Is Afrikaans aan die US ’n spyker ryker in haar doodskis?

  • 5

Dae voor die “doodsvonnis”

Ek onthou dit was die jaar 2019. Ek was in matriek, en my hart het daardie tyd al beginne klop vir Afrikaans en oor die algemeen vir moedertaalonderrig. My droom was, en is steeds, dat elke kind die reg sal hê om in sy/haar moedertaal te studeer.

Die Grondwet maak plek daarvoor en siende dat navorsing bewys dat leerders beter leer en presteer in hul moedertaal, het ek hierdie denke tot my hart geneem. Hierdie feite het natuurlik bygedra tot my besluit om onderwys te gaan studeer.  

My hart het so gebrand vir Afrikaans dat ek by die plaaslike radiostasie gaan aanklop het vir my eie radioprogram vir Afrikaans en in Afrikaans. Ek wou die Paarl Vallei wysmaak van die Afrikaanse taal. Ek wou jongmense inspireer om te doen, dink, praat, dans en te woeker in hulle taal.

Ek wou hulle motiveer om nie op te gee rakende dit waarvoor hulle droom nie; ek wou hê hulle moet groot droom, groot droom in hulle se moedertaal. My programvoorstelle was eers verskeie kere afgekeur deur die stasiebestuurder. Maar ek het nie tou opgegooi nie.

’n Paar maande na nog ’n klomp bladsye vol idees vir my eie radioprogram laat weet die stasiebestuurder ek moet inkom. Ons vestig toe die program Afrikaans is tops op Radio KC 107.7 fm.

Hier het ons gedans in Afrikaans, maar ook met jongmense saam gekuier en na hulle stories geluister. Jongmense wat droom in Afrikaans, liedere, gedigte en hulle eie kort stories in Afrikaans skryf, maar nie die platforms het nie. Ons het probeer om daardie platform vir hulle te skep.

Met my bedrywighede op radio het ek ook die geleentheid gekry om gesprekke by te woon van organisasies soos afrikaans.com, die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taalmonument. Hier het ons nogal baie gedebatteer oor die plek van Afrikaans op universiteite. Om eerlik te wees het ek nooit die bohaai verstaan as iemand wat dit nog nie beleef het nie, maar ek het dit altyd in my agterkop gebêre.

Dae ná die “doodsvonnis”, die begin van die “nadoodse ondersoek”

Later in die jaar (iewers in November) ontvang ek ’n oproep van die ATR. Hulle nooi my uit na ’n “noodvergadering” te Kuilsrivier; hulle wou weet of ek kan ytstiek (bywoon), dis dringend. Ek weet toe nog nie waaroor dit gaan nie, maar ek is toe heel opgedress op pad na hierdie “noodvergadering” met twee van my Afrikaans-onderwysers van die New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl wat vir my ’n lift gegee het.

Met die aankoms het ek kom hoor dit gaan oor die uitspraak van die Konstitusionele Hof rondom Afrikaans aan die US (die uitspraak was in Oktober 2019), waar die US die saak teen die drukgroep Gelyke Kanse gewen het.

Ons het by ’n plaaslike koffiewinkel bymekaar gekom. Jy kon hoor dat ieder en elk die belange van Afrikaanssprekendes op die hart dra en ook dat hul die rol van moedertaalonderrig verstaan, en daarom ook groot aktiviste daarvoor is.

By die einste vergadering noem Danie van Wyk, tans voorsitter van DAK Netwerk, dat dit tyd is vir die “nadoodse ondersoek” om te begin. Sodat ons kan sien wat te rede is uit hierdie uitspraak. Hoe ons aan ander oplossings kan dink om seker te maak Afrikaans word nie heeltemal verlore as wetenskap- en akademiese taal op die US nie.

