Onthou jy nog die eerste keer toe jou ma gesê het jy mag nie na sonsondergang buite speel nie? Hoe jou pa bygelas het dat Antjie Somers jou gaan vang? Of was dit jou oupa wat by ’n kampvuur vir jou vertel het van Antjie Somers, die man in vroueklere wat jou in ’n groot sak gaan stop en wegdra? Kom sit hier langs my, dan steek ons weer daai vuurtjie aan en gesels.
Die gender-nonkonformistiese volkskarakter Antjie Somers spook al vir eeue in die stowwerige hoeke van Afrikaanse mense se geheues. Daarby vertel elke gesin dié volksverhaal op ’n unieke wyse (Coetzee 1994:68). In die verlede was hulle1 al beskryf as die dorpspook, ’n berg- of riviergees, en selfs ’n laksman wat kwaaddoeners gemartel het en later selfdood gepleeg het (Coetzee 1953:56; 1994:68). Nes hul verhaal neem hul gedaante ’n ander vorm aan na gelang van die verteller. Deesdae staan Antjie Somers landswyd bekend as ’n paaiboelie, spook en heksagtige figuur en word altyd met beide manlike en vroulike eienskappe of gelaatstrekke uitgebeeld. Tog lig min mense ’n wenkbrou hieroor. Antjie Somers se gendernonkonformisme word, nes hul dierlikheid en heksery, juis gebesig om hulle meer duister en dus meer monsteragtig te laat voorkom. Dié soort verteenwoording van gendernonkonformisme hou egter skadelike implikasies in. Vanweë die prominensie van genderkwessies in die kontemporêre openbare diskoers is dit hoog tyd dat ons nadink oor die wyse waarop een van die min welbekende gendernonkonformistiese figure in Afrikaans uitgebeeld word. Verder kan die figuur van Antjie Somers en hul verhaal ’n unieke geleentheid bied om gendernonkonformisme te normaliseer.
Die oorsprong van die Antjie Somers-verhaal is so onbeslis soos hul gender en gedaante. Die eerste bekende gepubliseerde verwysing na Antjie Somers verskyn in 1850 in die Cape Town Mail, waarin daar vermeld word dat ’n soldaat ’n bohaai opgeskop het omdat hy in vroueklere in die strate van Kaapstad verskyn het (Gorelik 2021:13). Later, in 1866, word daar in The Friend vermeld dat Antjie Somers ’n berugte manlike struikrower is wat vroueklere dra (Barnard 2007:68–9).
Tog bestaan vele ander weergawes van die verhaal en kan daar dus aangeneem word dat die legende al moontlik voor 1850 in omgang was. Sommige vertellers meen dat Antjie Somers vlerke aan hul voete het, en dat hulle onsigbaar kan word (Grobbelaar, Hudson en Van der Merwe 1977:64). Ander vertellers meen weer dat hulle akkedisoë en ’n haaslip het en blitsvinnig van plek tot plek kan spring. In die verlede het sommige selfs hul naam gebruik om neerhalend te verwys na vroue wat broeke of geskeurde klere dra (Grobbelaar ea 1977:74).
Antjie se verhaal word egter hoofsaaklik deur grootmense gebruik om kinders skrik te maak, en Antjie word ook duidelik met gewelddadige misdaad geassosieer. Al word hulle deur die eeue met verskillende gedaantes uitgebeeld, word hul deurgaans uitgebeeld op ’n wyse wat genderkategorieë verdoesel. In sommige weergawes van die verhaal waar Antjie as ’n struikrower figureer, dra hulle vroueklere om voor te gee asof hulle ’n hulpelose ou vrou is en hul slagoffers só te flous (Gorelik 2021:7). In ander weergawes is Antjie weer ’n soort helleveeg, ’n managtige vrou met ’n krom neus en oë wat vuur kan skiet (Coetzee 1951:5,10; Grobbelaar 1981:835). Antjie se gendernonkonformisme blyk dus ’n opmerklik belangrike element van dié bangmaakstories te wees en hul gendernonkonformisme word trouens aan hul uitbeelding as krimineel, monsteragtig en boosaardig gekoppel.
