Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers

  • 1

Omslae van onlangs-verskene jeugboeke by Penguin Random House LAPA-Uitgewers

Teen die agtergrond van ’n gesprek oor randfigure in Afrikaanse jeugboeke, deel Penguin Random House LAPA-Uitgewers hier onder ’n perspektief oor hul onlangse kinder- en jeugpublikasies.

"As jy kan lees, kan jy enigiets doen." Dis iets wat my ma gereeld, van kleins af, vir my gesê het en iets waarin ek met my hele hart glo. Ons gee kinder- en jeugboeke uit omdat ons glo in die krag van woorde. Woorde kan jou vorm, jou bemagtig, jou in staat stel om enigiets te doen en enigiets te wees. Maar nie net moet jy kan lees nie, jy moet ook lief wees vir lees. Dis hoekom ons so ’n groot verskeidenheid boeke uitgee en daarin glo dat elke kind, van elke agtergrond en elke kultuur, hom- of haarself moet kan raaksien in die boeke wat hulle lees.” (An-Mari do Carmo, senior redakteur: Kinder- en Jeugboeke by Penguin Random House)

Die wêreld van vandag is groot. Kinders en tieners kyk Netflix, reis rond en is deel van sosialemediaplatforms. Kinders en tieners se wêrelde strek dus ook wyd en sluit verskeie perspektiewe in. Die mense wat in jou leef- en verwysingswêreld beweeg, lyk dalk heeltemal anders as jy. "Normaal" is relatief. Dis tog net regverdig, en waar, om verskillende leefwêrelde en ervaringe in boeke uit te beeld. Ons weet dat kinders en tieners om verskeie redes lees: om inligting te bekom, om vermaak te word, om ontsnapping te vind. Hoe kan ons toelaat dat daar slegs een idee van normaal uitgebeeld word? Hoekom sal kinders en tieners dan nog wíl lees? (Shawna-Leze Meiring, (besturende redakteur: Kinder- en Jeugboeke by Penguin Random House)

As uitgewer van kinder- en jeugboeke is dit vir my van absolute noodsaaklikheid om boeke uit te gee wat 'n verskeidenheid van karakters in het waarmee jongmense kan assosieer of by leer. Wanneer jy jouself, of selfs net 'n aspek van jouself, nie in 'n storie kan raaklees nie, gaan jy nie noodwendig van 'n boek hou nie. Vir my persoonlik is daar nie iets soos "randfigure" in jeugboeke nie. Daar is slegs karakters met 'n kleurvolle verskeidenheid van persoonlikhede, leefstyle en dies meer. As 'n karakter geskep word slegs vir die doel om 'n "randfiguur" te verteenwoordig, gaan 'n egtheid onmiddellik verlore. Die meeste skrywers sal kan getuig dat karakters in hulle stories 'n wil van hulle eie het. Hulle ontwikkel en groei saam met 'n storie. Geen "normale" karakter in 'n storie sal ooit verander word na 'n gemarginaliseerde tipe karakter net om die storie meer "woke" te maak nie. Skrywers en uitgewers mag nooit die jeug se intelligensie onderskat nie.

Daar is niks so vervelig soos 'n geforseerde karakter nie. Jeugboeke, net soos enige ander fiksieboek, besit die vryheid om die werklikheid of fantasie uit te beeld sonder om voorskriftelik te wees of 'n "lessie" te bevat. Onder die LAPA- en Penguin-drukname gee ons 'n wye verskeidenheid van jeugboeke uit wat uiteenlopend van mekaar verskil. Enkele voorbeelde van temas in ons mees onlangste boeke: oorlog (Offers vir die vlieë, Fanie Viljoen); historiese fiksie (Bethel se berg, Maretha Maartens); sosiale issues soos hondegevegte (Baster, Jan Vermeulen); romanse (Vrydag is ek verlief, Cecilia Steyn); misdaad en gesinsgeweld (Verkleurmannetjie, François Bloemhof); leefstyl en kos (As mens geluk kon proe, Zelda Bezuidenhout); tatoes en steampunk (Die 17de veer, Nanette van Rooyen); apokaliptiese fantasie (Wolk, Hannes Barnard). (Nandi Lessing-Venter, uitgewer: Kinder- en jeugboeke, Penguin Random House)

  • Penguin Random House South Africa/LAPA-Uitgewers se kinder- en jeugboekspan: Nandi Lessing-Venter (uitgewer), Shawna-Leze Meiring (besturende redakteur) en An-Mari do Carmo (senior redakteur).

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Baster deur Jan Vermeulen

Lesersindruk: Die 17de veer deur Nanette van Rooyen

Lesersindruk: Wolk deur Hannes Barnard

Bethel se berg deur Maretha Maartens, ’n resensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen 

 

PEN Afrikaans-persverklaring: oor die polemiek van "randfigure" in kinder- en jeugliteratuur

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik

Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek

’n Nuwe klimaat

Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n Analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé

Hennie van Coller’s politicisation of children’s literature polemic

US se Afrikaans en Nederlands-departement rig ope brief aan Akademie: Onthef Van Coller van sy pligte

SASNEV-persverklaring: Van Coller moet verskoning vra

Van Coller – storm in ’n espressokoppietjie

SêNet: Kommentaar van ’n nagraadse student van professor Van Coller

Die Grondwet, nie kansellering nie, omsoom die openbare gesprek

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top