Toyota US Woordfees 2022-diskoers: Konteksveranderinge in die Afrikaanse letterkunde

  • 0

Bo: Bibi Burger, Courtney Ess, Lindie Koorts; onder: Amanda Marais, Hein Willemse en Azille Coetzee (foto: Menán van Heerden)

Woordfees-diskoerse, 2022: "Die letterkunde staan in ’n komplekse verhouding met die sosiale konteks waarin dit beslag kry. Hoe het ’n veranderde Suid-Afrikaanse konteks neerslag gevind in die Afrikaanse letterkunde en, sou ons kon vra, hoe behoort dit neerslag te vind?" Naomi Meyer het die gesprek bygewoon en lewer verslag.


Hoekom wil die stof rondom Trompie nie gaan lê en klaar nie?

Trompie en sy ingeduikte skoenpunt, die grassie tussen sy tande. Saartjie en haar weerbarstige krul – en Galpil, wat dit op ’n manier regkry om met sy ge-“pêrre” en al, iewers in die toekoms haar hart te wen.

Dis nie die gespreksonderwerp waarvoor hierdie paneel, saamgestel deur Anna-Marie Beukes van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, bymekaar is nie.

Hein Willemse, pas afgetrede akademikus, aktivis en skrywer, Lindie Koorts, historikus van die Universiteit van die Vrystaat, Azille Coetzee van Departement Filosofie, US, Bibi Burger van die Departement Afrikaans by die UK, Amanda Marais by die US se Departement Afrikaans en Nederlands en Courtney Ess van die UWK se Afrikaans-departement, is byeen om oor konteksveranderinge in die Afrikaanse letterkunde te praat.

Bederfwaarskuwing: Hein Willemse, gespreksleier, noem ’n baie belangrike komponent van die gesprek reg aan die begin.

Letterkunde verander as gevolg van sosiale omstandighede.

..........
Letterkunde verander as gevolg van sosiale omstandighede.
............

Dan vertel elk van die paneellede hul pad met die letterkunde.

Lindie Koorts

Lindie Koorts beskryf haarself as ’n “kind van die oorgang”. Sy was ’n kranige leser en vertel hoe sy die reeksboeke in die biblioteek verslind het. Op laerskool reeds oorgeskakel na Afrikaanse boeke vir volwassenes. Die reeksboeke bied nou vir haar ’n wegspringplek as sy die humor van ouer mense probeer verstaan. Die taal van die boeke van die verlede, anders as wat sy dit nou as volwassene onthou en moes gaan uithaal, bied vir haar ’n sleutel om die psige van die nasionalistiese Afrikaner te verstaan.

Azille Coetzee

Azille Coetzee beklemtoon haar “dubbelsinnige gevoel” ten opsigte van Afrikaans – en dis die kenmerk wat vir my die sterkte uitstaan in hierdie gesprek.

Wat vir my uitstaan, is almal op die paneel se ambivalensie met die Afrikaanse letterkunde.

Azille meen daar is ’n verantwoordelikheid vir haar om in Afrikaans te werk, ook al voel baie van haar tydgenote nie dat hulle met Afrikaans identifiseer nie.

Bibi Burger

Bibi Burger noem dat sy ook Afrikaans grootgeword het, in ’n meer diverse omgewing, maar as sy daarop terugkyk, was haar jeug en omgewing 100% Afrikaans.

As dosent kyk sy nihilisties na die verskil wat sy met die taal maak, maar voel sy het ’n plig om mense se Afrikaans te verruim. Dink ook daaraan terug dat ’n boek soos Toorberg in haar jeug haar Afrikaanse letterkunde laat ontdek het.

Amanda Marais

Amanda Marais vertel hoe haar ouers in letterkunde en musiek belanggestel het, en sy het die biblioteek van hoek tot kant deurgelees. Sy beskryf haar pad met Afrikaans: hoe vroue ondergeskik was aan mans, hoe hulle altyd met die breinsjirurg of loods mag trou, maar hulle self was lugwaardinne of kleuterskoolonderwyseresse.

Sy beskryf haar latere maatskaplike bewussyn, toe sy begin dink het oor die haves en die have nots.

“As sulke boeke moontlik is in Afrikaans, wil ek deel wees van die Afrikaanse letterkunde.”