Dié soort uitbeelding van trans- en gendernonkonformistiese mense is ongelukkig ’n redelik algemene verskynsel, omdat heteronormatiewe ideale rondom gender maklik só afgedwing kan word. Flieks soos The silence of the lambs (1991) en Psycho (1960) beeld byvoorbeeld gendernonkonformistiese mense as reeksmoordenaars of geestesongesteld uit. Ook Wes-Europese sprokies wat terugdateer na die eerste helfte van die 19de eeu sluit kriminele fopdosserkarakters in (Gorelik 2021:9). In In a queer time and place ondersoek Jack Halberstam (2005:70) ook ander uitbeeldings van gendernonkonformistiese mense en identifiseer hy hoe hulle gereeld as eksentriek, misleidend, vreemd en bedrieglik getipeer word.
Ongelukkig sluit die mees onlangse vertolking van Antjie Somers se verhaal, Tertius Kapp se minireeks Die spreeus (2019), aan by die bogenoemde uitbeelding. Hierin word Antjie Somers uitgebeeld as ’n waansinnige fopdosser met bonatuurlike kragte wat kinders betower en in ’n ritueel opoffer. Soortgelyk aan vroeëre uitbeeldings van Antjie Somers skep Kapp se uitbeelding van Antjie die indruk dat gendernonkonformistiese mense gevaarlik is en dat gendernonkonformisme bloot ’n goëltoertjie is om mense mee te fop.
Volgens William R Bascom (1954) het volksverhale vier funksies, waarvan die volgende drie vir dié bespreking ter sake is: 1) Volksverhale regverdig die rituele en instellings van ’n gegewe kultuur. 2) Volksverhale word gebruik as ’n pedagogiese instrument om bepaalde waardes en sedes vas te lê. 3) Volksverhale word gebruik om sosiale beheer uit te oefen deur sosiale druk op die kulturele groep op te lê. Gevolglik kan daar aangevoer word dat Antjie Somers se volksverhaal (bewustelik of onbewustelik) gebruik word om die verstoting van gendernonkonformistiese mense te regverdig en genderbinariteit te verskans, en dat vrees daardeur gebruik word om vanaf ’n jong ouderdom gehoorsaamheid aan heteronormatiewe ideale af te dwing (Croeser 2020:33).
Antjie Somers figureer al eeue lank in ’n menigte Afrikaanse huishoudings en oral waar Antjie se stories reis, lyk dié gender-bender anders. Hier as ’n heks, daar as ’n dief, word Antjie deur grootmense te voorskyn geroep om kinders bang te maak sodat hulle gehoorsaam sal wees. Maak nie saak hoe baie male Antjie Somers van gedaante verwissel nie, Antjie word deurgaans as ’n gender-bending paaiboelie uitgebeeld. Dus blyk dit dat dié bangmaakstorie nie net gebruik word om kinders oor vreemdelinge te waarsku nie, maar ook om gendernonkonformisme as boosaardig uit te beeld en sodoende afsku daarvoor aan te moedig.
Hiermee insinueer ek allermins dat ons vir Antjie moet uitgooi met die badwater. Dit sal eintlik tot ons nadeel wees om ons oudste gender-bender van kant te maak, juis omdat hulle so ’n belangrike figuur is. Trouens, Antjie Somers is een van die invloedrykste en gewildste volkskarakters in Afrikaans. Hoewel verteenwoordiging van gendernonkonformisme toeneem in die media, bly Antjie een van min genderonvaste2 volkskarakters in die wêreld (Gorelik 2021:1).
Antjie Somers bied dus ’n gulde geleentheid om gendernonkonformisme te vier, mits hulle van hul status as paaiboelie losgemaak word. Tog bly staan die vraag of dit wel moontlik is. Dit dien geen doel meer om Antjie as ’n paaiboelie uit te beeld nie. Bo en behalwe hoe skadelik dit is om gendernonkonformistiese mense só uit te beeld, stel ek voor dat Antjie nou as mities en magies eerder as boosaardig en vreesaanjaend gesien word. Gorelik (2021:17) voer aan dat hulle nie meer ’n belangrike funksie as ’n paaiboelie vervul nie, aangesien hul nie meer uitdrukking gee aan die samelewing se vrese nie. Verder voer hy aan dat daar om dié rede nie meer in die moderne wêreld vir Antjie ’n plek is nie. Hy meen dat ander figure soos Pinky Pinky vir Antjie vervang het.
