Baie geliefde Afrikaanse jeugboeke is in Ghana geskrywe (of: Die rare geval Stella Blakemore)
Enkele maande gelede waaier ’n debat in die Afrikaanse pratosfeer oor kinder- en jeugboeke oop. Wat die Afrikaanse boekuniversum betref, word dit gou sekerlik die debat van die jaar. Teenoor die nuwerwetse stories, wat volgens sommiges ten kwade aan elke grieseltjie kleur in die woke reënboog ruimte gee, is ’n vorige generasie boeke opgestel. Dáárdie blink boeke het van tradisionele waardes (tot ’n ruk gelede seker maar sogenaamde Afrikanerwaardes) geglim. ’n Versugting word uit sekere oorde na dáárdie vervloë leef- en leeswêreld uitgespreek, omdat die smerige nuwe boeke die deugsame oues verdring. Só word 2022 se rel der relle ontketen.
In die loop van my oor- en indenking bekyk ek op ’n ingewing die geval Stella Blakemore (1906–1991), die skrywer wat naas Topsy Smith (soms alias Bettie Naudé) seker die meeste vermag het om Afrikaanse kinders sedert ongeveer 1932 te kry om Afrikaanse boeke te lees; wat die grond vir Trompie en Saartjie en baie meer berei het – in ’n tydsgewrig, ietwat langer as vyf jaar ná dit ’n amptelike taal geword het, toe Afrikaans self besig was om haar peutervorm te ontgroei.
Wat ’n mens egter agter die skerms ontdek, verras jou. Waar Topsy Smith (wat in die 1930’s saam met onder meer BJ Vorster en FA Venter op Stellenbosch ’n Dagbreekganger was) se tradisionele lewenstog jou nie laat terugsteier nie, is dit met sy onmiddellike voorganger, Stella Blakemore, anders gesteld. Soos Topsy (sc. Bettie Bangles) was Stella ’n literêre fopdosser; tog in die teenoorgestelde rigting: Stella/Theunis, en nog ander. (’n Tesis wat vra om geskryf te word, is oor die oorsprong en rol van pseudonimie in Afrikaanse kinderlektuur.)
Vir Stella se skoolgaande lesers was sý sekerlik tannie Stella, êrens in die waas van Transvaalse voorstedelikheid driftig die toetse van ’n tikmasjien aan’t beproef. Tog was sy in werklikheid ’n ster wat vér van haar moerland verskiet het. Vir sý lesers was oom Theunis Krogh weer sekerlik op die lees van sy held, die skoolhoof doktor Roelof Serfontein, geskoei. Oom-er sou daar sekerlik nie kon nie.
Maar Stella/Theunis/Annelise/Dien1 het die leeuedeel van haar lewe ver van die Afrikaanse dampkring deurgebring – ver van Pretoria en die Nasionale Party en die NG Kerk. Dit is daarom, die ironie ten spyt, sekerlik te verstane dat sy skynbaar bra gesukkel het met idiomaties korrekte Afrikaans. Soveel dat haar uitgewers hare op hul tande moes hê. Maar skryf moes Stella skryf.
Onder haar nooiensvan, Blakemore, het Stella Owen, van die Gouekus en van baie ander plekke, die Maasdorp-reeks gepen. Dit wentel rondom die weerbarstige en begaafde Jakoba Malan – Kobie die Onhebbelike, Kobie die Klaviermaestra, Kobie die Volmaakte – en haar norring sibbes, almal telge van die reuse-Malan-gesin uit Oranjezicht. Op die kosskool Maasdorp is daar ’n hele rolverdeling kleurige karakters: Kobie se kleinsus Heloïse; Elsabe van den Heever, wat deur haar ouderwetse tante grootgemaak is; die verwende Breggie Landsberg, wat die noodlot tart; Carla Willemse, wat as die violiste Olga Willowitch wêreldwyd luister verwerf het; Allegra die weeskind. En nog baie meer.

