LAPA-jeugromankompetisie 2019: ’n onderhoud met Maretha Maartens

  • 0

Wenners van LAPA se Jeugromankompetisie bekend

Naaswenner Maretha Maartens vertel vir Naomi Meyer van Maretha se boek Bethel se berg.

Maretha Maartens (foto: verskaf)

Maretha, vertel my asseblief van jou manuskrip wat vanjaar op LAPA se kortlys vir jeugromans is. Wat was die inspirasie vir jou verhaal? 

Bethel se berg het uit die inspirasie ontstaan, daarom begin ek maar by die inspirasie of die sneller, want dié was onvoorsiens en oombliklik.

Op Vrouedag 2019 was ek een van die sprekers tydens ’n Vrouedag-geleentheid vir die personeel van ’n hospice in Bloemfontein. Daar ontmoet ek een van die ander sprekers, ’n dame wat die vorige jaar ’n PhD verwerf het. Terwyl ons voor die geleentheid saam tee drink, vra ek of sy ’n gebore en getoë Vrystater is. Sy skud haar kop: “My ma was ’n hippie. Ek was in agt verskillende skole gewees.” (Dalk laat my geheue my in die steek – dit kon meer as agt gewees het.)

Dit was die sneller. “Moet my asseblief vandag niks verder vertel nie,” het ek gekeer. “Ek wil u toestemming vra om hierdie stukkie inligting die vertrekpunt van ’n jeugverhaal te mag maak.” Sy het gelag, dalk net so verras oor my reaksie as ek oor haar mededeling. Ek het toestemming ontvang en die storie oor ’n hippie-ma en haar drie soorte kinders kom loop en uitdink en later geskryf.

Bethel se berg speel in die era van die Angolese Grensoorlog af. Die verteller is die dertienjarige Bethel Hendrix, ’n hippie-ma se oudste dogter. Saam met haar broers, Jimi, Max en Richie (’n nie-identiese tweeling), reis en leef sy in haar ma se kombi. Op ’n piekniekplek naby Dewetsdorp laat Jimi sy ma suringstingeltjies kou, want nog ’n sibbe – Pips met die bos blinkblouswart, aandrokswart hare – is op pad.

Wat ervaar so ’n kombivrag brandarm kinders in die meestal onbekende dorpe waar hulle ma halt maak? Wat dink, doen, kies, eet, ontbeer, voel en ontdek Bethel Hendrix en die kombibewoners? Kan dit wees dat:

  • Victor Frankl se naam op ’n grafsteen ’n oorgroeide Vrystaatste kerkhof aangetref kan word
  • jou ma met ’n baksteen teen die oor in kontak kan wees met iemand wat in die land van “O” rondreis en vir wie jy net as Joupah ken
  • ’n tiener sonder die regte atletiekdrag kan leer om in die lug te hardloop
  • daar ’n begraafplaas vir ongedoopte babas langs die N1 is
  • meisies daarvan mag droom om siviele ingenieurswese as beroep te kies
  • daar ’n seswoord-definisie vir “genade” is
  • ’n lorrie wat knipmes, maande se grondboontjiebotter na jou kan slinger?

Dit is moontlik. Vra maar vir Bethel Hendrix.

Het jy vooraf reeds geweet hoe die verhaal gaan eindig of waarheen dit op pad is? Of het die verhaal organies ontwikkel?

Tydens die uitdinkfase was dit ’n uitgemaakte saak dat Bethel-hulle by ’n huurhuis naby die see sou uitkom. Dat Anna Hendrix met Pips op die heup die voordeur sou oopsluit. Dat alles mooi en stemmig sou eindig ... sien.

Maar ons kon nie van die piekniekplek in die Du Toitskloofpas af wegkom nie. Dit is immers Bethel se berg: die plek waar sy afskeid neem van ’n lewe wat nooit as gewoon beskryf sou kon word nie.

Die verhaal het dus inderdaad organies ontwikkel en eindig by – of in – die paradys.

Hoe maak jy seker dat jou verhaal tot vandag se jong lesers spreek? Of het jy 'n spesifieke leser in gedagte wanneer jy skryf?

Jong en volwasse lesers, graad 1-leerders, konferensiegangers en nagraadse studente is almal mengselconnoisseurs. Sulke fynproewers sal ’n mengsel van humor, geesdrif, onvolmaaktheid en vinnige aksie hopelik gunstig oorweeg.

Hoe voel jy oor onlangse nuus dat Penguin LAPA oorgekoop het?

Verbasing was die aanvanklike reaksie. Ná ’n tyd van nadenke het ’n gevoel van trots ingeskop. Hoe veelseggend is dit dat ’n internasionale uitgewersmaatskappy met so ’n geskiedenis, soveel filiale, ’n maatskappy van dié statuur en reikwydte besluit het om ’n uitgewersmaatskappy oor te koop wat in die leesbehoeftes van Afrikaanssprekendes gesin voorsien!

Wat dink jy sal die impak of effek op Afrikaanse boeke wees?

Soos ons hier in die Vrystaat sê: “Reënwolke steek in die weste op.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top