..........
Vanjaar se Toyota US Woordfees was dalk effe stiller as gewoonlik. Maar dit het geen afbreuk gedoen aan die fees, wat soos ’n feniks uit die as verrys het nadat die inperkings in 2020 die hele land se uitvoerendekunstebedryf tot stilstand geruk het nie.
..............
Vanjaar se Toyota US Woordfees was dalk effe stiller as gewoonlik. Maar dit het geen afbreuk gedoen aan die fees, wat soos ’n feniks uit die as verrys het nadat die inperkings in 2020 die hele land se uitvoerendekunstebedryf tot stilstand geruk het nie.
Die tema van vanjaar se fees was “Wild”. Feesdirekteur Saartjie Botha se uitgesproke hoop dat die tema die lewensdrif wat dit omvou, sou weerspieël in die strate, teaters en buitelugkonserte waar die Woordfees borrel en bruis, het nie op dowe ore geval nie.
Gereelde feesgangers het mekaar op die eerste dag by die Plataankafee letterlik omhels na ’n woordfeesdroogte van meer as twee jaar, en daar is oral “wild” gekuier.
Min is daar in 2020 besef hoe die hele wêreld binne weke tot stilstand sou knars met groot werks- en ekonomiese verliese, siekte en dood wat snel aan die orde van die dag sou wees, skryf Botha voor in die feesprogram.
Vir die kunstenaarsgemeenskap het die grendeltyd nie net met ’n dramatiese verlies aan werksgeleenthede en inkomste gepaard gegaan nie. Dit het ook ’n noodgedwonge skeiding van die verhoogruimtes en gehore tot gevolg gehad. Daarom was dit ’n wonderlike vooruitsig om weer ou vriende en feesgenote in die vlees op Stellenbosch te ontmoet om die kunste in sy vele gedaantes te vier, skryf Botha tereg in haar feesboodskap.
..........
Die diversiteit van keuses en ervarings wat die fees bied, het weer eens nie teleurgestel nie. Dit strook met die diversiteit van mense en idees wat mens graag by so ’n fees wil sien.
.............
Die diversiteit van keuses en ervarings wat die fees bied, het weer eens nie teleurgestel nie. Dit strook met die diversiteit van mense en idees wat mens graag by so ’n fees wil sien.
Op dag een het die geskiedkundige, skrywer en navorser Dan Sleigh uitgewers wat hulle aan die verspreiding van pseudogeskiedenis skuldig maak, voor stok gekry tydens ’n bespreking in die Boektent. Sommige uitgewers het brom-brom daarop reageer oor ’n drankie langs die Boektent, maar niemand kon Sleigh se feite betwis nie. Meer oor die gesprek kan hier gelees word.
...........
Die wye diversiteit van Afrikaans het ook op dag een van die fees onder bespreking gekom in die gesprek oor die tale wat ons praat. Uiteenlopende tongvalle van Afrikaans uit die monde van mense soos die transgender skrywer Dianne Du Toit Albertze, die digter Grant Jefthas en mense soos Elias P Nel en Loit Sōls het opnuut gewys hoeveel verskillende variante van Afrikaans daar is.
.............
Die wye diversiteit van Afrikaans het ook op dag een van die fees onder bespreking gekom in die gesprek oor die tale wat ons praat. Uiteenlopende tongvalle van Afrikaans uit die monde van mense soos die transgender skrywer Dianne Du Toit Albertze, die digter Grant Jefthas en mense soos Elias P Nel en Loit Sōls het opnuut gewys hoeveel verskillende variante van Afrikaans daar is. Benewens al die streekvariante is daar ook nog Gayla of sogenaamde moffietaal, Sabela of tronktaal, Namakwalands, Skiem of HOP-huis-Afrikaans en Boesmanlands, om nie eers te praat van die inspirasie van Khoekhoegowab in Ghoema nie.
Afrikaans is lankal nie meer net die tradisionele Standaardafrikaans wat voorheen op skool as die enigste beskaafde vorm van Afrikaans voorgehou is nie. Vandag dans Afrikaans in vele tongvalle en al die sprekers daarvan eien Afrikaans vir hulself toe soos wat dit hoort.
