Sanlamprys vir jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Betsie van Niekerk

  • 0

Betsie van Niekerk praat met Naomi Meyer oor Anderkind, wat benoem is vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur 2021.

Betsie van Niekerk (foto verskaf)

.........

Nog lank voor COVID-19 uitgebreek het, het ek reeds in my agterkop die ongelooflike verhale gehad van die 1918-griep-epidemie wat hele gesinne uitgewis het, soos deur my ma vertel, wat dit weer by haar ma gehoor het.

.........

Baie geluk met jou kortlysbenoeming vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur van 2021! Vertel my van die geboorte van jou storie. Wat het jou die idee gegee, waaroor handel jou storie en wie is jou karakters?

Nog lank voor COVID-19 uitgebreek het, het ek reeds in my agterkop die ongelooflike verhale gehad van die 1918-griep-epidemie wat hele gesinne uitgewis het, soos deur my ma vertel, wat dit weer by haar ma gehoor het. Die onvoorstelbare menslike lyding wat daarmee gepaard gegaan het, die vrae oor God se voorsienigheid in so ’n tyd, die absolute verskrikking van ’n pandemie, ’n siekte “wat na strooi ruik”, het my so aangegryp dat ek daaroor begin navorsing doen het en afgekom het op ’n omvangryke en uiters gedetailleerde doktorale skripsie van Howard Phillips (Universiteit van Kaapstad). Ook hy het die verhale by sy vader gehoor en is daardeur geïnspireer om daaroor navorsing te doen. Ek was geïnteresseerd in hoe die pandemie die samelewing beïnvloed het, nl die gesondheidsdienste, sanitasie, maatskaplike toestande, welsynstoelaes, die rol van die kerk, volksbygelowe mbt die siekte, ens. Maar onder dit alles het ek gou die gesamentlike menslike uitroep van wanhoop gehoor, en dit het in my gedagtes afgewentel na die ongekende lyding van die enkeling wat soms ’n hele gesin moes begrawe. Die prototipe van hierdie enkeling se lyding was vir my die jong kind wat hom ongevraagd in hierdie onvoorstelbare lyding bevind het. Hoe moes hy sin maak uit siekte, dood en God se straf en “toorn” soos destyds deur die kerk verkondig is? Toe COVID-19 begin versprei en helaas ook in Suid-Afrika aangekom het, was die manuskrip reeds goed onderweg en het ek oral om my in die media eggo’s gehoor van dit waarmee ek in elk geval besig was. My hoofkarakter, Johannes, vorm dus nie net ’n prototipe van die kind in die 1918-epidemie nie, maar ook van kinders/mense wat in die huidige omstandighede onskuldig ly en hulle pogings om te oorleef. Ek probeer hiermee ’n stem gee aan duisende mense, veral kinders, wat soms uitgelewer is aan magte ver buite hulself. Nie net hulle lyding, verslaenheid en oorlewing is ’n groot deel van die verhaal nie, maar ook hulle ongelooflike vermoë om te midde van alles tog met lewe aan te gaan; selfs vreugde en hoop te vind, om onverpoosd núút en oor te begin.

.........

Nie net hulle lyding, verslaenheid en oorlewing is ’n groot deel van die verhaal nie, maar ook hulle ongelooflike vermoë om te midde van alles tog met lewe aan te gaan; selfs vreugde en hoop te vind, om onverpoosd núút en oor te begin.

............

Op watter ouderdomsgroep is jou storie gemik? Hoekom skryf jy vir jongmense in hierdie ouderdomsgroep? En wat is vir jou die lekkerste om vir mense van hierdie ouderdomme te skryf?

My storie is gemik op die ouderdomsgroep 12 tot 18. Ek het as onderwyseres my lewe lank met hierdie ouderdomsgroep kinders gewerk, hulle diepste psige leer ken; hulle is dus vir my die “bekendes”. Ek geniet dit om vir hulle te skryf, omdat ek by hulle geleer het hoe absoluut eerlik en onpretensieus hulle is – én hoeveel onbeantwoorde vrae daar in hulle leef. Ek het by hulle geleer wat hoop en onwrikbare lewenskrag beteken, hoe hulle elke dag nuut begin en van voor af kan lewe, asof gister se swaarkry nie meer bestaan nie.

Daar word so baie boeke in die Engelse mark uitgegee. Hoekom het jy 'n boek geskryf in jou eie taal - en dink jy sekere jongmense verkies nog om boeke te lees in die taal wat hulle in die huis praat?

My ondervinding is dat kinders van hierdie ouderdomsgroep wel Afrikaans lees; en waar ek in Upington by Hoërskool Duineveld skool gehou het, het kinders sowel Engels as Afrikaans gelees.

Hoe het die pandemie jou skryfwerk of temas beïnvloed, indien enigsins?

.........

Die pandemie het die temas van die manuskrip waarmee ek in elk geval besig was, onderstreep. Dit was vir my ’n ongelooflike ondervinding om dit waarmee ek in my verbeelding reeds goed besig was, voor my oë te sien afspeel.

...........

Die pandemie het die temas van die manuskrip waarmee ek in elk geval besig was, onderstreep. Dit was vir my ’n ongelooflike ondervinding om dit waarmee ek in my verbeelding reeds goed besig was, voor my oë te sien afspeel. Dit was asof my karakters “lewend” geword het, asof hulle storie “inpraat” in die hede en andersom. Dit was asof die algemeen menslike wanhoop, maar ook die ongelooflike wil tot oorlewing gestalte gekry het oor ’n eeu heen.

Hoe het die pandemie jou lewe beïnvloed, op persoonlike vlak?

Op persoonlike vlak het die pandemie my, soos vir ons almal, baie geïsoleerd gelaat; my eintlik gedryf daartoe om “menslike kontak” te soek met die karakters in my eie verhaal en om ook so met woorde en ’n storie algemeen menslike ervarings te verwoord. Ek wou met my storie as’t ware mense na my toe nooi en sê: Kyk, ons almal kry swaar en ons almal oorleef; daar is altyd ’n nuwe begin moontlik. Dit het my ook laat besef dat oorvertelde stories van ’n ma, ’n pa, ’n ouma, oupa of familielid nie maar net praatjies uit die verlede is nie; ágter dié stories staan ’n man, ’n vrou, ’n kind wat kan huil en lag en hóóp – ook tydens die huidige pandemie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top