Kinder- en jeugboeke in Suid-Afrika het ’n totale omwenteling ondergaan in die afgelope 40 jaar. Boeke wat vir kinders in Suid-Afrika beskikbaar is en die waarde van die karakters in hierdie boeke sal hier bespreek word. Daar sal ’n bondige oorsig gegee word oor wat van 1990 tot 2010 gepubliseer is, teenoor wat in die laaste 12 jaar in Afrikaans gepubliseer is.
Daar sal ook na die kompleksiteite van karakterassosiëring verwys word ter verheldering van waarom karakters in kinder- en jeugliteratuur so ’n sentrale rol speel wanneer dit by die leeservaring van ’n kinder- of jeugboek kom.
Oorsig van publikasies 1990–2010

Anke Theron (Foto: verskaf)
’n Vlugtige oorsig van Afrikaanse jeugboeke sal beslis toon dat daar ’n tendens was sedert die vroeë 1990’s om meer sogenaamde randfigure in jeugboeke uit te beeld. Ons kan hier dink aan Barrie Hough se Vlerkdans (1992) en Skilpoppe (1998). Daar is ook Leon de Villiers se Aliens en engele (1996) wat die kwessie van egskeiding aanraak. Elsabe Steenberg se Ken jy die weerligvoël? (1992), Johan de Waal se ! Sit oom Paul (1995), Maretha Maartens se ’n Pot vol winter (1992), en François Bloemhof se Slinger-slinger (1997) en Die dae toe ek Elvis was (2000) het kwessies soos tienerseks aangeraak. Daar kan beweer word dat weens die streng sensuur en beheer wat oor kinderboeke, en veral jeugboeke, uitgeoefen is deur die vorige bedeling, die meeste uitgewerye onder staatsbeheer of sterk invloed en hewig onder die heersende gesindheid van die tyd was. Die periode van die 1990’s en vroeë 2000’s was ’n reaksie op die “onder die mat invee”- en “as ons niks sê nie, is daar niks”-benaderings. Dit is dus nie vreemd om ’n sterk oplewing van boeke met onderwerpe soos egskeiding, ontrouheid, dwelms, vigs, drankmisbruik, mishandeling en seksuele oriëntasie te sien nie. Tog het die kwessie van gestremdheid eintlik onlangs eers meer na vore getree.
Oorsig van publikasies sedert 2011 tot op hede
Sou die blik na die laaste dekade verskuif word, beweeg die fokus ’n bietjie weg van die “kwessies” en meer na die karakters en die verhaal wat die karakters probeer vertel. Dit is moontlik om die verhale wat in hierdie tydperk gepubliseer is, te beskou as ’n antwoord op wat in die vorige 14 jaar gepubliseer is en dat daar ’n onderlangse gesprek tussen dié tekste is. Hier kan byvoorbeeld gekyk word na Fanie Viljoen se Uit (2014) wat in gesprek kan tree met Barrie Hough se Vlerkdans (1992), waar die hoofkarakters op ’n reis van selfontdekking (die kwessie van seksuele oriëntasie is natuurlik ook deel van hierdie selfontdekking) gaan en kennis maak met verskeie maatskaplike kwessies. Sou daar na die laaste vier jaar (2019–2022) se publikasies gekyk word, bied die volgende lys titels ’n redelike, alhoewel selektiewe oorsig:
- Thomas@-reeks Omnibus (2019), Carina Diedericks-Hugo
- Die groot koelte (2019), Leon de villiers
- Die avonture van Speurhond Willem 3-in-1 (2020), Elizabeth Wasserman
- 3-in-1: Rock susters, Duinebesies en Franse vlegsel Omnibus (2019), Christien Neser. Voorheen individueel gepubliseer in 2012, 2013 en 2014.
- Glam divas: Talia, Didi en Lienka (2020), deur Solet Scheeres en voorheen individueel gepubliseer in 2011, 2012 en 2013.
- Die Projek-reeks Omnibus (2020), wat insluit Projek Paddaprins, Projek Boontjierank en Projek Doringrosie deur Maritha Snyman. Voorheen individueel gepubliseer in 2008 en 2010.
- Wolk (2021) en Roet (2022) deur Hannes Barnard. Roet is tans op die kortlys vir ’n kykNET-Rapport-Boekprys: Film.
- Offers vir die vlieë (2019) deur Fanie Viljoen.
- Wêreld van wolwe: Eerste bloed (2021), Tweede Asem (2022) en Derde Mag (2022) deur Fanie Viljoen.