In die woorde van Nel het dit tyd geword om Afrikaans in al sy vorme te omarm en te koester. Sodoende gee Afrikaans ook ’n stem aan die stemlose mense wat dit voorheen nie gehad het nie.
Vir die transgender Dianne het Gail weer die geleentheid gebied om haarself uit te druk in ’n alternatiewe Afrikaanse woordeskat wat ’n veilige ruimte bied vir mense soos sy wat dikwels deur die samelewing gemarginaliseer word.
Om in Skiemtaal of HOP-huis-Afrikaans te dig het vir Grant Jeftas die geleentheid gegee om naas die gewone Standaardafrikaans waarin hy ewe vlot is, as’t ware terug te keer na sy komvandaan en te dig in die Afrikaans waarmee hy tussen die HOP-huisies grootgeword het.
.............
Nog ’n tema wat die diversiteit van die Woordfees beklemtoon en wat vanjaar weer telkens opgeduik het, is die kwessie van genderidentiteit. In die gesprek met Gerrit Olivier se vertaling van Koos Prinsloo se bekende boek Slagplaas in Engels, het Charl-Johan Lingenvelder opnuut die impak van Prinsloo se werk beklemtoon 30 jaar nadat dit die eerste keer in Afrikaans verskyn het.
.............
Nog ’n tema wat die diversiteit van die Woordfees beklemtoon en wat vanjaar weer telkens opgeduik het, is die kwessie van genderidentiteit. In die gesprek met Gerrit Olivier se vertaling van Koos Prinsloo se bekende boek Slagplaas in Engels, het Charl-Johan Lingenvelder opnuut die impak van Prinsloo se werk beklemtoon 30 jaar nadat dit die eerste keer in Afrikaans verskyn het. Die politieke wreedheid en liefdeloosheid van menseverhoudings destyds is vandag nog net so aktueel, vars en rou soos 30 jaar gelede.
Omdat Olivier ’n persoonlike vriend van Prinsloo was, is daar niemand beter as hy om sy werk te vertaal nie. Hy kon aan die gehoor ’n persoonlike kyk gee in Prinsloo se komplekse lewe met sy woede maar ook sy vreesloosheid wat afgespeel het tydens die donker apartheidsjare, tot sy ontydige dood.
Die ingewikkelde en komplekse kwessie van transgender mense wat slegs húlle ten volle kan verstaan, is op ’n skitterende wyse belig tydens ’n gesprek waarin die oudpredikant en gay-aktivis Hanzline Davids die gehoor op ’n queer journey geneem het. Hy het reguit en openhartig gesels met twee transgender vroue, Dianne du Toit Albertze, skrywer van Bottelnek breeknek, en Elise Bishop, wie se outobiografie, Twee lewens, ook tydens die fees die verbeelding aangeryp het.
Bishop se verhaal kan, soos enige ander soortgelyke verhaal, nie anders as om mens aan die hart te gryp nie. Dit is die verhaal van 'n vrou wat gebore is in die liggaam van 'n man wat 'n lang en moeisame pad moes loop om te wees wie sy werklik is en van die begin veronderstel was om te wees.
As die verhaal van hierdie gesofistikeerde 70-jarige vrou wat op 23-jarige ouderdom een van die eerste Suid-Afrikaners was wat ’n geslagsveranderingsoperasie ondergaan het, mens nie diep raak en groter begrip gee vir mense soos sy nie, sal niks dit regkry nie.
Soos elke ander jaar het politieke diskoerse vanjaar ook weer by talle gesprekke die toon aangegee.
.............
Net wanneer mens in hierdie wye droewe land soms wil moed opgee oor al die korrupsie, duik daar soms onverwags darem ook hier en daar iets op wat mens laat glo dat daar tog ’n flikkering van hoop aan die einde van die donker politieke tonnel is waarin Suid-Afrika hom bevind.
..............
Net wanneer mens in hierdie wye droewe land soms wil moed opgee oor al die korrupsie, duik daar soms onverwags darem ook hier en daar iets op wat mens laat glo dat daar tog ’n flikkering van hoop aan die einde van die donker politieke tonnel is waarin Suid-Afrika hom bevind.