Na my mening maak dít dit juis moontlik om Antjie te herinterpreteer en kan veral queermense dié gender-bender vir hulle toe-eien. Pieter W Grobbelaar (1981:355) beskryf Antjie Somers inderdaad as “die veelsydigste karakter in ons volksoorlewerings”. Ook hul storie is veelsydig, aangesien dit met elke oordrag ’n stertjie by kry of verander. Soos ek elders toelig (Croeser 2020), is dit juis hul gendernonkonformisme wat hulle en hul storie so veelsydig maak. Die onvastheid, vloeibaarheid en veranderlikheid van hul gender, gestalte en verhaal leen sigself tot herinterpretasie.
Verder is daar deesdae ’n menigte voorbeelde van queermense wat karakters wat die rol van die skurk speel, vir hulle toe-eien (Burger 2022). Disney-skurke soos Ursula van The little mermaid en Cruella De Vil van A hundred and one Dalmatians wat as queer gekodeer word, word nou byvoorbeeld herinterpreteer (Griffin 2000:73; Mostert 2022). Juis as gevolg van Antjie Somers se veelsydigheid as volkskarakter bied dié verhaal kreatiewe moontlikhede om Antjie Somers te herinterpreteer. As sulks is dit moontlik vir Antjie om weer van gedaante te verwissel. Soos ander figure wat deur queermense toegeëien word, kan Antjie Somers herbedink word en kan hul verhaal (weer eens) ’n ander, meer positiewe vorm aanneem.
As sulks bied Antjie Somers ’n gulde geleentheid om gender-nonkonformisme te vier terwyl ’n vernuwe weergawe van hul verhaal gebesig kan word om Afrikaanse lesers, klein en groot, bloot te stel aan gendernonkonformisme op ’n wyse wat aanvaarding eerder as afsku aanmoedig.
Bibliografie
Barnard, M. 2007. Cape Town stories. Kaapstad: Struik.
Bascom, WR. 1954. Four functions of folklore. The Journal of American Folklore, 67(266):333–49. DOI: 10.2307/536411.
Burger, B. 2022. Korrespondensie. 19 Augustus, Kaapstad.
Coetzee, A. 1951. Kinderskrik en funksionalisme. Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal, 8(1):1–10.
—. 1953. Die Afrikaanse volkskultuur: Inleiding tot die studie van volkskunde, Kaapstad: AA Balkema.
Coetzee, A en PW Grobbelaar (reds). 1994. Abel Coetzee en sy rubriek “Waar die volk skep”: Vroeë Afrikaanse volkskultuur. Stellenbosch: Genootskap vir Afrikaanse volkskunde.
Croeser, C. 2020. A wilting whisper of Antjie Somers: A meditation on the witchery and gender-nonconformance of Afrikaans folklore figure Antjie Somers. Scrutiny 2, 25(2):23–39. DOI: 10.1080/18125441.2020.1859605.
Demme, J (red). 1991. The silence of the lambs [film]. Orion Pictures.
Griffin, SP. 2000. Tinker Belles and evil queens: The Walt Disney company from the inside out. New York: New York University Press.
Grobbelaar, PW. 1981. Die volksvertelling as kultuuruiting met besondere verwysing na Afrikaans. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch
Grobbelaar, PW, CW Hudson en H van der Merwe. 1977. Die Afrikaner en sy kultuur, Deel IV: Boerewysheid. Kaapstad: Tafelberg.
Halberstam, J. 2005. In a queer time and place. New York: New York University Press.
Hitchcock, A (regisseur). 1960. Psycho [film]. Universal Studios.
Mostert, J. 2022. Korrespondensie. 20 Augustus, Kaapstad.
Net die stoute kinders. 2019. Die spreeus. Reeks 1, Episode 12. KykNet, 25 Junie 2019.
Eindnotas
1 Aangesien Antjie gendernonkonformisties is, sal ek deurgaans die gender-neutrale voornaamwoord “hulle”/“hul” gebruik om na hulle te verwys.
2 “Genderonvas” word gebruik deur queermense wie se genderidentiteit of -uitdrukking vloeibaar is. Genderonvaste mense se genderidentiteit of -uitdrukking verander oor tyd of van dag tot dag.
Die bydraes vir LitNet se miniseminaar, “Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era”, is hier beskikbaar:
Lees ook:
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé
Kommentaar
Tog wonder ek: word hedendaagse jong kinders regtig nog bang gemaak met Antjie Somers en diesulkes? En moet ons gendernonkorformisme by hulle inprent? Elkeen voed sy kinders op na sy eie geloof en waardes, en soos die oues sing, so piep die jonges.