
https://pixabay.com/photos/spring-school-study-line-paper-1611531/
Kan die akademie uitnemendheid oorleef? Voordrag aan die Toyota US Woordfees, 13 Oktober 2022
..............
Gedurende die laaste twee dekades of meer het die strewe na uitnemendheid al hoe meer die idee en praktyk van die universiteitswese wêreldwyd oorheers en feitlik die hele doel, werkswyse en kultuur van hoër onderwys verander. In die konteks van die lang geskiedenis van die universiteitswese is dit moeilik om aan ’n omwenteling te dink wat net so skielik plaasgevind het en ewe vérreikend was.
................
Gedurende die laaste twee dekades of meer het die strewe na uitnemendheid al hoe meer die idee en praktyk van die universiteitswese wêreldwyd oorheers en feitlik die hele doel, werkswyse en kultuur van hoër onderwys verander. In die konteks van die lang geskiedenis van die universiteitswese is dit moeilik om aan ’n omwenteling te dink wat net so skielik plaasgevind het en ewe vérreikend was.
Die idee en praktyk van uitnemendheid – en veral die gebruik van ranglyste waarteen die prestasie van instellings, departemente en individuele akademici gemeet word – word nou gesien as ’n oplossing vir al die probleme van hoër onderwys. Die skade wat daardeur aangerig word, word selde ernstig opgeneem. Ek wil hier argumenteer dat daardie skade aansienlik is, en dat dit die hele toekoms van die akademie – en van intellektuele ondersoek soos dit oor die eeue ontwikkel het – in gevaar stel.
Hierdie idee en praktyk van uitnemendheid het sy oorsprong in die Amerikaanse universiteitswese aan die einde van die 20ste eeu. Uitnemendheid het ’n dekade of twee daarna sy verskyning in Suid-Afrika gemaak. Vandag word dit dikwels as vanselfsprekende maatstaf beskou, asof middelmatigheid die enigste alternatief is.
Ek wil vandag kortliks oor drie kwessies praat: Waar kom die ranglyste vandaan, en hoe het hulle so ’n houvas op die universiteitswese gekry? Wat is die uitwerking van die stelsel van akademiese publikasie wat saam daarmee ontwikkel het? Wat is die rol van taal – en veral Engels – binne hierdie stelsel? Daar word baie oor die toekoms van Afrikaans gepraat, en dit is ’n belangrike vraag; maar ek (as Engelssprekende) wil ook Engels beskerm teen die verskuilde skade wat deur die begrip “uitnemendheid” aangerig word.
My eerste vraag is dan: Waar kom die ranglyste vandaan? Hoe het dit so ’n houvas op hoër onderwys gekry? Hier maak ek gebruik van ’n langer essay wat ek ’n jaar of twee gelede vir LitNet se webwerf geskryf het. Lees dit hier.
Die verhaal begin met die samesmelting van twee nuusblaaie in 1948 om die US News and World Report tot stand te bring. Hierdie tydskrif was in sommige opsigte soortgelyk aan die twee leidende weeklikse nuusblaaie in die VSA, Time en Newsweek. In ’n tyd – na die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog – waarin allerhande nuwe verbruikersprodukte in die VSA beskikbaar geword het, het hierdie blad bekend geword vir sy berigte oor huishoudelike produkte: yskaste, haardroërs, grassnyers en ander verbruikersitems. ’n Toeganklike manier om hierdie soort joernalistiek te bedryf was om die bekendste van hierdie items in ’n ranglys uiteen te sit. Hierdie ranglysformaat gee ook vir vervaardigers van hierdie produkte motivering om meer inligting vinniger aan joernaliste te verskaf, met die wete dat ’n goeie plek in die ranglyste hulle verkope sal verbeter.
