afrikaanse konteks, meer in ag moet neem. Die boek is in 2019 deur Barbara Budrich Publishers uitgegee.

.......

“Ek is van mening dat skoolbestuur en onderwysers nie gehalte-onderrig kan voorsien sonder dat hulle ondersteuning vir hulle eie welsyn ontvang nie. Welsyn (wellbeing) in dié konteks verwys na die ewewig tussen persoonlike en professionele lewensvaardighede en die uitdagings wat die lewe bied. Hoe beter ’n persoon in staat is om hulle ewewig te behou te midde van moeilike tye, hoe meer lewenskwaliteit ervaar hulle (Dodge ea 2012). Om persoonlike en professionele lewensvaardighede aan te leer, is dus ’n vorm van selfversorging.”

..........

Sy vertel: “Ek is van mening dat skoolbestuur en onderwysers nie gehalte-onderrig kan voorsien sonder dat hulle ondersteuning vir hulle eie welsyn ontvang nie. Welsyn (wellbeing) in dié konteks verwys na die ewewig tussen persoonlike en professionele lewensvaardighede en die uitdagings wat die lewe bied. Hoe beter ’n persoon in staat is om hulle ewewig te behou te midde van moeilike tye, hoe meer lewenskwaliteit ervaar hulle (Dodge ea 2012). Om persoonlike en professionele lewensvaardighede aan te leer, is dus ’n vorm van selfversorging.”

In die lig van hierdie definisie het sy en Lynette gekyk na wetgewing en beleidstukke wat Suid-Afrikaanse onderwysers se welsyn aanspreek en tot die gevolgtrekking gekom dat sodanige wetgewing uitgebreid en gedetailleerd is. “Die klem val egter op ondersteuning vir mense met MIV/Vigs en aspekte soos professionele ontwikkeling. Veiligheid, gesonde lewenswyse en ander aspekte soos gemeenskaplike sitkamers en eetplekke, gimnasiums, gesondheidsentra waar oa aërobiese oefeninge aangebied word, word wel genoem (Zuma ea 2016:57).

“Dit is egter opvallend dat die aanslag en taalgebruik in die beleidstukke duidelike eienskappe van ’n korporatiewe, neoliberale verwysingsraamwerk toon. As sodanig is die verhouding tussen werkgewer en werknemer transaksioneel en word die onderwyser beskou as een van verskeie hulpbronne waarin belê moet word tot voordeel van die skoolstelsel en die ekonomie.”

Erika sê die onderwyser se welsyn in die werkplek is daarom ’n prioriteit wat ten doel het om die organisasie se doelstellings te bevorder.

“Tog, eerder as om die verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar, is die neoliberale organisasie se strategie om die individu te oortuig om na hulle eie welsyn om te sien. Die motivering is tweeledig: om die sosiale versorgingstaak van die staat te verskraal en sodoende die staat se invloed op die ekonomie minder te maak tot voordeel van die vrye mark; en om werkers as verbruikers in te span en só ’n reusagtige privaat gesondheid-en welsynindustrie te onderhou.

“Die gevolg is dat programme wat onderwysers se welsyn moet bevorder, meesal tot die werksplek en werksfunksies beperk word, ten spyte daarvan dat hulle lede van ’n gesin en ’n breër gemeenskap is, waarin nie almal in staat is om ten volle selfversorgend te wees nie.”

Hulle het bevind dat ten spyte van die owerhede se amptelike verslae wat aantoon dat onderwysers meen dat dit gesondheidsgewys met hulle goed gaan (Zuma ea 2016:102), ’n rits mediaverslae die teenoorgestelde bevindings maak, met ernstige gevolge vir hulle eie welsyn en die leerlinge se leerervarings.

“Die gaping tussen die opstel en implementering van beleide met betrekking tot onderwysers se welsyn is verder bevestig in ’n (tans ongepubliseerde) studie wat in 2020 tydens die COVID-19-pandemie gedoen is en waarin deelnemers hulle oorwegend negatiewe indrukke van amptelike welsynsprogramme verwoord het.” Hulle voeg egter by dat die beperkte steekproef veralgemening bemoeilik.

Sy sê: “Voeg daarby faktore soos gebrekkige infrastruktuur, moeilike en onveilige werksomstandighede en sosio-ekonomiese probleme in die breër gemeenskap wat oorspoel na skole en dis te verstane dat post traumatiese stres by onderwysers aan’t styg is.”

In haar LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel, Help, ek is ’n skoolhoof in ’n afgel eë gemeenskap! Uitdagings tot die skoolhoof se leierskap- en bestuurstyl, skryf Leentjie van Jaarsveld, Skool vir Professionele Studies in Onderwys, Noordwes-Universiteit: “Geografiese en demografiese eienskappe bepaal hoe die skoolhoofde van hierdie skole hul leierskap uitoefen. Uitdagings soos gebrekkige infrastruktuur, armoede, misdaad en maatskaplike verval, kenmerkend van die gemeenskappe waarin die skole geleë is, plaas verdere druk op skoolhoofde om hierdie skole effektief te lei en te bestuur.