Op daardie tydstip as voornemende student aan die US het ek bietjie ongemaklik en deurmekaar gevoel. Ek moet erken, ek het bekommerd geraak, want ’n paar maande voor die uitspraak het ek my aansoekvorm aan die US ingevul. Ek het Afrikaans as my moedertaal aangedui, en by die vraag oor in watter taal jy jou studie wil voltooi, het ek “Afrikaans” ingevul. Hoe nou gemaak? Watter valse bemarking is dit dan nou?

Terug Paarl toe in die kar vertel ek aan my twee onnies waaroor die noodvergadering gegaan het. Die twee was nie self in die gesprek nie; hulle het in ’n ander deel van die koffiewinkel gesit en nasien aan Afrikaans Huis- en Tweedetaal-vraestelle. Hulle het saam met my getreur.  

Van Wyk se woorde het later by my begin spook, juis omdat die woorde van Michael le Cordeur, professor aan die US se Opvoedkunde-fakulteit by my opgekom het.

Dit was een of ander geleentheid by die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT), nie te lank na die uitspraak nie. Hier het Le Cordeur gesê dat die uitspraak van die Konstitusionele Hof glad nie die “doodsvonnis” is nie. Ek het dit nogal interessant gevind dat Le Cordeur hierdie opmerking maak, siende dat die onderwerp van die gesprek niks met die US en sy taalbeleid te doen gehad het nie.

Die nadoodse ondersoek en moontlike reddingspogings

In ieder geval. Ná die Konstitusionele Hof se uitspraak is verskeie pogings aangewend om die situasie te red.

Een van hierdie pogings was die stigting van die studente-organisasie, StudentePlein. Met dié organisasie wou studente mekaar mobiliseer en ook die nodige strukture vir ondersteuning bied.

Daar was ander aksies:

Die aanhoudende druk van enkele politieke partye soos die Demokratiese Alliansie; die DA se aanhoudende PAIA versoeke; die opstel van petisies; die DA-leier, John Steenhuisen, se besoeke aan Stellenbosch om studente se gevoel aan te hoor, ens was alles pogings om met die situasie te help.

Die protesoptog van DAK Netwerk op 9 April vanjaar. Hulle ontmoeting daarna in Junie om hulle menings en voorstelle in persoon met die bestuur van die US te deel.

Menings van studente op verskeie platforms. Ek self het ’n paar stukke geskryf waarvan die US bewus geword het, terug geantwoord het met die mening dat ek  “mispersepsies” oor sekere goed het en dat hulle persoonlik met my daaroor sal vergader.

Dan natuurlik ook die stem van die US se Departement Afrikaans en Nederlands, die verhoor van die Menseregtekommissie van Suid-Afrika (MRKSA), ens.

Die doodskis is vasgespyker

Vandag, met die tweede konsep van die US se taalbeleid wat tans oop is vir kommentaar, besef ek dat van Wyk en Le Cordeur se woorde nie verniet by my gespook het nie. Dit lyk asof daar wel ’n doodsvonnis was en dat die nadoodse ondersoek wat sou soek na maniere om die dooie (Afrikaans) terug tot die lewe te bring, dalk heeltemal te laat was. Die skepper (US) van hierdie dooie het nie belanggestel nie.

Dat die voorstelle in reaksie op die eerste konsep glad nie juis impak gehad het met die “ontwerp” van tweede konsep nie, is jammer. Dit is dalk van die laaste spykers wat nou in die doodskis van Afrikaans aan die US gekap is.

Afrikaanssprekende studente sal voorts, soos in die tweede konsep, gelukkig moet wees met Afrikaans waar “redelik uitvoerbaar”, waarvoor die US self nie eens ’n definisie het nie. Voorts sal studente tevrede moet wees met ’n opsomming in Afrikaans (ook net as iemand bereid is om dit te vertaal) indien die module in Engels aangebied word, maar ook net as “die dosent die taal magtig is”.

Verder is dit tragies en jammer dat ’n universiteit wat glo “meertalig” is en “meertaligheid wil bevorder”, dosente aanstel wat eentalig is, hetsy slegs Afrikaans of slegs Engels. Indien die US wel so meertalig was soos wat hulle sê, moes dosente eintlik al die drie tale van die Wes-Kaap magtig wees.

