Vanaf die eerste tekens van die omstredenheid in die afgelope ongeveer drie maande het eggo’s opgeklink van soortgelyke gebeure in die geskiedenis van kleuter-, kinder- en jeugliteratuur. Omstredenheid in die literêre wêreld is nie iets nuut nie. Dit gaan wel telkens oor iets anders, maar heelwat van hierdie debatte het wesentlike ooreenkomste.
Soms word kleuter-, kinder- en jeugliteratuur skuinsweg geraak deur debatte wat eintlik oor iets totaal anders gaan. Daarom word nie oor daardie tekste en karakters in die enkele kinder- en jeugboeke wat moontlik in die hitte van die oomblik genoem is, hier gedebatteer nie, omdat daardie boeke, saam met soortgelyke ander kleuter-, kinder- en jeugboeke ’n meer intensiewe gesprek of skrywe verdien. Sommige debatte gaan wel oor intensiewe navorsing oor sekere kinder- en jeugboeke, maar vir die doel van hierdie betoog word (vir eers) by intensiewe teksbesprekings verby gestuur sodat gefokus kan word op moontlikhede waarop ’n tydelike chaos mens by sisteme, orde, verandering en moontlik vernuwing kan laat uitkom.

Betsie van der Westhuizen is ’n buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit.
Soms is daar ’n vonk, soms klein en subtiel, soms heeltemal onbedoeld riskant, maar tog vir sommige mense in die samelewing kwetsend. So ’n vonk kan kort voor lank ’n groot vuur laat ontstaan, die vuur kan heeltemal buite beheer raak en in talle verwagte en onverwagte rigtings versprei. Die verskeidenheid opmerkings uit ’n verskeidenheid oorde laat dit gou voel en lyk asof chaos oorgeneem het. Mens wonder waar en hoe die vuurstorm verder kan vererger en of die vuur gaan bedaar en sigself gaan uitwoed. Die vuur smeul, kort-kort vlam die kole weer op en die vonke en as waai al verder.
Alles hou met alles verband en alles maak altyd saak. Tydens die huidige omstredenheid wat in die literêre wêreld ontstaan het en na ander geledinge van die samelewing versprei het, gebeur dit ook maklik dat mense wat op ander reageer nie op die oorsprong van die chaos antwoord nie, maar wel ’n verbandhoudende kwessie opper. Van oral kom daar reaksies en teenreaksies en dit word moeilik om by te hou met die langer skrywes en die terloopse reaksies. Gou voel dit soos ’n warrelwind van vonke. Dan wonder mens oor moontlike wyses om die oorsprong van die storm te probeer verstaan, hoe omstredenheid in groter en al kleiner kontekste werk en hoe mens sin daarvan kan maak.
Soveel hoofde, soveel sinne. Om oor die chaos te wonder of na te dink sodat patrone van orde, samehang en sin gesien kan word in die veelheid van omstrede gebeure, berigte en kommentaar, is dit ook insigryk om die kommentaar wat in die sosiale media gelewer word, te lees en verwysings en verbande te oorweeg, selfs al lyk dit nie aanvanklik of sekere opmerkings met sekere gebeure verband hou nie. Dis insiggewend dat gesamentlike verwysings in die chaos nuwe patrone skep en geleidelik helderheid bring. Almal saam se idees, optredes en uitsprake maak geleidelik vernuwende patrone, verandering en sin moontlik.
Al sou sisteme onvoorspelbaar wees, kan mens jou tog wend na moontlikhede waarop verskillende soorte sisteemdenke en sisteme potensieel oplossings vir die omstredenheid bied en die krisis ontlont en die vure moontlik geblus kan word. In die soek na verbande tussen dinge mag daar juis moontlikhede wees wat die onvoorspelbaarheid van verbrokkelende sisteme kan herstel.
Dat mens steeds sisteemdenke kan oorweeg wanneer jy wil sin maak van die werking van probleme op enige terrein van die omringende werklikheid, word onder andere bevestig deur Roelien Goede, president van die International Society of Systems Sciences, se oortuiging dat elke mens se sienings vanuit ’n “subjective conditioned reality” ontstaan en dat mens ander wèrklik moet probeer verstaan. Op die wyse kan mens moontlik ’n verskeidenheid sienings van ander, elk in hulle eie ervaringswêreld, objektief en beter begryp en so poog om die verskeidenheid sienings te koördineer om sukses te bereik. Lees meer hier daaroor.
Wat Goede ’n “subjective conditioned reality” noem, is in die letterkunde onder andere bekend as ’n leser se verwagtingshorison (’n ouer term), ervaringshorison of verwysingswêreld.