- Wat Werner doen met sy drie miljoen (2021) deur Tertius Janse van Rensburg.
- Elikser (2021) deur Frenette van Wyk.
- Clint Fryer en die helde van Huis Hindernis: Die soektog (2021) en Partytjiepret (2021), Anzil Kulsen.
- Toe ons oneindig was (2020), Die 3 van ons (2021) en Anderkant die blou (2022) deur Zelda Bezuidenhout.
- Oopmond (2019), Baster (2020), Poppie Viool en die Swartwoud-arende (2022) en Hoeveel tande het ’n engel? (2022) deur Jan Vermeulen.
Hierdie is slegs ’n klein seleksie van die verskeidenheid boeke wat vir jong lesers gepubliseer is in die laaste vier jaar. Dit is van belang dat daar van nader na die karakters in van hierdie boeke gekyk word.
Karakters en die proses van betekenisgewing
Wanneer daar na die funksionering van ’n karakter binne ’n teks en al die tegniese narratologiese elemente gekyk word, is dit moontlik die belangrikste om die proses van betekenisgewing in ag te neem. Hoe die leser betekenis gee aan wat hy of sy lees en dus ’n karakter op ’n spesifieke manier ervaar of lees, beïnvloed natuurlik ook hul voorkeur.
In Maritha Snyman se studie oor die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders (2006) is breedvoerige, kwantitatiewe navorsing gedoen omtrent waarvan kinders hou om te lees en hoe presies hulle leesgewoontes lyk. Die kernpunte uit hierdie navorsing en wat van toepassing is op hierdie bespreking van “boeke vir alle kinders”, is die volgende gevolgtrekkings:
’n Gemiddeld van 41% van die respondente het verkies om in Afrikaans te lees teenoor die 27% wat Engels verkies het en die 37% wat ewe veel Engels en Afrikaans lees. Taalvoorkeur speel dus ook ’n rol.
Die genres waarvan die respondente die meeste gehou het, was godsdiensboeke. Daarna was dit avontuurverhale, reeksboeke, vriendskapsverhale, strokiesverhale, speurverhale en liefdesverhale, met meer as 45% van die respondente wat hierdie tipes verhale verkies.
Nog ’n interessante bevinding is dat “(d)ie voorkeur vir avontuurverhale, reeksboeke en vriendskapsverhale strook met verwagtings. Die respondente het grillers waarskynlik as avontuurverhale geklassifiseer” (2006:32). Hier kan baie van Fanie Viljoen, François Bloemhof en Jaco Jacobs se boeke genoem word. Dié bevinding strook dus met wat aan die begin van hierdie bespreking genoem is.
In verband met ’n proses van betekenisgewing en leeservaring is al die boeke wat genoem word, verhale waarby lesers iets kan leer of ’n ander insig mee kan kry deur die lees van die betrokke verhaal. Snyman verwys na haar bevinding dat “(r)espondente aandui dat hulle daarvan hou om iets (maar beslis indirek) te leer uit boeke” (2006:49).
Boeke wat nie vroeër genoem is nie, maar wat ’n beduidende insig vir jong lesers kan bied, is Christien Neser se Einstein-boeke, Amper Einstein (2019) en Absoluut Einstein (2020). Dit verskaf ’n heeltemal ander perspektief op ’n karakter, Micha, wat 10 jaar terug as ’n randfiguur gekenmerk sou gewees het. In hierdie geval word die onderwerp van outisme uit die skadu’s gehaal en voorgehou as ’n ervaring deur karakters se oë. Die kwessie rondom randfigure en die definisie van randfigure moet deeglik oorweeg word. Word hierdie karakters as randfigure gesien omdat hulle werklik as figure op die rand van die samelewing funksioneer, of is dit die karakters wat uit ’n vorige onbekende deel van die samelewing uit die skadu’s na die samelewing aangestap kom? Daarom is dit van belang dat kinders hierdie ervarings uit boeke “beleef”.
’n Seleksie van die karakters sal vervolgens in oënskou geneem word.
Ken jy vir Clint Fryer, Keegan, Samier, Rufus, Xander, Lily, Werner of dalk vir Joshua? Hierdie is maar net ’n paar van die karakters wat op die rakke beskikbaar is en wag dat jy hulle stories lees. Dié karakters se stories verskil almal van mekaar, maar het ’n goue draad wat hulle met mekaar verbind. Hulle maak ’n reis van selfontdekking mee en daarmee saam oorkom hulle verskeie struikelblokke.
