’n Donker wolk en ’n nuwe skooljaar: ’n gesprek met ’n skoolhoof van Kuilsrivier

  • 0

Foto: https://pixabay.com/photos/heaven-clouds-grim-dramatic-592415/

Daar’s ’n oomblik se stilte.

“’n Donker wolk,” sê hy dan. “Ek kan dit nie anders beskryf nie. Ek wil amper sê … mens adem dit in as jy die woonbuurt binnery.”

Ek praat telefonies met ’n skoolhoof van Kuilsrivier wat verkies om anoniem te bly.

Die gesprek handel oor die situasie in sy skool. (Dis ’n laerskool.)

Die skooljaar het pas in die Wes-Kaap afgeskop. Sedert Maart 2020 het die meerderheid Suid-Afrikaanse kinders nog nie elke dag teruggekeer skool toe nie.

Op ’n dag waarop my persoonlike sosiale media bevolk word deur helder kindergesiggies in skooluniform wat op pad is na hul eerste skooldag vanjaar, is hierdie foto’s nie ’n getroue weerspieëling van hoe sake in die hele land verloop nie.

........

Op ’n dag waarop my persoonlike sosiale media bevolk word deur helder kindergesiggies in skooluniform wat op pad is na hul eerste skooldag vanjaar, is hierdie foto’s nie ’n getroue weerspieëling van hoe sake in die hele land verloop nie.

..........

Toe ek die vrae aan die skoolhoof begin vra, kom sy antwoorde aaneenlopend, byna sonder kommas en punte. Ek teken dit aan.

Vertel my iets van jou skool en die gemeenskap waarbinne die skoolkinders grootword?

“Jy vra oor die skool. Kom ek vertel jou die konteks van ons gemeenskap. Skole in die land word ingedeel in kwintiele. Die armste van die arm skole is in kwintiel een. Daar is ook ’n kwintiel twee, drie, vier en vyf van arm skole.

........

“Mens sou kon sê kwintiel vyf is die ryk skole van die arm skole. Ons skool is ingedeel in kwintiel vier. Dit beteken ons skool bedien ’n gemeenskap waar die meerderheid van die kinders van informele nedersettings af kom.”

........

“Mens sou kon sê kwintiel vyf is die ryk skole en van kwintiel vier af, is die res die armer skole. Ons skool is ingedeel in kwintiel vier. Dit beteken ons skool bedien ’n gemeenskap waar die meerderheid van die kinders van informele nedersettings af kom.”

Hy noem die omgewing op die naam. Dis iewers in die groter Kaapstad.

“Die ouers self,” vertel hy my, “... die werkloosheidskoers is 90%. Die kinders se situasie is: Voed die outjies by die skool, of hulle kry nie kos nie. Ons is ’n ’no fee school’. Ons word gesubsidieer deur die staat.”

Hy bly ’n oomblik stil.

“Ek moet jou vertel van die gemeenskap waar die kinders grootword.”

“Hier is dwelms, daar is drank, hier is afhanklikheidsgebruiksmiddels. Dit voer die botoon. 85% van die leerders het … kom uit daardie omstandighede. Die ouers het niks nie. Niks om voor te lewe nie.”

Hy vertel my van sy laerskool.

Daar is 1 353 leerders van graad R tot graad 7.

“Dis ’n groot skool.”

Is die leerders gelyktydig in die skool, of roteer hulle?

“Ons kinders … die klasse werk op ’n roteringsbasis. Dit is vanweë die klasgroottes. Daar is tussen 48 en 52 kinders per klas. Daar is nie spasie vir afstand tussen die kinders nie. Hier is waglyste. Vandag was hier ouers wat steeds kom aansoek doen vir plek vir hulle kinders. Die skool is vol.”

Hoe werk die rotasie in die skole?

“Kom ek vertel jou eerste die voordele van rotasie: Outomaties is ons klasse kleiner. Maandag kom een helfte en Dinsdag kom die ander helfte. Die dissipline by die skool is beter – kleiner klasse, sien?

“Ons kombuis kan nou by die voedingstye hou, soos ons dit beplan het. Daar is minder kinders elke dag daar.

“Wat die leerders betref … baie van ons leerders kom skool toe net vir die kos.”

.......

“Wat die leerders betref … baie van ons leerders kom skool toe net vir die kos.”

.......

Hy bly weer ’n oomblik stil.                                                         

“Daar’s niks kos by die huis nie. Mense praat van tegnologie om te leer. By ons skool is daar nie kos vir elke dag nie – watse ding is ’n rekenaar by die huis?”

Hy keer terug na die onderwerp: “Die WKOD betaal vir drie kombuispersoneellede. Ons moet 350 leerders per dag voed. Dis waarvoor daar kapasiteit is. Maar ons voed gemiddeld elke dag tussen 600 en 700 leerders.”

Wat is die nadele van rotering?

.......

"Kom ek begin by die onderwyser. Hy moet dieselfde les herhaal die volgende dag. Maandag gee hy klas vir een groep. Dinsdag vir die volgende groep. Woensdag moet hy met nuwe werk aangaan vir Maandag se groep. Maar teen daai tyd het hulle al Maandag se werk vergeet."

..........

“Kom ek begin by die onderwyser. Hy moet dieselfde les herhaal die volgende dag. Maandag gee hy klas vir een groep. Dinsdag vir die volgende groep. Woensdag moet hy met nuwe werk aangaan vir Maandag se groep. Maar teen daai tyd het hulle al Maandag se werk vergeet. Outjies is gedemoraliseer … en die kinders verval in ’n gemaksone: ’Ek gaan eers Dinsdag skool toe, ek hoef niks te doen nie.’ Of: ’Dis weer langnaweek.’ Later lei die hele situasie tot permanensie. Ons het ’n leerderverlies van jaarlikse uitvalle.

