Die onderwerp vir hierdie bydrae het my dadelik laat dink aan die bundel opstelle deur die Amerikaanse opvoedkundige Herbert Kohl: Should we burn Babar? Essays on children’s literature and the power of stories (1995). Ek het dit met genot herlees – Kohl het ’n besondere blik op die wêreld. In die eerste opstel ontleed hy die Franse kinderboek Histoire de Babar, le petit éléphant (1931) (in Engels vertaal as The story of Babar, the little elephant) deur Jean de Brunhoff. Die reeks, deur die oorspronklike outeur en sy seun, Laurent de Brunhoff, is in baie tale vertaal en is nog steeds in druk; daar is ook meer as een animasieweergawe. Die eerste boek bevat egter heelwat onsmaaklike (verskuilde en openlike) verwysings na kolonialisme, rassisme, kapitalisme, seksisme, edm wat vir heelwat eietydse lesers onverteerbaar is.
Kohl skryf lank voordat die term cancel culture gangbaar geword het, maar hy beskryf die spanning wat daar vir baie ouers bestaan tussen hul oortuiging dat kinders vrye toegang tot soveel boeke en media as moontlik moet kan hê en hul behoefte dat kinders sonder seksistiese en rassistiese opvattings moet grootword (12). Moet mens kinders van skadelike tekste weghou? Hy bevind dat dit onmoontlik is om kinders volledig teen baie problematiese en aanstootlike aspekte van ons kultuur te beskerm. Wanneer daar ’n verbod op boeke, televisieprogramme, edm geplaas word, word daardie dinge juis aantrekliker vir kinders, en leer hulle nie om kritiese houdings daarteenoor te ontwikkel nie (15). Hy bevind dat mens eerder van jongs af kritiese gesprekke met kinders kan voer (selfs met kleuters) oor die waardes en optrede wat deur ’n spesifieke teks voorgehou word sonder dat dit onaangenaam hoef te wees (15). As uitgewers poog om slegs boeke te publiseer wat niks bevat wat vir enige ouer onwelkom sal wees nie, het daardie boeke min verhouding tot die wêreld waarin lesers hul bevind. Terselfdertyd wil mens versigtig wees wat boeke betref wat op propagandistiese wyse “inequality and misery” voorskryf (18).
In haar artikel oor die Trompie-boeke kom Corene de Wet onder andere tot die gevolgtrekking dat ouers en onderwysers kinders daarin moet begelei om hierdie reeks krities te lees – baie soortgelyk, dus, aan Kohl se vertrekpunt en dié van talle ander navorsers. Onder andere sal kritiese gesprekke “kinders tot die besef [bring] dat die werkplek van die 1950’s anders as dié van die 2020’s lyk”. De Wet beklemtoon herhaaldelik die feit dat die wêreld van die Afrikaners wat in die Trompie-boeke uitgebeeld word, dié van die 1950’s is, en Lindie Koorts verduidelik dat ontsteltenis oor De Wet se artikel wentel om nostalgie vir daardie vergange tydperk in “’n samelewing wat die afgelope dekades ’n groot omwenteling ondergaan het”. Die oorspronklike reeks is tydsdokumente wat ’n waardevolle kyk bied op hierdie vergange tydperk, ten goede of ten kwade “kulturele erfgoed”, soos Koorts dit bestempel.
Indien die Trompie-boeke nie meer in druk was nie, sou ek sterk daaroor voel dat die boeke in universiteitsbiblioteke bewaar moet word vir toekomstige navorsers. Ek is egter geïntrigeer deur die kort verwysing deur De Wet na die feit dat die nuutste uitgawes van die boeke ’n sekere modernisering ondergaan het, met onder andere verwysing na die Springbokke se oorwinnings in die Wêreldrugbybekerwedstryde in 1995 en 2007. Hoe strook sodanige modernisering met daardie aspekte van die reeks wat De Wet tereg as problematies uitsonder, naamlik die verheerliking van geweld, patriargale opvattings ten opsigte van vroue, ens? Ek sou baie nuuskierig wees oor ’n studie wat die modernisering van die nuwe uitgawes omskryf en die uitbeelding van manlikheid, vroulikheid en ander verskynsels in die boeke van voor af problematiseer. Terselfdertyd is ek bewus van Kohl se vermaning dat mens nie kinderliteratuur ernstiger moet opneem as kinders self nie (24) – kinders eggo nie klakkeloos alles wat hulle lees of in hul eie optrede en gesprekke sien nie. Dit is ’n veel komplekser aangeleentheid.