Clint is in ’n rolstoel en woon saam met ’n groep ander kinders in ’n kinderhuis. Nee, Clint is nie die tipe karakter wat homself jammer kry nie. Hy maak planne om ’n blikkie kondensmelk uit die kombuis te gaps, want wie hou nou nie van lekker soet kondensmelk nie? In die bestek van twee boekies is dit duidelik dat Clint soos enige ander seun hou van pret. Hy bou verhoudings met maats en moet leer om jammer te sê wanneer hy stout is.
Keegan en Samier is beste vriende en Samia is Samier se tweelingsuster. Hierdie twee vriende beleef baie avonture saam. Hulle speel sokker en Keegan raak ook so ’n bietjie verlief op die nuwe meisie in hulle klas. Hierdie reeks deur André Trantraal is beslis lekker verhale vir kinders. Dit omarm ook die gemeenskapskultuur van die Kaapse vlakte.
Rufus en Xander is beste vriende en amper klaar met skool. Rufus se pa het besluit dat hulle gaan emigreer omdat die land in so ’n gemors is. Rufus en Xander besluit dan om hulle laaste paar dae saam te spandeer en dan gebeur daar ’n ramp. Hulle verhouding verander en hulle leer aspekte van hulleself ken waaraan hulle nooit eers gedink het nie. Die opvolgverhaal, Roet (2022), het selfs meer kinkels in om hulle verhaal verder te kompliseer, en daar is ’n goeie skeut klimaatsverandering betrokke.
Lily moet ’n baie belangrike plantjie vir haar siek ma gaan opspoor in Ierland, in The Burren. Daar is ’n klompie magiese insidente en dalk ’n vampier en weerwolf of twee betrokke. Maar is Lily wie sy grootgemaak is om te glo sy is? Sy vind geheime uit oor haar herkoms en ook liefde op ’n ongewone plek. Hier is ’n liefdes- en fantasieverhaal verweef vir die avontuurlustige jongvolwassene-leser wat wag om ontdek te word.
Werner se gesin lyk dalk anders, maar sy ma en oupa (wat Alzheimer se siekte het) is baie lief vir hom. Hy het ook twee boesemvriende wat hom help om die Lotto te wen – drie miljoen rand! Maar hoe gemaak om die geld te eis en wat gaan hulle als daarmee aanvang? Daar is soveel dinge wat hulle daarmee wil doen, maar TC het ’n slim plan sodat alles ten goede uitwerk. Dit is moontlik een van die mees deernisvolle verhale wat sonder soetsappighede in ’n Afrikaanse jeugboek vertel word en beslis die lees werd.
Laastens is daar Joshua. Hy is … ’n weerwolf, maar hy weet nie hoekom nie of hoe dit gebeur het nie. Hy is beslis nie deur een gebyt nie. Inderhaas moet hy en sy pa na hierdie vreemde dorp, Droomhoek, trek. Waar daar selfs nog vreemder dinge gebeur. Joshua is op ’n reis van selfontdekking en maak ’n paar goeie vriende langs die pad … Die derde boek is pas vrygestel, wat beteken dat al die antwoorde nog onthul sal word. Gaan lees gerus self dié reeks.
Hierdie karakters gee beslis ’n interessante blik op verskeie ervarings vir jong lesers. Wanneer ’n persoon of ’n kind ’n teks lees, vind ’n proses van betekenisgewing tussen ’n simboliese en verbeelde ruimte plaas. Dit is die proses waarmee ’n leser ’n verbinding tussen die “stories soos dit afspeel in ’n boek” maak met die letters en simbole wat op die bladsy staan. Jacques Lacan se teorieë sal hier verdere ontledingsmoontlikhede kan bied, maar dit daar gelaat vir ’n ander geleentheid.
Dit klink dalk baie ingewikkeld, maar wanneer daar na hierdie verskillende karakters en hul struikelblokke gekyk word, kan ons sien dat selfs kinders hierdie prosesse meemaak wanneer hulle lees en dat dit nie uitsluitlik ’n volwassene-leeservaring is nie. Terselfdertyd moet daar ook in gedagte gehou word dat hierdie proses selfs meer kompleks kan raak wanneer ons na boeke vir die jeug of jong volwassenes beweeg.
Volgens Snyman is daar bevind dat respondente van 9 tot 15 jaar terugvoering gegee het dat hulle met karakters kan “vereenselwig” (2006:79). Daarom is dit beslis duidelik dat karakters meer aandag geniet deur lesers as die kwessies wat aangeraak word. Die vraag bly staan hoe en waar kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans en Suid-Afrika bevorder word en wat dit anders maak as die vorige bedeling se eksklusiwiteit?
