LitNet-artikels hou jou op hoogte van belangrike gesprekke oor allerlei kwessies waaroor die wêreld gons. Maar is jy bewus van dikwels ewe belangrike kommentare deur gesaghebbende rolspelers onderaan die bydraes op LitNet? Onthou om, wanneer jy artikels lees, af te rol om te sien wie lewer kommentaar, anders loop jy belangrike verwikkelinge mis. Klik op hierdie balkie vir al LitNet se kommentare op een plek bymekaar:
*
Nadat Hennie van Coller as voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekommissie bedank het, het prominente persone in die akademie op LitNet kommentaar gelewer oor die debat wat ontstaan het. Van Coller se bedanking volg op ongelukkigheid wat ontstaan het ná die verskyning van sy omstrede rubriek op Netwerk24 vroeër vanjaar. Lees hier wat die akademici sê.
Heilna du Plooy het kommentaar gelewer op Jean Meiring se analise van Van Coller se ope brief aan SJ Naudé nadat Naudé in sy ontvangstoespraak van die Hertzogprys Van Coller se rubriek gekritiseer het.
Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé
Om in dispute betrokke te raak, is nie iets waarvan ek hou nie, maar daar is tog enkele opmerkings wat ek wil maak oor hierdie debat rondom ’n rubriek en ’n toespraak.
Waaraan ek dadelik gedink het, by die lees van die rubriek en die latere reaksies daarop, is dat die gesprek oor die tematiek van kinder- en jeugliteratuur ’n baie ou en baie wye gesprek is. Self het ek dit meermale by kongresse en skrywersgesprekke in Nederland en Amerika meegemaak, sekerlik vanaf meer as 20 jaar gelede. Die navorsing daaroor sal boekdele en -rakke kan vul. Daar is ook altyd sterk opponerende standpunte daaroor, altyd. Darryl David verwys ook na onlangse koerantberigte daaroor in die buiteland. Hierdie gesprekke sluit verder aan by die navorsing oor die Europese en Afrika-sprokies en die Griekse mitologie, want in hierdie ou verhale word die hele spektrum van menslike belewenis vir kinders weergegee, weliswaar in verskuilde vorms sodat die kind as ’t ware onbewustelik leer dat daar allerlei dinge oor sy of haar pad mag kom. Maar hierdie gesprekke is nie nuut nie en ook nie eie aan Afrikaans nie. En debatte oor moeilike kwessies en opvattings in die samelewing kom ook op ander terreine voor as in die letterkunde. Daarom is dit werklik nie nodig om die dood van Afrikaans te sien in menings en redenasies en meningsverskille rondom die tematiek van jeugboeke nie.
Dit is ook seker ’n kwessie van aanvoeling of styl of smaak, maar om die geleentheid wat jy kry om te antwoord op ’n baie groot en prestigieuse toekenning, te gebruik om ’n ander byltjie te slyp, maak my ongemaklik. Daar is ’n groot gehoor, jy staan verskans op die verhoog en die gehoor is in hierdie omstandighede absoluut hoflik (ongeag watter onaanvaarbare ideologiese breuke daar in hulle verborge samestelling mag wees). Soos dit hoort sal die spreker dus aangehoor word en is dit sy prerogatief om te praat hoe en waaroor hy wil.
In die reaksies op die rubriek (’n rubriek, nie ’n verklaring of selfs ’n artikel of studiestuk nie) sien ’n mens hoe die lesers vergrootglase rig en analitiese skalpels gebruik. Eintlik dekonstruktief lees: daar is ’n breuk of kraak in die teks (soos in enige teks) en die leser plaas die dun punt van die wig daarteen, wig in en beur totdat hy ’n koevoet kan inskuif en die teks oopbreek. Dan bevind die leser sigself in die ruimtes agter en om die woorde van die teks en kan ’n vrye kreatiewe interpretasie maak. Dis ’n wonderlike vrye ruimte waarin daar op ’n skerpsinnige manier dinge raakgesien kan word wat die teks self moontlik mag verberg, maar dis ook ’n gevaarliker ruimte van bespiegeling en persoonlike klemplasings. Die leser kan volgens sy eie aanvoeling verbande lê en maak dan afleidings, wat honderd persent reg kan wees, maar wat op sigself ook weer bevraagteken kan word omdat niemand die skrywer se ware intensies absoluut presies kan vaspen nie. Die rubriek waaroor dit hier gaan, het natuurlik breuke en die humor help nie (hoewel ek moet toegee dat ’n rubriek dikwels humor gebruik om die onderwerp sagter of vermaakliker te maak), maar as gans verderflik kan dit werklik nie beskou word nie, want dan moet al hierdie gesprekke internasionaal verbied word. En die oop gesprek daaroor dan?
