As daar een ding is wat die pandemie my geleer het, is dit om versigtig te wees.
Oppas vir kieme, oppas vir risiko’s.
Ek dink gisteraand hieraan tydens die Woordfeesopvoering van die ATKV-Tienertoneel se wenproduksie. Jongmense op die verhoog. Besig om op te tree tydens die soveelste jaar wat die Tienertoneel-kompetisie aangebied word. Teater ten spyte van wat almal nou weet: Die kunste is ’n risiko. Daar is nie geld nie.
Vanjaar se Woordfees het my betrap soos moederskap my jare gelede betrap het – mens weet dis op pad, maar as die kind gebore word, is dit nog steeds oorweldigend.
Maar as mens dit nie opteken nie, hoe vervlietend ook al die aantekening, gaan dit net ongesiens verby.
Hier volg vlugtige aantekeninge.
Die tale wat ons praat
In Die tale wat ons praat is Donovan Lawrence van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland die gespreksleier. Hy praat met Dianne du Toit Albertze (Bottelnek breek bek), wat skryf in Gayle, Kaaps en Namakwalandse Afrikaans; Grant Jefthas (Afvlerkmens), wat skryf in skiem-Afrikaans, ’n term wat voortspruit uit laekostebehuisingskemas soos die omgewing waar die digter grootgeword het, Elias P Nel (sy jongste boek, Die Jirre is my wagter, is in Namakwaland-Afrikaans) en Loit Sōls (spreker van Goema-Afrikaans, met sy jongste bundel, Moerstaāl). Elkeen vertel iets van hulle uiteenlopende agtergrond. Elk lees voor uit haar of sy werk.
Vier skrywers op die verhoog. Vier verskillende maniere van Afrikaans praat. As “Afrikaans” die regte benaming is. Want wat is wérklik die norm? word gevra. Alles wat jy, spreker van Afrikaans, as die norm ag … waarom nie vanuit die gesigspunt van ’n kind op die Kaapse Vlakte (hipoteties) na die taal kyk nie? Dan is die taal in sy mond die norm, die standaard. En joune? ’n Ander variëteit.
Die skrywers se voorlesings is totaal verskillend. Elias Nel laat my nadink oor hoe ’n ouer generasie sprekers se taal saam met die sprekers uitsterf. Dianne du Toit Albertze praat oor hoe ’n woordelys agter in ’n boek dalk die onbekende woorde vir ’n leser kan ontsluit. Grant Jephtas deel hoe hy in ’n instansie soos een mens moet praat, maar by die huis soos ’n ander. Loit Sōls se woorde word sang en musiekklanke word gedig as hy lees en sing.
En dan is daar ’n vraag uit die gehoor: Hoe maak mens as onderwyser as daar so baie variëteite van Afrikaans in ’n klas geassesseer word?
Die vraag word nie bevredigend beantwoord nie, soos ook nie ’n vraag rondom hoe mens Afrikaans van sy politieke ideologie kan bevry nie. Dalk word dit nie bevredigend beantwoord nie want daar is nog nie antwoorde op hierdie vrae nie.
Uit die gesprek is dit duidelik: Skryf jou storie uit jou uit. In die taal wat jy praat. Taal en identiteit is vervleg.
My tyd loop uit. Ek sit in die motor en maak hierdie aantekeninge.
ATKV-Tienertoneel-wenner 2022: mAaNmAaTs
Oor die ATKV-Tienertoneel-wenproduksie.
Hoërskool Parel Vallei se mAaNmAaTs het my oorrompel. (Nie net vir my nie. Jan-Jan Joubert skryf dis een van die beste produksies op die fees. Hy skryf ook: “Vergeet dat dit ’n skoolproduksie is. Dis in elk geval puik. Eintlik behoort dit ’n langer speelvak te hê, en almal wat lief is vir verhoogwerk - ook professionele mense in die bedryf - sal daarby baat om dié produksie te beleef.”)
Algaande het die titel van die stuk vir my duideliker geword: Mens droom as kind van dinge so vergesog soos die man op die maan. Later, as jou kleintydvriendskap doodgeloop het omdat iemand soos ’n Adam en Eva in die paradys raakgesien het wie’s kaal of wie se vel watter kleur is, is daardie vriendskap sommer net maan toe. Vir my was die toneelstuk ’n hartverskeurende drama en ’n vraag oor die dood van ’n Reënboognasie – ten minste ’n ernstige ondersoek na sy polsslag. Vir die tienderjarige in my huis was dit doodgewoon ’n stuk oor die verlies van vriendskap. Agterna, op pad huis toe, praat ons oor die laaste toneel en ek besef ek en hy het dit heeltemal verskillend geïnterpreteer. Is dit nie die kenmerk van goeie kuns nie? Verskillende dinge vir verskillende mense. Aangrypend. Uitstekende toneelspel. En hoe wonderlik dat Tienertoneel voortgegaan het, ten spyte van alles wat die afgelope paar jaar gebeur het.
As dit die toekoms van Afrikaanse teater is, vertoon die toekoms in al die kleure van die reënboog.
Tiek ons boksies in kinderboeke?
Van die “Tiek ons boksies in kinderboeke”-gesprek is daar die afgelope paar maande veel op LitNet geskryf.
Ter agtergrond, lees hierdie artikel en hierdie een.
Het alles begin met die LitNet Akademies-artikel oor genderuitbeelding in die Trompie-boeke? En kort daarna volg ’n rubriek in ’n koerant waar vrae gevra word oor hoe sekere temas in jeugboeke uitgebeeld of betrek word.
Magdel Vorster is in gesprek met Joha van Dyk (Branderjaer en Vuurvreter), Zelda Bezuidenhout (oa Anderkant die blou, As mens geluk kon proe en Die 3 van ons), André Trantraal (Keegan en Samier-reeks) en Cliffordene Norton (oa Om jou te ken). Vir my staan dit uit in hierdie gesprek: Elkeen op hierdie verhoog is ’n storieverteller. En dis die belangrikste van alles. Soos Zelda Bezuidenhout sê: My belangrikste taak is om nie my leser te verveel nie.
Die skrywers skryf vanuit hul leefwêrelde, soos elk van die skrywers bevestig en deel. As hulle omgewings dan sekere boksies tiek, is dit toeval. Hulle het stories om te vertel, en hulle doen dit goed.
Nadine Petrick som die kern van die gesprek in hierdie artikel op.
Ek sit in die motor by my dogtertjie se hokkietoernooi en maak hierdie aantekeninge, want die oorblyfsels van Covid is orals sigbaar. Die kwartale en die sportseisoene is deurmekaar, en ek verheug my in die eienaardige alledaagse.
Soos in hierdie week se Woordfees.
Slotaantekening op dag 2 van Woordfees 2022: Moenie langer bang wees nie. Wees wild.