In 1983 het die nuusblad ook begin met ranglyste vir Amerikaanse kolleges en universiteite, met rofweg dieselfde beginsel van waarde vir geld in gedagte. Hoër onderwys het destyds vinnig uitgebrei, en US News and World Report se jaarlikse ranglys van kolleges en universiteite was ’n groot kommersiële sukses. Die joernaliste wat voorheen fietse en visstokke beoordeel het, het begin om universiteite te evalueer en op ’n ranglys te plaas. Die bylaag wat jaarliks met hierdie ranglyste verskyn het, kort voor die tyd dat aansoeke ingelewer moes word vir die komende jaar se toelating, het geweldige verkope geniet. Waar universiteitsonderwys voorheen hoofsaaklik vir ’n klein elite toeganklik was, het dit in daardie dekades geweldig uitgebrei, en voornemende studente (en hulle ouers) wou weet waar en wat hulle kon studeer en wat vir hulle die beste opsie sou wees.
...........
’n Universiteit is egter meer kompleks as ’n fiets of ’n visstok, en moeiliker om te beoordeel. Maar as jy hoofsaaklik in die onmiddellike ervaring van die koper belangstel, kan jy ongeveer dieselfde tegniek by albei toepas.
..............
’n Universiteit is egter meer kompleks as ’n fiets of ’n visstok, en moeiliker om te beoordeel. Maar as jy hoofsaaklik in die onmiddellike ervaring van die koper belangstel, kan jy ongeveer dieselfde tegniek by albei toepas.
In 1990 het US News and World Report besluit om ranglyste vir nagraadse programme en beroepskole (regte, medies, argitektuur, ens) by te voeg. Dit was ’n voor die hand liggende manier om op hulle sukses voort te bou. Maar hulle sukses het hulle gou begin inhaal soos wat ander tot hierdie nuwe mark toegetree het: eers koerante en daarna nuwe agentskappe wat hulle ranglyste op die internet gepubliseer het.
Teen daardie tyd het sommige universiteite en kolleges reeds gekla oor US News and World Report se oppervlakkige en soms foutiewe indrukke, en van hierdie instellings het hulle samewerking onttrek. Die publikasie se reaksie hierop was om universiteite wat nie met hulle wou saamwerk nie, nog altyd by hul ranglyste in te sluit, maar laer op die ranglys as voorheen te plaas. Teen dié tyd het al hoe meer ranglyste tot hierdie nuwe mark toegetree, juis op ’n tyd toe mededinging en bemarking belangriker as ooit tevore geword het.
Vandag is daar meer as 20 agentskappe wat globale ranglyste aanbied, met QS (Quacquirelli Symonds), THE (Times Higher Education) en World Academic Rankings (oftewel Shanghai) in die voorste plekke. Daar is ook ranglyste vir bepaalde streke, byvoorbeeld Asië en Suid-Amerika.
Waar US News and World Report hierdie ontwikkeling begin het as ’n manier om hulle koerant te verkoop, het hierdie agentskappe winsgewend geword deur universiteite vir hulle oordeel te laat betaal. In ’n sin betaal die universiteite twee of selfs drie keer vir hierdie diens: vir die agentskappe se beoordeling; vir hulle eie samestelling van die data wat die agentskap gebruik om die universiteit te beoordeel; en dan vir sogenaamde konsultante, wat raad kan gee oor hoe om jou plek op die ranglyste op te stoot.
Soos wat universiteite met mekaar vergelyk is, het die ranglyste ook uitgebrei na departemente, vaktydskrifte en individuele akademici. Kort daarna het kursusse by universiteite ontwikkel om vir akademici te leer hoe om hulle prestasies te laat uitblink, dit wil sê, om die skyn van geleerdheid te kweek, eerder as geleerdheid self.
...............
Soos wat universiteite met mekaar vergelyk is, het die ranglyste ook uitgebrei na departemente, vaktydskrifte en individuele akademici. Kort daarna het kursusse by universiteite ontwikkel om vir akademici te leer hoe om hulle prestasies te laat uitblink, dit wil sê, om die skyn van geleerdheid te kweek, eerder as geleerdheid self.
