Miniseminaar: Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era

  • 0

Kinder- en jeugboeke is dikwels ’n bron van omstredenheid in die wêreldletterkunde. Onlangs het The Guardian berig dat 27 kinderboekillustreerders in China deur die owerhede gestraf is oor hulle “tragies lelike” werk wat nie “die sonnige aard van Chinese kinders weerspieël” nie. In Suid-Afrika sal 2022 onthou word as die jaar waarin die kollig skerp op Afrikaanse kinder- en jeugboeke geskyn het. Twee insidente het aanleiding gegee tot heftige polemieke oor die veranderende aard van dié genre in Afrikaans.

Op 7 Mei 2022 het ’n rubriek deur die literator Hennie van Coller op Netwerk24 verskyn, waarin die skrywer die verskynsel bekla dat karakters wat nie aan die norm van die meerderheid voldoen nie, al meer na die sentrum van Afrikaanse kinder- en jeugverhale skuif. Van Coller se opinie het ’n polemiek ontketen wat verreikende gevolge gehad het, en uiteindelik uitgeloop het op sy bedanking as voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekommissie.

In Julie 2022 het Corene de Wet se navorsingsartikel in LitNet Akademies oor die hantering van gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke ’n verdere opskudding veroorsaak. Dit het gelei tot vurige debatte oor karakters in Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur, en die fokus geplaas op die manier waarop dié genre ontwikkel het om by die behoeftes van hedendaagse lesers te pas.

Hierdie gebeure het gesprekke oor ’n veelheid onderwerpe in die Afrikaanse gemeenskap aan die gang gesit, en dikwels meer vrae as antwoorde opgelewer:

Waarom is kwessies oor kinder- en jeugboeke so omstrede?

Is omstredenheid belangrik vir vooruitgang in ’n kultuurgemeenskap en die letterkunde?

Hoekom is Afrikaanse lesers klaarblyklik so nostalgies oor kinderboeke uit jare her?

Is genderkwessies werklik ’n nuwigheid in Afrikaanse stories? Waar pas Antjie Somers byvoorbeeld in?

Hoe werk vervreemding tussen ’n verhaal en ’n jeugdige (of ouer) leser?

Hoe vergelyk die polemieke in Afrikaans met soortgelyke debatte in die wêreldletterkunde?

Kan en behoort jeugliteratuur by te dra daartoe dat ’n nuwe geslag lesers bevry word van ’n ouer geslag se vooroordele?

Is sekere ouer Afrikaanse kinderboeke uitgedien en moet dit “gekanselleer” word?

Hoe lyk die aanbod vir jong lesers in die mark vandag?

Om perspektief te gee aan die opskuddings van 2022 het LitNet kenners en akademici genooi om hul opinies oor onderwerpe soos dié met lesers te deel. Bydraes word oor die volgende paar maande weekliks in hierdie miniseminaar vrygestel.

 

Lees die bydraes hier:

Miniseminaar: Sterretjie gedenk aan my

Miniseminaar: Boeke vir alle kinders in Suid-Afrika

Miniseminaar: Hoe maak ons kinder- en jeuglesers van ouers en onderwysers se vooroordele vry?

Miniseminaar: Moenie kanselleer nie, publiseer net meer

Miniseminaar: Antjie Somers, ons oudste gender-bender

Miniseminaar: Oor jeugverhale, Van Coller, en ek en Barrie Hough

Omstredenheid en kleuter-, kinder- en jeugliteratuur

 

Lees ook:

Wydlopende kommentaar deur akademici op Van Coller-debat

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

Gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke

Trompie ’n chauvinis?

Jeugboeke se storm en drang: Onstuimige gesprekke en versugtings na tienerreekse wat die ouers onthou

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top