Die hewigheid van reaksies op die rubriek hang saam met gevoelighede waaroor dit onder meer gaan, maar die debat self kan ook ’n probleem word, veral oor die sensitiewe onderwerp van homofilie, wat in die rubriek sydelings ter sprake gekom het. Om te protesteer teen werklike of vermeende onverdraagsaamheid op ’n besonder onverdraagsame en selfs venynige of vergeldingsgesinde manier (soos in reaksies in opvolgende rubrieke) doen die saak self geen goed nie.
Ek weier om te dink dat ’n rubriek oor kinder- en jeugliteratuur Afrikaans finaal ten gronde sal rig. Alle oneffenhede wat in Suid-Afrika voorkom, kan nie die Afrikaanse taal en sy sprekers ten laste gelê word nie en dit is blykbaar nou die algemene opvatting om dit so te sien. Vir my, iemand vir wie die Afrikaanse letterkunde een van die wêrelde is waarin ek leef, is hierdie soort redenasies en gevolgtrekkings gewoon pynlik en dikwels gans onnodig.
Ek gaan dus nou ver langs die strand stap met eindelose oop lug en water en ’n stewige wind as metgesel om te kyk of ek so die onverkwiklikheid uit my sisteem kan kry.
Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg het in ’n gesprek met Darryl David betrokke geraak nadat David se mening oor die Van Coller-sage op LitNet verskyn het.
Hennie van Coller’s politicisation of children’s literature polemic
Dear Darryl, thank you for taking the time to share your perspective. I prefer not to refer to any of our colleagues teaching Afrikaans in terms of any orientation, whether it be race, gender, mother tongue or age. You declare your involvement and experience in the Afrikaans academic landscape. This resonates with me, having been involved in community projects in support of secondary school teachers who teach Afrikaans poetry – home language and first additional language. I have taught and am teaching Afrikaans literature, methodology of Afrikaans, and Afrikaans First Additional Language at secondary and tertiary level – including modules on poetry for children and young adult fiction. Furthermore, I am sure I am not alone in expressing gratitude to you for the extensive work you have done and are still doing in organising book festivals, including the one for South African children’s literature.
As far as the unfortunate turn of events on the debacle sparked by an article that you have chosen to comment on: The responses to Prof Van Coller’s article on 7 May and the subsequent perspectives offered by the author Fanie Naudé, Jean Meiring, SASNEV, USAN, and PEN Afrikaans renders any further contribution from me on this matter unnecessary.
Regarding your call to the Chief Executive Officer of the Akademie, I wish to follow you in quoting prof Jansen: “Here’s the thing ...”
For decades, membership of the Akademie was granted by invitation only. After decades of functioning in the margins, with many others, I have been a member of the Akademie since 2020; unfortunately, I would state, at that stage still per invitation. Recently, however (and it came about during Prof Beukes’ term), academics, scientists and professionals are able to apply for membership. This moves me to say that we, as academics and professionals working in Afrikaans, should ask ourselves why whiter shades of pale are currently prevailing in the Akademie and its Letterkundekommissie and what we ourselves are doing to achieve inclusivity.
I have not served on the Akademie’s Letterkundekommissie, but I believe that esteemed academics such as Prof Steward van Wyk and Dr Anastasia de Vries of UWC have been involved, inter alia. Your call to, once again, address the composition of the current and also all future literary commissions is timeous and relevant – thank you. I unequivocally support that. The composition of prize committees judging a diversity of Afrikaans literary prizes speaks volumes in this regard.