Dit sou ‘n oorreaksie wees om Trompie te “kanselleer” – om dus die boeke uit biblioteke en die handel te verwyder en om kinders te verbied om dit te lees. Aangesien ek self nooit die reeks geniet het nie, kan ek my kwalik voorstel dat ’n verbod die boeke aantrekliker sal maak vir hedendaagse lesers – maar dit is natuurlik ’n uiters subjektiewe uitspraak. Ek is geheel en al onkundig oor die verkoopsyfers van die boeke en hul resepsie onder hul teikengehoor. Kohl voel dat as kinders beperkte toegang tot boeke het, moet daardie handjievol boeke liefs geen vooroordele weerspieël nie (29), maar dit is ’n ander saak as problematiese boeke slegs ’n deel uitmaak van die verskeidenheid tekste wat ’n kind lees. Soos Koorts en ook Koos Kombuis demonstreer, is daar hedendaagse teenhangers van Trompie – dalk kry hierdie boeke meer aftrek onder lesers? Ouers en biblioteke sal uiteindelik die debat met hul beursies besleg.
*
Vir my as ouer van ’n driejarige is boeke soos Trompie nog nie op my radar nie, maar ek bepeins daagliks die uitdagings van die Afrikaanse boekbedryf wat kinderboeke betref. Enersyds is ek gekant teen die verskynsel van cancel culture omdat dit eenvoudig onmoontlik is om die veronderstellings daarvan tot enige logiese gevolgtrekking te voer. Andersyds het ek ’n redelik lang lys voorkeure en afkeurings wat kinderboeke betref. Ek verkies byvoorbeeld boeke waarin diere as diere optree, en nie op geantropomofiseerde wyse nie (vergelyk Kohl 1995:26). Tog besit ons tientalle van hierdie soort boeke waarin diere klere dra en met allerlei menslike aktiwiteite besig is, en ek sou met leë hande van die biblioteek af terugkeer as ek hierdie boeke sou veto. Ek kry dit met moeite reg om enige soort boek te “kanselleer”, omdat die keuse van Afrikaanse kleuterboeke geweldig beperk is. En die meeste van daardie boeke is vertaal. Ek is ten volle ten gunste van vertaling, maar vind dit jammer dat Afrikaanse uitgewers selde ’n kans op plaaslike skrywers waag.
Soos my voorbeeld van diereboeke demonstreer, is die teenwoordigheid van geslagsgelykheid, feminisme en antirassisme lank nie die enigste aspekte wat ’n boek moontlik by my sou aanbeveel nie. Ek is gevoelig vir die wyse waarop die oorgrote meerderheid kleuterboeke heteronormatiewe waardes uitbeeld, en vir die ophemeling van die tradisionele kerngesin. Ek sien min regverdiging vir Hennie van Coller se onlangse opmerkings oor die verdwyning van “gewone” gesinne in kinderboeke – ek soek vergeefs na Afrikaanse kleuterboeke waarin gay ouers, enkelouers, geskeide ouers of aanneemouers voorkom (dit wil sê, ’n goeie aantal van die ouers wat ek ken). Dan praat ek nog nie van kinderliteratuur as ’n inherente middelklasverskynsel nie – Kohl het my pas weer attent gemaak op die feit dat rykdom in baie kinderboeke geïdealiseer word, dat geld aan goedheid gelykgestel word, en dat te min kinderboeke die feit weerspieël dat mens ’n gelukkige lewe kan lei sonder om genoeg geld te hê om alles te koop wat jou hart begeer (25).
Die klein drukoplae van Afrikaanse boeke maak die vraag of sekere ouer boeke gekanselleer moet word, relatief sinneloos – wie het nog toegang tot Rooi Jan en Tarzan (twee ouer reekse waarna Van Coller verwys en wat Elsabé Brits grondig kritiseer)? Reekse soos Trompie, Jasper, Die Uile en ander wat deesdae weer te koop is, noop besinning deur navorsers soos De Wet. Maar ek sou, as ouer en akademikus, minder energie daaraan bestee om sensuur op ouer boeke toe te pas en eerder ’n pleidooi lewer vir die publikasie van soveel as moontlik nuwe, oorspronklike boeke in Afrikaans wat die Suid-Afrikaanse werklikheid in al sy kompleksiteit uitbeeld.
Geraadpleegde bron
Kohl, Herbert. 1995. Should we burn Babar? Essays on children’s literature and the power of stories. New York: The New Press.
Die bydraes vir LitNet se miniseminaar, “Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era”, is hier beskikbaar:
Lees ook:
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé