Naaswenner Jan Vermeulen praat met Naomi Meyer oor sy boek in LAPA se jeugromankompetisie van 2019.
Jan, vertel my asseblief van jou manuskrip wat vanjaar op LAPA se kortlys vir jeugromans is. Wat was die inspirasie vir jou verhaal?
Die vonk vir die verhaal was ’n uitgebreide koerantberig oor georganiseerde onwettige hondegevegte in Gauteng en die bykans onmoontlike taak van wetstoepassers om die bedryf hok te slaan. Die lotgevalle van hierdie uitgelewerde diere het my aan die hart gegryp. Ek het my begin indink in die lewe van so ’n hond. Sê nou ek was daardie hond ... Sê nou dit was my hond ... Doen ek enigsins genoeg om die lewe van enige (troetel)dier te verryk? Dáárby het al my ervaringe met my eie honde (en ander troeteldiere) van kleins af en deur my hele lewe in my herinneringe begin aanklop. Ek het gevoel dit is tyd om ’n huldeblyk aan hulle almal te skryf. En hopelik kan die verhaal baie troeteldiere se stem word.
Het jy vooraf reeds geweet hoe die verhaal gaan eindig of waarheen dit op pad is? Of het die verhaal organies ontwikkel?
Reg van die begin af kon die verhaal vir my net een einde hê, daarom het ek die slothoofstuk net na die eerste hoofstuk klaar geskryf. Maar soos wat die manuskrip spontaan ontwikkel het, moes ek geringe aanpassings aan die einde maak. Die essensie van die beplande slot het egter dieselfde gebly.
Hoe maak jy seker dat jou verhaal tot vandag se jong lesers spreek? Of het jy 'n spesifieke leser in gedagte wanneer jy skryf?
My besbewaarde geheim? Ek skryf meesal met myself as spesifieke leser in gedagte, al is ek jare lank nie meer ’n jong leser in die ware sin van die woord nie. Ek was wel eens ook ’n jong leser (en daardie leser is nog altyd iewers in my). Maar daardie tyd het die meeste jeugverhale my nie geboei nie en ook nie tot my gespreek nie. Daarom het ek toe veel eerder Konsalik gelees. Nou probeer ek om “Konsaliks” vir vandag se jongmense te skryf. Maar natuurlik mag ek nie in my benadering die behoeftes van vandag se jong leser in hulle leefwêreld ignoreer nie. My jare lange ondervinding van bediening aan en berading met jongmense help my in hierdie opsig voortdurend met die nodige begrip en aanvoeling (hoop ek).
Hoe voel jy oor onlangse nuus dat Penguin LAPA oorgekoop het, en wat dink jy sal die impak of effek op Afrikaanse boeke wees?
Ek het regtig nog nie genoeg oor hierdie gebeure besin om sinvol op hierdie vraag te antwoord nie. Maar uit die aankondiging en inligtingsbriewe van LAPA blyk dit tog dat die speelveld en moontlikhede vir Afrikaanse boeke en skrywers nou meer wawyd oopgemaak kan word.