We are fortunate to have a wonderfully energetic and internationally relevant core of young Afrikaans literary scholars. Initiatives like academic conferences and seminars like the Ontlagering conferences, the Sitkamer project, and the annual USAN young researchers conference, are relevant and changemaker examples. We should assure these young academics that they are much needed and that their opinions and contributions are vital. Instead of waiting for them to apply, should we not urge them to be involved in a broader academic environment than only the various institutions where they are formally teaching? From CPUT to Rhodes, from Fort Hare to NWU, from UCT to UJ, to UNISA, to UP, to … As the former chair of the Taalkommissie, Prof Gerhard van Huyssteen, pointed out: People can speak for themselves. The fact remains: We have the potential. We have excellent scholars in Afrikaans. Who can also serve as members in the SAAWK. And they most definitely are not, if I may then borrow the term you chose, offering a “Snow White storyline”. I hope you will apply, dear Darryl, as soon as possible.
Darryl David se reaksie op Karen de Wet se kommentaar:
Dear Karen, I thank you for your letter. I realise your heart is in the right place. However, when I hear things like membership used to be “per invitation”, it makes my blood boil. Looks like this SA Akademie was nothing less than the Broederbond from where I sit.
Wederwoord deur Karen de Wet:
Dear Darryl, I think we are in agreement that everybody, including the Akademie, can and should speak up for themselves. Still, it seems relevant to consider that the “per invitation” (as per the above) refers to an approach inherent to committees or academies, inter alia, where membership intends to support the aim and raison d’être of such committee or academy. In this case, one would expect academic and/or professional and/or research profile and involvement. The SAAWK is a community of researchers, academics and professionals working and networking in their respective fields of scientific interest. One hopes that the intent of “per invitation” was not to support or facilitate exclusion, but to support the core focus of the members of the group. If this has contributed in the past to disadvantage and irrelevant and unfair, suppressive exclusion, as unfortunately the impression has been left, I am even more grateful that the process has been changed. Now everyone working in the field can consider how they would like to contribute. The last word from my side goes to Bettina Wyngaard: Ons leef “(i)n die konteks van ’n bedreigde taal wat elke liewe bietjie goodwill nodig het waarop hulle kan reken” en moet genereer. Groete.
Wannie Carstens het hom soos volg oor Bettina Wyngaard se LitNet-rubriek uitgelaat.
Bettina, ek dink jy slaan die spyker op die kop.
“Van Coller se artikel, op die oog af oor literatuur, het eintlik onbedoeld ’n belangrike ander gesprek oopgemaak, een oor wie gehoor word en wie mag kritiseer. Dis ook ’n belangrike les in hoe kritiek hanteer word.”
Laat ons almal uit hierdie ongelukkige gebeure leer: hoe om te formuleer om duidelik te wees oor wat jy wil sê, maar ook oor hoe kritiek hanteer word.
Tom McLachlan, eertydse voorsitter van die Taalkommissie, het op twee persverklarings rondom die Van Coller-sage kritiek gelewer.
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
As Naudé so ernstig aanstoot geneem het teen wat Van Coller geskryf het, sou die eerlike en morele stap gewees het om die prys van die hand te wys. Dit was immers die Letterkundekommissie onder voorsitterskap van Van Coller wat Naudé vir die Hertzogprys by die Akademieraad aanbeveel het. Die prys is in die verlede al om politieke redes deur benoemdes van die hand gewys, maar dit was nou seker te lekker om in die glorie van ’n Hertzogprys te baai.
Wat Naudé gedoen het, was om met die een hand die prys en die eerbetoon te aanvaar en met die ander hand ’n obsene gebaar in die rigting van die gewer van die prys te maak. Is dit werklik integriteit?
Anne-Marie Beukes, HUB van die Akademie, beklemtoon namens die Akademie “dat oop gesprek en debat aan die wese van intellektuele diskoers lê en dat ons, in die gees en letter van konstruktiewe intellektuele interaksie, altyd daadwerklik dit nastreef”. Ja, reg, terwyl sy die Akademie dadelik van Van Coller distansieer. Oop gesprek is ook net aanvaarbaar indien dié polities korrek is.
Dit is verstommend verwaand van die US se Departement Afrikaans en Nederlands om vir die Akademie te wil voorskryf wat om met sy lede en ampsdraers te doen. Môre, oormôre is dit een uit sy geledere wat ’n amp in die Akademie beklee en ’n politieke inkorrektheid pleeg. Gaan hulle dan ook so ’n brief aan die Akademie rig? Mense wat in glashuise woon, moet versigtig met klippe werk.
