
Danie van Wyk (foto: Naomi Bruwer)
Hierdie tyd verlede jaar sou niemand daaraan kon gedink het wat op ons wag vanaf Maart 2020 nie. Die verskyning van ’n pandemie waarvan ons nog nooit gehoor of bewus was nie, het ons onkant gevang. Die wêreld was nie gereed vir hierdie bedreiging nie. Lande het oor hul voete geval om oplossings te kry en was nie paraat vir so iets nie.
In Suid-Afrika, soos in baie ander lande, moes planne beraam word hoe om die aanslag van COVID-19 te bestuur en te beheer. Dit het geweldige uitdagings gebied. Die uitwerking op veral die ekonomie en die onderwys was vernietigend en die gesondheidstelsel het ’n knou weg met baie gesondheidswerkers wat met hul lewens geboet het. Onderwysers, wat ook op die voorste linie was, en steeds is, het ook die bedreiging ervaar, en ’n aantal het reeds omgekom.
Dit het groot druk op die onderskeie vlakke van die samelewing uitgeoefen, soos onder andere ook die onderwys. Skoolhoofde en skoolbeheerliggame was gekonfronteer met aanpassings wat hulle aan hul beleide moes maak, of toevoegings tot hulle by bestaande beleide. Begrotings van skole moes hersien en herprioritiseer word, omdat die aankoop van ontsmettingsmiddels en maskers nie lynitems was nie.
.........
Daar is geen eenvoudige antwoord op die vraag of die uitstel van die heropening van skole geregverdig was nie en onder watter omstandighede dit moes geopen het nie. Die vraag is dus nie wanneer skole veilig gaan wees van COVID nie, maar hoe die risiko’s wat daarmee gepaard gaan, hanteer gaan word.
..........
Daar is geen eenvoudige antwoord op die vraag of die uitstel van die heropening van skole geregverdig was nie en onder watter omstandighede dit moes geopen het nie. Die vraag is dus nie wanneer skole veilig gaan wees van COVID nie, maar hoe die risiko’s wat daarmee gepaard gaan, hanteer gaan word. Die sluiting van skole en die uitstel van die heropening het nie slegs op die onderwyser en leerders ’n negatiewe effek gehad nie, maar ook op ouers. Intussen het ’n groot aantal onderwysers gesterf, wat ’n groot slag vir baie skole was.
Skole wag ook nog op departementele riglyne wat uitgereik moet word ten einde leiding te verskaf hoe die terugkeer skool toe op 15 Februarie deur duisende leerders bestuur gaan word. In baie skole is daar nog nie genoeg handboeke en skryfbehoeftes afgelewer nie. By sommige skole in die Oos-Kaap bestaan daar skole waar puttoilette aangetref word en die infrastruktuur te swak is om die aantal leerders by daardie skole te hanteer. Skole daar beskik ook nie oor persoonlike beskermende toerusting nie, wat heropening bemoeilik.
Daar heers groot onduidelikheid wanneer onderwysers ook in die ry sal kan staan om ingeënt te word. Die Departement van Gesondheid en die Departement van Basiese Onderwys het nog nie aangedui hoe en wanneer dit ’n aanvang gaan neem nie.
........
Intussen word onderwysers en skoolhoofde toegegooi onder administratiewe rompslomp wat hulle daagliks agter hul lessenaars en tafels vasgekluister hou. Skoolhoofde is besig om kontak met hul personeel en leerders te verloor.
..........
Intussen word onderwysers en skoolhoofde toegegooi onder administratiewe rompslomp wat hulle daagliks agter hul lessenaars en tafels vasgekluister hou. Skoolhoofde is besig om kontak met hul personeel en leerders te verloor. Die klagte bly steeds dat nadat die vragte administratiewe werk afgelewer is, hulle nooit weer ’n woord daarvan by die Departement hoor nie. Dit, benewens Covid-regulasies, het ’n erge uitwerking op die funksionering van skole. Daar moet baie simpatie met skoolhoofde en hul bestuurspanne gedurende hierdie tyd wees.
