Titel: Baster
Outeur: Jan Vermeulen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 978 0 6396 0180 9
(Bederfwaarskuwing: LitNet waarsku dat hierdie resensie-essay nié bedoel is vir sensitiewe lesers nie.)
Hondegevegte en doodsdreigemente! Baster is die storie van Karel, ’n seun wat met honde kan praat, en Hêppie, ’n liefdevolle brak wat gedwing word om ’n straatvegter te word. Die verhaal vertel die storie van al die honde waarvoor Karel lief is, maar ook die hartverskeurende verhaal van die hondegevegte en geweld wat sy samelewing verskeur.1
1. Inleiding
As leser van Baster wil ek meld dat die lees van hierdie verhaal van geweld en genade vir my ’n mallemeule van waarnemings van gebeure en gevoelens was. Soos vorige romans en novelles van Jan Vermeulen het ek dit uitstekend gevind en ek het baie min kritiek. Ek is seker dat lesers deur die lees van hierdie verhaal ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek, en dat die skrywer ’n (aktiewe) aandeel hieraan het.
Jan Vermeulen is gebore en getoë in Namibië. Hy is bekend vir sy verhale waarin traumatiese gebeure afspeel en hy het al vele literêre toekennings ontvang. Sy debuutroman, Die laaste dans, is in 1998 gepubliseer. In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie, waarvoor hy die Sanlamprys Goud, die MER-prys, Scheepersprys en ATKV-kinderboektoekenning ontvang. In 2015 wen hy Lapa se jeugromankompetisie met Asem. Van 2020 af word dié boek deur die IEB vir Graad 12 Afrikaans EAT voorgeskryf. Vir sy jeugverhaal Soen ontvang hy in 2017 die Sanlamprys vir jeuglektuur, en in dieselfde jaar stap hy met Oopmond met die louere in Lapa se jeugromankompetisie weg. Baster is ’n naaswenner van Lapa se 2019-jeugkompetisie.
Vermeulen merk in ’n onderhoud op:
Die vonk vir die verhaal [Baster] was ’n uitgebreide koerantberig oor georganiseerde onwettige hondegevegte in Gauteng en die bykans onmoontlike taak van wetstoepassers om dié bedryf hok te slaan. Die lotgevalle van hierdie uitgelewerde diere het my aan die hart gegryp. Ek het my begin indink in die lewe van so ’n hond. Sê nou ek was daardie hond ... Sê nou dit was my hond ... Nou probeer ek om “Konsaliks” vir vandag se jongmense te skryf.2
Wat van Asem gesê is, is ook waar van Baster: Dit is ’n “kragtoer van ’n boek wat nooit die leser met maklike antwoorde onderskat nie”.3 Dit is ’n tipiese spanningsverhaal, hier spesifiek jeugliteratuur, wat ook as oorgangsliteratuur bekend is, met ’n alwetende derdepersoonsverteller wat weet hoe mense en diere voel, wat alles sien wat hulle doen, en weet wat hulle dink.
Baster is ’n grootword-verhaal waar die liefde nie álles oorwin nie, maar dit tog leefbaar en op ’n unieke manier weer heel kan maak.4
Omdat die verhaal, volgens my, baie slim geskryf is, wil ek aan die skrywer erkenning gee deur dit so deeglik as moontlik te bespreek. Ek doen dit in die kader van die responsbenadering5, wat my lens as leser is. Aangesien die verhaal vir die jeug bedoel is, verken en ontgin ek aspekte van die gerigtheid daarvan op die (bedoelde) leser se resepsie in die proses van (aktiewe) teksrealisering. Ek meen dat die verhaal definitiewe literêre waarde het – hieroor kommunikeer ek uiteraard. Om my riglyne te motiveer, voeg ek eindnotas as verwysingsbronne by en interpreteer voortdurend dié kriteria soos dit in Baster gemanifesteer word.
2. Lesergerigtheid
Die verhaal is beslis toepaslik vir die teikengroep: jeugdiges aan die einde van hulle skoolloopbaan. Omdat tieners hulle met karakters in jeugverhale vereenselwig, meen ek veral seuns sal Baster wil lees, juis vanweë hulle belangstelling in aksie – selfs geweld, as ’n mens na van die inhoud van baie van die rekenaarspeletjies kyk wat seuns graag speel. Tog is daar ook ’n besondere liefdesband tussen Karel en Ossie. Daarvoor sal veral meisies wat in romantiese verhale geïnteresseerd is, waarskynlik ’n voorkeur hê.6 Dit blyk dat lesers tussen 14 en 18 jaar ook in sosiale probleme, selfs verbode of taboe onderwerpe belangstel, asook stories wat nie “normaal” is nie.7 Van laasgenoemde elemente is daar in hierdie verhaal ’n oorvloed.
In Baster is die hooftema die hoofkarakter se verhouding met sy vriende, ouers en honde. Karel Zimmerman skryf sy gr 11-eksamen. Sy vriende Hugo, Natalia en James is waarskynlik van dieselfde ouderdom. Sy spesiale vriendin, Ossie (Monique), is effens ouer. Ossie was reeds ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch. Karel se pa, Klaus, is ’n polisieman van Duitse afkoms; saam met hom werk Jannie Koch. Almal woon in Reservoir Hill, wat naby die see is (moontlik Despatch naby Port Elizabeth, in sover ek dit met behulp van die name van strate wat gemeld word op Google Maps kon vasstel). Karel wil veearts word (James ook, blyk dit later) en hy het ’n spesiale belangstelling in diere en hulle versorging. Dit verduidelik waarom dit noodsaaklik is dat sy wiskundepunte goed genoeg vir tersiêre studie moet wees. Ek meen dat Karel se wens om veearts te word in terme van wat ’n veearts doen en die opleiding wat daarvoor nodig is, dieper uitgespel kon gewees het. Daardeur sou lesers wat hierin belangstel, se ervarings- en verwagtingshorison uitgebrei kon word.
...
Dagger wil vir Baster gebruik om Ossie se hond, Leo (wat hy steel en “Killer” noem), op te lei. Hy wil Leo teen die huidige kampioenhond laat veg. Ons leer ook vir Goodman ken – die Zimmermans se tuinman, wat vermoedelik die hondemanne se informant is.
...
Aan die ander kant van die dorp is daar Poppie (Baster se eerste eienaar, wat hom Hêppie noem en hom liefdevol versorg) en haar vriendin Veronica (wie se hond, Juffrou, aan Hêppie geheg raak en sy wonde lek). In hierdie gemeenskap is daar ook die gewelddadige antagonis, Dagger. Dagger wil vir Baster gebruik om Ossie se hond, Leo (wat hy steel en “Killer” noem), op te lei. Hy wil Leo teen die huidige kampioenhond laat veg. Ons leer ook vir Goodman ken – die Zimmermans se tuinman, wat vermoedelik die hondemanne se informant is.
Die feit dat Ossie breinkanker het, kan die leser se verwysingsraamwerk uitbrei, want Karel beleef saam met haar die verskillende fases van haar siekte intens.
Hugo speel goed tennis en wil ’n kampioen word – waarskynlik menige seun se droom. Lesers sal hiermee kan identifiseer. Hulle sal hulle ook kan inleef in die skok wanneer Bruno, Natalia se hond, Hugo aan die regterarm byt (bl 28). Nadat daar vir Hugo gebid is, herstel die arm (blykbaar).