Die verwaandheid van die US se Departement Afrikaans en Nederlands om aan ’n ander liggaam, die Akademie, te wil voorskryf wat hy moet doen en dit bowendien aan ’n dreigement te koppel, gaan die verstand te bowe. ’n Senior lid van die Departement is ook ondervoorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Indien die tradisie van die SA Akademie voortgesit word, sal daardie persoon die Akademie se volgende voorsitter word. Sy staan dus met een voet wel deeglik in die Akademie en met die ander in die departement wat aan die Akademie wil voorskryf en hom dreig met boikotstappe as hy nie die dreigement gehoor gee nie.
Wie moet ’n mens nou glo? Daardie professor wat die Akademie, waarvan sy ondervoorsitter is, dreig, of daardie selfde persoon wat waarskynlik juis daardie gedreigde Akademie as voorsitter gaan dien?
En wie moet ’n mens nou glo: Die departement wat dreig dat “dit vir ons moeilik [sal] wees om beurse van die Akademie aan ons studente as opsie voor te hou, en ook om hulle aan te moedig om byvoorbeeld aan die jaarlikse studentesimposium deel te neem” of daardie selfde departement wat eis “dat Prof Van Coller onvoorwaardelik en openbaar om verskoning vra vir die dreigemente wat volgens mediaberigte aan kollegas gerig is of, indien hy weier om dit te doen, dat die Akademie as oorhoofse liggaam dit namens hom doen”?
Hoekom is een dreigement meer aanvaarbaar as vermeende ander dreigemente?
Die personeel van daardie departement bestaan uit mense wat hulle op die een of ander wyse met Afrikaans besig hou. Daarom is die benepe manier waarop hulle Van Coller se artikel lees en die haas histeriese reaksie daarop nogal verbasend. As Van Coller in die gewraakte sin byvoorbeeld “kwessies” of “aangeleenthede” gebruik het ipv “probleme”, sou hulle ewe sterk gereageer het?
Bedoelde senior dosent en Akademie-ondervoorsitter sal moet fyn trap op die spandraad van die toekoms sodat haar departement nie straks eendag eis dat sy ook van haar pligte onthef word nie.
Onthou glashuise en blinde swepies ...
Volg LitNet se kommentare hier en sê gerus ook jou sê.
- Al die foto’s in hierdie artikel is aan LitNet verskaf.
Kommentaar
Het Tom McLachlan nie ook gereageer op die PEN Afrikaans-persverklaring nie?
‘n Skrywer mag ‘n prys aanvaar en dan kommentaar of kritiek lewer op die tydsgewrig, die politiek-van-die-dag, of watookal.
Dit het al gebeur hier en elders.
‘n Skrywer is nie ‘n handperd van enige komitee nie.
Carmen Callill en die Booker-debakel rondom Philip Roth. Van die ander kant dan:
https://www.theguardian.com/books/2011/may/21/philip-roth-protest-feminism-virago
Sy het beweer dat hy ‘n oorskatte skrywer is. 'n Stelling waarvan ek radikaal verskil.
"He goes on and on and on about the same subject in almost every single book. It's as though he's sitting on your face and you can't breathe," she said. Dit was 2011.
Verskille sal daar immer wees.
So Naudé had die reg om sy siening te uiter.
‘n Komitee bestaan uit verskillende lede en almal wat al op ‘n pryskomitee gedien het, weet daar word dikwels op ‘n wenner besluit deur die komitee waar daar onderlinge verskille én standpunte sal wees.
Ek was op ‘n komitee waar Anna M. Louw se Vos oorgesien is en nou jare later weer terugkeer as ‘n waterskeidende teks.
Dol heuning is ‘n belangrike teks.
Ek was gaande oor hierdie boek:
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=dol+heuning
Verruklik, uitdagend, melancholies; 'n leeservaring wat jou ontstem én begeester. Dis 'n boek wat die verborge verbande saamsnoer en die fabels van toe en nou interpreteer oor rituele vernederings en bestaanswoede.
Sublieme ambag.
HENNIE VAN COLLER : WAT NOU?
Soos dit meermale met prikkelende uitsprake gesteld is, het prof. Hennie van Coller se waarskuwing oor die temas van kinderboeke tot groot omstredenheid gelei.
Ek is een van diegene wat nie die rede vir die diepe aanstoot in sy uitsprake raaklees nie. Kom ons aanvaar egter dat sekere mense en groepe dit wel as kwetsend kon beleef het.