Foto: Jean Meiring
Die fokalisators is die skoolgangers. Die onderwysers is meesal Die Ander. Maar onder die skuilnaam Theunis Krogh skryf Stella die Keurboslaan-reeks, ’n seunskoolteenhanger. Doktor Roelof Serfontein, skoolhoof, het met die erfgeld van ’n ryk Amerikaanse peetpa die eksklusiewe Keurboslaan Seunskool in die noorde van die land opgebou, êrens dalk halfpad tussen Johannesburg en Delagoabaai in Mosambiek, naby die Swazilandse grens. Hiér kyk die verteller se swewende oog heel dikwels deur die skoolhoof se bril:2
Doktor Serfontein is lank en skraal, met breë skouers en ’n baie streng gesig. In alle soorte sport blink hy uit en dan skryf hy ook Afrikaanse, Nederlandse en Engelse boeke wat vir hom in die buiteland sowel as in Suid-Afrika ’n groot naam gemaak het. Elke leerling, hoewel bang vir hom, bewonder hom meer as enigeen in die wêreld en hulle is hom met hart en siel toegewy. Hierdie toewyding bring hulle skynbaar min loon, want die hoof het ’n houding wat vreemdelinge seker as koud en ontmoedigend sou beskou. In die eerste plek is hy te besig om veel energie vir persoonlike aanraking te kan gebruik. Dan is hy baie stil en terughoudend …
Sekerlik onder die invloed van die Eduaardiaanse kosskoolreekse wat in die Engelssprekende wêreld baie gewild was, soos die legio van hulle deur Angela Brazil, was die ruimte van die kosskool vir Stella die perfek afgeslote tuin van Eden waarin, ironies genoeg, haar meisie- en seunskarakters ’n sekere soort vryheid en onskuld kon smaak.3
Die Blourand-reeks, wat Stella as Annelise Bierman die lig laat sien het, speel ook in ’n uitsoek- plattelandse meisieskool af. Onder die naam Dien Grimbeek pen sy die Rissies-reeks neer. Die vier Rissik-rooikopdogters se ma is oorlede. Hul ouma maak hulle op ’n plaas groot, waar hulle as wafferse speurders ontpop.
Veral die Maasdorp- en Keurboslaan-reekse is met durende gewildheid geseën. In 1970 en 1995 verskyn heruitgawes van die Maasdorp-boeke. In 1973 beleef Keurboslaan ’n heruitgawe. Baie van die vorige titels word saamgevoeg en onder nuwe titels uitgebring.
In die konteks van die huidige debat, sou ’n studie oor presies hoe die twee reekse boeke oor die jare bygewerk en afgekuis is, uiters interessant en stigtend wees. Dit self sou ’n intrigerende verhaal van verandering en modernisering te vertelle hê, gekamoefleer deur die feit dat die karakters breedweg gesproke dieselfde bly.
Soos Kobie self in Hoofmeisie Kobie (1947) teenoor haar vorstelike moeder sê:4 “Die tye verander tog! … Die mense en modes ontwikkel.”
Die stowwerige band van Avonture op Keurboslaan uit 1942 wat tans in my hand lê, is volop dinge wat selfs al in die 1970’s die opheffing van wenkbroue sou ontketen het.

Foto: Jean Meiring
*
Van kleins af het Stella Blakemore haar in ’n oorwegend Engelse sfeer bevind.
In 1906 het sy in ’n hensopperskamp tussen Heilbron en Lindley in die Noordoos-Vrystaat haar eerste lewenslig aanskou. Haar moeder was Emmarentia Susanna Catherina Krogh, oftewel Emma, dogter van Theunis Johannes Krogh, onderstaatsekretaris in president Kruger se regering. Haar pa, kaptein Percy Harold Jenks Blakemore, was ’n Britse offisier.
In 1902 trou Emma en Percy. Soos te verwagte is Emma se familie allermins ingenome met haar eiesinnige benadering tot perdekoop.
Op 28 Junie 1972 verskyn in die indertydse Die Vaderland ’n karakterskets van Stella deur die joernalis André du Toit ná hy haar in Londen by die Royal Commonwealth Society, “’n uitsoekklub” waarvan sy ’n lid was, ontmoet het. “In die res van die vertrek,” merk Du Toit met dalk ’n tikkie schadenfreude op, is “middeljarige en meerjarige dames uit die Britse middelstand wat ernstig sit en lees. Baie van hulle is weduwees van die ou Britse ryk wat verkrummel het – baie ook pensioenarisse, oud- koloniale amptenare wat in boeke blaai en probeer om die glorieryke dae weer in die verbeelding te laat herleef.”
