........
Die lewe op die Kaapse Vlakte is altyd lewendig en jolig, maar terselfdertyd is dit ’n ruimte waar armoede, bendegeweld en seksuele aanranding ’n werklikheid is. Afgesien daarvan worstel die jeug ook met min geleenthede en ’n gebrek aan voldoende hulpbronne. Dis veilig om te sê dis ’n antagonistiese milieu. Hierdie daaglikse gebeure het ’n nodigheid in my aangewek om die haglike omstandighede en realiteit ten toon te stel in die vorm van ’n jeugroman.
...........
Baie geluk met jou kortlysbenoeming vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur van 2021! Vertel my van die geboorte van jou storie. Wat het jou die idee gegee, waaroor handel jou storie en wie is jou karakters?
Eerstens, baie dankie vir die wonderlike geleentheid wat Sanlam bied aan veral jong en opkomende skrywers. Hierdie platform dien as katalisator vir aspirantskrywers om hul drome te bewaarheid.
Die lewe op die Kaapse Vlakte is altyd lewendig en jolig, maar terselfdertyd is dit ’n ruimte waar armoede, bendegeweld en seksuele aanranding ’n werklikheid is. Afgesien daarvan worstel die jeug ook met min geleenthede en ’n gebrek aan voldoende hulpbronne. Dis veilig om te sê dis ’n antagonistiese milieu. Hierdie daaglikse gebeure het ’n nodigheid in my aangewek om die haglike omstandighede en realiteit ten toon te stel in die vorm van ’n jeugroman.
Dit handel onder andere oor ’n 15-jarige seun (Leonardo) wat die dood van sy pa en jong broer probeer verwerk. Dis ironies, want die verpersoonliking van die “lang arm van die gereg” (konstabel Julies) wat veronderstel was om hom te beskerm en as vaderfiguur optree, is die oorsaak van sy besluit om die huis te verlaat en sy moeilike, verskriklike lewe op die straat. Hy doen alles in sy vermoë om te oorleef. Al beteken dit hy moet ’n slagoffer van verkragting wees. Die enigste persoon wat hom moes ondersteun, sy ma (Catheryn), kies die hasepad en misluk in haar rol as matriarg. Wat vir Leonardo ’n stryd en donker pad was, die lewe op die straat, het ook vir hom insae gegee deur sy ontmoeting met ander dat ons die lewe nie net vanselfsprekend moet aanvaar nie.
Op watter ouderdomsgroep is jou storie gemik? Hoekom skryf jy vir jongmense in hierdie ouderdomsgroep? En wat is vir jou die lekkerste om vir mense van hierdie ouderdomme te skryf?
Dis gemik op kinders van die ouderdom van 13–19 jaar. Dis die belangrikste fase van ’n mens se lewe. Hier maak ons die regte of verkeerde keuses. Jou lewe op dié stadium handel basies konstant daaroor om keuses te maak. Gegewe die feit dat kinders van so ’n ouderdom in kwesbare en haglike omstandighede grootword, is dit maklik om by bendegeweld en dwelmmisbruik ingesluk te word. As gevolg van die antagonistiese ruimte wyk hulle af van paaie wat hulle kan bevorder en bemagtig om agente vir verandering te word en ’n betekenisvolle bydrae te lewer tot die gemeenskap. Te midde van hierdie gebeure probeer ek die realiteit op die Vlaktes belig en onder jongmense se aandag bring dat ons huidige omstandighede nie ons bestemming hoef te wees nie.
........
Te midde van hierdie gebeure probeer ek die realiteit op die Vlaktes belig en onder jongmense se aandag bring dat ons huidige omstandighede nie ons bestemming hoef te wees nie.
..........
Ek dink omdat ek ’n onderwyser is en elke dag voor ’n klas moet staan en kinders inhoud leer, maar in dieselfde asem, lewenslange lesse. Ek kom van, en woon nog steeds in, ’n gemeenskap waar die jeug konstant op soek is na rolmodelle. Dis vir my ’n vreugde om hierdie rol te vervul.
Daar word so baie boeke in die Engelse mark uitgegee. Hoekom het jy 'n boek geskryf in jou eie taal - en dink jy sekere jongmense verkies nog om boeke te lees in die taal wat hulle in die huis praat?
Ek dink daar word nie genoeg erkenning gegee aan Kaapse Afrikaans nie. Dis ’n storie wat handel oor die narratief op die Kaapse Vlaktes, dus het ek gedink dis meer eg en outentiek om in Kaaps te skryf. Dit pas in die verteller se mond en maak dit baie meer persoonlik terwyl jy lees.
........
Ek dink daar word nie genoeg erkenning gegee aan Kaapse Afrikaans nie. Dis ’n storie wat handel oor die narratief op die Kaapse Vlaktes, dus het ek gedink dis meer eg en outentiek om in Kaaps te skryf. Dit pas in die verteller se mond en maak dit baie meer persoonlik terwyl jy lees.
..........
Leerders sal meer lees en begryp as hulle tekste, scenario’s en koerante lees wat in hul huistaal geskryf is. Ons praat die heeltyd oor die belangrikheid van lees, maar as ons die een aspek weghaal, die gebrek aan basiese geletterdheid, wys dit individue vind meer genot as hulle in hul variëteit (Kaapse Afrikaans, Namakwalands ens) lees.
Hoe het die pandemie jou skryfwerk of temas beïnvloed, indien enigsins?
Ek het voor dit nooit geskryf nie. Ek het nie in my wildste drome gedink ek het dit in my om ’n pen te vat en te skryf nie, soveel so dat ek dit in ’n jeugroman omskep. Maar ek het altyd gedroom om eendag die storie oor die lewens van mense op die Kaapse Vlaktes te vertel, al is dit op die radio of TV-programme. Die pandemie het baie kwessies wat baie maklik verromantiseer word, belig. Die hartseer realiteit waarmee mense worstel. Die temas wat aangeroer word is byvoorbeeld verkragting, oorlewingsreise, lewe op die straat, en vooroordeel.
Hoe het die pandemie jou lewe beïnvloed, op persoonlike vlak?
My universiteitsdosent het my altyd herinner dat die lewe een tikkende tydbom is. Ek het my potensiaal ontsluit en gebruik gemaak van my vaardighede. Die professie waarin ek is, verg baie harde werk, konsentrasie, fokus wat baie gou en maklik jou geestesgesondheid kan belemmer. Ek het hierdie tydperk gevat om op myself en my sterkpunte te fokus en sodoende begin ontdek dat ek die vermoë het om te skryf. Ons word vasgevang en voel partykeer gedwing om te “conform” aan die samelewing se voorskrifte. Jy het die mag om self te besluit wie en wat jy wil wees!
Lees ook:
2021 Sanlam Prize for Youth Literature shortlist: an interview with Francis Tebesi
2021 Sanlam Prize for Youth Literature shortlist: an interview with Penny Lorimer
Sanlamprys vir jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Betsie van Niekerk