Dan ontstaan steeds allerlei vrae. Het hy inderdaad akute homofobie geopenbaar? Was die stormagtige reaksie nie buitensporig nie? Was sy doeltreffende isolasie in letterkunde-kringe geregverdig?
Die vernaamste vraag: Ontstaan nie dalk ‘n waan van onaantasbaarheid by sommige en by hul juigkommando’s wat gereed sit om elke vorm van kritiese bevraagtekening met vuur en swael te bestorm nie?
Ek weet niks van kinderboeke af nie. Maar ek ken Hennie van Coller oor die 30 jaar lank. By my geniet hy ‘n geloofwaardigheid wat my laat kennis neem van wat hy sê. In hom gewaar ek voorts ‘n akademiese integriteit en statuur wat die Akademie van Wetenskap en Kuns ten goede gestrek het.
Dat hy so platgeloop is oor ‘n eerlike opinie – hoe onsensitief dit ookal op sekere ore geval het – is klaarblyklik tot skade vir die dissipline wat hy so lank met onderskeiding gedien het. Die Akademie is vandag onteenseglik armer.
Oor wat hierdie Hennie van Coller-polemiek en die uiteinde hiervan vir toekomstige ope gesprekke oor sekere temas inhou, hou ek my hart vas.
Ek roep byvoorbeeld voor die gees hoe die gerekende skrywer Dan Sleigh slae gekry het toe hy – tereg, volgens baie ewewigtige waarnemers - die feitelikheid van die kontroversiële boek “The lie of 1652” aangevat het.
En ek het nie vergeet die tonne bakstene wat op my neergekom het toe ek gewaag het om die prul van ‘n Bird Island-boek se lasterlike leuens te help ontmasker nie.
Dit alles voed 'n vermoede dat nie altyd die waarheid van kritiek vir almal deurslaggewend is nie; vir sommige eerder wie die kritiek uitspreek en wat hulle in jou opinie verteenwoordig.
In daardie geledere is allerlei groepe en individue met allerlei byltjies te slyp oor opvattinge en insigte wat vir hulle “ouderwets” en “konserwatief” lyk. Dit val op hoe hulle uit hul pad gaan om mense te diskrediteer en isoleer, veral die stemme uit 'n ouer geslag.
Ek dink Willie Burger som hierdie problematiek goed op.
Die Bird Island-boek was inderdaad 'n prul en dit moet bepaald gekritiseer word.
Ek ondersteun 'n oop gesprek.
Tom Mclachlan en andere se argument teen S.F. Naudé se kritiek op die voorsitter van die komitee wat aan hom 'n prys toeken, gaan logies nie op nie. Dit kan net so op prof. Van Coller toegepas word en lewer dieselfde afleiding. Op 'n amptelike platform demonstreer hy dat hy literêre gehalte stel bo oorwegings van identiteit en seksuele voorkeur wat by dele van die leserspubliek omstrede mag wees. Terselfdertyd skryf hy 'n openbare rubriek met stilististiese dubbelsinnighede waarin hierdie identiteite en voorkeure beledig word.
Ek stem met respek saam met Hennie van Deventer. Dit verbaas my ook dat persone wat hulleself as akademici beskou en beskryf so skril en venynig tekere kan gaan. Dit sal dalk help om elke opponent (literêr of andersinds) as "my geleerde vriend" aan te spreek, en dan op die inhoud van die opponent se argument te konsentreer eerder as die opponent se persoon.
Baie dankie, Joan, dat jy my daarop wys dat "'n Skrywer 'n prys [mag] aanvaar en dan kommentaar of kritiek lewer op die tydsgewrig, die politiek-van-die-dag, of watookal."
Ek het geen rede om te glo dat dit in die dun lug van hoë akademiese en literêre kringe en pryse gangbaar is nie; ek aanvaar jou woord daarvoor.
Ek erken dat ek in sekere opsigte seker outyds is – ek gebruik nog die hoflike aanspreekvorm "u", en ou verledetydsvorme soos "wis" en "dag", en ek het meermale 'n hekel aan die ordinêre familiariteit van die huidige samelewing. Hier onder waar ek tussen gewone (outydse?) mense lewe, is daar ook ander waardes, soos wellewendheid en erkentlikheid en beleefdheid en beskaafdheid en goedgemanierheid. In my boek bly dit eenvoudig ongegeneerd om iemand wat jou iets gee of aanbied – iets waarom jy nie aansoek gedoen het of waarvoor jy nie betaal het nie – sonder skroom te kritiseer terwyl jy die aangebode iets aanvaar.