Met die tema van godsdiens in die verhaal sal menige Afrikaanse jong mens kan identifiseer. Hoewel daar amper mee gespot word (’n “hop-skip-en-jump-kerk”, bl 169), is die rituele handelinge van die pastoor wat vir Ossie bid, roerend, veral wanneer dit aanvanklik lyk of sy gaan herstel (bl 190). Hugo meld dat pastoor Niki gesê het “die Here wil hê mens moet jou hand afkap as hy jou laat struikel” (bl 59). Die vroue van die bruin gemeenskap kom in die AGS-kerksaal bymekaar. Dat hulle hul planne teen die geweld en dwelms in hulle gemeenskap hier maak (bl 56), dui (miskien) op ’n godsdienstige betrokkenheid; dat hulle optrede die pastoor se goedkeuring wegdra. Nog ’n faset van godsdiens is James (sy van is Ngqoba en hy praat ewe goed Afrikaans en Xhosa) wat vir Karel van ’n sangoma vertel wat glo gesê het dat hy wat Karel is “lankal die hart van ’n hond geëet” het (bl 64). James vertel dat die vrou wat vir Karel-hulle gewerk het toe Karel ’n baba was, by die sangoma moetie “kom koop het ... [vir Karel] om sterk te staan. Soos ’n sterk hond” (bl 66 en 67). Karel meen dis nonsens, waarop James Karel verwyt dat hy sy kultuur beledig (bl 67).
Karel se buitengewone (amper telepatiese) gawe om met diere (spesifiek honde) te kommunikeer, was vir my (aanvanklik in die verhaal) half moeilik geloofbaar. Tog resoneer dit met ander voorbeelde uit die Afrikaanse en wêreldletterkunde (sien punt 5 hier onder), waar hoofkarakters ook telepaties met diere kommunikeer. Hierdie aspek van die verhaal kon dalk duideliker aandag gekry het en beter in die gebeure geïntegreer gewees het, sou daar aan die tienerleser (wat in ’n logies-abstrakte kognitiewe fase van denke is) ook op ’n intellektuele vlak inligting gegee kon word – veral in die lig daarvan dat die verhaal ’n alwetende verteller het.
My siening van jeugverhale spruit uit my ervaring van die onderrig van Afrikaanse jeugliteratuur aan hoërskoolleerders en onderwysstudente aan kolleges8 en die Universiteit Stellenbosch9. Dit hou daarom ten nouste met die prosesbenadering tot leespersepsie van jeugdige lesers verband. Om dié rede motiveer ek hier onder hoekom ek aan myself die uitdaging stel om te bepaal in watter mate die jeugverhaal (dalk) tot tienerlesers kan spreek.
3. Potensiaal van die jeugverhaal om met die bedoelde leser te kommunikeer
Tolkien10 onderskei tussen die sekondêre wêreld van die verbeelding en die gegewe realiteit, wat hy die primêre wêreld noem. Hoewel die sekondêre wêreld van die skrywer en dié van die leser in Baster dieselfde aard het, is die sekondêre wêreld van skrywer en dié van die leser nooit identies nie. Die transformasie van die skrywer se fantasieë tot storielyn, simbole en karakters verskil van die aktiwiteit van die leser wat sy eie verbeelding laat aansluit by wat in die teks voorkom. Aangesien Baster se hoofkarakter, Karel, en sy vriende (en dus die bedoelde leser) in die adolessente fase van ontwikkeling is, is dit gepas om op die kenmerke van dié lewensfase te let, asook op hoe die karakters (en gebeure) in hierdie kader inpas.
Adolessente is gewoonlik in ’n aktiewe fase van introversie, wat lei tot die ontdekking van die ek met ’n eie wêreld van gedagtes, gevoelens, stemminge, drange, strewes en begeertes. Dit word in Baster uitgebeeld deur die verteller se fokalisering op Karel se idees, gevoelens en dade, wat die leser sy eie unieke individualiteit kan help ontdek.
Omdat jeugdiges gedurig met hulleself besig is, neig hulle tot selfkritiek, veral wat hulle uiterlike voorkoms betref. In Baster manifesteer dit in Karel se twyfel of hy sy pa (Klaus) se biologiese kind is. Sy pa sê: “Ek het styl hare en my seun lyk soos ’n karakoelskaap” (bl 178), wat bevestig wat James reeds vroeër vir Karel oor die merkbare verskil tussen sy en sy pa se hare sê (bl 122). Karel se ontwikkeling tot volwassenheid en selfaanvaarding bring egter begrip vir sy pa se optrede en lei tot versoening wanneer sy pa sê dat hy hom as sy seun aanvaar (bl 185).
Jong mense is baie bewus van tyd, verlede en toekoms, die verganklikheid van die lewe en die betekenis van die dood. Dit hang saam met die ontwikkeling van hulle waardesisteem. Daar is dikwels sprake van “jeugdige optimisme”, gebalanseer deur konfrontasie met die dood. Hierdie proses van verdieping word sterk beïnvloed deur die waardes van mense in die jong mens se omgewing, soos ouers en onderwysers. In Baster blyk hierdie kenmerk uit Karel se droom om ’n veearts te word en sy deernisvolle versorging van Ossie en sy diere.
Kenmerkend van jeugdiges is hulle stryd om met ’n ontwikkelende geslagsdrang saam te leef wat ook tot die ontwikkeling van hul persoonlikheid bydra. In Baster is Karel en sy vriende nie net van hulle eie seksualiteit bewus nie, maar ook van die seksualiteit van die teenoorgestelde geslag. Selfs die honde (Hêppie en Juffrou) se seksuele aangetrokkenheid tot mekaar bevestig hierdie aspek.
In hierdie lewensfase worstel jeugdiges met ’n strewe na selfuiting wat gestalte vind in skoolwerk, kuns, tegnologie, stokperdjies en belangstellings. Dit kan ook uitgebeeld word in die vorm van kunsuitings waardeur die karakter se selfvorming en geestelike of kulturele ontwikkeling plaasvind. In Baster ondervind Karel ’n sterk drang en wil om die probleme waarmee hy gekonfronteer word, op te los. Hierdeur gee hy gestalte aan die waardes wat hy ontwikkel.
’n Ander kenmerk van die jeugfase is tieners se rebelsheid. Hulle word nie meer opgevoed deur woorde alleen nie en kom veral in opstand teen die voorbeeld wat mense in hulle omgewing stel. Maniere waarop Karel in Baster sy verset toon, is deur sy besluite, optrede met geld, en besoeke aan die plek waar hondgevegte plaasvind.
In die adolessente fase ontwaak daar ’n verlange en behoefte aan geesgenote, veral iemand met wie jy één kan word en wat jy kan liefhê. Verhoudings met dieselfde en die teenoorgestelde geslag word in Baster ook uitgebeeld in terme van vriendskap, wat nie noodwendig seksueel is nie. Omdat hierdie verlange dikwels idealisties is (Karel en Natalia), word Karel in hul vriendskap ontnugter (teleurgestel). Hoewel sy steeds met Karel flankeer, verkies Natalia duidelik vir Hugo bó hom.
