Onderhoud: Maak die skoolhoof die skool?

  • 0

Wat is die effek van ’n skoolhoof op ’n skool? En verskil die styl van ’n skoolhoof by ’n skool wat goed presteer van die styl van ’n skoolhoof waar dit nie ewe goed gaan nie?

Estelle Kruger gesels met Leentjie van Jaarsveld, Charl Wolhuter en Branwen Challens oor hulle artikel:

Die leierskapstyle van goedpresterende skole se skoolhoofde en die trefkrag daarvan op skoolklimaat

Leentjie, hoe het julle julle navorsingsprojek aangepak om genoemde leemte aan te spreek – wat was die proses, watter persone sou deelneem, wie sou die deelnemers wees?

Leentjie: Ek het eerstens lede van die fakulteit genader om deel te wees van die projek. Sodoende kon elkeen wat ’n deskundige op sy gebied is, ’n bydrae tot die projek lewer. Daarna het ek die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamenverslag gebruik om vas te stel watter provinsies die meeste skole het wat (a) meer as vyf jaar ’n 100%-slaagsyfer het, asook (b) watter van die skole die meeste graad 12-leerders het wat die Nasionale Seniorsertifikaat geskryf het. Ek het ook vasgestel watter provinsies die meeste skole het wat vir meer as vyf jaar ’n slaagsyfer van 40% en minder behaal het. Die rede vir hierdie twee kriteria was dat ons kon vasstel welke die beste en die swakste skole vir die navorsingsprojek sou wees. Die provinsies wat gekies is, was Gauteng, Wes-Kaap, Limpopo, Noordwes en Noord-Kaap. Al die deelnemers (ek, Charl, Deon Vos en Branwen) aan die projek se onderhoude is met die hoof en drie personeellede in elke skool gehou. Een deelnemer (Deon) het ook met ’n lid van die skoolbeheerliggaam ’n onderhoud gevoer. In jaar 1 (2017) het ons al die goeie skole besoek en jaar 2 (2018) al die swak skole.

Watter kriteria was vir julle belangrik waarop julle sou wou fokus in so ’n navorsingsprojek?

Die eerste kriterium was skoolhoofleierskap. Daarna is ander kriteria, soos skoolklimaat (Leentjie), morele leierskap (Branwen), die die skoolbeheerliggaam (Deon) en ander determinante (Charl) gekies om die invloed daarvan op die skoolklimaat vas te stel.

Charl, dit is duidelik dat julle raakgesien het dat daar ’n samehang is tussen kontekstuele faktore, leierskap en prestasie by toppresterende skole. Sou julle wou veralgemeen en tot die gevolgtrekking kom dat hierdie faktore ook by swakpresterende skole van toepassing is?

Ek dink dit is geregverdig om te ekstrapoleer, of ten minste sal dit gegrond wees om die hipotese te formuleer dat gebrekkige leierskap een (selfs die deurslaggewende) faktor by swakpresterende skole is. Maar om ’n afdoende antwoord op die vraag te kry, sou ’n steekproef van swakpresterende skole ook aan dieselfde navorsing onderwerp moet word.

Is julle bewus van enige navorsingsprojek wat die leemtes by swakpresterende skole ondersoek?

Daar is al heelwat artikels oor swakpresterende skole geskryf. Daar is ’n navorsingsprojek wat oor ’n paar jaar strek (nie ons projek nie) wat fokus op swak skole en hoe hulle verbeter. In daardie projek word slegs op die skoolhoof gefokus.

Branwen, vir jou het die bevordering van morele leierskap as deel van skoolklimaat in toppresterende skole ’n belangrike rol gespeel. Wat het daartoe gelei dat jy hierdie spesifieke faktor wou ondersoek?

