Persverklaring: StudentePlein oorweeg appèlopsies ná hofuitspraak in US-taalsaak

  • 0

StudentePlein oorweeg verdere regstappe, insluitend appèl, na ’n uitspraak vandag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof waarin die hof bevind het dat die Universiteit Stellenbosch (US) nie onregmatig opgetree het toe daar in 2020 en 2021 met Afrikaanse leermateriaal weggedoen is nie. 
 
StudentePlein hou vol dat die US nie hul taalbeleid gevolg het toe daar op universiteitswyebasis in 2020 en 2021 met Afrikaanse leermateriaal weggedoen is nie. Die US het ook tydens die hofverrigtinge erken dat hul nie hul beleid gevolg het nie. 

Die hof se bevinding in die US se guns berus hoofsaaklik op wat “redelikerwys prakties” sou wees in die konteks van die US se verpligtinge as dit by fakulteite se taalimplementeringsplanne kom — ’n punt wat deur nie een van die partye in die saak geopper is nie. Die bevinding rondom wat rederlikerwys prakties sou wees, maak die hof op sterkte van ’n klousule in die taalbeleid wat nie ’n onderwerp van die geskil was nie. Dit wil dus voorkom of die hof se uitspraak nie berus op die geskil wat werklik voor die hof was nie. Vir hierdie redes oorweeg StudentePlein nou verdere appèlopsies. 

Die hofuitspraak vandag lê ook klem op die gedagte dat Afrikaanse studente wel Engels verstaan. Uit ervaring weet StudentePlein dat hoewel dit waar mag wees dat die meeste Afrikaanse studente Engels kan verstaan, dit hoegenaamd nie waar is in die konteks van akademiese Engels op tersiêre vlak nie. ’n Groot gros StudentePlein-lede klop by ons aan vir akademiese hulp, juis omdat hulle nie akademiese Engels kan baasraak nie. Vandaar ook StudentePlein se belang in hierdie hofsaak.  

Vandag se uitspraak neem nie weg van die onverskilligheid jeens Afrikaans wat die US voor die hof geopenbaar het nie. Trouens skets die US in hul hofstukke ’n prentjie dat Afrikaans ’n onbelangrike sy-kwessie is. Die Afrikaanse gemeenskap se geduld met die US se hantering van Afrikaans is uitgeput, en dit noop die omliggende Afrikaanse gemeenskap, insluitend StudentePlein, om alternatiewe Afrikaanse akademiese instellings op die been te bring.   

Alhoewel die US duidelik ontevrede is met die kritiek teen hulle oor die afskaffing van Afrikaans, behoort die US eerder werklik bekommerd te wees die dag wat daar nie meer sodanige druk op die US uitgeoefen word nie. Dit sou daarop dui dat die Afrikaanse gemeenskap finaal by die US onttrek het, en inderdaad aanbeweeg het om hul kinders se toekoms in nuwe instellings te plaas.   

Studenteplein loods verantwoordbaarheidstrategie ná Kaapse hofuitspraak

StudentePlein is bewus van die risiko dat die Universiteit Stellenbosch (US) die hofuitspraak in die Wes-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof mag beroep as regverdiging vir ad hoc afwykings van die taalbeleid vorentoe. Terwyl daar volgens StudentePlein gronde vir appèl is en dit oorweeg word, sal slegs hofprosesse nie die kort- en mediumtermyn taalwelstand van ons lede genoegsaam aanspreek nie.

Daarom stel StudentePlein vandag ’n proaktiewe Taalverantwoordbaarheidstrategie bekend, waarvolgens StudentePlein se aktiewe voetpersoneel en verteenwoordigers op kampus deurlopend inligting sal versamel van hoe en waar die US se voorgenome meertalige bestel asook hul breër verpligtinge teenoor naasliggende gemeenskappe misken word. Waar Afrikaans as institusionele taal nie opgebou en aangeprys word nie, maar verdaggemaak en verdring word deur die optrede van gewone amptenare en studenteleiers, sal StudentePlein telkens ferm optree.

StudentePlein sal die US oor elke voorval en selfs die geringste voorval van taaloorheersing deur Engelstaligheid ten koste van lewenskragtige Afrikaans op kampus en meertaligheid, tot verantwoording roep. Dit geld vir elke bestuursvlak van die US as instelling, van die Raad en die Rektoraat tot die eenvoudigste koshuisamptenaar.

Wanneer ons nie betekenisvolle reaksie kry nie en daar gronde daarvoor bestaan, sal StudentePlein nie skroom om ons op die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting te beroep om inligting oor gestaafde beweringe van voorvalle te verkry nie. Verder sal ons voor elke moontlike en korrekte geregsforum ter wille van ons lede optree wanneer daar selfs individuele voorvalle van taalmiskennings voorkom.

Volgehoue druk op die US bly belangrik vir so lank dit nodig is terwyl alternatiewe instellings deur StudentePlein en ander opgerig word. Ons bou deurlopend kapasiteit om ’n florerende Afrikaanse metakampus ter wille van ons lede uit te bou. Dit word met alle ywer gedryf, sodat ons op ons eie benadering vir ons lede en alle Afrikaanse studente groeiende toegang tot gehalte Afrikaanse leermateriaal, kultuurgeleenthede en netwerkgeleenthede kan bied.

Lees ook:

Persverklaring: Universiteit Stellenbosch is verbind tot meertaligheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top