Ná Percy op die drempel van vaderskap “so vinnig as wat mens in 1906 oor die weg kon kom, na die naaste dokter afgesit” het, is sy aandag afgelei. “Maar,” vervolg Du Toit, “selfs in sulke tye van die ergste nood kon die kaptein dit nie verhelp om hom deur sy donker skaduweetjie te laat bemeester nie …: Die dobbeltafel.”
Toe hy en die dokter eindelik opdaag, sit Emma kiertsorent, ’n pièta te velde – met hulle eie klein sterretjie in haar arms. Flink gee Percy egter sy nuwe huweliksrol prys. Na verneem word – wat maar ’n sagte manier is om te sê die skindertonge wou dit hê – wyk hy Engeland toe terug, waar hy om den brode kaart speel. “[M]aar die mense,” vertel Stella vir Du Toit, “sê hy was ’n lekker ou.”
In 1911 weer word Emma die eerste aktrise wat in ’n Suid-Afrikaanse film ’n rol vertolk, die swygprent The Great Kimberley Diamond Robbery, ’n stuk opperste Africana.
Stella word vir haar opvoeding na kosskole in die indertydse Natal gestuur. Diegene wat soos Stella se pa tot aleatoriese aktiwiteite aangetrokke is, sal sekerlik geld daarop sit dat Stella dáár van Angela Brazil se boeke te lese gekry het en dat sy stellig, so in die rondtuur, besef het dat sy toe self in só ’n tableau vivant ’n karakter was.
Stella was ’n begaafde musikant. Sy verwerf ’n klavier- en sanglisensiaat aan die London Royal Academy of Music. Daarna loop sy in Duitsland in die operakuns klas, waar sy ook in etlike operas optree.
Dis in Duitsland dat sy in die 1920’s begin skrywe. Ten spyte van die blootstelling wat sy as skooldogter aan Engels gehad het, was dit in haar moedertaal dat sy die pen opgeneem het. Presies hoe en hoekom iemand aan ’n sekere taal vasklou, is tog iets erg persoonliks. In Stella se geval noop die karige bronne ’n mens om te bespiegel. Tog doen Du Toit aan die hand: “Sy is in baie opsigte ’n lewende ironie van die geskiedenis: half Brits, half Afrikaans, bereis en belese met ’n wye blik op die wêreld, onbekrompe en tog nog in murg en been deel van ons.”
Hoe dit ook al sy, haar eerste gepubliseerde werk was ’n toneelstuk, Die goue sleutel, wat JL van Schaik in 1931 sou uitgee. En die sluise was toe behoorlik oop. Die meisies van Maasdorp, die eerste aflewering in die Maasdorp-reeks, verskyn die volgende jaar, ook by Van Schaik.
In 1933 trou Stella in Londen met David Owen, ’n Walliese siviele ingenieur. In 1935 trek die Owen-egpaar na Suid-Afrika. David is in Swaziland gestasioneer en Stella help by haar ma se Pretoriase musiekskool uit.

Foto: Jean Meiring
In 1938 begin sy aan die Keurboslaan-reeks skrywe. Die eerste boek, Jong doktor Serfontein, verskyn in 1941.5 Die boek waardeur ek blaai, Avonture op Keurboslaan, was die derde titel, en die tweede een wat in 1942 verskyn het.
Ná etlike miskrame neem die egpaar in die middel-1940’s twee weeskinders uit Afrikaanse gesinne aan, Salene en Peter.6
In 1947, die jaar voor die aankoms van Groot Apartheid, verlaat die Owens Suid-Afrika. Stella bly egter die wens koester om weer metterwoon Suid-Afrika toe terug te keer. Dit gebeur egter nie. Hulle woon in Ghana (toe Goudkus),7 Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië en Duitsland.
Uiteindelik maak hulle Brittanje hul tuiste. In 1954 skaf hulle ’n vakansiehuis in Noord-Ierland aan, waar Stella haar laaste 30 jaar sou deurbring.