4. Funksionaliteit van die jeugverhaal in die jeugdige ontwikkelingsproses
Hoe funksioneel Baster ten opsigte van die ontwikkeling van die adolessente leser is, kan ondersoek word deur na die funksies van jeugletterkunde te kyk. Die internasionale kenner Rita Ghesquiere (1993)11 onderskei die volgende drie funksies: die psigologies-emosionele, die informatiewe (intellektuele) en die maatskaplike funksie. Laasgenoemde hang, myns insiens, ook saam met die ontwikkeling van (inter)kulturele geletterdheid, veral in ’n diverse maatskaplike landskap soos Suid-Afrika.
Die psigologies-emosionele funksie hou veral verband met die identifiseringsproses waardeur die leser van ’n jeugverhaal uitgedaag word om oor sy eie gevoels- en ervaringswêreld, keuses en optrede na te dink.12
In Baster kan daar geïdentifiseer word met Karel deur wie se oë en ervarings die leser ’n groter gevoeligheid ontwikkel vir onderlinge verskille tussen mense van verskillende geslagte, ouderdomme en kulture. Karel leer om sy eie optrede en die gevolge daarvan te interpreteer. Dit lei daartoe dat hy minder veroordelend teenoor ander (Jannie Koch en sy pa) kan staan.
Jeugliteratuur bied aan tienerlesers kompensasie vir die onvolkomenheid van die werklikheid waarin hulle leef. Hulle kry deur die leesproses kans om van die werklikheid te ontsnap. In hierdie opsig is Baster bevredigend. Karel se posisie en wedervaringe help die leser identifiseer dat gebreke en die onvolmaaktheid van ouers en vriende aanvaar kan word: Karel bied die beste wat hy as karakter kan bied.
...
Deur die proses van biblioterapie (terapie deur middel van lees) kry jong mense onbewustelik insig in hulle eie probleme.
...
Verder is jeugliteratuur vir lesers ’n middel waardeur hulle hulself kan handhaaf en hul eensaamheid en verveling kan verminder. Deur die proses van biblioterapie (terapie deur middel van lees) kry jong mense onbewustelik insig in hulle eie probleme. Omdat lees vir jong lesers hoofsaaklik ontspanning bied, is hulle onbewus daarvan dat hulle skeppend besig is, dat hulle intellektueel ontwikkel en emosioneel groei (omdat hulle saam kan lag, of besorg is of verlies ervaar). Ook hierin slaag Baster uitstekend. Die jeugdige in hierdie leser kon as gevolg van die hoë spanning en interessante intriges, die boek nie neersit nie.
Jeugliteratuur – fiksie sowel as niefiksie, historiese romans wat in ander lande afspeel, fantasie (soos wetenskapfiksie) en diereverhale (soos Baster, waarvan Karel se verhouding met honde die hooftema is) – het ook ’n informatiewe (intellektuele en estetiese) funksie. Die lees van literatuur dra spesifiek tot subtiele taalverwerwing by: In Baster raak die leser bewus van verskillende taalvariëteite en -registers wat onbewustelik tot kognitiewe ontwikkeling bydra. Adolessente lesers van die verhaal se analitiese denke kry oefening. Die lees van die ongewone teks stimuleer hulle om na samehang en logiese opeenvolging van gebeurtenisse te soek: lewe, siekte en dood, wreedheid teenoor diere en die gevolge daarvan, die optrede van verskillende karakters – die polisie, tuinwerker, dwelmhandelaars en -mafia (bl 129). Die leser se verbeelding word aangewakker deur die proses waarin hy hom in die lewe van ander inleef, deur die herkenning van motiewe en simbole, en die bekende en die onbekende omgewing en gebeure. Karel se ongewone verhouding met honde het beslis my verbeelding as leser laat ontwikkel en my kritiese denke gestimuleer.
Letterkunde het ook ’n estetiese funksie. Dit kan die ander funksies transformeer deur ’n ewewig te skep en moralisering te voorkom. Dit gebeur in Baster wanneer die leser se aandag op die teks self gevestig word – die genre, narratiewe lyn, fokaliseerder, milieu, intrige en spanning wat met “cliff hangers” aan die einde van hoofstukke en dele van hoofstukke geskep word. So raak die leser van die kreatiewe krag van taal bewus; hier spesifiek van ongewone vergelykings en metafore wat in die verhaal voorkom: ’n “weemoed vibreer soos ’n basviool in sy stem” (bl 11); Karel voel die desperaatheid “soos ’n maagwerk in sy lyf kook” (bl 35); in die badkamerspieël “strek die hale soos rooi pluime oor sy bors” (bl 43); grafstene staan “soos skewe aangepakte tande in ’n oumens se mond” (bl 124); Karel se woorde as hy vir Ossie sê dat sy nog lank gaan lewe “is soos pap batterye in ’n flitslig” (bl 151); wanneer Ossie in ’n koma is, plak die stilte “versmorend, soos ’n troukoek se versiersuiker, op alles in die kamer” (bl 200). Aan die einde, nadat die fluitjieskare die hondemanne met vuur gedreig het en Karel se pa en sy polisiemanne opdaag, sak ’n stilte “soos motreën” oor die woelende skare (bl 219).
Die maatskaplik-sosiale funksie behels dat kontak met jeugliteratuur adolessente begelei om te sosialiseer. By die lees van ’n jeugverhaal, maak hulle (onbewustelik) keuses, sonder die invloed van portuurgenote, wat in hierdie ontwikkelingsfase nogal oorheersend kan wees. Deur die lees van Baster maak die leser, saam met Karel, met die samelewing se vooroordele, gedragspatrone, waardes en norme kennis – veral in terme van diversiteit van kulture en geslagte, godsdienstiges en niekerkgangers, ryk en arm. Deur Karel se lewe word die leser genooi om aan die proses van aanpassing en leer deel te neem. Daar word gesien watter rolle ’n mens in die samelewing moet en kan speel. In Baster, spesifiek, word daar na diefstal, dwelmsmokkelary, geweld teenoor diere en vroue, moontlike egskeiding, onbeplande swangerskap, breinkanker en tienerseksualiteit verwys. Só vind kultuuroordrag plaas. Lesers raak (saam met Karel) bewus van hulle vryheid, regte en verpligtings. Die individu word begelei om homself as deel van ’n geheel te sien, aldus Carlsen (aangehaal in Ghesquiere 1993:120):
Literature by its very nature is selective and suggests integrations, connections, insights into experience, and values which the individual [reader] might not otherwise find for himself. At the best literature confronts the reader with the basic eternal problems of human beings, thus helping the individual to see himself as a part of an ongoing history.
Deur lesers aan betrokke (“engagement”-)literatuur bloot te stel, kan ook hulle etiese standpunt in die ontginning van die probleme van menswees ontwikkel word, soos in Baster die geval is. Die karakters kom uit verskillende kulture en samelewingsgroepe en die leser word met die waardes, keuses en optrede van karakters uit verskillende bevolkingsgroepe gekonfronteer.
Baster kan ook as multi-kulturele jeugliteratuur gesien word, aangesien dit aan die volgende kriteria en vereistes vir kulturele geletterheid13 voldoen:
Die perspektief van die alwetende verteller en fokalisasie op gebeure, woorde en gevoelens is betroubaar. Hoewel die hond se perspektief ongewoon is, is dit funksioneel binne die kader van magiese realisme. Die leser kan in Karel se skoene staan. Sodoende word empatie vir diere en die ingewikkelde verhoudings tussen mense gewek. Die leser se verbeelding kan ontwikkel. Die verhaal berus nóg op ’n pessimistiese nóg op ’n optimistiese (eensydige) verdraaiing van die werklikheid. Hoewel die geweld en smokkelaary ’n ernstige, problematiese situasie is, bring mense wat saamwerk ’n (meer) gebalanseerde werklikheid tot stand.