Dis dan ook jammer om te sê, maar siende dat ons pleidooi op dowe ore val, moet mens seker maar tevrede wees met die minimum Afrikaans wat die US nog vir sy studentegemeenskap bied. En hoop dat die doodskis nie gou en heeltemal ses voet onder die grond gestort gaan word nie.

Dit sal ’n begrafnis wees wat ek glad nie sal wil bywoon nie.

  • 5

Kommentaar

  • Adriaan Oosthuizen

    Beste William
    Moenie ophou om te veg vir jou regte by die US. Dis mense soos jy wat sal verhoed dat ons verswelg word deur Engels. Ek is trots op jou aktivisme en jou passie vir jou taal. Hou net aan om jouself te wees.

  • Barend van der Merwe

    Die Grondwet is soos die Bybel. Mens kan dit lees en geniet, maar as jy begin glo dis als waar, dan stel jy jou op vir gruwelike ontnugtering. Die universiteite sal verengels omdat die hele land se administrasie in Engels gedoen word. Dit is waarvoor die land gestem het en dit is wat die land nou kry. Mens kan steeds binne die parameters van 'n Engelse administrasie jou kultuur uitleef. Daar is ten noorde van ons 'n ou "klein landjie" met die naam Namibië. Met net een amptelike taal. Wat Engels is. Geografies 'n groot land maar met 'n klein bevolking. En tog kry Namibië iets reg wat ons nie in Suid-Afrika kan nie, naamlik om gereeld boeke in Damara te publiseer.

    Nee, want ons is te besig in die land om met mekaar oor taal te redekawel.

    Ons kan die 11 amptelikes ook netsowel beginne uitbrei mos, of wat praat ek nou als? Wat van Grieks, Portugees en Duits? Ons het mense in die land wat ook Swahili praat en Tamil. Die Koran is in Arabies en die Tenak in Hebreeus. Dan maak ons ons nuwe Grondwet staan tussen al die ander stukke dooie wetgewing wat al deur onse parlemint gejaag is so oor die jare. Aan ambisie skiet ons mense mos gewis nooit tekort nie. Is maar net daar tussen die diep filofisie en die implementering waar die antwoorde so bietjie opraak ...

    Miskien nog die hele proses sommer laat oudit ook. Onthou net die report moet in goeie Engels geskrywe wees vir die ouditeur.

  • André Badenhorst

    Hou moed William. Die skrif is lankal aan die muur by die US; die verloop na die toekoms nie altyd reglynig nie. Neem die “smoordenaars” se naïewe uitsprake dus met ‘n knippie sout en daardie vonkie van hoop aan die brand. Die geskiedenis sal ongenaakbaar oordeel. Intussen is daar talle geleenthede buite die Stellenbosse borreltjie.

  • Anna-Marie+Groenewald

    Die toekoms van Afrikaans by die universiteit is in die hande van die studente. Praat Afrikaans, sing Afrikaans en vra dosente vir vertalings in Afrikaans. Antwoord vraestelle in Afrikaans. Ongelukkig is die meeste studente apaties en glo foutiewelik dat dit makliker is om in Engels te studeer, want dan sal hulle makliker werk in die buiteland kry. Wat 'n treurige wanbegrip.

  • Ronée Robinson

    Beste William, jy maak my so trots om Afrikaans te wees. Ek vermoed dat jy ongelooflik braaf sal moet wees om konstant teen 'n stroom op te staan. Daardie stroom gaan al meer vyandig raak, want verdraagsaamheid en demokrasie is nie waardes wat die magte wat heers omhels nie.
    Vir jou wil ek sê - as dinge té erg raak - daar is ook universiteite soos Akademia waar jy jouself dalk meer tuis sal vind. Intussen hoop ek jy weet hoeveel mense soos ek jou bewonder en, hier van ver af, ondersteun met die hoop dat die Engele hulle vlerke om jou vou om jou te onderskraag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top