Volwassenes onthou nog jare later hul voorgeskrewe boeke op skool. Watter impak het hierdie boeke wat hul verplig was om op skool te lees, op hul wêreldbeskouing?
Isabella Geldenhuys, 'n onderwyseres wat haar nagraadse studies oor genderuitbeelding in jeugliteratuur voltooi het, het vir Estelle Kruger vertel: "Ek het bewus geword van die feit dat ek as jong leser geïndoktrineer is ten opsigte van genderuitbeelding in die meerderheid van die jeugboeke in daardie tyd. Dit is skokkend hoe mense genderstereotipering as die norm aanvaar, selfs in die advertensies wat op die televisie goedgekeur en uitgesaai word."
Estelle Kruger vind nog meer omtrent hierdie onderwerp uit in gesprek met Isabella Geldenhuys en Johan Anker oor hulle artikel: Die aard van genderuitbeelding van vroulike hoofkarakters in onlangse Afrikaanse jeugliteratuur.
Wat is die agtergrond van hierdie studie van julle – maw hoe het julle bewus geraak van die uitbeelding van gender in Afrikaanse jeugliteratuur?
Met die verskyning van die bekroonde jeugboek Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom deur Marita van der Vyver het ons bewus geraak van ’n sterker vroulike karakter in jeugboeke wat die lig sien. Kort daarna het nog jeugverhale met sterker vroulike karakters gevolg, soos Die verdrinking van Josua van Eden deur Carina Diedericks-Hugo, Lien se lankstaanskoene deur Derick van der Walt en Ek was hier deur Nanette van Rooyen.
Isabella, ek sien dat jy met laerskoolkinders werk – hoe het jy betrokke geraak by jeugliteratuur wat eintlik hoërskoolleerders as teikenlesers het?
Ek is onder andere ’n opvoeder vir graad 7-tale. Graad 7 vorm deel van die senior fase waar literatuurstudie deel uitmaak van hul leerplan. Ek het sterk lesers in my klas wat groter uitdagings soek ten opsigte van jeugboeke; daarom probeer ek op die hoogte bly van jeugboeke wat tred hou met die veranderende samelewing om voorsiening te maak vir my sterk lesers.
Is daar ook kinderverhale waarvan julle bewus is waarin genderuitbeelding sterk na vore kom?
Beslis. Daar is byvoorbeeld Die avonture van Wilde Willemientjie deur Riana Scheepers en Stories met stertjies deur Corlia Fourie wat die bekende sprokies op hulle kop keer, en die Anna Atoom-reeks, asook Elf dae in Parys deur Elizabeth Wasserman, om maar net ’n paar te noem.
Wat is (ander) tipiese omstrede kwessies wat met mag as tema te make het in kinderverhale? Kan julle vir ons voorbeelde van hierdie verhale noem?
Jeugboeke is bekend vir hul onderliggende magstrukture soos die patriargale sisteem wat die kerngesin, met die sterk vaderfiguur, as die ideaal uitbeeld. Daar is instansies van mag, naamlik die skool met hul onderwysers en reëls, die kerk en die samelewing. Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom is ’n verhaal wat al hierdie magstrukture op ’n leservriendelike en soms komiese manier bevraagteken. In Lien se lankstaanskoene kom die skool en ouerhuis sterk onder skoot, en in heelwat moderne jeugverhale met seuns as hoofkarakters word die mag van sulke instansies sterk uitgedaag. Die gewilde Onderwêreld van Fanie Viljoen is ’n goeie voorbeeld daarvan. Die ander boeke wat vir hierdie artikel gebruik is, het almal in ’n mindere of meerdere mate kwessies van mag as tema. Wat kinderverhale betref, kan ’n mens net gaan kyk na die sprokies wat aan kinders voorgelees word. Dit is ’n sprekende voorbeeld van omstrede kwessies oor mag. Die vroulike karakter kan haarself nie help nie en moet wag vir die manlike karakter om haar te red. Vergelyk in hierdie verband ook Jack Zipes en Seelinger Trites se uitstekende studies oor die wêreld van magstrukture en stereotipes in kinder- en jeuglektuur.
Julle meld in die artikel dat “letterkunde ... ’n magtige instrument is wat gebruik kan word om mense se idees en lewensuitkyk totaal en al te verander”.
a. Is julle bewus van enige sulke verhale wat die studente/leerders in julle klasse só beïnvloed (het)? Kan julle voorbeelde noem?
Stories met stertjies deur Corlia Fourie het ’n groot invloed op studente spesifiek gehad. Dit is amper ’n skok vir die studente dat die tradisionele sprokie so op sy kop gekeer kan word en afwyk van die “normale” sprokie met ’n sterk, aantreklike, slim prins wat die mooi, hulpelose (planlose) prinses moet red.
b. Hoe weet ’n mens as opvoeder dat dit wel die geval is?
Daar ontstaan gewoonlik ’n positiewe gesprek tydens die bespreking na die lees van die verhaal. Die refleksie van studente in die vorm van opdragte dui dit ook spesifiek aan. Die vraag na en navrae oor ander soortgelyke tekste deur studente en leerders is ook ’n goeie aanduiding.
Isabella, hoe het jou keuse ontwikkel om hierdie spesifieke bekroonde jeugtekste vir die navorsing te gebruik?
Ek het besluit om die mees onlangse bekroonde jeugtekste te gebruik. Toe ek met my navorsing begin het, was daardie spesifieke tekste die tekste wat die meeste aandag geniet het in die media. Twee van hulle, naamlik Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom en Lien se lankstaanskoene, is in rolprente omskep. Ek het deur ’n hele paar tekste gelees en dit was die tekste wat ek in die besonder self geniet het om te lees.
