Bethel se berg deur Maretha Maartens, ’n resensie

  • 0

Bethel se berg
Maretha Maartens

LAPA Uitgewers
2020
ISBN 9780639601298

Die lewe op 14 is nog ongekompliseerd – of so dink jy. Bethel se berg (2020) is ’n boek wat jou sal laat besef dat die lewe dalk verskeie draaie met jou kan loop, maar dat almal net liefde en aanvaarding soek. Dit maak nie saak waar en hoe nie, net dat jy goed en goed genoeg is vir dié naaste aan jou.

Maretha Maartens is geen vreemdeling as dit kom by jeugboeke nie. ’n Pot vol winter (1989) en Goue fluit, my storie is uit (1988) is enkele van haar prominente jeugboeke. Buiten kinder- en jeugboeke is Maartens bekend vir haar Christelike boeke en dagboeke. Maar met die skryf van Bethel se berg is dit bloot belangrik om bewus te wees van Maartens se ervaring met die skryf vir jonger lesers en die empatie wat sy met haar karakters en hul omstandighede het.

Bethel en haar drie boeties en babasussie reis die Karoo en Vrystaat plat in ’n Volkswagen kombi. Haar ma bak pannekoek en vetkoek om vir hulle te sorg en Joupa is meestal afwesig, alhoewel Ma hom gereeld bel en eindelose briewe vir hom sit en skryf. Op Petrusburg was hulle op hulle gelukkigste.

Dié novelle kan beskryf word as ’n belewenis of blik op die lewe. ’n Blik op Bethel se lewe. Haar werklikheid. Iets wat baie goed werk in jeugboeke en wat beslis tieners se aandag trek, is om ’n belewenis te kan “lees”. Veral ervarings wat hulle nie in hulle alledaagse lewe sal teëkom nie. Die leser het die geleentheid om insig in Bethel se belewenis te verkry deur middel van die verhaal. Indien die leser soortgelyke ervarings gehad het, of selfs net stories gehoor het oor die Bosoorlog, sal die leser al die implikasie sien in Bethel, Jimmie en die tweeling se lewens. Vir jong lesers wat in die 1980's nie eers ’n vonkel in hul ouers se oë was nie, verskaf dit ’n blik op ’n tyd in Suid-Afrika se geskiedenis toe dinge ’n heel ander sosiale dinamika gehad het, soos die engheid in ʼn plattelandse dorp; en dan is Bethel se ma boonop die predikant se dogter.

Bethel se ervarings, van haar verspring-ambisies omdat sy nie skoene daarvoor nodig het nie tot die grondboontjiebottertrok wat omslaan, herinner aan ’n ander meisie wat ook sulke wedervaringe beleef het: Claudie Thompson, in Swartskaap (2009) deur Odette Schoeman. Claudie het ses boeties en een sussie, maar net sy en haar broer Theuns het dieselfde pa. Ek dink as Bethel en Claudie saam kon gaan tee drink of ervarings uitruil, sou hulle goeie vriendinne word.

Die narratief dra Bethel se verhaal goed, al word daar ook sosiale kommentaar in die agtergrond gelewer. Die bomme wat geplant word en die betogings gebeur in die agtergrond. Die leser is bewus van die tyd waarin dit afspeel. Veral wanneer Bethel se ma, hoogswanger, noodgedwonge op ʼn “kleurling”-dorp moes oorstaan vir die geboorte van Pip, die jongste sussie. Hulle moes vir ʼn ruk skoolgaan op Williamsville. Die skoolhoof sê dan vir hulle: “En julle is wit. Die wit skool is op die dorp” (bl 115). Tog is dit Bethel se verhaal waarmee jy saam loop deur Petrusville, Beaufort-Wes tot in die Kaap.

 ’n Goeie jeugroman het die neiging om ’n indruk te laat op ’n jong leser, veral as dit gaan oor iemand van hul eie ouderdom wat ’n heel ander lewe lei as hulself. Daar is baie lewensvrae om oor na te dink en mens kry insigte in ander se leefwêreld wat jy nie noodwendig self ervaar nie.

Dit is dié tipe boek wat mens insig gee in ander se omstandighede en jou net herinner dat jy nie altyd weet hoe moeilik ander se lewens is nie. Hierdie verhaal sal jou nog lank laat dink nadat jy die boek neergesit het. Waarnatoe nou Bethel?

Luister ook:

Jeugboeke met Johannes: ’n Zoom-gesprek met Maretha Maartens

Lees ook:

LAPA-jeugromankompetisie 2019: ’n onderhoud met Maretha Maartens

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top