“Ons kan net 40% tot 50% van die sillabus dek as ons op rotasiebasis bly. Ek sê vir jou so: Ons het die kind Maandag tot Vrydag by die skool nodig om die volle kurrikulum te dek.

“Die ander ding is, die onderwysers is ook gedemoraliseerd. ’Ek gaan nie die kurrikulum afgehandel kry nie.’

“Die WKOD het die kurrikulum ingekort. Afgeskaal. Net klem gelê op die belangrikste boublokke. Maar ten spyte hiervan: Ons kan onmoontlik by die afgeskaalde kurrikulum byhou.

“En die afwesigheidsyfer is groot. Die kinders maak somme. Hulle kom net wanneer hulle moet kom. Na 10 agtereenvolgende werksdae kan ’n leerder van die skool onttrek word. So hy sorg dat hy binne daardie 10-dae-spektrum bly. Dan kan hy nog ingeskryf bly.

“Die kwaliteit van assessering word noodwendig ingeboet.

“Ons het pre-Covid ’n hoë akademiese standaard gehandhaaf. Maar as gevolg van die afgeskaalde kurrikulum moet daar ’n vraestel opgestel word wat nie op standaard is nie.

“Nog iets … die ouers raak verward. Ons het twee groepe: die Beertjies en die Dolfyne.

........

"Ons het gedink WhatsApp gaan ons kan help – tuiswerk en addisionele werk kan aan ouers deurgegee word. Maar ons ontdek 85% van die ouers het selfone aan die begin van die jaar, maar later is daar net 20% van die ouers wat bereik kan word."

..........

“Ons het gedink WhatsApp gaan ons kan help – tuiswerk en addisionele werk kan aan ouers deurgegee word. Maar ons ontdek 85% van die ouers het selfone aan die begin van die jaar, maar later is daar net 20% van die ouers wat bereik kan word. Dis die aard van die gemeenskap. Dit is nie meer ’n handige leermiddel nie. Sosiale media is uit. So ook afstandsonderrig ... dis onmoontlik. Dis ’n luukse om ’n rekenaar in die huis te hê as daar ’n geveg om oorlewing is.”

Waarmee is weggedoen in hierdie tyd – akademies, buitemuurs, ens – en wat is behou of het bygekom?

“As gevolg van die lockdown van 2020 was alle aktiwiteite gestaak. Verlede jaar het dit so stadigaan opgetel, maar weens onsekerheid het dit nie tot sy reg gekom nie.

“Ons het ’n poging aangewend om dit weer in te bring, maar die kokurrikulêre program het doodgeloop.

“Die hoofbron van inkomste is die staat en donateurs. Maar die geld is te min. Die onderwysers probeer fondse genereer. Maar as gevolg van faktore soos dat ouers nie bemagtig genoeg is nie, is dit moeilik. Vir dié skool om R20 000 te genereer … dit is groot geld, en ons kry dit nie bymekaar nie. Die fondsinsamelingspogings het tot stilstand gekom.”

Hoe is die impak op die skool se kosvoorsieningsprogram?

“Ons is deel van die National School Nutrition Programme. Die kinders kry broodjies met grondboontjiebotter in die oggende, en in die middae groente of pasta. ’The doors of learning are open’ is ons sê-ding. Ons het besluit: Indien Ma en Pa werkloos is, dan kom eet die ouers ook saam. Ons kon dit regkry: As daar 350 hier is … ons kan hulle voed. Maar wat van die 350 by die huis? Toe is ons proaktief, omdat ons ’n gemeenskaps- en gemeenskaplike gewete het. Mense het kos geskenk. Daardie kind wat vandag by die skool is, hy kan vandag kom eet, en die ouers kan ook kom eet. En die volgende dag … hulle wat nié by die skool is nie, kan ook kom eet.

“Ons het donasies gekry vanaf restaurante in die Waterfront, voordat hulle self begin swaarkry het. Plaaslike kerke het donasies gebring. Dit het ons in staat gestel om ’n outjie wat Maandag hier was, ook Dinsdag te kon laat kom eet.

........

"Die hele gemeenskap was welkom – hulle het kos kom kry, vanaf 4 tot 6. Die barmhartigheid van die meer bevoorregte Suid-Afrikaanse gemeenskap het ons gehelp. Ons stel dit in die vooruitsig om dit weer te doen."

.........

“Die hele gemeenskap was welkom – hulle het kos kom kry, vanaf 4 tot 6.

“Die barmhartigheid van die meer bevoorregte Suid-Afrikaanse gemeenskap het ons gehelp.

“Ons stel dit in die vooruitsig om dit weer te doen. Ek sê: Prys die Here, halleluja.”

Dis wonderlik, oor die kos en die skenkings!

“Dit ís wonderlik, ek is dankbaar. Maar ek wil van die rekord af sê … as my kinders klaar studeer het … mens wil hulle waarsku. Jy wil sê kom weg hierso … dit is so donker …”

Wat is die sielkundige impak op die kinders en die mense van die skool?

“Dis nie empiries bewys nie, maar dit wys tog: Ons het apaties geraak. Oor die akademie. Oor die lewe.”

Hy bly ’n oomblik stil.

“’n Donker wolk van depressie – ek kan dit nie anders beskryf nie. Jy adem dit in as jy die woonbuurt binnery.”

Lees ook:

Suid-Afrikaanse skole so onveilig soos Suid-Afrikaanse strate

COVID-19 en verlore skooltyd: Faeed Amardien se wenke aan ouers en onderwysers

COVID-19 en verlore skooltyd: Earl Basson se wenke aan ouers en onderwysers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top