Daar is groot twyfel of die administratiewe las werklik tot gehalte-onderrig in die klaskamer lei. Skoolhoofde volg dikwels ’n oorlewingstrategie van “ja Meneer, amen Meneer”, sodat dit afgetik kan word. Dit skep ’n valse beeld van kwaliteitonderwys, valse personeelwelsyn, en valse effektiwiteit – en almal hoër op rapporteer hoe goed dit met skole en onderwys in die breë gaan. Dit maak ’n klugspel van onderwys, en dra nie by tot die daarstelling van uitnemendheid in skole nie.
Met die eiesoortige uitdagings wat COVID-19 bring en hoe paraat skole moet wees om onderrig en leer in hierdie omstandighede te laat gedy, moet skoolhoofde en beheerliggame die ruimte en vryheid hê om op kernbesigheid te fokus en nie op ’n administratiewe syspoor of dwaalspoor geneem te word nie. McKinsey het die volgende te sê oor skoolstelsels en die effektiwiteit daarvan:
“There are four priorities for school systems:
- Maintaining health and safety of students, staff and the community
- Maximizing student learning and thriving
- Supporting teachers and staff
- Establishing a sound operational and financial foundation.”
.........
Die koronavirus is nie die enigste bedreiging vir onderwysers en leerders nie. Leerders van lae-inkomste-agtergronde is aangewese op skole vir basiese voeding. Dit is in baie gevalle die enigste bord kos wat daardie leerder vir die dag sal geniet.
.........
Die koronavirus is nie die enigste bedreiging vir onderwysers en leerders nie. Leerders van lae-inkomste-agtergronde is aangewese op skole vir basiese voeding. Dit is in baie gevalle die enigste bord kos wat daardie leerder vir die dag sal geniet. By baie skole is tans voedingskemas, maar dit word ernstig gekortwiek deur die teenwoordigheid van die virus en die bedreiging wat dit inhou. Die bedreiging en die kommer veroorsaak ’n groot uitdaging aan die geestelike gesondheid van onderwysers en leerders.
Die sosiale isolasie en die impak daarvan moet nie onderskat word nie. Die feit dat kontaksport nie op skool beoefen mag word nie, en leerders van hul maats op sportgebied afgesny is, het beslis ’n sielkundige effek op hulle. Die onderwysstelsel is dus belangrik, maar die menslike kapitaal (gesond, gebalanseerd en energiek) is veel belangriker. Hierdie is algemene gevalle wat die onderwysdepartement blykbaar nie in ag neem nie.
Daar kan nie getwyfel word aan die werksetiek en ingesteldheid van onderwysers en skoolhoofde nie. Hulle probeer hul beste in ’n situasie wat niemand voorsien het nie. Onderwysers ervaar almal dieselfde frustrasies. ’n Kollega het lank terug gesê: “Onderwysers gaan reguit hemel toe, en daar sal geen papierwerk wees nie.”
Onderwysvakbonde vra vir een gekonsolideerde stel voorskrifte. Dit word telkemale gewysig en mens weet nie watter nog geld nie. Daar was oproepe in die verlede dat onderwys as ’n essensiële beroep verklaar moet word soos gesondheidswerkers, polisie en weermaglede. Dit sal tot ’n groot mate ook verwarring uit die weg ruim rakende die inenting van onderwysers, wat ook in die voorste linie van die stryd teen die virus staan en hul lewens op die spel plaas. Onderwysers behoort dus ook voorkeur te kry wanneer dit kom by wie die inenting wanneer moet kry.
Hierdie stryd gaan nie oornag gewen word nie, en gaan moontlik nie in ons tyd geskied nie. Die samelewing is onder beleg deur hierdie pandemie en is in geveg gewikkel wat groot beplanning en strategie sal verg met ’n gevegslinie op alle fronte. Slagordes moet opgestel word wat die pandemie met militêre presisie kan aanpak. Foute kan nie bekostig word nie, want duisende lewens is op die spel.
Die onderwys sal nuwe benaderings moet ontwikkel om by veranderende omstandighede aan te pas.
- Danie van Wyk, Voorsitter: DAK Netwerk
Lees ook
Die "goeie ou dae" in die onderwys was nie altyd so goed nie
Suid-Afrikaanse skole so onveilig soos Suid-Afrikaanse strate
"Ek hettie ge-expect om te survive nie": ’n COVID-19-survivor se storie