Lesersindruk: Die 17de veer deur Nanette van Rooyen

  • 0

Die 17de veer
Nanette van Rooyen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799389418

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

My opinie oor tatoeëermerke dié het ek. En dis nie gebaseer op my Calvinistiese jeug of die Bybel nie. Ek het die saak deurdink. Ek voel oor tatoeëermerke soos oor losbandigheid – ek veroordeel dit nie, maar ek sal dit ook nooit aanmoedig nie. Maar wat ’n wêreld woon ons darem nie vandag in nie. Dit is nie vandag vreemd om mense te sien wat Bybelverse op hulle liggame getatoeëer het nie. Die bekendste voorbeelde is miskien die Maori-rugbyspelers, alom bekend as diep godsdienstig, maar dikwels vol tatoes. Die ironie darem. Maar nou ja, so is die wêreld, en die hoofkarakter in ons roman werk by so tatoe parlour in Kaapstad. Sy is ook nog op skool. Maar die belangrikste ding om te weet van Lara, is dat sy nie weet wie haar pa is nie. Dit skep ’n vreemde situasie, met Lara se ma Mara, teruggetrek in haar eie wêreld en afhanklik van pille, en "oom" Dan, ’n misterieuse karakter wat meestal rondsit en peperduur whiskies wegslaan. Lara en haar ma Mara. Behalwe die feit dat Mara nooit vir Lara vertel het wie haar pa is nie, het sy ook nooit vir haar vertel hoe oom Dan deel van die familie geword het nie. So het Lara maar grootgeword in Kaapstad met die karakters rondom haar, en ouma Bibi van Vredehoek ook in die mengsel.

In ’n sekere sin ’n baie tipiese Suid-Afrikaanse storie dus – die storie van die afwesige pa. Maar gegewe die feit dat al hierdie karakters in die Kaapse stadskom woon, is hulle skynbaar nie so arm soos die deursnee-Suid-Afrikaner nie. En wat sal ’n wenroman wees sonder ’n bietjie romanse? (Op die flapteks word van die boek geskryf dat dit "naaswenner van LAPA se jeugromankompetsie" was.) Vir dié doel is daar Alexander (Alex), en hy raak dan nou ook verlief op Lara. Maar byna soos in ’n goeie Mills & Boon kan Lara aanvanklik geen vat kry aan Alex nie; inteendeel, sy kan die arme Alex nie verdra nie, en bevraagteken sy intensies. Maar Alex is ’n man met ’n missie en dit gaan oor meer as om net Lara se hart te wen, maar daaroor moet mens seker so min as moontlik sê as jy nie die storie wiverklap vir potensiële lesers nie. Soos Lara, kom ook Alex uit ’n gebroke ouerhuis; trouens hy word groot in ’n kinderhuis, maar hy vind ’n vaderfiguur in ene Jay-Jay. Behalwe sy belangstelling in Lara, is Alex ook betrokke by die rehabilitasie van voëls, spesifiek ’n troeteluil wat ’n belangrike deel van die storie word.

Die 17de veer lees heel lekker en is glad nie nie langdradig nie. Die skrywer probeer die verhaal so ’n bietjie nuanseer deur die aandag ook te laat val op die onderwerp van eetsteurnisse. Dit vind plaas deur middel van die karakter Tilla, wat Lara beskryf as haar "enigste vriendin". Tilla behaal groot sukses op die internasionale front as model, maar keer terug na Suid-Afrika met veel, veel meer as net ’n vet bankbalans. Sy land ook hier met ’n eetsteurnis. Die hele storielyn rondom Tilla slaag egter net gedeeltelik. Maar alles in ag genome is Die 17de veer ’n interessante boek. Vir die doel wat dit moet dien, ’n jeugroman, kan ek verstaan dat dit as ’n pryswenner beskou word. Mense wat vertroud is met die Kaapse Skiereiland sal ook baie van die plekke wat genoem word, herken, soos Milnerton, Oranjezicht, Truth Café en die promenade, wat die storie sommer ’n lekker plaaslike gevoel gee.

Miskien moet ek ten slotte sê ’n wakker leser sal dalk regdeur alles in die boek kan sien nog voordat daardeur gelees word. Die verhaal ontknoop op ’n redelik voorspelbare manier, maar dit bly steeds ’n lekkerleesboek. Kom ons aanvaar dis ’n happy ending-tipe boek – wel, relatief. Die een ding wat egter uiters vreemd is, is die drie resepte wat agterin gepubliseer word. Dis ’n heel arbitrêre affêre, die drie resepte, wat geen logiese verband met die verhaal toon nie. En dan eet ek mos nie self bully beef nie. Te veel sout. Maar vir dié wat kan, sal ek sê gaan voluit. Ons lewe juis deesdae van blikkieskos in die grendelstaat waarin ons verkeer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top