...
Deur lesers aan betrokke (“engagement”-)literatuur bloot te stel, kan ook hulle etiese standpunt in die ontginning van die probleme van menswees ontwikkel word, soos in Baster die geval is.
...
’n Kulturele uiting wat die spanning verlig wat in Baster met wreedheid en geweld saamhang, is humor. Situasies wat ek nogal lagwekkend gevind het, was die verteller se (makabere) fokalisasie op Karel se pa, Klaus, wanneer hy eet of koffie drink. “Hy pen met sy vurk ’n vierkantige homp pienk vleis en ’n gebakte aartappel vas ... Hy skraap ’n paar ertjies ... en bring alles soos in ’n skopgraaf mond toe. Die vrag verdwyn onder die snor in sy wye tonnel ... Sy kake maal so sterk dat sy tande opmekaar klap” (bl 14); “Hy kou sodat sy snor op en af wip” (bl 15); “Sy mes kloof die biefstuk in reghoeke” wat in sy mond verdwyn (bl 16) en hy slurp koffie “met drillende lippe” (bl 128). Aan tafel maak Klaus ’n grappie en sê dat hy ook hondetaal verstaan: “Hoe sê ’n mens ‘inbreker’ in hond? ... ‘Woef!’ ... en ‘twee inbrekers’ in hondetaal? Woef-woef!” Hierdie keer “kraai hy met gemaalde kos wat sy mond vol lê” (bl 15). Later beduie hy “met sy piesangtros-hande” na Karel (bl 86).
’n Leser wat so oud soos die hoofkarakter is, behoort met Karel en sy vriende, hulle belangstellings en optrede te kan identifiseer. So kan die uitwerking van die teks, en veral Karel se karakter, ’n verbeterde selfbeeld en selfrespek by die leser help ontwikkel. Die tieners in die verhaal (Karel, Hugo, Natalia en Ossie) is baie gesteld op hulle voorkoms en elkeen word tydens die gebeure met onvolledigheid en gebrokenheid gekonfronteer. Hier dink ek veral aan Hugo, wat die gebruik van sy tennishand (tydelik) verloor, en aan Ossie, wat nie net teen gewigstoename nie, maar later ook teen kanker veg sodat sy uiteindelik nie kan kry waarna sy so dringend verlang nie (’n intieme verhouding met Karel).
Soos ek hier onder aantoon, is die literêre kwaliteit (tema, karakterisering en agtergrond) in Baster van ’n hoë gehalte. Die multikulturele wêreld in Reservoir Hill word akkuraat en gebalanseerd uitgebeeld. Ten spyte van die gewelddadigheid bied die verteller ’n menswaardige beeld van ander kultuurgroepe – die vroue wat met hulle fluitjies optree om mekaar te help en vrede in die bruin gemeenskap wil bewerkstellig, dra by tot balans in hierdie samelewing. Die teks lig universele waarhede uit: Liefde is sterker as haat en verwyte; samewerking is beter as apartheid en isolasie. Hoewel die teks morele waardes en etiese beginsels belig, kom dit nie as sedelesse of preke na vore nie, ook nie as politieke propaganda nie.
’n Deel van kulturele geletterdheid behels dat jeugverhale aan kontekstuele en omgewingskwessies aandag behoort te gee. In Baster word die probleme en konflik tussen kulture in die land verskeie kere vermeld. Die dwelmbaas, Clive Davis, noem Karel “die nazi se seuntjie” (bl 125); hy praat van “die Boere” wat alles wil regskiet; “ander wil alles reg bliksem. Jy wil alles reg betaal. Waar vat julle onse land heen?” (bl 211). Karel se pa praat van mense wie se lewe in gevaar is en sê menselewens is belangriker as hondegevegte (bl 79). Veronica sê: “Mens sou sweer ons honde sien al ons land se violence op die TV” (bl 73). Ossie se ma lewer kritiek omdat misdadigers gevang word, maar “dan loop ... [hulle] net die volgende dag op borgtog uit” (bl 86). Karel se pa wil sorg “dat ons dorp ’n veilige plek is. Ons kinders moet in die strate kan rondloop sonder om bang te wees ... Kyk net hoe lyk ons land. Kyk daar op die TV” (bl 96).
Verskillende groepe se kultuur word in Baster nie net in terme van godsdiens, feesdae en tradisies uitgebeeld nie, maar ook deur omgee en verset. Ons sien dit wanneer Veronica en haar medewerkers aktief tot vrede bydra. Met hulle fluitjies en aanstekers eis hulle dat die kinders (Karel-hulle) vry gaan, en sê: “Ons is almal sat vir julle drug lords” wat geld maak “uit onse ellendes uit” (bl 212). Karel se kontekstuele oriëntasie en besorgdheid oor die hondegevegte help dat hy tot die oplossing van ’n omgewingsvraagstuk bydra, naamlik wreedheid teenoor honde en teenoor vroue.
5. Literêre teksgehalte
Styl, genre en register
In Baster is die skrywer se styl tipies dié van magiese realisme. Magiese (fantasie-)elemente (die gedagtes van diere en die hoofkarakter se kommunikasie met hulle in skuinsdruk) word met die alledaagse werklikheid verweef. As sodanig kan die verhaal op die rak staan van wêreldletterkundige tekste waarin magiese realisme voorkom, soos Robin Hobb se The Rain Wild Chronicles, Tawny Man en die fantasietrilogieë Farseer en Liveship Traders waarin mense en drake (en ook ander diere) en selfs skepe telepaties met mekaar kommunikeer. Bekende TV-reekse, soos Game of thrones14 en Merlin15, en die film en roman Horse whisperer16, word gekenmerk deur magiese realisme onderliggend aan die verhale. Baster kan ook netjies in dieselfde asem as Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Francois Bloemhof, CJ Langenhoven en Eugène Marais se immergewilde spookverhale genoem word. Vergelyk ook Die beste Suid-Afrikaanse spookstories (2015) deur Wendy Maartens. Dit blyk ’n gewilde stylsoort in Afrikaans te wees.17
Rita Ghesquiere (1993) meen dat die funksies van jeugletterkunde dit spesifiek van die gewone roman onderskei. ’n Vroeë kenner van Afrikaanse jeugletterkunde, Elsabé Steenberg (2013), noem dat jeugverhale dikwels novelles is en oorgangsliteratuur genoem word.18 In die proses van hulle groei uit selfgenoegsaamheid reik jeugdiges vooruit na volwassenheid. Dié vooruitreiking word in hierdie subgenre gereflekteer. Hiervolgens kan Baster as ’n tipiese jeugnovelle as subgenre van literêre fiksie gesien word.
Onderskeid kan gemaak word tussen die narratief in die roman as letterkundige teks en die novelle. Die novelle beeld ’n element van die skandalige uit – ’n opspraakwekkende gebeurtenis wat die inspirasiebron van die novelle is. Binne ’n geslote gemeenskap met sy eiesoortige gedragspatrone en norme kan, op voorwaarde dat dit ’n geslote gemeenskap bly, die skandaal aanvaar word en die gevolge daarvan uit die weg geruim word. Die teenwoordigheid van ’n andersoortige sosiale klas kan egter ’n botsing van belange en gedragspatrone tot gevolg hê.