Die jaar voor André du Toit haar in Londen sou ontmoet, lê Stella in Suid-Afrika besoek af. In die Hoofstad van 14 Junie 1971 word berig dat haar besoek “na ’n afwesigheid van agtien jaar … juis [is] om haar uitgewers oor die publikasie van haar jongste boeke te kom sien.” Sy merk op: “Ek voel baie verontwaardig omdat een van die Afrikaanse koerante na my as ’n Ierse vrou verwys, bloot net omdat ek in Ierland woon. Ek is ’n Suid-Afrikaner van geboorte met sterk verbintenisse met hierdie land …” (Op 11 Junie 1974 basuin die opskrif van ’n berig deur Chris Louw in Oggendblad eweneens uit: “Ierse vrou skryf vir Afrikaanse jeug”.)
Maar hoe sou die lesers van Hoofstad in Vorster se Suid-Afrika op dié opmerking van Stella reageer? “As swart en wit moet saamwoon, kom hulle gewoonlik in die algemeen goed klaar. Ek het in Ghana … onder ’n swart skoolhoof gewerk. Hy was baie goed vir my as personeellid. In Swaziland en Nigerië het ek presies dieselfde ondervinding gehad.”
Kortom: Vir lank het Afrikaanse kinderlesers gedink tannie Stella en oom Theunis – wat beide sulke lekker stories spin – woon net om die draai.
Tog sê Chris Louw: “Ondanks die aanhang wat Stella Owen in haar meer as 60 boeke – onder vyf verskillende name – verwerf het, is ’n mens se eerste indruk: ’n gawe tannie. Eers as sy begin gesels – dit kan sy baie onderhoudend doen – kom jy agter dat jy hier met veel meer as net ’n gawe tannie te doen het.” En: “Alles praat saam as Stella Owen gesels: haar hande gesels verder waar haar woorde, uitgespreek met ’n mooi, effense Engelse aksent, nie meer kan bykom nie.”
*

Stella Blakemore se handskrif (Uit NALN se knipselversameling)
In Crafting popular imaginaries: Stella Blakemore and Afrikaner nationalism, ’n doktorstesis uit 2004, doen Irma du Plessis ’n noukeurige analise van onder meer Stella se korrespondensie met JL van Schaik, haar vernaamste uitgewer. Die briewewisseling is in Engels, waarskynlik omdat, soos Du Plessis meld, die Van Schaiks Nederlands was.
Lees jy ’n ent in, kry jy die ferm indruk, wat Du Plessis ook suggereer, dat Engels tog Stella se gemaklikste taal was. Sy tree as ’n uiters gekompliseerde mens uit die ink. Enersyds is geld knaend voorop, deels omdat David ingestem het om die kinders aan te neem op die voorwaarde dat Stella die geldelike las sou dra. Voorskotte troef tantième.
Andersyds, sekerlik te verstane vir iemand wat buite die Afrikaanse literêre sisteem staan, is sy by tye diep onseker. Haar houding wissel soms vinnig en waarskuwingloos. Tussen haar en die uitgewer is daar ’n aanhoudende toutrekkery. Daar is wedersydse verwyte oor verkoopsyfers. As sy noustrop trek, skimp sy dat ’n ander uitgewer na haar vry. Die kritiek wat haar boeke en haar taalgebruik ontlok – duur taalversorgers moet ingeroep word – ontstel haar.
Al die aanklagte ten spyt dat sy die patriargie en die Afrikanernasionalisme ter wille was, het Stella se stellingname oor ras en dies meer ná dekades in die buiteland in baie opsigte in skrille kontras gestaan met wat mense plaaslik gedink en gevoel het. Dit blyk tog uit wat sy aan Hoofstad vertel het.
Tog was sy ook geen revolusionêr nie. Sy vertel eweneens vir Hoofstad: “Suid-Afrika vind ek gejaagd maar nie onrustig nie. Dit lyk my dis oral elemente wat van buite insypel wat die onrus probeer aanwakker. Dis wat in Ierland ook die geval is.”
*
Nes Kobie Malan teenoor haar moeder (“groot en statig en vreeswekkend”) sê dat die tye verander, net so is die geskiedenis van die Maasdorp- en Keurboslaan-reekse ’n optekening van die lewe se alewige transformasie.