Dit werk nie vir my nie.
'Close reading' van Van Coller se rubriek sal nie help nie, omdat die probleem nie met die ontleding van enkele sinne raakgelees word nie. Die probleem is die toonaarde van die hele rubriek, dit naamlik dat gesonde funksionele gesinne onder andere en beduidend homoseksualiteit as 'n 'probleem' ervaar. Verder en beduidend word funksionele gesinne inderdaad opgesom met 'n hunkering na Tarzan of Rooi Jan as die verpersoonliking van mans wat nie paranoïs of swak of weifelend is nie.
Dalk is dit tog wel close reading. Van diep patriagie wat korrupsie en BBEE en plaasaanvalle as die werklike onderwerpe van kinderliteratuur beskou.
En ja, Willie Burger sit op die draad.
Wat vir my die meeste van die optrede van sekere deelnemers aan hierdie debat verstom, is dat hulle argumenteer sonder enige verwysing na die feite. Tom McLachlan doen op allerlei “outydse” (lees: moreel verheffende) deugde (“wellewendheid en erkentlikheid en beleefdheid en beskaafdheid en goedgemanierheid”) aanspraak en skrywe dan: “In my boek bly dit eenvoudig ongegeneerd [let op die Nederlands!] om iemand wat jou iets gee of aanbied – iets waarom jy nie aansoek gedoen het of waarvoor jy nie betaal het nie – sonder skroom te kritiseer terwyl jy die aangebode iets aanvaar. Dit werk nie vir my nie.” Maar SJ Naudé het natuurlik vir Hennie van Coller gekritiseer, nie die Akademie as sodanig nie. Dit was nie Van Coller wat vir hom die prys gegee het nie; dit was die Akademie. Die einste letterkundekommissie wat die kieswerk namens die Akademie gedoen het, het twee lede verloor wat uit verset teen Van Coller se optrede bedank het. Teen die tyd dat Naudé sy aanvaardingstoespraak gemaak het, het die Akademie sigself reeds van Van Coller se rubriek gedistansieer. Derhalwe ondersteun die feite nie McLachlan se betoog nie. Deur sy toespraak het Naudé juis die Akademie se ongemak met die individu Van Coller se optrede geëggo. Dit was tog superbeleefd, nie so, prof McLachlan?
Die herrie wat rondom prof Hennie van Coller se Volksblad rubriek losgebars het, is 'n tipiese voorbeeld van die Amerikaanse konsep van "cancel culture" Ek is g'n akademikus nie.'n Gewone mens as jy wil, maar ek het die hele debakel rondom die rubriek eintlik erg jammerlik gevind. Dit is verbasend hoe akademici, wat veronderstel is om geleerd en leiers in hulle gemeenskap te wees, hulle aan sulke gedrag skuldig kan maak.
Maar gegewe een van die doelwitte van "cancel
culture" het hulle daarin geslaag om "ontslae" te raak van Van Coller. Hulle het hom gekanselleer.
Die Collins-woordeboek beskryf "cancel culture" so: "Cancel culture is a culture, especially on social media, in which people stop supporting a person because they are encouraged to do so by someone that person has criticized."
Die Urban Dictionary stel dit so: "A term which a bigot uses as their defence after being called out due to their hate and plain ignorance, usually as an attempt to frame themselves as a victim ..."
Dat die debat ongestoord voortgaan en dat daar nou selfs sprake van regstappe is, is maar net nog 'n voorbeeld van hoe onverdraagsaam Afrikaners kan wees onder mekaar. En daarby is dit ook maar net nog 'n swart kruis teen die taal wat ons probeer beskerm en laat groei ondanks al die teenstand wat daar is.
Mense het mekaar maar nog altyd gekanselleer. Ons het net nou 'n naam daarvoor. Calvyn en die pous het nie juis saam rugby gekyk en gebraai nie.
Hiermee dan my finale reaksie veral oor diegene wat nie die volledige prentjie ken nie:
https://versindaba.co.za/2022/08/10/joan-hambidge-hoe-lees-ons/