Binne hierdie raamwerk neem die skandalige gebeurtenis ’n ander toonaard aan en die spanning of konflik tussen die individu en die gemeenskap word in die novelle toenemend belangrik. Oor die algemeen is dit waar dat hoe interessanter die persoonlike of individuele geval is, hoe belangriker die tema van konflik tussen die individu en sy of haar milieu word. Daarom kan ’n mens sê dat die element van konflik die fundamentele en belangwekkendste gegewe in die moderne novelle is. Hierdie tipiese vormbewustheid was eeue lank bepalend vir die essensiële element van die novelle, waar die formele hoedanigheid (van die gekanoniseerde roman) onlosmaaklik verbind was met die argetipiese drang van die skrywer om ’n interessante gebeurtenis uit die lewe oor te vertel. Sodoende word nuuswaardige insidente en vormlike aspekte basiese bestanddele van die novelle. Die “moderne” novelle het ontstaan toe die gevestigde, formele samelewingsverbande vloeibaar en gevolglik problematies begin word het.
Myns insiens kan Baster gesien word as ’n novelle sonder die formele hoedanighede van die roman se narratief as gevolg van die skandalige gedragspatrone van die antagonis, Dagger – sy organisering van wrede hondgevegte in die vorm van wedstryde met bieërs (waar die persoon met die hoogste bod wen) en die wyse waarop hy die honde in die hande kry. Dit stem ook ooreen met wat Steenberg (eindnota 18) meen, naamlik dat in jeugverhale veral die novelle verken en ontgin word.
Die register is kenmerkend van multikulturele verhale, waar die dialoog van verskillende karakters die sleng of sosiolek van hulle spesifieke sosiomaatskaplike agtergrond laat hoor.
Intrige en spanning
Baster bevat verskeie intriges (“plotte”), soos dit deur die verhoudings tussen karakters (en honde) gemanifesteer word. Die skrywer se “cliff hanger”-tegniek (draaipunte of sogenaamde “plot points”) aan die einde van sekere hoofstukke en dele van hoofstukke is tekenend van misdaadfiksie en ander spanningsverhale19. Hierdie literêre stylvorm veroorsaak spanning wat meebring dat die leser die boek nie kan neersit nie. Die gewone Griekse dramatiese struktuur (eksposisie, stygende handeling/gebeure, klimaks, dalende handeling/gebeure en ontknoping20) word deur sulke draaipunte onderbreek en veroorsaak velerlei oop plekke wat die leser se verbeelding onbewustelik self invul. Dit lei herhaaldelik tot die besef dat hy reg of verkeerd was.
Soos reeds genoem, is ’n kenmerk van die novelle dat dit oor ’n skandaal in die gemeenskap handel. In Karel se verhoudings leer ons die basiese konflik van die verhaal ken: Hy verset hom teen die skandalige gedragspatrone van die antagoniste, Dagger en Scar, wat wrede hondegevegte in die vorm van wedstryde met bieërs organiseer (die een met die hoogste bod wen). Hy verset hom teen hoe Dagger en Scar die honde in die hande kry (met die medewerking van informante soos Goodman, wat in Karel-hulle se tuin werk, en dwelmbase soos Clive Davis, bl 212) en teen hoe hulle die honde aanpor en motiveer om te veg “met steroids” (bl 214).
Sekondêre konflikte speel af tussen Karel en sy pa. Klaus is in die polisiemag en stel vir sy seun perke ten opsigte van sy bewegings (veral in die gebiede waarheen Karel gaan om agter te kom wie die honde so wreed mishandel). As gevolg van die verskil in hul velkleur en hare (bl 68) twyfel Karel of hy sy pa se biologiese kind is. Later veroorsaak dit groot spanning in die huishouding en die moontlikheid van egskeiding ontstaan, want Karel is sy ma se kind by ’n sendeling. Die kwessie word wel opgelos; beide Karel en Klaus besef hulle sou dit nie anders wou hê nie; dat hulle soos pa en seun lief is vir mekaar en mekaar aanvaar en ondersteun. Klaus sê: “Ek sien net my seun raak” wanneer hy na Karel se bos swart krulhare kyk (bl 185). Karel sê aan die einde: “Ek wil net een ding vir Pa sê. Klaus Zimmerman sal my enigste pa bly” (bl 219). Nog redes vir konflik tussen Karel en sy pa is Karel en Ossie se ontluikende seksualiteit, Ossie se kanker, en haar hond, Leo, wat deur Dagger gesteel word om ander honde in gevegte te verbrysel.
Volgens my interpretasie van die intriges en konflikte is daar in Baster meer as een klimaks. Enersyds is daar Karel se verhouding met Natalia, wat ten einde loop wanneer haar hond (Bruno) Hugo aan sy tennisarm beetkry. Daar is Karel en Ossie se ontwikkelende verhouding, wat verdiep namate Ossie se kanker vererger totdat sy in die hospitaal beland en uiteindelik sterf. Karel se verhouding met sy pa, Klaus, loop op ’n krisis uit wanneer Klaus Karel se DNS laat toets en vasstel dat hy nie Karel se biologiese pa is nie. Nog ’n klimaks is die verhouding tussen Dagger en Poppie, wanneer Dagger haar en haar minnaar (die buurman) doodmaak. Die groot klimaks van die verhaal kom wanneer Baster uiteindelik teen Killer moet veg (die situasie waarmee die verhaal begin) en die vroue van die bruin gemeenskap tot optrede oorgaan. Hulle blaas aanhoudend op hulle fluitjies en dreig met vuur – totdat kaptein Zimmerman en sy polisiemag intree. Hierdie klimaks gaan gepaard met fisiese gebeure en baie emosionele spanning, wat aanhoudend verhoog. Dit is tegelykertyd ’n krisis wanneer Karel se pa en sy polisiemanne Dagger in hegtenis neem en Scar by dieselfde vangwa ingeboender word (bl 218).
...
Baster bevat ’n verskeidenheid uiteenlopende karakters van verskillende sosio-maatskaplike agtergronde en geslagte (met betrekking tot beide ouderdom en seksualiteit) en selfs diere. Elk van hierdie karakters word goed uitgebeeld. Hoewel daar duidelike hoof- en newekarakters is, is daar nie oorheersende stereotipes nie.
...
Karakterbeelding
Baster bevat ’n verskeidenheid uiteenlopende karakters van verskillende sosio-maatskaplike agtergronde en geslagte (met betrekking tot beide ouderdom en seksualiteit) en selfs diere. Elk van hierdie karakters word goed uitgebeeld. Hoewel daar duidelike hoof- en newekarakters is, is daar nie oorheersende stereotipes nie. Selfs waar ’n mens stereotipie verwag (soos by Klaus met sy Duitse agtergrond, die tuinier, of die antagonis Dagger wat vir Poppie sorg), word die stereotipe telkens deurbreek, want die karakter tree uiteindelik so te sê “buite karakter” op – deur goed te doen in plaas van sleg. Konstabel Jannie doen uiteindelik tog sy werk en is nie ’n hondedief, soos Dagger hom noem nie (bl 217). Klaus, wat deur sy vrou bedrieg is oor wie Karel se werklike pa is, maak vrede deur lief te hê in stede van te haat of te verwyt. Die vroue met hulle fluitjies wat met vuur dreig, bring in plaas van om ooglopend apart en apaties te bly, vrede. Hulle staan saam en neem standpunt in.