.................
Hierdie proses lei dikwels – onvermydelik – tot meer gevorderde verneukery. Omdat universiteite met mekaar meeding, moet hulle oa met mekaar meeding om te sien wie op die mees oorspronklike manier hulle data en praktyke kan manipuleer en selfs kan verdraai om ’n hoër plek op die ranglyste te verseker. Hierdie manipulasie word deel van ’n groter akademiese kultuur wat alles deursyfer, vanaf die kanselier tot die jongste eerstejaar.
Mark Edmundsen se Why teach? In defense of a real education (2013) beskryf die subtiele maniere waarop hierdie kultuur ’n effek het op die leerproses, waar studente elke insig as ’n klein transaksie beskou en eers die waarde van die insig moet bereken sodat hulle kan besluit hoeveel aandag dit werd is. Hy beskryf ook krasse tegnieke, soos om die verhouding tussen die getal permanent aangestelde akademiese personeel en die getal wat korttermynkontrakte het te vervals deur tydelike personeel aan te stel vanaf die dag nadat die verslag aan die ranglysagentskappe ingedien is. Die ware verhouding tussen vaste en tydelike personeel word dus wel gegee, hoewel dit moontlik net op daardie een enkele dag waar is. Die jongste en kwesbaarste personeel moet dan maar vir hulle salarisse wag.
II
Binne hierdie kultuur van “uitnemendheid” word akademici aangemoedig om soveel moontlik in geakkrediteerde vaktydskrifte te publiseer. Die kriteria vir bevestiging van nuut aangestelde dosente stel dit voorop. Dit beteken nie dat hulle eksplisiet afgeraai word om nuwe kursusse te ontwerp en nuwe studiemateriaal te ontwikkel nie, maar die aard van hierdie aktiwiteite is sodanig dat publikasies maklik getel kan word, asook die bydrae wat dit tot die universiteit se plek op die ranglyste lewer. Dit beïnvloed byvoorbeeld die nuut aangestelde dosent se keuse tussen die opstel van nuwe kursusse en die skryf van ’n artikel, asook die onderwerp van die artikel, en ook die maatstawe vir bevestiging van hulle aanstelling ná die proeftydperk.
Die lei ook tot die ontstaan van fopvaktydskrifte wat elke e-pos-adres toegooi onder uitnodigings om by hulle te publiseer (soms daarby sommer ’n uitnodiging om hoofredakteur te word), wat elke voorlegging onmiddellik aanvaar – en dan eers daarna heftige fooie vra. Daar is universiteite wat tevrede is met die hoogklinkende titels van sulke tydskrifte en met akademici wat bevorder word op grond van hierdie bedrogspul. ’n Bekende geval het in 2016 voorgekom toe die DA-parlementslid en afgetrede professor, Belinda Bozzoli, uitgevind het dat die publikasies van die SAUK-voorsitter, ’n professor by Unisa, meestal in hierdie fopkategorie geval het. (Vgl en lees hierdie artikel.)
In ’n konteks waar die aantal sitasies van ’n akademiese artikel getel word om die skrywer se “impakfaktor” te bereken, is daar nou ’n gebruik waarvolgens akademici in dieselfde studieveld ooreenkom om mekaar se werk aan te haal in hul eie werk, in ruil vir aanhaling of sitasie deur ander lede van die betrokke sitasiesindikaat. (Die Engelse term is citation circle.) Die verband van die sitasie met die artikel waarin dit gemaak word, hoef nie duidelik te wees nie, of selfs werklik nie. Op hierdie manier word elkeen se erkenning binne die bepaalde veld opgestoot. Diegene wat nie by so ’n sindikaat aansluit nie, sal gou agter raak op die skaal van uitnemendheid.