Courtney Ess

Courtney Ess praat uit die staanspoor daaroor dat Afrikaanse letterkunde nog altyd vir haar ’n plek van vervreemding was. Sy was blootgestel aan die Afrikaanse taal wat haar uitgesluit laat voel het, deur wit Afrikaanssprekendes sowel as sommige bruin skrywers. Sy het samehorig gevoel met byvoorbeeld Adam Small se identiteit, maar sy taalgebruik het haar vervreem. Sy praat en vors na in Overbergse Afrikaans. Die taal bevat elemente van Kaaps, maar dis ook anders.

Haar keerpunt was Ronelda Kamfer se “vergewe my, maar ek is Afrikaans.”

Sy praat sielvol oor hoe Kamfer dikwels as in resensies oor haar woede geskryf word, tot ’n “angry black woman” gereduseer word.

Hein Willemse

Hein Willemse skryf dat sy ouers nie geleerd was nie. Sy ma was ’n sendeling, maar ’n lekeprediker. Daar was wel ’n stuk of 20 na 30 boeke in sy huis. En daaruit is breedvoerig aangehaal. Sy keerpunt was 1976, toe hy ’n student by die UWK was. Hy was verstom dat Afrikaans die taal van die onderdrukker was. Vir hom was dit nie die taal wat hy gepraat het nie. Hy het daar besef: Daar moet ook ’n alternatiewe Afrikaanse letterkunde wees, nie net die een wat beskou word as die norm nie.

Hy het besef, as gevolg van ’n uitnodiging van Jan Rabie: Ons moet hieroor praat. Ons moet iets anders doen met die Afrikaanse letterkunde.

Afrikaans het nie net een dimensie nie.

Hoe vervleg is taal en identiteit! Hy sê nie daar is net een manier om Afrikaans te praat nie.

Wat my opval: Daar is nie net een manier om Afrikaans te wees nie.

Willemse vra die paneel oor die veranderinge wat hulle sedert hulle jeug in die letterkunde sien.

Marais wys daarop: Sy het besluit om die inperkings wat geslag en ouderdom bring, te ondersoek. Letterkunde en haar navorsing in letterkunde stel haar in staat om dit te doen. Die Afrikaanse huis het baie wonings. Sy verwys na “white guilt” en Willemse vra vir Coetzee om die term soos sy dit verstaan, te verduidelik. Sy meen dis iets wat belangrik is, om skuld te erken, maar dit moenie net verlam nie. Dit moet energie kan gee om te verander, merk Ess op.

Plaas ook in ’n postkoloniale konteks: Vra jou af hoekom die hede lyk soos dit lyk.

In daardie opsig kan die sogenaamde wit skuld restourasie van die geskiedenis bewerkstellig.

Daar word gepraat oor hoe letterkunde beoordeel word. Wat is die norm? Hoekom so dikwels net wit mans op die lys van nominasies?

Die antwoord, glimlag Coetzee en Burger, as dit geopper word, is dan: “Maar die beste boek moet genomineer word.” Wat opnuut impliseer: Die norm, die wegspringpunt, is die wit en manlike skrywer.

Saam met al die vrae: die wete dat die letterkunde kan verwond en kan heel.

Dit is met die bril van die letterkunde dat die paneel op die verhoog na die lewe kyk.
En alles begin met ’n kleintydstorie.

Trompie het stof opgeskop. Vir baie wit, Afrikaanse kinders wat met sy stories grootgeword het.

Boeke soos die Trompie-reeks het sekere kinders aan die lees gekry, en later het daardie kinders nog wyer gelees en die Afrikaanse boekebedryf help voed.

Maar taal is soveel identiteit soos wat dit woorde is. Trompie is nie net storie nie; vir baie mense verpersoonlik die karakter nostalgie.

Dalk wil die stof nie gaan lê nie, want Trompie is aan die een kant nou ’n volwasse man, iemand wat terug hunker na ’n laaste bietjie Afrikaanse storietyd toe Afrikaans nog onaantasbaar was. Toe daardie grond wat opgeskop was, die Suid-Afrikaanse grond was wat net aan die sprekers wat nou omgekrap is, behoort het.

Lees ook:

Toyota US Woordfees 2022: Eerste foto's

Toyota US Woordfees 2022-passasiersitplekaantekeninge: Die tale wat ons praat, mAaNmAaTs en Tiek ons boksies in kinderboeke?

Toyota US Woordfees 2022 Instagram-resensie: Plunder

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top