Lesersindruk: Wolk deur Hannes Barnard

  • 0

Wolk
Hannes Barnard
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780639600604

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Wolke van verandering eerder as winde van verandering, dis wat hierdie boek vir sy leser bring. Wolke is besonderse verskynsels en het elk ’n klassifikasie – van Cumulonimbus tot Cirrus. Wolke word al sedert 1803 geklassifiseer op grond van hul vorm en hoogte. Verskeie weer-en klimaatverskynsels beïnvloed ons lewe en hierdie Wolk is nie ’n uitsondering nie ‒ of is dit ’n vooruitwysing?     

Die skrywer

Hannes Barnard maak sy debuut in 2019 met Halley se komeet, wat afspeel in Suid-Afrika in die 1980’s. Daarenteen speel Wolk in die nabye toekoms af en bied ’n nuwe perspektief op ’n moontlike apokalips.

Wolk

Die leser word aanvanklik onkant gevang deur die titel, want die openingshoofstuk val met die spreekwoordelike deur, dwarsdeur die huis.

“Hoe lyk die einde? Soos daardie swart-en-oranje wolk op die horison wat elke dag naderkom?” (bl 5). Dit klink asof die apokalips aangebreek het en die hoofkarakters die aankondiging gemis het. Watter ander situasie op aarde vereis dat mens tuna, graanvlokkies en ingelegde koejawels saam sal eet? En wat het ’n wolk daarmee te doen? Die antwoorde op hierdie vrae, lê in daardie wolk.

Hierdie roman is nie net anders met sy titel nie, maar ook hoe die verhaal vertel word. Die verhaal in geheel word deur die perspektief van die twee hoofkarakters, Xandr en Rufus, vertel. Dit dra by tot die vinnige pas van die boek en die gedurige verskuiwing van perspektief kan vir sommige lesers steurend wees. Tog is dit ’n tegniek wat tradisioneel effektief in historiese fiksie gebruik word en die vertel van verhale uit drie of meer perspektiewe vergemaklik. Dit is dalk ongewoon om hierdie verteltegniek in ’n jeugroman te gebruik, maar dit bring iets nuuts na die tafel. Gewoonlik word hierdie tegniek gebruik om verskillende verhaallyne bymekaar te bring, maar in Wolk word daar wedersyds oor dieselfde verhaallyn vertel. Sodoende word ’n baie “kort” verhaal uitgebou tot ’n spannende roman.  

Wolk ontgin ook die tema van vriendskap met ongewone kinkels in die kabel en trek daarmee die jonger leser se aandag. Veral wanneer die vriendskap moontlik kan lei tot ’n klassieke tienerromanse. Maar gaan dit gebeur of nie? Jy sal moet lees om uit te vind.  

Dié van ons wat maatjies gemaak het nog voor ons behoorlik uit ons doeke was, saam kleuterskool toe is en saam op skool was, sal hierdie boeke kan waardeer. Volwassenes kan ook gerus die boek lees. Die van ons wat gelukkig is om saam met ’n maat groot te word, kan kosbare herinnerings en nostalgie in hierdie boek vind. Sommige vriendskappe hou ’n leeftyd en vriendskap is ’n tema wat al verskeie boeke geïnspireer het. Beslis ’n goeie rede om Wolk aan te skaf.

Wolk se unieke kenmerke

Die plasing van die klimaks, of dalk eerder die eerste verwysing na die klimaks binne die oorkoepelende verhaallyn, laat Barnard se roman uitstaan. ’n Tegniek wat ook in Halley se komeet goed benut word.

Wolk hanteer die werklike klimaks wat in die titel gesuggereer word baie vroeg in die verhaal. Maar die gevaartekens of die opbou van die klimaks word gedestabiliseer, omdat dit amper heeltemal weggelaat word. Die twee hoofkarakters weet nie eers daarvan nie, totdat dit te laat is. Hulle mis amper die grootste katalisator in die hele verhaallyn – die wolk.

Hierdie roman herinner nogal sterk aan ’n Entwicklungsroman. Hierdie vorm verwys na ’n verwante vorm van die Bildungsroman. Dit verwys na ’n roman waar die verteller of hoofkarakter groei tot volwassenheid, wat gewoonlik ’n persoon se hele lewensverhaal insluit. ’n Goeie voorbeeld hiervan is Charles Dickens se Great expectations, waar Pip se lewensverhaal vertel word. Stilisties is daar gewoonlik twee vertellers in hierdie verhale, ’n volwasse- en kinderweergawe van dieselfde karakter.   

Wat die Entwicklungsroman anders maak is dat dit oor ’n korter tydperk afspeel as die Bildungsroman. Laasgenoemde se tydperk kan van ’n dag tot ’n week wees en daar is ’n enkele verteller, die persoon wie se reis na volwassenheid die leser meemaak. The catcher in the rye (1951) word gereeld hier as ’n ideale voorbeeld voorgehou.  

In Wolk is daar ook die vreemde karakter, Jeremy Furter, wat vir Rufus by die kafee teister en dreig. Op die oog af blyk hierdie karakter niksseggend in die verhaal te wees. Net soos Magwitch in Great expectations. Alhoewel Magwitch ten einde goeie bedoelings gehad het, kan Jeremy Furter moontlik as ’n barometer dien vir die ontwikkeling van Rufus en Xandr se verhouding, hulle eie volwassewording en die naderende wolk.  

Wolk kan as ’n nuwe, eiesoortige Entwicklungsroman beskou word. Waar daar twee vertellers is, elke met hul eie ontwakings en openbarings, met ’n oop einde. Die skrywer ontgin ’n baie ou en gevestigde genre deur nuwe strukturele elemente by te voeg en iets opwindend in Afrikaans te skep ‒ dit lees met dieselfde opwinding as reekse soos Divergent en The hunger games. Al is dit reekse, wonder ek wat van Rufus en Xandr gaan word, meneer die skrywer?

Laastens word aktuele kwessies soos klimaatsverandering, natuurrampe as gevolg van klimaatsverandering en tienerworstelinge met respek in die verhaal ingeweef. Die apokalips-gevoel en die groot verwoesting, bring ’n tipe realistiese gevoel na vore wat vandag se jeug dalk mee kan vereenselwig. Veral in verband met vraagstukke soos dié van Greta Thunberg se opinies oor klimaatsverandering.

Wolk is beslis ’n lekkerleesboek vir die bank of leeshoekie. Die samevloei van alledaagse jongmenskwessies maak die boek toeganklik en innemend vir jong volwasse lesers. Die dubbelsinnige ervaring van, “hierdie karakters verstaan my” en die nostalgiese ervaring van “ja, ek onthou”, is eie aan die Entwicklingsroman en moontlik die sleutel tot die sukses van baie romans vir jong volwassenes wat tans op die mark is.

Gaan vind jóú wolk in hierdie boek!

Verwysings:

Barnard, H. 2019. Halley se komeet. Wenkbrou: Pretoria.

Entwicklungsroman. Literêre terme en teorieë aanlyn. Beskikbaar aanlyn:  http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/22-o/1064-ontwikkelingsroman  [Besoek op 31 July 2020]

Lees ook:

Wolk: ’n onderhoud met Hannes Barnard

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top