Wolk
Hannes Barnard
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780639600604
Hannes Barnard praat met Naomi Meyer oor Hannes se boek Wolk.
Hannes, Wolk is ’n boek oor liefde. Of oor vriendskap. Watter een van die twee, of hoef mens te kies? Dalk gaan die boek oor die intensiteit van eerstes. Kan jy in jou eie woorde vertel hoe jy die verhaal sou beskryf?
Dankie Naomi. Ek dink jy slaan die spyker op die kop wanneer jy vra: "Hoef mens te kies?" Dit is al die bogenoemde.
Ek sou dit beskryf as die baie spesiale liefde tussen twee boesemvriende wat getoets word deur omstandighede buite hulle beheer. Hulle neem ’n besluit om hulle vriendskap en liefde vir mekaar vas te vang in tyd deur een laaste – en baie belangrike – eerste met mekaar te deel voor hulle paaie (moontlik) vir altyd skei. Maar dit mag dalk ’n onherroeplike impak op die vriendskap hê, omdat dit die grense van die tipe liefde wat hulle vir mekaar het, laat begin verdof. Dit is nou natuurlik as hulle hul plan kan deurvoer.
Jou twee hoofkarakters staan op die vooraand van ’n apokalips. Vir enige leser in die wêreld sal daardie gevoel baie bekend wees in hierdie dae. Wil jy uitbrei op wat Xandr en Rufus beleef?
Ja, wie sou kon raai dat toe ek Wolk begin skryf het, 2020 ons so ’n voorsmaak van die apokalips sou gee?
Daar is ’n paar apokaliptiese aspekte in die boek. Die eerste een is die dreigende apokalips van hulle vriendskap. Rufus en haar gesin emigreer Australië toe en nie sy of Xandr weet wat dit aan hulle vriendskap gaan doen nie, behalwe dat dit glad nie meer dieselfde gaan wees nie. Die tweede groot dreigende apokalips is selfs meer duister: Dis die swart-en-oranje wolk wat op die horison verskyn en elke dag nader kom en groter en kwater word en lyk. Hulle is in ’n grot in die middel van nêrens met geen inligting en geen manier om iemand te kontak nie. Hulle het nie die vaagste benul wat aangaan of wat kom nie en probeer sin maak van hierdie naderende wolk.
Ons kan ons natuurlik nou in hierdie koronatyd daarmee vereenselwig – die feit dat ons nie vriende en familie sien nie en die onsekerheid van wat voorlê. Ook word ons persoonlike onsekerhede en uitdagings nou deur mense wêreldwyd gedeel. Ons is dalk nie almal in dieselfde boot nie, maar ons is op dieselfde onstuimige see.
Jou karakters wil vir oulaas ’n avontuur saam beleef – so vertel hulle dit aan mekaar. Waar het jy die idee gekry (of ken jy net ’n paar tieners en jongmense baie goed)?
Wolk kom uit ’n gedagte wat ’n paar jaar gelede by my opgekom het: Wat sal gebeur as jy die apokalips misloop? Daardie gedagte het die storie in my onderbewussyn aan die gang gekry. Die idee om dit te kombineer met ’n vriendskap wat bedreig word (die dubbele apokalips) het stadig begin vorm aanneem.
Ek het baie lank met tieners gewerk (kampe, jeugbediening ens in beide Suid-Afrika en Engeland) en die voorreg gehad om na soveel wonderlike mense se stories te luister. Van die verskriklikste hartseer tot die grootste blydskap en die meeste goed tussenin. My eie jeug het ook ’n groot impak op my gehad en ek onthou dit baie goed. Ek onthou my eie drome, vrese en ideale van daardie tyd. Halley se komeet het juis gespruit uit my eie herinneringe aan die vreemde jare aan die einde van die apartheidsera.
Die groot eerste wat Rufus en Xandr op hierdie avontuur met mekaar wil deel, is ’n vraag en bespreking in menige tienergesprek en ook iets waaroor baie volwassenes aan terugdink (en wonder). Ek dink nie dis tyd- of era-spesifiek nie – dit was, is en sal moontlik altyd ’n warm onderwerp wees.
Het jy die storie vooraf beplan, of het dit organies ontwikkel? Hoe werk jou skryfproses?
Die skryf van Wolk was my lekkerste skryfervaring tot op hede. Ek het afgesny van die wêreld en die eerste weergawe van die boek in twee weke geskryf. Om die manuskrip te voltooi en reg te kry vir die wêreld het natuurlik nog maande en maande se werk geneem! Die redigering, oorskryf, oorlees, herskryf, redigering, hardoplees ens is ’n lang proses, maar nodig om jou storie tot sy reg te laat kom.
Ek het in die vorige vraag verduidelik waar die idee vandaan gekom het. Daarna het ek ’n bietjie notas gemaak en oor sekere dinge opgelees, maar om die waarheid te sê het die storie heeltemal organies ontwikkel. Heelwat idees het in my kop gevorm, ek het gedink aan my eie ervaringe as tiener, soos hoe ek en my vriende ons ouers se karre skelm "geleen" het, kattekwaad, en aan my eie vriendskappe in daardie tyd. Ek het ook gewerk aan ’n roete wat Rufus en Xandr moet volg en gesoek vir die ideale plek waar hulle avontuur moet afspeel. Die storie self het met ander woorde uit hierdie mengelmoes gedagtes en idees gekom. Ek moes byhou, want toe ek eers begin skryf het, was die storie soos ’n vloedgolf – al daai goed wat so lank in my kop gebroei het wou eenvoudig uit.