Dit is dan wel waardevol om mense se ervaringswêrelde te probeer verstaan en op die wyse die moontlike werking van omstredenheid in groter literêre sisteme te oorweeg. Dit geld eweneens vir die wyses waarop omstredenheid in die literêre sisteme van kleuter-, kinder- en jeugliteratuur en films kan ontstaan.
Om net enkele aspekte van twee literêre sisteme wat kleuter-, kinder- en jeugliteratuur raak, te noem, kan eerstens vlugtig verwys word na ’n sisteem waarin na (1) die produksie, (2) die bemarking en verspreiding, (3) die bemiddeling/mediëring en (4) die resepsie in wisselwerking is. In die huidige omstredenheid is dit moontlik dat daar nie tydens die bemiddeling en resepsie, wat onder andere die toekenning van boekpryse en die bevordering van kleuter-, kinder- en jeugliteratuur insluit, eenstemmigheid was oor die wyses waarop die boeke wat voorgelê is vir pryse, beoordeel sou word nie. En dit sou absoluut normaal wees dat paneellede in ’n geringe of groot mate van mekaar sou kon verskil. Dit is menslik moontlik, eintlik heel waarskynlik gewoon dat die beoordelingspaneel tydens die beoordelingsprosesse verskille van mening sou hê in hulle wedersydse uitruil van kennis van huidige tendense in kleuter-, kinder- en jeugliteratuur. Dat hierdie verskillende menings moontlik tot spontane opmerkings in die openbare domein oorgedra is, was moontlik eerder ’n persoonlike versugting as kwade bedoelings teen ander. Dit is opmerklik dat die eerste en tweede aspekte van hierdie sisteem, naamlik (1) produksie en (2) bemarking en verspreiding, juis in die daaropvolgende weke besonder aktief was en steeds is met die blootstelling van hulle boeke vir alle ouderdomme. Dit kom voor asof die omstredenheid juis ’n positiewe uitwerking op uitgewers en bemarkers het en dat kleuter-, kinder- en jeugliteratuur juis by die omstredenheid gebaat het.
Die tweede sisteem wat kleuter-, kinder- en jeugliteratuur raak, is die tekstuele sisteem, wat (1) die sender(s) of outeur en illustrasiekunstenaar, (2) die verbale en visuele teks en (3) die kleuter, kind of adolessent as primêre lesers en volwassenes as sekondêre lesers insluit. Van belang vir die volwassene, veral met boekprystoekennings, is kennis van die ontwikkelingpsigologie in die wêreld waarin die kleuters, kinders en adolessente hulle tans bevind. Konteks en verandering is ’n voortdurende gegewe. Sou volwassenes as outeurs en illustrasiekunstenaars, uitgewers, bemarkers en verspreiders, ouers, onderwysers, boekpryspaneellede en alle bevorderaars van kleuter-, kinder- en jeugboeke ook bedag wees op moontlike omstrede of kontroversiële verhale, rympies, verse, gedigte, dramas en films vir 0–18-jariges, sal hulle ook die volgende in gedagte hou: (1) politiek, (2) geweld, (3) seksualiteit en (4) geloof, godsdiens en religie. Wat verdien om beklemtoon te word, is die literêre korrektief. Sommige boeke word soms terstond afgekeur omdat daar een of meer van die omstrede onderwerpe of temas in is, maar sulke boeke vra soms om in die geheel oorweeg te word, omdat ’n tegniek soos ironiese omkering die oënskynlike omstredenheid in die verhaal ’n totaal ander betekenis kan laat kry. Dit is veral verhelderend om in alle gevalle direkte en indirekte teksinterne korrektiewe in gedagte te hou (Fritz en Van der Westhuizen 2010:163–182). Retha Fritz se navorsing oor onder andere ’n historiese oorsig oor die ontwikkeling van sensuur in kinder- en jeugliteratuur in die wêreldliteratuur en in Suid-Afrika, asook omstredenheid in ’n aantal Afrikaanse jeugverhale is te vind in haar MA-verhandeling: Die representasie van omstrede kwessies in kontemporêre Afrikaanse jeugverhale.
Lesers lees vanuit hulle eie ervaringswêrelde en eie kontekste. En nie alle kleuters, kinders en adolessente hoef van alle boeke te hou nie. Selfs van ’n heel jong ouderdom verskil smaak ook wat boeke betref. Tog is dit belangrik dat lees vir kleuters, kinders en adolessente ’n verskeidenheid soorte ervarings inhou.
Om sowel onbewuste as ingeligte besluite te maak, het lesers gewoonlik ’n onbewuste of bewuste waardestelsel, wat uit talle komponente kan bestaan. As leeservarings vir lesers van 0 tot 18 jaar ook insigryk kan wees omdat hulle intuïtief ’n behoefte het aan die beter verstaan van reg en verkeerd, mooi en lelik, goed en kwaad, kan volwassenes as bemiddelaars, ter wille van hulle eie belangstelling in waardes, byvoorbeeld Elsabe de Klerk se proefskrif oor waardes nader trek: Die waardesisteme van adolessente: ’n empiriese ondersoek van die representasie en interpretasie van waardes in geselekteerde Afrikaanse films.
Om vanuit ’n potensiële literêre chaos na die relatiewe sekuriteit van ’n dinamiese literêre sisteem te beweeg, kan weer aangesluit word by Goede (2021:685) se denke oor die waarde van stelsels (haar voorkeurwoord) en haar sienings, waarin sy veral Immanuel Kant betrek, dat as mens sukses in iets wil behaal, gepoog moet word om nie met ’n uitgangspunt van uitsluiting te werk nie, maar eerder moet probeer om die verskeidenheid dinge wat mense tot ’n sisteem kan bydra, te koördineer. Met elkeen se toevoeging vanuit sy “subjective conditioned reality” – in ’n literêre konteks dus elkeen se ervaringshorison – verstaan ons meer en vorder ons beter in die werklik objektiewe verstaan van mekaar en die sisteem toon dan groter volhoubaarheid. Uit die talle kritiese stelsels/sisteme leer mens die groter sisteem beter verstaan.
In die konteks van die omstredenheid van die litererêre sisteem van die afgelope drie maande sou dit moontlik ook ’n opsie kon wees om dit te oorweeg dat die verskeidenheid sienings gekoördineer kan word om die literêre sisteem te versterk en te vernuwe. Hiervoor is daar baie moontlikhede, waarvan een is dat kleuter-, kinder- en jeugliteratuur deur erkenning aan ouer en huidige vernuwende werk deur talle, talle belanghebbendes, ’n nog sterker komponent word in die vernuwing van die groter literêre sisteem.
Moontlik is die lug spoedig ietwat helderder en skoner. Tot die volgende vonke spat. Want verandering en vernuwing is ’n konstante.
Omstredenheid rondom kleuter-, kinder- en jeugliteratuur is internasionaal ’n bekende verskynsel. In byvoorbeeld Nederland is sekere boeke die afgelope jare van openbare biblioteke se rakke verwyder omdat die uitbeelding van ’n bepaalde karakter kwetsend kan wees. In die VSA word elke jaar ’n lys vrygestel van die “Top ten most challenged books”, sodat die boeke uit skole en universiteite verwyder kan word, alhoewel dit bekend is dat die meeste van die onwelkome boeke glad nie deur die publiek vir opname in die lys aangemeld word nie. Daar word moontlik meer klem gelê op lyste soos Michele Hutchison se “What the happiest kids in the world are reading”.
Bibliografie
De Klerk, E. 2017. Die waardesisteme van adolessente: ’n empiriese ondersoek van die representasie en interpretasie van waardes in geselekteerde Afrikaanse films. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Noordwes-Universiteit. https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/33814 (11 Augustus 2022 geraadpleeg).
Fritz, M.J. 2007. Die representasie van omstrede kwessies in kontemporêre Afrikaanse jeugverhale. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Noordwes-Universiteit. https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/1465 (11 Augustus 2022 geraadpleeg).
Fritz, R. en E.S. van der Westhuizen. 2010. Omstrede kwessies en teksinterne korrektiewe in Skilpoppe van Barrie Hough. Literator, 31(2):163–182. https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/51/38 (11 Augustus 2022 geraadpleeg).
Goede, R. 2021. Sustainable business intelligence systems: Modelling for the future. Systems Research & Behavioral Science: 38:685–695. https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/38505 (3 Augustus 2022 geraadpleeg).
Hutchison, Michele. 2019. What the happiest kids in the world are reading. Words without borders. https://wordswithoutborders.org/read/article/2019-01/what-the-happiest-kids-in-the-world-are-reading-michele-hutchison/ (16 Augustus 2022 geraadpleeg).
Die bydraes vir LitNet se miniseminaar, “Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era”, word hier vrygestel:
Lees ook:
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé
Kommentaar
Dankie Betsie, vir 'n helder en oorkoepelende siening oor hierdie kontemporêre vonke en vure soos wat jy dit uitstekend bespreek.