Instansies wat kinder- en jeugliteratuur bevorder
Sedert 1994 was daar ’n verskuiwing van organisasies wat hulle slegs vir die bevordering van Standaardafrikaans en die morele oortuigings van die betrokke organisasies beywer het, na instansies wat los staan van die regering.
Daar is verskeie instansies wat die bevordering van Afrikaans in sy verskeie variëteite bevorder en selfs uitbrei na ander Afrika-tale wat ’n kultuur van inklusiwiteit wil skep. Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans dryf spesifiek taal- en leesbevordering. Hulle beywer hulle vir die bevordering van Afrikaans in sy gestandaardiseerde vorm, maar ook in al sy variëteite. Hul grootste fokus is om kinders se geletterdheid te bevorder en hulle is ’n forse voorstander van moedertaalonderrig, en daarom ook om in jou moedertaal te lees.
“Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se fokus is om funksionele geletterdheid vir elke Afrikaansgebruiker te bring. Om seker te maak dat mense met lees-, hoor- en leergestremdhede ook baat vind by ons projekte …” (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, 2022). ’n Voorbeeld van die karakters wat hulle in hul kinder- en jeugliteratuur gebruik, is Robbie die Rowwe Rot. Dit is gratis beskikbaar in Kaapse Afrikaans en Xhosa, aanlyn op hul webtuiste. Dit is belangrik om daarop te let dat die SBA ook ’n fokus op lesers met gestremdhede plaas en inklusiwiteit nie net op grond van taal wil bevorder nie.
’n Belangrike rol word deur die Sanlam-boekpryse gespeel in die erkenning van nuwe jeugboeke. Hierdie gesogte kinder- en jeugliteratuurpryse word tweejaarliks aan nuwe manuskripte vir tienerlesers tussen 12 en 18 jaar en jong volwassenes toegeken. Daar word twee wenners (goud en silwer) in drie kategorieë aangewys: Afrikaans, Engels en Afrikatale (Nguni- en Sothotale, Tshivenda en Xitsonga) en die prysgeld beloop R90 000. Beslis ’n stewige aansporing vir die skep van nuwe verhale.
“Die pryse is in perfekte ooreenstemming met ons doel by Sanlam: om alle Afrikane met selfvertroue te laat leef. Vandag se jeug leef ’n vinnige, dikwels digitale lewe, en literatuur is ’n kragtige middel om konteks en verwysingsraamwerke te bied om die wêreld mee te besigtig” (NB-Uitgewers, 2021).
Vanuit die uitgewersperspektief wys Shauna-Lize Meiring op ’n soortgelyke waarneming: “Die wêreld van vandag is groot. Kinders en tieners kyk Netflix, reis rond en is deel van sosialemediaplatforms. Kinders en tieners se wêrelde strek dus ook wyd en sluit verskeie perspektiewe in. Die mense wat in jou leef- en verwysingswêreld beweeg, lyk dalk heeltemal anders as jy. “Normaal” is relatief. Dis tog net regverdig, en waar, om verskillende leefwêrelde en ervaringe in boeke uit te beeld” (Lessing-Venter, Meiring en Do Carmo, 2022).
Ten slotte is daar ’n legio van keuses vir jong lesers en beslis iets vir alle kinders in Suid-Afrika wat Afrikaans kan en wil lees.
Verwysings
Lacan, J. 2006. Écrits: the first complete edition in English. (Vertaler B Fink.) New York: Norton.
Lessing-Venter, Meiring en Do Carmo. 2022. Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers. https://www.litnet.co.za/afrikaanse-jeugboeke-vandag-n-perspektief-deur-prh-lapa-uitgewers (7 Augustus geraadpleeg).
NB-Uitgewers. 2021. Wenners van Sanlampryse vir Jeuglektuur 2021 bekend gemaak – 23 November 2021. https://www.nb.co.za/en/blog/d979433152664c7480043d3aaaf79951 (8 Augustus geraadpleeg).
Snyman, M. 2006. Die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders. [Studie] Universiteit van Pretoria.
Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. 2022. https://sbafrikaans.co.za/loer (7 Augustus geraadpleeg).
Die bydraes vir LitNet se miniseminaar, “Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era”, is hier beskikbaar:
Lees ook:
Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé
Luister ook:
Kommentaar
Dankie, Anke!