Ek hou daarvan om met ’n idee te begin. Dan laat ek gewoonlik die storie toe om binne my kop te prut. Herinneringe of dinge wat ek gesien, oor gepraat of gelees het is ’n groot bron van inspirasie. Navorsing en beplanning is belangrik, maar ek beplan nie die struktuur of hele storie nie, ek laat dit organies ontwikkel.
In Halley se komeet het ek ’n idee gehad van hoe die boek gaan eindig, maar nie hoe die storie daar gaan uitkom nie. Om jou ’n idee te gee oor hoe lank stories in my kop is: Ses of sewe maande het verstryk van die dag toe ek die vae idee vir Halley gekry het tot ek die eerste woorde geskryf het.
Toe ek Wolk begin skryf het, het ek glad nie geweet hoe die boek gaan eindig en of Rufus en Xandr hulle plan sal kan deurvoer nie. Ek geniet dit om te ontdek soos ek skryf, om die storie en karakters toe te laat om my te lei.
Jou vorige boek, die reeds genoemde Halley se komeet, was gemik op volwasse lesers. Waarom skryf jy toe hierdie slag vir jonger lesers, of hoe verskil dit vir jou van jou vorige boek?
Toe ek Halley se komeet begin skryf het, het ek gedink ek gaan ’n jeugboek skryf. Maar omdat my proses organies is soos ek by die vorige vraag verduidelik het, word Halley se komeet toe meer ’n oorgangsfiksieboek (volwassenefiksie toeganklik vir ouer tieners / jong volwassenes).
Wolk is na my mening die bogenoemde oorgangsfiksie omgeswaai: jeugfiksie, toeganklik vir volwasse lesers.
Jou tienerjare is so ’n belangrike deel van jou lewe; so ’n interessante, deurmekaar, soekende deel van ons lewens, dat dit ’n fantastiese plek is om kleurvolle en betekenisvolle karakters te gaan soek. Die ooreenstemming tussen Wolk en Halley se komeet is die ouderdomme van die karakters (min of meer). Die karakters staan op die vooraand van die "volwassenelewe", maar is in baie opsigte reeds volwasse, en in ander moet hulle nog ’n paar dinge leer. Daar is ’n idealistiese aspek aan daardie ouderdom wat ’n idealis soos ek baie aanstaan.
Wat betref hoe die twee boeke verskil, sou ek sê dat Wolk ’n "ligter" aanslag het. Dit beteken natuurlik glad nie dat daar nie ook moeilike vrae is waarmee die karakters gekonfronteer word nie! Ek is lief vir humor en gebruik dit in beide boeke, maar daar is definitief meer daarvan in Wolk. Dit kom saam met die gemak tussen die twee hoofkarakters, Rufus en Xandr. Hulle humor kom natuurlik, waar in Halley se komeet die hoofkarakters mekaar eers moet leer ken, so dit gebeur stadiger. Die ander groot verskil is ook dat Halley se komeet afspeel in 1986 (en vrae vra oor die samelewing in daardie tyd) waar Wolk in die hede of baie nabye toekoms afspeel.
Vertel my van die titel?
Wolk verteenwoordig ’n paar dinge. Daar is die onheilspellende wolk wat een oggend op die horison verskyn: die swart-en-oranje wolk, wat elke dag nader kom en groter word. Dan is daar ook die wolk wat oor die toekoms van Rufus en Xandr se vriendskap hang as Rufus-hulle eers geëmigreer het; en natuurlik die wolk van onsekerheid of hulle hierdie groot eerste wat hulle saam beplan kan deurvoer. Hulle laaste eerste. ’n Wolk is iets wat baie dinge kan beteken en mens weet nie altyd wat nie, daarom die titel. Dit kan hoop of gevaar bring, uitkoms of verwoesting.
Wie is jou ideale leser?
Ek dink die boek is toeganklik vir lesers van 14 en ouer. My ideale leser is iemand met ’n bietjie avontuurlus (of selfs avontuurvrees!); iemand wat ’n vriend het of gehad het wat hulle aan afstand of tyd moet/moes afslaan; iemand wat wonder of platoniese vriendskappe kan werk – ook wonder oor liefde en meer tussen vriende (en in die algemeen); iemand wat wonder oor die apokalips; iemand wat vriendskapsverhale geniet; iemand wat van boeke hou in ’n John Green-styl; en natuurlik enigiemand wat op soek is na lekker ontvlugting in hierdie vreemde tye waarin ons leef.
’n Jong leser sal dalk aanhou omblaai om te sien of die twee hulle planne deurvoer. Watter ander raad het jy vir skrywers van boeke, of dit vir jong lesers is of nie?
My raad aan skrywers is om nooit jou lesers te onderskat of te geringskat nie, maak nie saak hoe oud of jonk hulle is nie. As jy vir jong lesers skryf, kan jy nie neerbuigend of prekerig wees nie – dit geld natuurlik ook vir volwasse lesers. Ek dink dis belangrik om jou skrywerstem na te streef en daarna te luister en om nie te slim of te cool of enigiets wat "te" is te probeer wees nie. Wees jouself, skryf uit die hart uit.