Agtergrond, milieu (tyd en ruimte)
Ruimte is een van die sogenaamde skeppingselemente wat binne die skryfkuns tot die kreatiewe skrywer se beskikking is en saam met tyd, karakter en gebeure deel uitmaak van die vier vertelkategorieë van die narratologie wat ook die vier skeppingselemente van die skryfkuns is21. Dit gaan in ’n jeugverhaal om die “vertel” van die storie, die transformasie van die data van ’n lewe in die vorm van ’n narratief: die skep van ’n narratiewe identiteit, ’n fiktiewe wêreld, al sou dit op die werklikheid gegrond wees. Die ruimte van die roman is dan per definisie ’n fiktiewe ruimte, al sou dit direk verwys na ’n lokaliteit wat in die werklikheid net so bestaan.
Epiese ruimte is ’n gepersonaliseerde ruimte, die ruimtelike van die fiktiewe wêreld waarin die epiese handeling plaasvind (Du Plessis 2013; Burger 2018). Plekke en objekte bestaan in Baster nie ter wille van hulleself nie, maar ter wille van die betekenis wat dit vir die karakters het. Plekke van handeling en die ruimtelike kenmerke van dié plekke vorm daarom epiese speelruimtes of belangeruimtes eerder as blote lokaliteit. As epiese ruimte kan ons, ter wille van die bespreking, praat van die fiktiewe plek in Baster waar die handelinge van die karakters op ’n bepaalde tyd gebeur. Hierdie plek moet onderskei word van die werklike ruimte waarop die fiktiewe ruimte gebaseer is. Ons kan wel aanvaar dat die werklike tyd en ruimte waarin die skrywer hom bevind, ’n uitwerking op die psige van die mens het. As dit waar is, het die fiktiewe ruimte van die roman ’n soortgelyke (oop) uitwerking op die leser. Dit hoef nie té spesifiek te wees nie. Hierdie soort oop plekke in Baster kan wel daartoe bydra dat die leser deur middel van sy eie verbeelding of ervaring die agtergrond in die verhaal inlees.
Die epiese ruimtes in Baster is Reservoir Hill, wat naby die see is; ’n bekende park (Lover’s Lane), waarheen verliefdes gaan; die hospitaal, waar Ossie behandel word; en die gevegsgat. Daar is ook heelwat verwysings na items in die hedendaagse samelewing waarmee jeugdige lesers sal kan identifiseer, soos Coke, Shield, DNS, WhatsApp-boodskappe, ’n selfoon met ’n “find me”-app, Special Assignment, die SPCA, Shoprite ... Ossie ry met ’n Mini Cooper, haar ouers in ’n Pajero, Jannie Koch het ’n Hyundai Sonate en die pastoor ’n swart Mercedes; Karel moet vir Hugo help om kondome te koop; Klaus het ’n La-Z-Boy-stoel; die polisie meen Leo is Kaapstad toe geneem in ’n Amarok (Volkswagen) met ’n CA-registrasienommer wat ’n Venter-waentjie sleep. Ossie se kop lyk ná haar breinoperasie soos ’n valhelm wat met verbande toegedraai is (bl 198); ná chemo-behandeling lyk sy soos ’n goed gegrimeerde kaalkop Japannese robot (bl 220).
In Baster skep die verteller met spesifieke voorbeelde soos hier bo ’n narratiewe ruimte wat fisiese ruimte, denkruimte en sosiale ruimte letterkundig uitbeeld. Ook intieme ruimtes kry betekenis, soos huise (Karel, Ossie, Hugo, Poppie en Veronica s’n) as konkrete ruimtes, terwyl sosiale ruimtes (die hospitaal en die gevegsgat) die spanning tussen individue en die gemeenskap belig. Laasgenoemde verwys spesifiek na die spanning in verband met wreedheid teenoor honde. Verder is daar in die verhaal oop ruimtes (die park, see en fliek) met geslote ruimtes daarteenoor wat fisiese, psigiese, politieke of sosiale beweegruimte beperk. Soos dit in die hondehokke en gevegsgat gaan, of met Baster (toe nog Hêppie) vasgemaak aan ’n paal, word Ossie voor haar dood as gekluister aan haar hospitaalbed uitgebeeld.
In die lig van bogenoemde bespreking met betrekking tot agtergrond is dit vir my duidelik dat die skrywer ’n ryk sekondêre (literêre) werklikheid skep wat deur al die karakters (mense en diere) en gebeure in Baster bevolk word.
Intertekstualiteit (teks, subteks en metateks)
Greyling (2009)22 fokus op paratekste in jeugliteratuur en hoe dit tot betekenis van die fiktiewe werklikheid bydra. Paratekste is nie primêr deel van die teks nie, maar kan as uitbreiding daarvan gesien word. Deur middel van die sub- en metatekste vestig die verteller-skrywer-karakter, volgens Greyling, die leser se aandag op die aanbiedingswyse as sodanig. Hierdeur word die karakters verlewendig en ’n fiktiewe wêreld gesuggereer wat omvattender as die betrokke teks is. Die karakters bestaan as ’t ware ook buite die teks.
Baster handel spesifiek oor Karel se liefde vir en empatie met diere en sy vermoë om met hulle te kommunikeer. In dié verband verwys die subteks wat aan die begin van die boek gevind word – “To all the dogs I loved before” – moontlik na Hal David en Albert Hammond se liedjie “To all the girls I’ve loved before”, wat deur Julio Iglesias en Willie Nelson se trefferopname van 1984 bekend geword het.
Vermeulen het self twee honde, Roxy en Teezoh (21 November 2020).23
Daar is een metateks wat ek kon raaksien wat as ’n interteks vir Baster dien. Dit is waar Natalia vir Karel, as gevolg van sy verhouding en kommunikasie met honde, as ’n “dog whisperer” beskryf (bl 10). Soos genoem, verwys laasgenoemde na die bekende roman en film The horse whisperer. Dit word dus ’n teks binne die fiktiewe teks.
...
Swart word in literatuur gebruik om boosheid, dood, mag en vrees te simboliseer. Daarenteen word geel met vreugde, geluk, intellek en energie geassosieer – dit is ’n stimulerende kleur wat eer, lojaliteit en geestelike aktiwiteit stimuleer.
...
