Wenners van LAPA se Jeugromankompetisie bekend

  • 4

Jan Vermeulen, Maretha Maartens en Fanie Viljoen (foto’s verskaf)

LAPA Uitgewers het op 26 Februarie 2020 tydens ’n glansgeleentheid in Pretoria die wenners van die Jeugromankompetisie 2019 aangekondig. Die Jeugromankompetisie word tweejaarliks aangebied.

Gesamentlike naaswenners is Maretha Maartens met Bethel se berg en Jan Vermeulen met Baster.

Bethel se berg is ’n historiese jeugroman in die styl van ’n memoire wat gaan oor Bethel, ’n jong tienermeisie in die 1980’s wat saam met haar ma en sibbe in ’n kombi van dorp na dorp reis. Bethel se ma bak vetkoek om die gesin aan die lewe te hou, maar hulle bly nooit lank genoeg op een plek om wortel te skiet nie. Die beoordelaars skryf dat Maartens se jeugverhaal “bydra tot vernuwing in Afrikaanse jeugliteratuur binne die genre van memoires of herinneringsverhale”, en “[d]ie boek is amper soos ’n gedig aan die Suid-Afrikaanse binneland”. Maretha Maartens is al meer as 56 jaar een van die mees geliefde Afrikaanse skrywers in veral Christelike literatuur en historiese fiksie. Daar het al meer as 130 boeke uit haar pen die lig gesien.

Baster is ’n verhaal wat handel oor ’n seun wat met honde kan praat. Die roman vertel van die honde waarvoor hy lief is, maar ook die hondegevegte en geweld wat sy samelewing verskeur. Dit dra Vermeulen in se kenmerkend eerlike styl ’n moeilike storie oor wat jou ongemaklik laat, maar wat uiteindelik ook ’n verhaal van hoop is. Die beoordelaars skryf: “Hierdie roman getuig van die vermoë om ’n storie te kan vertel en goed te kan skryf.” Jan Vermeulen het in 2015 en 2017 die kompetisie gewen met onderskeidelik Asem en Oopmond. Hy het ook al verskeie Sanlampryse verower, sowel as die MER-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-Kinderboektoekenning. Vermeulen is ook bekend vir sy volwasse fiksie en veral krimis.

Die wenner van 2019 se kompetisie is Fanie Viljoen met sy uitdagende, distopiese jongvolwasseverhaal Offers vir die vlieë. Eliam en sy vriende is op pad na die Front om in die oorlog te veg waarvoor hulle al van kleins af brutale opleiding ontvang. Volgens die beoordelaars sal hedendaagse tieners in Suid-Afrika kan identifiseer met Eliam se worsteling rondom brutaliteit, geweld, marteling, vernedering, ook ’n verlies van die self en ’n eie identiteit. Een van die beoordelaars skryf: “Hierdie verhaal is myns insiens een van die beste wat ek in ’n lang tyd in Afrikaans gelees het.” Fanie Viljoen was al twee keer tevore ’n naaswenner van die Jeugromankompetisie met sy verhale Betower en Afkop. Hy is al verskeie kere bekroon met die Sanlamprys, die M.E.R.-prys en talle ATKV-Woordveertjies. Viljoen is tans een van die mees geliefde en diverse Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywers met meer as 60 gepubliseerde boeke agter sy naam.

Daar is vanjaar ook ’n spesiale erkenning gegee aan ’n debuutskrywer, Tertius Janse van Rensburg, vir sy humoristiese en deernisvolle verhaal oor drie seuns wat die Lotto wen met die hulp van een se oupa wat Alzheimers het.

Al drie die wenromans is geoormerk om later vanjaar by LAPA Uitgewers verskyn.

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top