Korona: ’n skoolhoof se ervaring

  • 2
President Cyril Ramaphosa het, as ’n noodmaatreël teen die impak van die koronavirus-epidemie, aangekondig dat alle skole in die land vandag sluit. Melt Myburgh het met Joubert Retief, hoof van Hoërskool PJ Olivier in Grahamstad, gesels om ’n idee te kry van die impak wat dié maatreël op die skool het.

..........

Joubert Retief (Foto: verskaf)

Hoe voel jy oor die aankondiging van pres Ramaphosa dat skole Woensdag moet sluit? Het julle dit verwag? Dit skarrel seker om reëlings te tref vir die skielike lang vakansie wat op hande is. Is julle gereed daarvoor?

Die aankondiging van die President was die regte besluit. Ons sit met ’n wêreldwye pandemie en as ons nie nou drastiese stappe doen nie, gaan dit veel erger wees.

Ons was verras deur die aankondiging dat die skole voor die einde van die kwartaal sluit, wat in elk geval Vrydag sou gewees het. Ons is bekommerd oor die lang vakansie se uitwerking op die akademie, maar toegegee, alle skole word geraak.

Die sosio-ekonomiese toestande van leerlinge verskil en ongelukkig is afstandsonderrig slegs vir die middelklas en welgestelde ouer beskikbaar. Ons het reeds op 8 Maart ons eerste omsendbrief aan ouers uitgestuur met die nodige inligting rakende identifisering en voorkomende maatreëls.

Verlede Maandag het ’n groep hoofde van plaaslike skole vergader om die impak te bespreek, maar ons het nie voorsien dat dit so skielik so uitbrei nie.

Ons fokus val op die oomblik op die leerlinge en gesinne, maar ek vermoed die grootste risiko lê in die personeel wat mag siek raak. ’n Siek personeellid gaan ’n hele skool beïnvloed en niemand gaan graag wil kom instaan in ’n klas waar ’n onderwyser was wat siek geword het nie. Fopnuus is op hierdie stadium die grootste gevaar vir roekelose optrede.

Hoërskool PJ Olivier in Grahamstad (Foto: verskaf)

Hoe raak dié skielike onderbreking julle? En veral jul matrieks? Gaan die leerders nou vakansie hou, of word daar werk uitgedeel waarmee hulle hulself besig moet hou?

Ons akademie is ontwrig aangesien leerlinge nog moes toetse skryf. Ouers het ook begin om kinders by die huis te hou uit vrees. Leerlinge ontvang sover moontlik take en ou vraestelle om uit te werk, asook die besonderhede van webwerwe waar gratis aanlyn akademiese materiaal beskikbaar is. Ons het nie die vermoë om elektronies klas te gee nie.

Leerlinge se persepsies wissel van euforie oor die lang vakansie tot seniors wat bekommerd is oor hulle toekoms. Senior leerlinge is met reg bekommerd, aangesien die Junie-eksamen voorlê en die druk geweldig gaan toeneem na die vakansie.

Leerlinge word aangemoedig om die Learning-kanaal te kyk, asook te luister na RSG se programme. Ons het ook die WGO se webwerfinligting, die NICD se webwerfinligting en die nasionale tolvrye nommer aan leerlinge uitgegee sodat hulle op hoogte kan bly met die nuutste inligting.

Is tuisonderrig enigsins moontlik vir jul leerders? Of is dit glad nie ’n opsie nie?

Baie van ons ouers is nie Afrikaans magtig nie en sal nie die leerlinge by die huis kan help nie. Armoede speel ’n belangrike rol in ouers se vermoë om kinders te kan help. Personeel het WhatsApp-groepe met leerlinge gestig om werk aan hulle te kan oordra.

Leerlinge sal in inhoudsvakke selfstandig kan leer, maar in syfervakke gaan tuisonderrig nie werk nie.

Hoe word julle buitemuurse aktiwiteite geraak?

Alle sport is gekanselleer en ons sal dit sterk heroorweeg wanneer die nuwe kwartaal begin. Ons sal moontlik die skooldag moet verleng om die verlore akademiese tyd in te haal. Dit sal sportoefeninge beïnvloed, maar die akademie moet voorrang geniet. Ons voorsien ook nie dat die probleem opgelos sal wees na drie weke nie. Die infeksiekoers sal slegs stadiger wees as wat dit sou gewees het. Verdere ontwrigting wag beslis en die buitemuurse program sal moet aanpas om die leerlinge voor te brei vir die eksamens wat voorlê.

Wat het julle by die skool gedoen om nou, terwyl leerders nog by die skool is, die virus te beveg?

Ons het beter-kwaliteit-handseep aangekoop vir die badkamers en leerlinge ingelig oor voorsorgmaatreëls. Ook ’n program begin om klasse en oppervlakke af te vee met ontsmetmiddels. Van volgende kwartaal af sal handreinigers aan personeel verskaf word om hulleself te beskerm.

Dink julle dié onderbreking gaan ’n invloed op jul uitslae aan die einde van die jaar hê?

Ja beslis, aangesien leerlinge hulle fokus gaan verloor. Baie leerlinge is ook versorgers van ander gesinslede – indien hulle siekes moet versorg, gaan daar ’n geweldige impak wees.

Hoe is die gemoed van jul onderwysers by die skool?

Die personeel is met reg bekommerd oor hulle eie veiligheid. Hulle is onder druk van alle kante om ’n onmoontlike situasie te probeer bestuur na die beste van hulle vermoë. Hulle het ook gesinne, en van hulle het bejaarde ouers en familielede oor wie hulle baie bekommerd is. As goeie professionele mense bly hulle getrou onder moeilike omstandighede.

Die verwagte druk om werk in te haal is ’n groot kommer. Hulle besef as die uitslae sleg is aan die einde van die jaar, gaan hulle blameer word, en nou word hulle hande afgekap.

Watter strategie gaan Hoërskool PJ Olivier volg om die impak van hierdie onderbreking af te weer?

Soos ek reeds gesê het, sal ons die skooldag waarskynlik verleng. Ons moet personeel so gesond as moontlik hou en afwesighede met deernis hanteer. Motivering en aanmoediging is van kardinale belang, saam met die korrekte inligting. Ouers, personeel en leerlinge moet ingelig gehou word om onnodige vrese te besweer. Personeel berei werk vir twee weke voor ingeval hulle sou siek word.

Met watter boodskap bemagtig jy jou leerders en opvoeders voordat hulle op vakansie gaan?

Ons kan die impak beveg deur die korrekte inligting aan die gemeenskap deur te gee. Dis buitengewone omstandighede en as ons almal saamwerk, sal dit die impak verlangsaam. Ons kan deur ons optrede ’n verskil maak aan die welstand van baie mense, en deur kalm te bly en jou beste te doen onder die omstandighede, sal dit verbeter en sal jy sukses behaal.

  • 2

Kommentaar

  • Met die lees van die artikel besef mens net weer hoe belangrik dit is dat skoolhoofde nou nugter en wys sal optree en sterk leierskap sal toon. PJ Olivier is baie gelukkig in die verband. Baie sterkte meneer Retief, mag dit met jou skool se leerders en onderwysers goed gaan in die vreemde, onvoorspelbare jaar wat ons nou beleef.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top