Paratekste wat my opgeval het, was die voor- en agterblad van die boek. Die voorblad wat uit die boonste helfte van Baster se kop en die onderste helfte van Karel se gesig bestaan, trek alreeds die leser se aandag. Vir my was die oorvloedige donkergeel op beide die voor- en agterblad ’n vraagstuk; ek het moeite gehad om dit te interpreteer. My soektog na die simboliek van die kleur het die volgende resultaat24 opgelewer: Swart word in literatuur gebruik om boosheid, dood, mag en vrees te simboliseer. Daarenteen word geel met vreugde, geluk, intellek en energie geassosieer – dit is ’n stimulerende kleur wat eer, lojaliteit en geestelike aktiwiteit stimuleer. Dit bevestig wat ek tydens die herlees ontdek het, naamlik dat Dagger Veronica ’n “geelslang” noem (bl 75), wat dalk daarop kan dui dat sy en haar medewerkers ’n deel van die oplossing in die groter prentjie in die verhaal is wanneer sy en haar vriendinne met fluitjies en hulle dreigement om brand te stig die hondemanne se planne dwarsboom. Aan die ander kant is daar Hêppie wat die “geel harktande” sien van die kortbeenhond wat na Dagger toe kom om die katjie Pikkie as voorgereg te kry. Dit dui vir Hêppie op “groot, groot moeilikheid” (bl 121) – ’n vermoede wat die oorvloedige gebruik van swart op die voorblad en onderaan die agterblad by die leser bevestig. Dit is vir my duidelik dat kleure ’n oop plek in die verhaal is en op meer as een manier geïnterpreteer kan word.
Verteller en dialoog
’n Onderskeid kan gemaak word tussen narratiewe stem en fokalisering wanneer ’n mens ’n narratiewe interpretasie maak (Burger 2018: 103, 121).25 Hiervolgens kan in letterkundige jeugtekste – soos Baster – nagegaan word in watter mate ’n eksterne derdepersoonsverteller (abstrakte/implisiete outeur) geïdentifiseer kan word wat nié aan die storie deelneem nie, wat intieme kennis van die karakters se innerlike gevoelens en gedagtes het en teenwoordig is wanneer die karakters veronderstel is om alleen te wees.
In verband met eksterne fokalisering26 kan gemeld word dat Baster objektief en neutraal lyk, aangesien die gebeurtenisse nie vanuit die standpunt van enigeen van die karakters uitgebeeld word nie. Tog is daar ook ’n element van interne karaktergebonde fokalisasie waar die fokalisering van Karel na die newekarakters (en ook vanuit Baster se oogpunt) wissel en dit die leser ’n goeie beeld gee van die oorsake van die konflik tussen die verskillende karakters.
Ten opsigte van die fokaliseerders27 in Baster is dit duidelik dat die fokalisering nie staties is nie. Dit beweeg tussen gepolariseerde groepe (Karel, sy ma en pa en vriende teenoor Dagger en die persone in sy omgewing) en verskuif dinamies van buite (die agtergrond/milieu) na binne (die gevoelens en gedagtes van karakters). Die fokalisering is ekstern wanneer die derdepersoonsverteller die fokaliseerder is en op die karakters, hulle handelinge en die ruimte fokus.
Wanneer die fasette van fokalisering in ag geneem word, is dit duidelik dat die perseptuele (sintuiglike) faset veral aan die orde kom wanneer die ruimte of atmosfeer uitgebeeld word soos wat karakters dit sien. Ek noem ’n paar voorbeelde: Karel sien Jannie Koch se motor voor Ossie-hulle se huis geparkeer (bl 62); hy sien hoe Jannie vir Ossie aanstaar (bl 70); die merke teen Hugo se kop waar hulle eie hond hom gebyt het (bl 77) en die nattigheid in sy ooghoek (bl 78); hy sien dat Natalia sy boodskap gelees het, maar nie geantwoord het nie (bl 80); hy sien die waarskuwing in Leo se slaperige donker oë (bl 81); ook die stukkende slot aan die traliehek by Ossie se huis (bl 82). Hêppie sien die blou of rooi ligte daar onder beweeg en hoor die sirenes (bl 83); hy sien die stekelrige snorbaard in Poppie se handspieël, die bruin vlekkie bokant elke oog, die swart ore – die helte van een is afgeskeur, die ander een staan effens regop, in die helfte geknak (bl 87); hy sien vir Leo in Dagger se traliekrat en dit is die mooiste dier wat hy al ooit gesien het, geheimsinnig en gevaarlik (bl 88).
Op dieselfde manier kan die verhaal tydens die leesproses ontleed word met betrekking tot voorbeelde van dinge wat die karakters ruik, proe, hoor of deur hulle tassintuig ervaar en gepaardgaande gevoelens wat daardeur gewek word, aangesien sintuiglike fokalisering van die ruimte in Baster dikwels die fokalisering van die gemoedstoestand of situasie van karakters versterk. Tegelykertyd dien die ruimte as beklemtoning van Karel se verwardheid en konflik oor watter waardes hy in homself kan integreer om sy identiteit te bevestig.
Wat die psigologiese faset van fokalisering betref, word die karakters se gedagtes, emosies en selfs verbeelding gefokaliseer. Dit sluit in kennis (bewussyn, wete en besef), vermoede (gissing en veronderstelling), mening (geloof en oortuiging) en geheue. Meestal is die derdepersoonsverteller in die emosionele en ideologiese komponente van die teks neutraal, objektief en onbetrokke – die waardes word hoofsaaklik ideologies, uit die perspektief van die karakters gefokaliseer. Dit is interessant dat veral die momente van spanning en konflik in Baster intense emosionele en ideologiese ladings dra: Baster wens Poppie was hier (bl 30); in die gevegsgat wens hy die dood wil kom (bl 6); hy verbeel hom hy hoor Karel se stem ... maar dit is net hoop wat sy verbeelding aanvuur (bl 6, 7); hy wens Karel en sy huismense wil ophou om met ’n opgerolde koerant teen goed te slaan sodra hy sy been in die huis lig (bl 180). Karel wens hy kon iets doen om Hugo te help (bl 78); hy wens hy kon die vraag terugtrek toe hy vir Ossie vra hoe lank sy nog gaan lewe, dat hy die gesprek van vooraf kan begin, dat hy kon gaan water afslaan (bl 100). Ossie wens Karel kon by haar oorslaap (bl 148). Karel se pa wens hy kon Bruno “vrekskiet” omdat hy vir Hugo gebyt het en Hugo ’n inspuiting teen hondsdolheid moes kry (bl 34).
Die ideologiese fokalisering van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is in Baster sowel implisiet (wat die fokalisering van karakters betref) as eksplisiet (soos gefokaliseer deur die karakters). In Baster se ideologiese konteks bied die narratiewe stem die ideale geleentheid om waardes oor te dra sonder dat ’n mens enigsins die gevoel kry dat daar gepreek word, of dat politieke propaganda verkondig word. Dit maak dit vir die verteller ook moontlik om stereotipes objektief te fokaliseer (soos vroeër genoem). Subjektiewe fokalisering van karakters lig verder tipiese stereotipes uit soos die karakters dit self waarneem.
Terwyl die narratief in die novelle gewoonlik streng epies van begin tot einde vloei, het die skrywer van Baster verkies om die sentrale konflik op ’n epies-dramatiese wyse aan te bied: Die verhaal begin met die einde en eindig ná die gebeure aan die begin. Die sintaksis en dialoog (sowel as Karel se interne gedagtegang) word benut om die konflik te beklemtoon. Ten slotte is die epiese doelstelling van die skrywer van hierdie jeugteks dié van versoening waarin die konflik opgelos word. Die beweging tussen die begin, die einde en sentrale gebeure veroorsaak nie net spanning nie; daarmee word die hoofhandeling in die rigting van die moment van rus en vrede gestuur.