“Die nodige ondersteuning van die skole se beheerliggame ontbreek in sekere gevalle en samewerking met die skoolbestuurspan is nie altyd positief nie. Aangesien die skole in afgeleë gemeenskappe geleë is, is ’n hoë onderwyser-omset aan die orde van die dag. Maatskaplike verval, veral ten opsigte van drankmisbruik, lei daartoe dat daar ’n gebrek aan ondersteuning vir en belangstelling in die leerders se akademiese vordering is. Hierdie aspek het in die studie in sommige van die gemeenskappe duidelik na vore gekom.”

Sy skryf voorts: “Tydens die skakeling met die skoolhoofde in die afgeleë skole het hulle pertinent daarop gewys dat daar ’n behoefte was om met akademici te gesels om hul probleme ‘hoorbaar’ te stel. In hierdie studie fokus ek op die leierskap en bestuur van die skoolhoof in afgeleë skole. Ek het ondersoek ingestel na hoe hierdie skoolhoofde die uitdagings hanteer en hul daaglikse take uitvoer te midde van moeilike omstandighede.”

Erika ervaar hierdie emosionele uitbranding ook as masseerterapeut waar vele onderwyspersoneel met spanning en beserings op haar tafel beland. Stres eis duidelik sy tol op onderwysers wat tydens die pandemie onder nóg moeiliker omstandighede moet werk.

........

“Sistematiese faktore wat tot hierdie situasie bydra is gereelde kurrikulum-veranderinge, oorvol klasse, hoë administratiewe werkslas en die feit dat baie ouers se skolingsvlak self te laag is om kinders tuis te ondersteun.”

.........

Sy glo die oplossing is ’n balans tussen die onderwyser se welsyn as ’n opvoeder én as mens. Die beleidstukke moenie na onderwysers as hulpbronne kyk nie, maar as mense. Haar hoofstuk kyk ook na verwysings dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel die swakste skakel is wat die gemeenskap moet ophef tot sy regmatige plek in die 21ste eeu. “Sistematiese faktore wat tot hierdie situasie bydra is gereelde kurrikulum-veranderinge, oorvol klasse, hoë administratiewe werkslas en die feit dat baie ouers se skolingsvlak self te laag is om kinders tuis te ondersteun.”

Erika sê hoewel ons amptelike wetgewing sterk klem lê op onderwysers se veiligheid en welsyn in die werksplek, haar en Lynette se navorsing die vraag laat ontstaan of dit werklik die mens van vlees en bloed se welsyn ten doel het.

Meer inligting oor Erika se modules is by https://www.somasense.co.za te kry.

  • Well-being for whom? Unpacking the teacher well-being discourse of the South African Department of Basic Education. http://sajournalofeducation.co.za/index.php/saje/article/view/1866/908.
  • Teachers’ workplace and personal wellness: perspectives from South African legislation and policies, hoofstuk 12 in Rethinking teacher education for the 21st century: trends, challenges and new directions deur Erika Kruger and Lynette Jacobs. https://doi.org/10.2307/j.ctvpb3xhh.16.
  • Lees meer by: LitNet Akademies, 16(3), 2019, ISSN 1995-5928 658.

Lees ook:

Morele leierskap: Die skoolhoof as agent vir die vestiging van morele waardes ter bevordering van skoolklimaat

Help, ek is ’n skoolhoof in ’n afgeleë gemeenskap! Uitdagings tot die skoolhoof se leierskap- en bestuurstyl 

Korona: ’n skoolhoof se ervaring

Onderhoud: Maak die skoolhoof die skool?

  • 1

Kommentaar

  • Tania Grobbelaar

    By ons skool - en goeie vriende van ander skole - weet ek van bitter min opvoeders wat nie Alzam en/of enige ander 'coping' tablet gebruik nie! Om 6 uur soggens al gereed te maak by die skool om te saniteer ens is uitputtend - koue en reënweer laasjaar het dinge net eenvoudig vererger! Daarna die diens smiddae by die hekke om seker te maak dat almal van die terrein af is, voor jy terug klas toe ploeter om werksboeke te saniteer en uit te pak vir 2 dae se 'rus'. Dan saniteer ek self my werksoppervlak en stoel, kas, radio ens... want word dit regtig gedoen? Die 1m reël in die klas maak nie sin nie - die reel daar buite is tog 1.5m. Maar dan weer, die ou lapmasker wat die leerders dra, aanhoudend ONDER die neus, bied seker genoeg veiligheid vir ons. Dit is hartseer om te sien hoe uitgeput my kollegas reeds is - en dis nog vroeg in die jaar! Maar ons beur voort - want dit is waarvoor ons geroepe voel. Ek glo, vir die leerder, is hierdie nog erger. Hulle het ontaard in sulke gesiglose, uitdrukkinglose wesens. Baie hartseer!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top