Hierdie betrokke studie behandel feminisme in besonderhede soos wat dit in die gekose jeugverhale voorkom. Tog is feminisme dalk ’n omstrede begrip en baie mense vind dit moontlik nog aanstootlik. Hoe sou julle die begrip in ongeveer 25 woorde omskryf sodat dit beide meisies en seuns sou interesseer?
Die studie het die derde fase van feminisme as ’n spesifieke leesraamwerk gebruik. Dit kom kortliks daarop neer dat elke mens as individu gebore word met ’n eie unieke identiteit; eers daarna kom geslag ter sprake. Die mens moet nie in ’n rol ingedwing word op grond van die geslag waaraan jy behoort nie.
Hoe kan ’n mens as opvoeder ’n veilige ruimte in ’n klaskamer skep om feministiese jeugverhale krities te lees en te bespreek? Is daar enige praktiese idees wat julle vir ons kan noem? Waarteen sou ’n mens as opvoeder waak?
- Opvoeders moet eerstens moeite doen om ’n werklik goeie literêre teks te kies. Daarmee word bedoel dat die teks nie te didakties en voorskriftelik moet wees nie.
- Leerders moet aanklank vind by die teks en karakters.
- Opvoeders moet gebalanseerd die stereotipes uitwys, na alle kante toe, en besprekings lei oor vooroordele en vooropgestelde idees.
- Die opvoeder moet op ’n wyer vlak as net feminisme konsentreer.
- Die opvoeder moet ook daarteen waak om ’n uitgesproke voorstander van sekere ideologieë te wees. ’n Oop gesprek en kommunikasie in die klas bly die beste metodiek in hierdie geval.
Julle skryf in die artikel dat “die stereotipiese uitbeelding van fiktiewe karakters ... oor die potensiaal beskik om die leser se ingesteldheid ten opsigte van soortgelyke karakters in die werklike lewe te beïnvloed” – juis as gevolg van sterk identifikasie met die held/heldin in fiksie wat ’n invloed op die vorming van die eie identiteit uitoefen. Is julle enigsins bewus van soortgelyke ervarings wat leerders/studente in julle klasse het? Kan julle vir ons voorbeelde noem?
Buiten die gekose tekste vir die artikel is daar beslis ander tekste waarmee die leerders sterk identifiseer. Dink byvoorbeeld aan die Nova-reeks en Betower deur Fanie Viljoen, die Thomas@-reeks deur Carina Diedericks-Hugo en ander reekse soos Stalmaats deur Lize Roux. Deur die jare het reeksboeke beslis ’n beduidende rol gespeel in die identifikasiepatroon van lesers. Die onlangse “ontploffing” van distopiese jeuglektuur in die buiteland en topverkopers soos die The hunger games- en Divergent-trilogieë, asook die films daarvan, het ook reeds ’n groot invloed gehad.
Johan, jy was al departementshoof en visedekaan by die universiteit – was dit vir jou moontlik om self te besluit of jy verhale met genderuitbeelding wou gebruik in jou kursusse? Dink jy jou onderwysstudente sou dieselfde mag kon hê in hulle klasse in skole? Of word hierdie soort jeugliteratuur reeds voorgeskryf op skool?
Ja, ook by die ou onderwyskolleges was dit altyd, tot my groot vreugde, moontlik om self voor te skryf. Ons het jaarliks die nuwe jeugromans voorgeskryf as deel van die jeuglektuurmodule in die Afrikaans-kursus en veral met die metodologie oor die hantering daarvan in die klas gesels. Dit het my ook gedwing om kennis te neem van nuwe romans wat verskyn en die ontwikkeling daarvan mee te maak (al was dit dan net as leser!).
Op skool is daar in die laer grade leeslyste waaruit onderwysers kan kies en dit sluit beslis ook van die meer moderne jeugboeke in. Ongelukkig is die begroting van skole egter van so ’n aard dat hulle soms jare lank dieselfde boeke moet gebruik.
Isabella, wat het jy geleer in hierdie proses van intensiewe nagraadse navorsing en die publikasie van die artikel?
Ek het bewus geword van die feit dat ek as jong leser geïndoktrineer is ten opsigte van genderuitbeelding in die meerderheid van die jeugboeke in daardie tyd. Dit is skokkend hoe mense genderstereotipering as die norm aanvaar, selfs in die advertensies wat op die televisie goedgekeur en uitgesaai word. Ek kyk ná my studie, en ook die literatuurstudie wat daarmee gepaard gegaan het, met ’n meer kritiese ingesteldheid na die genderkonstruksie in tekste in enige formaat, hetsy jeugverhale, advertensies of strokiesprente. Ek is ook baie meer sensitief in die onderrig van my klasse vir stereotipering in enige vorm. Ek sal graag wil hê dat my leerders hul selfwaarde moet besef; dat hulle elkeen uniek en ’n individu is en dat hul menswees nie onderhewig moet wees aan die samelewing se vooropgestelde idees van wie hulle as mense moet wees net omdat hulle gebore word as seun of dogter nie.
Is daar enige nuwe navorsing op julle horisonne?
Ons sal graag hierdie navorsing verder wil neem in ’n ondersoek na die aard van die onderrig daarvan op hoër- en laerskoolvlak. Dit sou insluit ’n spesifieke klem op die metodes en uitgangspunte wat aangewend kan word in die onderrig daarvan in die verskillende fases.