Sommige erkende vaktydskrifte het ook die praktyk begin om sitasies van ’n sekere aantal artikels uit daardie spesifieke tydskrif te vereis as voorwaarde vir publikasie. Weer eens is die gedagte dat almal daarby baat deur die aansien van die tydskrif op te stoot waarin hulle eie artikel gepubliseer word. Die vereiste van die getal sitasies word eers na aanvaarding oorgedra. As die gevestigde tydskrifte hierdie praktyk moet volg, is dit ’n aanduiding van hoe diep dié soort verneukery loop.
Miskien erger as verneukery is dit ’n misverstand van die aard van akademiese werk, wat stadige ritmes het sowel as vinniges. Sowel vinnige reaksie op argumente en gebeure wat nog ontwikkel, as langdurige oorweging oor idees en probleme wat nog nie heeltemal vorm aangeneem het, is nodig. Dit is miskien alleen in die konteks van ’n fabriek waar almal aan dieselfde ritme van produksie onderwerp kan word. ’n Universiteit is nie ’n fabriek nie, en ons sal almal armer wees as ons probeer om dit ’n soort fabriek te maak.
’n Laaste verneukery moet genoem word, waarmee die universiteite hoofsaaklik hulself verneuk: die reusewinste wat akademiese uitgewers maak deur die werk van akademici te publiseer. Akademici skryf die artikels, redigeer die tydskrifte, en universiteite betaal groot bedrae om toegang tot hul werk in dieselfde tydskrifte te kry. Die voorste uitgewers, veral Elsevier en Taylor & Francis, maak ongekende winste daaruit. Is dit ’n geval van akademiese neoliberalisme wat net gewoonte geword het?
Die indruk wat ek het, is dat selfs die redakteurs van hierdie vaktydskrifte nie altyd meer die bydraes lees wat aan hulle voorgelê word nie. Hulle stuur dit aan beoordelaars wat hulle dikwels vind deur woorde in die titel van die voorlegging te google, te kyk watter akademici reeds daaroor geskryf het, en dan staat te maak daarop dat hierdie akademici sal wil sien wat ander in hul vakgebied daaroor te sê het. Saam met die voorgelegde artikel stuur hulle ’n telkaart wat ’n punt uit tien vra vir ’n verskeidenheid kategorieë, byvoorbeeld oorspronklikheid, kennis van die studieveld, skryfstyl, edm. Ek het al gewonder of die redakteurs wat die puntelys wil sien, maar nie die verslag wil lees nie, die pos van redakteur aanvaar het net ter wille van die moontlikheid van bevordering wat dit bring.
Die Amerikaanse filosoof Harry Frankfurt het in 1986 ’n kort artikel gepubliseer met die titel “On bullshit”, wat die argument ontwikkel het dat onverskilligheid teenoor die waarheid ’n groter gevaar is as opsetlike leuens. Sy gevoel dat al hoe meer van wat ons sê, bedoel is om te ander te beïndruk eerder as om ’n oortuiging oor te dra, is op ’n manier bevestig deur die geweldige ontvangs van hierdie kort stuk, wat later in ’n boek omskep is. ’n Mens wonder of die universiteit nie dieselfde pad volg nie.
III
Omdat die stelsel van uitnemendheidbeoordeling noodwendig globaal is, werk dit gewoonlik in die guns van groter en ryker lande met meer gevestigde universiteite, en teen kleiner lande en armer wêrelddele. Dit het dan ook ’n groot invloed op die ontwikkeling van tale, hulle vooruitsigte en selfs hulle voortbestaan. Die kwessie van die ontwikkeling en voortbestaan van Afrikaans is verbind met die kwessie van globalisering en in die besonder die strewe na sogenaamde uitnemendheid. Engelstaligheid word juis gevier as dit wat globale deure oopmaak, en natuurlik ook toegang tot hoër plekke op die globale ranglyste.
.............
Die kwessie van die ontwikkeling en voortbestaan van Afrikaans is verbind met die kwessie van globalisering en in die besonder die strewe na sogenaamde uitnemendheid. Engelstaligheid word juis gevier as dit wat globale deure oopmaak, en natuurlik ook toegang tot hoër plekke op die globale ranglyste.