Die dialoog is oral funksioneel, outentiek en pas by die onderskeie karakters. Die gebruik van sleng waar dié soort taal byna die norm is, is aanvaarbaar veral omdat die betrokke sleng- of informele woord telkens redelik bekend is en die deursnee-tienerleser dit waarskynlik onmiddellik sal herken en verstaan. Wat veral opval, is Karel se innerlike monoloog, en ook sy innerlike dialoog met sy spieëlbeeld. Verder is daar ook Dagger en Scar, die hondemanne, se kragwoorde, waarmee hulle brutaliteit uitgebeeld word.
Universele tema
Die vraag wat in hierdie onderafdeling gevra kan word, is: Wat is die waarheid? Is dit wat in Baster verbeeld word, waar – of nie? Oor die waarde van fiksie as iets wat fiktief of onwaar is, en oor die verhouding tussen waarheid en fiksie, is en word daar baie gefilosofeer. Fiksie het met ’n bepaalde beeld of siening van die werklikheid te make, maar is nie “waar” in die gewone sin van die woord nie28. Die feit bly: Die skep van fiksionele tekste is ’n belangrike en gewilde vorm van kommunikasie waarin ’n siening van die werklikheid op konkrete wyse uiteengesit, weergegee en aangebied word.
Daar kan moeilik ’n bepaalde funksie aan jeugfiksie toegedig word, hoewel daar maniere is – soos vroeër bespreek – waarop jeugliteratuur in ’n leser se spesifieke ontwikkelingsfase funksioneel kan wees (sien paragraaf 4 oor die funksies van jeugfiksie). Algemeen word egter aanvaar dat jeugfiksie geskep en op ’n bepaalde manier aangebied word om te vermaak, die ontvangers of lesers daarvan te laat dink en te laat ervaar, hulle te boei, hulle te interesseer, hulle mee te voer en hulle te bring tot meelewing met die karakters en verhaal.
Wat wel waar is, is dat daar in Gauteng georganiseerde onwettige hondegevegte plaasvind (volgens die koerant waarvan Jan Vermeulen vertel, eindnota 2), en dat dit vir wetstoepassers ’n bykans onmoontlike taak is om dié bedryf hok te slaan. Verder is dit vir my waar dat die alwetende derdepersoonsverteller die werklike situasie in die fiktiewe jeugverhaal meesterlik uitbeeld in ’n ryk en verweefde sekondêre werklikheid met uiteenlopende karakters, epiese en intieme ruimtes, intertekste, spanning en intriges, probleme en konflik, en les bes: oplossings.
Uiteindelik word daar in Baster universele temas uitgebeeld van gewelddadige samelewings, onverwagte hulpbronne en steunselsels in moeilike omstandighede, die ontwikkeling van Karel se eie identiteit, liefde teenoor haat, samewerking teenoor apartheid, en wreedheid teenoor deernis met betrekking tot diere – wesens wat “driehonderd miljoen reuksenuwees het” teenoor die mens se ses miljoen (bl 10).
6. Slotopmerking
Vir my as leser was die kreatiewe vergelykings en metafore, ook die outentieke taalgebruik, die gebruik van Karel se innerlike monoloog en dialoog, die digverweefdheid van karakters en gebeure uitsonderlik en verfrissend. Dit is vir my asof Karel se twyfel, onsekerheid, bekommernisse oor die hondegevegte en sy ingewikkelde verhouding met sy pa, Klaus, gebalanseer word deur sy sintuiglike waarnemings en kreatiewe taalgebruik. Hiermee salueer ek die skrywer.
Eindnotas en verwysingsbronne
1 https://www.graffitiboeke.co.za/af/a/Soek/0/title+ASC/Jan%20Vermeulen
2 https://www.litnet.co.za/lapa-jeugromankompetisie-2019-n-onderhoud-met-jan-vermeulen/
3 https://www.littera.co.za/product/asem-jan-vermeulen
4 Agterblad van Baster deur Jan Vermeulen. 2020. Pretoria: Lapa-Uitgewers
5 Rossouw, MA. 2013. Resepsieteorie. In Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by: http://www.literaryterminology.com/index.php/r/199-resepsieteorie
6 Joubert, MM. 2001. Die leesbelangstelling en leesgewoontes van Afrikaanssprekende tienderjariges in Pretoria. MInf-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.
7 Venter-Lessing, N en M Snyman. 2017. Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed. LitNet Akademies (Opvoedkunde), 14(3). https://www.litnet.co.za/aspekte-wat-kinders-se-leesmotivering-beinvloed/
8 Kruger, E. 2003. Die gebruik van Wit oemfaan (FA Venter) in ’n imagologiese raamwerk vir die onderrig van Afrikaans as addisionele taal. Literator, 24(3):57–83.
9 www.boekwurm13.wordpress.com
10 Combrink, L. 1990. Die rol van die leser in die literêre kommunikasiesituasie. Die Unie 86 (7, 8, 9).
11 Ghesquiere, Rita. 1993. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Amersfoort: Acco Leuven.
12 Vir die leser word die manlike voornaamwoorde (hy, sy) gebruik, omdat die hoofkarakter (Karel) ’n seun is. Indien meisies hierdie boek lees, sal dieselfde identifikasie nie presies kan plaasvind nie, maar die groei in karakter wel.
13 Combrink, L. 1996. Kulturele geletterdheid en multikulturele onderwys. Tydskrif vir Taalonderrig, 30(1):1–16.
14 https://en.wikipedia.org/wiki/Game_of_Thrones
15 https://en.wikipedia.org/wiki/Merlin_(2008_TV_series)
16 https://en.wikipedia.org/wiki/The_Horse_Whisperer_(novel)
17 https://www.questia.com/library/journal/1G1-180556044/van-spoke-gepraat
18 Steenberg, E. 2013. Jeugliteratuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. Pretoria: Haum Literêr http://www.literaryterminology.com/index.php/j/78-jeugliteratuur
19 Meyer, Deon. 2005. ’n Praktiese ondersoek na die speur- en spanningsroman met spesifieke verwysing na die werk van Michael Connelly, John le Carré, Ian Rankin, Lee Child en Frederick Forsyth. MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch. Beskikbaar by: https://core.ac.uk/download/pdf/37320492.pdf
20 In Meyer 2005:9.
21 Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3):341–61.
22 Greyling, Franci. 2009. Die skepping van die fiksionele wêreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel van die kreatiewe gebruik van paratekstuele elemente. Mousaion, 27(2):209-226.
23 https://www.rsg.co.za/rsg/foto/jan-vermeulen-en-sy-honde-roxy-en-teezoh/
24 https://www.color-meanings.com/color-symbolism-in-literature-what-do-colors-mean-in-literature-and-poetry/
25 Burger, W. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.
26 Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative fiction: Contemporary poetics. Londen: Methuen.
27 Bal, M. 1986. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.
28 Du Plooy, H. 2013. Fiksie. In Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by: http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/13-f/42-fiksie
Kommentaar
Estelle, ek is nie 'n taalkundige of 'n letterkundige nie, maar al wat ek kan sê is dat ek nog nooit, nie net so 'n uitgebreide nie, maar so 'n volledige, kundige, intellektuele, gesubstansieerde en professionele resensie van enige boek teëgekom nie. Ek weet nie eers hoe om vir Estelle Kruger hiermee geluk te wens nie. Vir my is hierdie akademiese-resensie-essay 'n akademies-letterkundige kunswerk in eie reg. WOW!
Dankie, Prof!