Skoolklimaat is al redelik goed nagevors, maar ek het agtergekom dat die bevordering van morele waardes in kinders as ingryping om skoolklimaat te bevorder min aandag geniet het. En aangesien die skoolhoof daarvoor verantwoordelik is om ’n positiewe skoolklimaat in die skool te vestig, wou ek juis kyk hoe sy/haar leierskap ’n rol speel. Die fokus van hierdie navorsing was ook op toppresterende skole, maar ek is tans besig om te kyk hoe die prentjie in onderpresterende skole lyk.

Leentjie, dit was vir jou duidelik dat leierskapstyle van goedpresterende skole se skoolhoofde ’n trefkrag het op die skoolklimaat. Is daar enkele style wat jy wil uitsonder wat ’n positiewe invloed op skoolklimaat het? Watter style beïnvloed die skoolklimaat negatief?

Die onderwysers met wie ek die onderhoude gevoer het, het deurgaans gesê dat hulle verkies dat die skoolhoof ’n demokratiese leierskapstyl beoefen. Tog was daar ’n duidelike verskil tussen die goed- en swakpresterende skole. By die goedpresterende skole het die onderwysers saamgestem dat hulle hoofde die demokratiese styl beoefen. Hulle het ook erken dat die hoof soms die outokratiese styl beoefen, maar het dit nie as negatief ervaar nie, omdat hulle die hoof se oordeel vertrou wanneer hy/sy outokraties optree. Aan die ander kant wou die swakpresterende skole se onderwysers graag hê dat die skoolhoof die demokratiese styl beoefen, maar die meeste hoofde het die outokratiese styl beoefen, wat ’n negatiewe invloed op die klimaat van die betrokke skole gehad het. Ons kan hieruit aflei dat die demokratiese styl tot ’n positiewe skoolklimaat, en die outokratiese leierskapstyl tot ’n negatiewe skoolklimaat lei.

Dit is nie maklik om in ’n groep te werk in ’n navorsingsprojek nie, want nie almal het dieselfde hipoteses of doelwitte of voorsiene uitkomste of benaderings nie. Hoe het julle hiermee te werke gegaan? Was daar iemand wat gelei het en die projek bestuur het? Kon elkeen hulle eie insette gee sonder voorbehoud? Hoe het julle tot ’n gesamentlike doelwit gekom?

Leentjie: Ek was bevoorreg om saam met wonderlike mense te werk wat absoluut hulle samewerking gegee het en wat oop was vir bespreking, raad en ondersteuning. Die projek het basiese navorsingsdoelwitte gehad wat elke deelnemer aan die projek in gedagte moes hou, maar ons het ook elkeen ons eie doelwitte gehad wat met ons fokus verband gehou het. Die beginsels van doeltreffende projekbestuur was deurgaans van toepassing.

Wat het julle elkeen in hierdie gesamentlike navorsingsprojek van julleself geleer?

Leentjie: Ek het geleer dat daar ’n wêreld daar buite is en dat mens van aangesig tot aangesig met mense moet sit om werklik hulle situasie te verstaan. Mens het sekere persepsies, maar wanneer die werklikheid voor jou afspeel, verander jou persepsie baie.

Branwen: Ek het geleer dat my religieuse grondslae ook die dryfkrag agter my eie morele waardes is.

Charl: Ek het opnuut die waarde van leierskapopleiding van skoolhoofde besef, wat tans in Suid-Afrika sowel as in die buiteland besondere aandag geniet en aan die groot klok gehang word.

Is daar enige nuwe projekte op julle horison(ne)?

Leentjie: Heelwat! Vyf nuwe projekte. Van die projekte gaan ek alleen doen en ander is weer saam met my kollegas (Charl, Branwen en Kobus Mentz), want dis werklik ’n plesier om saam met hulle te werk. Ek het so pas ’n projek saam met kollegas in Kanada afgehandel waar ons na die loopbaan van vroue in die onderwys kyk. Die ander projek was ’n vergelykende ondersoek na die leierskap van megaboere en skoolhoofde, waaroor daar binnekort artikel geskryf gaan word.

Die oorkoming van kontekstuele beperkinge deur leierskap aan toppresterende skole

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top