...............
Op kort termyn kry Engelssprekendes ’n sekere voordeel hieruit, en dit lyk miskien asof die Engelse taal ook daardeur bevoordeel word. Maar hierdie is ’n misleidende en oppervlakkige indruk, en ’n misverstand oor die bron van die omvang en rykdom van die Engelse taal.
Die rede waarom Engels ’n soveel groter woordeskat het as enige ander taal waarvan die woordeskat opgeteken is, is dat Engels (of wat uiteindelik die Engelse taal geword het) oor baie eeue die woorde en gebruike van al sy voorgangers geabsorbeer het, eerder as om die ou woordeskat met die nuwe te vervang. Dit het te doen met die lang geskiedenis van verowering van verskillende streke van hierdie koue eiland, en soms van die eiland in sy geheel, deur sprekers van soveel ander Europese tale, soms ook met taalwortels buite Europa.
Vir meer as enige vir ander taal het hierdie geskiedenis dit moontlik gemaak om die verowerde woordeskat langs die woordeskat van die veroweraar te behou, eerder as om die ou woordeskat met die nuwe te vervang. Die Engelse taal wat in die tyd van Shakespeare sy opbloei beleef het, was ’n produk van hierdie eiesoortige taalontwikkeling. Dit het ook daarvoor gesorg dat die Engelse taal die vermoë kon ontwikkel om groot gedeeltes van die woordeskat oor te neem van ander tale en volkere wat hulle teëgekom het in die eeue waarin Engeland self ’n koloniale veroweraar was, ook in Suid-Afrika.
Maar die woordeskat en seggingskrag van Engels is oor die eeue verryk deur die magdom kontekste waarin dit gebruik moes word en wat langs mekaar binne hierdie betreklik klein eiland bestaan het. Wat vandag met Engels gebeur, is in baie opsigte die teenoorgestelde: Engels word die heersende wêreldtaal, veral as die taal van handel. Engelssprekendes kry die ongewone (twyfelagtige) voorreg om sprekers van een enkele taal te wees, om linguistiese konteks as’t ware te kan uitwis of te kan afskaal tot ’n verkooptegniek.
IV
Uitnemendheid is ’n leë kategorie; dit word bepaal deur waarmee jy kan wegkom. Dit verander heeltyd om aan te pas by dit wat vir selfbevordering nodig is, en bou daarmee ’n etos wat nie verder as selfbevordering kan sien nie. In die algemeen versterk dit die idee dat akademiese prestasie hoofsaaklik in kwantitatiewe terme beskou moet word, en deur burokratiese prosedures gemeet word. Dit vereis nie dat kollegas mekaar se werk lees en debatteer, of self daarvan weet nie, of dat hulle hulself as deel van ’n gesamentlike strewe sien nie. Dit vereis net dat hulle almal elke jaar dieselfde vorm moet invul en daarvolgens evalueer moet word.
Dit versterk ook ’n eties neutrale beskouing van die akademiese lewe. Het ’n deurbraak in die behandeling van longkanker groter waarde as ’n tegniek om sigarette te verkoop? Jy kan die vraag beantwoord deur publikasies en sitasies te tel. Die kriteria vir uitnemendheid moet op burokratiese wyse kontroleer kan word sonder dat die burokraat self enige kennis van die studieveld het. Dit is ’n mededingende stelsel van individuele prestasie en beloning wat die akademiese gemeenskap ignoreer of selfs ontmoedig.
In die Suid-Afrikaanse konteks verskaf uitnemendheid ook ’n meganisme vir ’n tipe kolonisering van die intellektuele lewe. Dit vereis dat Suid-Afrikaanse akademici moet meeding vir aansien, of die skyn daarvan, in die lande met die grootste en rykste akademiese stelsels, byvoorbeeld deur publikasie in Amerikaanse en Britse vaktydskrifte, of bywoning van oorsese konferensies. Globale perspektiewe is belangrik, maar wat hierdeur aangemoedig word, is gewoonlik blote navolging van globale mag en rykdom.