Ilse Salzwedel se gesprek met Bulelani Ngcuka, die oud-Skerpioenbaas, Themba Maseka, die voormalige regeringswoordvoerder en fluitjieblaser, en Rudie Heyneke, Outa se forensiese ondersoeker, was een van daardie gesprekke. Dit het mens behoorlik laat wipplank ry het tussen hoop en wanhoop. Die tema van die gesprek was diewe, spioene en fluitjieblasers.
Mens kon nie anders as om met skok en verbystering kennis te neem van die omvang waarmee die land geplunder is tydens staatskaping en die Gupta-broers se beweerde rol in die diefstal van miljarde rand uit die staatskas nie. Maar daar is ook die teenkant, naamlik die stories van hoop van fluitjieblasers soos Maseka en mense soos Ngcuka wat hulle nie wou laat omkoop nie. En natuurlik Heyneke en sy span wat dag na dag onvermoeid veg om korrupsie te probeer ontmasker en hok te slaan, hoe moeilik dit ook al is.
As mense egter steeds so naïef wil wees om te dink Cyril Ramaphosa is die ridder op die wit perd wat Suid-Afrika uit die moeras gaan help, dan het Jacques Pauw die laaste emmer koue water op die Ramaforie-vuur gegooi en dit behoorlik geblus.
In sy gesprek met Max du Preez oor sy jongste boek, Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers, het hy geen doekies omgedraai oor Ramaphosa se onvermoë om die regte ding te doen nie.
Die boek, wat eersdaags te koop sal wees, handel oor die tyd na Pauw se vorige blitsverkoperboek oor Zuma, The President's keepers. Te oordeel aan die gesprek beloof dit om nog ’n riller te wees. En ongelukkig geen gerusstelling dat Ramaphosa se nuwe daeraad vir Suid-Afrika enigsins op die horison is nie.
Beide Pauw en Du Preez het weinig goed te sê gehad oor Ramaphosa. Hulle beskuldig hom van ruggraatloosheid en bestempel hom as een van die grootste politieke teleurstellings wat daar in ’n lang tyd was. Pauw het feesgangers met die somber vooruitsig gelaat dat Suid-Afrika besig is om in ’n mafiastaat te verander wat moeilik gestuit sal kan word as Ramaphosa nie baie vinnig begin optree om dit te keer nie.
............
Na so ’n lekker fees moet mens dalk nie te negatief wees oor die politiek nie en liewer vashou aan Jan Smuts se woorde, naamlik dat hoewel die beste nooit in Suid-Afrika gebeur nie, ook nie die slegste ooit hier gebeur nie. Almal moet eerder daarna uitsien om mekaar volgende jaar weer onder die groen eikebome by die Plataankafee te sien.
.............
Na so ’n lekker fees moet mens dalk nie te negatief wees oor die politiek nie en liewer vashou aan Jan Smuts se woorde, naamlik dat hoewel die beste nooit in Suid-Afrika gebeur nie, ook nie die slegste ooit hier gebeur nie. Almal moet eerder daarna uitsien om mekaar volgende jaar weer onder die groen eikebome by die Plataankafee te sien.
Hier is ’n skakel na nog artikels wat oor die Toyota US Woordfees handel.
Lees ook:
Toyota US Woordfees 2022-diskoers: Konteksveranderinge in die Afrikaanse letterkunde
Toyota US Woordfees 2022 Instagram-opmerkings: Agter my glimlag
Toyota US Woordfees 2022: ’n Akkerboom plant die saadjie van suggestie
Kommentaar
Vir my beteken diversiteit 'n veelvoud van groepe. Groepe wat uiteraard verskillend lyk en dikwels praat. Dus, om diversiteit aan te moedig. moet daar gekyk word na 'n gemene deler.
En dit is beslis nie Afrikaans nie.
As jy op Akademia se kampus dieselfde vraag sou vra, is die die antwoord ongetwyfeld Afrikaans.
Maar Stellenbosch is nie 'n private instelling nie en is oop vir almal.
Maar is dit?
Die Khampepe-verslag het nou koue water gegooi oor die toeganklikheid vir almal tot die US.
Die Woordfees (selfs die naam) is per definisie uitsluitend en verteenwoordig as verlengstuk van die Universiteit, die kultuur wat grootliks nog op die kampus heers.
Alle studente op Stellenbosch het net een ding in gemeen: hulle kan Engels verstaan.