Vir die teikenmark moes Avonture op Keurboslaan in 1942 ’n goeie dosis sjarme gehad het. Die karakters is allermins geyk of voorspelbaar. Inteendeel, vir die leser van toe moes daar ’n goeie skeut eksentrisiteit in Stella se siele gewees het. Die storielyne het genoeg kinkels in om die leser se belangstelling te behou. Tog is daar die gerusstelling vir die aandagtige leser dat die esse nie volkome uit die bloute kom nie.

Foto: Jean Meiring
Maar onteenseglik is die houdings en gebruike dié van ’n vervloë tyd. Vir die jong leser van vandag sal baie daarvan vreemd en selfs aanmatigend aandoen. ’n Boek is tog meesal ’n produk van die tyd waarin dit geskryf is.
Soms ook raar is die taal.8 Die gebruik van “daar” met die betekenis “omdat” is volop (trouens, die gebruik duur tot baie na 1942 in Stella se boeke voort). Die werkwoord “uit” word gebruik waar ons sou sê “uiter” (“… dat mevrou Mostert ’n gil van verbasing uit toe sy hom in die gang ontmoet”; bl 90), ’n woordgebruik wat gewoon móét herlewe. ’n Man se nek is sy “hals”. En nóg ’n uitdrukking wat uit die dode moet herrys: Iets is “uit die haak” as dit nie reg of lekker is nie. (Vgl “in die haak”.)
*
Stella Blakemore se lewe is self ’n boek werd. Toe sy in 1991 oorlede is, is daar berig dat Stella, benewens haar twee kinders, ses kleinkinders nagelaat het.
Het hulle ooit haar boeke gelees? Hoe was dit om in die suide van Afrika die kleinkind van Stella Blakemore te wees, ’n ouma hiér vir alle lesende kinders, maar dáár, in ’n ander wêreld, woonagtig?
Op die gevaar af om ’n maklike, gladde slotsom te bereik, kan ’n mens, in die konteks van die heersende debat, ten minste daaruit leer dat daar, in selfs die mees gekanoniseerde (jeug)verhaal, diepliggende kompleksiteit en teenstrydighede is. Dat geen storie ooit is wat ander meen dit voorgee om te wees nie.
Veral as dit nié deur ’n Ierse tannie geskryf is nié.

Foto van Jean Meiring: verskaf. Foto van Johannesburg: mzgiaconte op Pixabay.
Eindnotas:
1 Haar vyfde heteroniem (pace Pessoa) was haar getroude naam, Stella Owen.
2 Avonture op Keurboslaan (1942), bl 6.
3 In die artikel “Stella Blakemore het die Afrikaanse kind laat léés” in Die Burger van 15 Junie 1991 trek Marina le Roux die historiese buitelyne van die kosskoolstoriegenre terug na The governess, or Little female academy (1749) deur Sarah Fielding. Sy vermeld ook vir Brazil en voeg haar die bynaam “You are a brick” toe, die vleiendste kompliment wat iemand in daardie wêreld gegee kon word. “Jy’s betroubaar. Jy’s dierbaar. Jy’s die deugsaamheid vanself.” Dankie aan NALN vir al die knipsels.
4 Tweede uitgawe, tweede druk, 1976, bl 14.
5 In Marina le Roux se ondervermelde artikel noem sy die eerste titel verkeerdelik Jong dokter Serfontein. Daar is wel ’n dokter onder sy sibbes, soos die leser in Avonture op Keurboslaan te wete kom, wat juis erg oor sy gesondheid – min spys, min slaap, baie tabak – besorg is. Maar sý geleerdheid is in die letterkunde.
6 In die Oggendblad-berig lees ’n mens: “Haar dogter is ’n musiekonderwyseres in Kaapstad en haar seun ‘werk met syfertjies’ in Windhoek.”
7 Du Toit noem dit verkeerdelik Ivoorkus. Ook, vreemd, maak die onbenoemde skrywer van die Hoofstad-berig dieselfde fout. Baie vreemd.
8 Hierdie voorbeelde kom almal uit Avonture op Keurboslaan (1942).
Die bydraes vir LitNet se miniseminaar, “Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era”, is hier beskikbaar:
Lees ook:
Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers
Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
Kommentaar
Dankie Jean. Ek was/is 'n groot Maasdorp- en Keurboslaan-aanhanger.
Baie interessant. Ek kon nie genoeg van Maasdorp en Keurboslaan kry nie.