............
In die Suid-Afrikaanse konteks verskaf uitnemendheid ook ’n meganisme vir ’n tipe kolonisering van die intellektuele lewe. Dit vereis dat Suid-Afrikaanse akademici moet meeding vir aansien, of die skyn daarvan, in die lande met die grootste en rykste akademiese stelsels, byvoorbeeld deur publikasie in Amerikaanse en Britse vaktydskrifte, of bywoning van oorsese konferensies. Globale perspektiewe is belangrik, maar wat hierdeur aangemoedig word, is gewoonlik blote navolging van globale mag en rykdom.
..............
Die onderliggende visie van die voorstanders van uitnemendheid is ’n visie van ’n wêreld waar alles beplan kan word, ook insig en inspirasie. Dit is ook uiteindelik ’n visie waar daar ook uit alles ’n wins gemaak kan word, alhoewel die akademie nog iets van ’n langtermynbelegging is.
Maar dit is nie hoe opvoeding werk nie, en ook nie die intellektuele lewe nie, hetsy binne die akademie of daarbuite. ’n Fabriek kan so werk, as al die masjinerie reg werk en die werkers almal op hulle poste is. Maar die menslike verstand is nie soos ’n masjien nie; mense ontdek hulle eie belangstellings en insigte, eerder as om net bevele te volg. Dikwels is dit nie gesag of uitnemendheid wat mense erken en volg nie, maar iets soos die egtheid waarmee iets geglo of gesê word, of die integriteit waarmee die betrokke persoon leef. Jy leer by mense wat self glo wat hulle sê, eerder as by dié wat ’n indruk wil maak.
Integriteit kan nie gemeet word of op ’n ranglys geplaas word nie. ’n Mens moet leer om integriteit te erken, terwyl uitnemendheid bloot van ’n ranglys afgelees kan word en vasgestel kan word deur publikasies te tel en die rangorde van die tydskrifte waarin dit verskyn, vas te stel.
Integriteit wat deel van ’n advertensieveldtog is, is nie meer integriteit nie. ’n Universiteit wat integriteit geringskat of afskryf, wat dit as hindernis beskou of bloot individuele voorkeur, is maar net ’n slegte nabootsing van ’n universiteit. Integriteit kan nie gemeet word nie, maar daarsonder is die akademiese lewe ’n bedrogspul en ’n klug.
Voorstanders van uitnemendheid is dikwels trots op hoe byderwets hulle akademiese praktyke is. Maar die wortels daarvan is baie ouer as wat hulle dink. Die stryd tussen uitnemendheid en sy teenstanders is in baie opsigte ’n herhaling en voortsetting van ’n debat wat begin het in die tyd van Sokrates en die sofiste, in die vierde eeu voor Christus.
.............
Die leerstelling van die sofiste was dat die mens die maatstaf van alle dinge is. Dit is ’n maatstaf wat die maghebbers in enige samelewing pas, en dit moet daarom teengestaan word om plek vir kritiese denke te behou. Só het ek vyftig jaar gelede op Stellenbosch geleer, in die klas van Johan Degenaar, en ek glo dit nog steeds.
..............
Die leerstelling van die sofiste was dat die mens die maatstaf van alle dinge is. Dit is ’n maatstaf wat die maghebbers in enige samelewing pas, en dit moet daarom teengestaan word om plek vir kritiese denke te behou. Só het ek vyftig jaar gelede op Stellenbosch geleer, in die klas van Johan Degenaar, en ek glo dit nog steeds.
Lees ook:
Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC
A comment on Peter Kallaway’s book titled The changing face of colonial education in Africa
Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is
University seminar: Language of instruction – how do we respond responsibly?
BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson
Reguit met Robinson: Is transformasie bloot ’n mooi woord vir die US?
Theuns Eloff: Aftakeling van Afrikaans as akademiese taal universiteite se eie skuld
Kommentaar
Baie dankie, dr. Nash. U herinner my aan die bekende voorbeeld van juis wat ware integriteit behels, nl. dié van Sokrates. Hy het op die fluit aan 'n nuwe melodie geoefen terwyl die laksman al die gifbeker begin voorberei het, omdat Sokrates mos ter dood veroordeel is weens sy soeke na wat waarheid is. Watter hedendaagse propagandis van sg. uitnemendheid sou hom dit kon nadoen? Die lot dink net aan pitte in die bank, lyk dit vir my. U slaan die spyker so goed op die kop.
'n Baie interessaante artikel. Ek gaan dit aanstuur vir my dogter, Carina Fourie, medeprofessor in filosofie aan die Universiteit van Washington in Seattle, VSA. Sy was onlangs trots daarop dat hul universiteit deur 'n ranglys (waarskynlik Amerikaans) as die 17de (of 27ste), ek is nie heeltemal seker nie, beste universiteit ter wêreld aangewys is, bo die universiteit, University College of London, waar sy haar PhD verwerf het.
Interessant en 'n paar geldige punte. Ongelukkig heelwat onbewese stellings en bewerings, wat dit niks meer as 'n persoonlike mening maak nie. En om te sê globale perspektiewe in die plaaslike akademie moedig gewoonlik blote 'navolging van globale mag en rykdom' aan, is myns insiens bietjie te wyd en wollerig gestel om dit rerig ter harte te neem.
As mens met omtrent 3000 woorde 'n oorsig wil gee van die sentrale ontwikkelinge binne die akademie oor die laaste vyftig jaar of wat, en wil probeer bepaal wat die resultaat daarvan sal wees, dan sal jy sekerlik moet veralgemeen! Die vraag is of die veralgemening die werklike rigting van sake aandui of nie. Elkeen kan self besluit wat hulle ter harte wil neem. Maar so 'n besluit is nie 'n argument nie!
Max Weber het hierdie tendens reeds 100 jaar gelede raakgesien. 'n Ander waardesisteem word die stukrag van universiteite.
“Now we can see very clearly that the latest developments across broad sectors of the German university system are moving in the same direction as in America. The major institutes of science and medicine are “state-capitalist” enterprises. They cannot be administered without funding on a huge scale. So we see the situation that exists wherever capitalist operations are to be found, namely, the “separation of the worker from the means of production.” The worker, in this instance the assistant, is dependent on the resources that are provided by the state. He is as dependent on the institute director, therefore, as an employee in a factory is dependent on his boss—for the institute director believes in good faith that this institute is his institute and that it is his to manage. The assistant’s situation, then, is as precarious as that of every “quasi-proletarian” existence and as that of an assistant in an American university. Our German university life is becoming Americanized in very important respects, as is German life in general. I am convinced that this development will continue to spread to disciplines like my own where the artisan is still the owner of his own resources (which amount essentially to the library), just as the old craftsman of the past owned the tools of his trade. This development is in full swing.”
— The Vocation Lectures: 'Science as a Vocation' (Hackett Classics) by Max Weber
https://a.co/aAhB2sy
Eintlik is u standpunt, mnr Nash, dat die persepsie van uitnemendheid die (werklike) akademie (gaan) verongeluk. Die titel van u stuk is dalk nie heeltemal so beskrywend van die inhoud nie. Uitnemendheid in die akademie kan tog nie sleg wees daarvoor nie ...?
Ja, miskien. Maar my standpunt is dat uitnemendheid aan die universiteit meer as net 'n persepsie is; dit is 'n stelsel wat sistematies afgedwing word, tot groot skade van akademiese integriteit. Miskien het die titel van my stuk die hele argument nie oorgedra nie!
Inderdaad 'n baie interessante stuk deur Andrew Nash. Groot waardering daarvoor.