Miniseminaar: Oor jeugverhale, Van Coller, en ek en Barrie Hough

  • 1

Die onlangse polemiek rondom Hennie van Coller se meningstuk, “‘Gewone mense’ word al hoe meer randfigure’ (Netwerk24, 7 Mei 2022), het my laat nadink oor die jeugliteratuur wat ek op skool moes lees. Ek sê juis moes lees omdat ek nie self op die ouderdom van 14 of 15 juis geneë was om boeke wat op die “jeug” gemik was, te lees nie. Watwou nog in Afrikaans, want ek het eers as voorgraadse student die Afrikaanse letterkunde omarm.

Reinhardt Fourie (Foto: verskaf)

In my graad 8-jaar was een van ons voorgeskrewe werke Barrie Hough se Droomwa (1990), en in graad 9 was dit een van sy latere jeugromans, Skilpoppe (1998). Met die skryf van hierdie stuk wou ek eers hierdie boeke by ’n biblioteek gaan uitneem en hulle weer lees, maar toe besef ek dat ek dit nie moet doen nie. Omdat ek die romans nie onlangs weer gelees het nie, is wat my van hulle bybly juis dit wat my as tiener laat nadink het. Sou ek dié twee boeke nou weer lees, dink ek dalk heel anders daaroor na, want ek is ook lank nie meer ’n jeugdige nie.

As ek nou terugdink aan hoe ek indertyd oor Droomwa en Skilpoppe gevoel het, is dit dat ek hoogs geïrriteerd was, soos net ’n tiener kan wees, dat ek hulle enigsins moes lees. Was daar dan niks beters nie? Ek het in ’n stabiele middelklas-Afrikanergesin in Pretoria grootgeword. Bitter min het in my kinderjare gebeur wat die standvastigheid en veiligheid van my gesin in die gedrang gebring het. Dit is waarskynlik waarom ek so gesukkel het met Droomwa en Skilpoppe. In eersgenoemde kon ek nie Paul, die hoofkarakter, se obsessie met sy oorlede pa se Buick verstaan nie. Die emosionele geladenheid van die Buick as ’n soort metafoor is uiteraard in die klaskamer deur ’n energieke Afrikaansonderwyser tuisgebring, maar in my jeugdigheid het ek min empatie daarvoor gehad. Ook sy gesin se verhuising uit die voorstede na Hillbrow het nog nie vir my veel beteken nie. In die geval van Skilpoppe was soveel van die protagonis, Anna, se wêreld vir my eienaardig en wou ek nie my gedagtes daarin tuismaak nie. Dwelmverslawing? Selfdood? Hierdie dinge was vir my alles net abstrakte konsepte. Binne my eie gesin en familie het ek min daarvan geweet. Trouens, ek onthou dat waaroor almal in die graad gegons het, die stukkie dialoog in die teks is waarin ’n karakter geskok uitroep “God!” Dit op sigself spreek boekdele.

Noudat ek hieraan terugdink, besef ek eintlik hoe groot die impak van Hough se werk op my tienerpsige was. Miskien is dit jare se leeservaring wat my nou in staat stel om met meer deernis aan die hoofkarakters van Droomwa en Skilpoppe terug te dink, al wou ek duidelik as jongeling nie daaroor dink nie. Dalk is dit egter ook omdat daardie tekste – teen wil en dank van my jeugdige self – juis iets reggekry het wat baie lesers steeds as ’n belangrike eienskap van die literatuur sien: Dit het iets vir my vreemd gemaak. Dit was dus nie my tekort aan belangstelling in die verhale en hulle temas wat my so negatief oor dié romans laat voel het nie, maar die ongemak wat dit by my tuisgebring het, want dit het my as tiener gedwing om oor my eie bevoorregte lewe na te dink. Albei my ouers het geleef, was getroud, en kon vir my en my sibbe sorg. Ek het nie ’n broer of suster sien sukkel met ’n dwelmverslawing nie. Hierdie tekste, wat albei handel oor temas wat sekere mense as onvanpas vir kinders of selfs as onwelvoeglik sou beskryf, het my bereik, al was dit nie die boeke wat ek self weekliks by die biblioteek sou uitneem nie, en dit het ’n durende impak op my gehad. Dit was noemenswaardiger as die impak van my gunstelinge in daardie jare, JRR Tolkien se The Lord of the Rings, wat lekker ontvlugting was, en Ian Fleming se James Bond-reeks, wat amper ’n soort handboek vir machoïsme is.

(Boekomslae: NB-Uitgewers)

Droomwa en Skilpoppe is hier tersaaklik nie omdat ek dieselfde problematiese skema as Van Coller wil gebruik wat betref “maatskaplike en persoonlike probleme” nie, maar eerder omdat ek wil wys op hoe hierdie romans iets vir my in my middelklas- (“gewone”) wêreld kon vreemd maak. Van Coller se mening oor onlangse jeugverhale is al deeglik deur andere bespreek – hier op LitNet en elders. Wat my betref, hoekom sou ons enigsins wou hunker na wat Van Coller noem “soet, didaktiese vertellings van kinders met geringe probleme”? Want eerstens, het hy die ganse korpus Afrikaanse kinderboeke van die afgelope dekade nagegaan om te bevestig dat dit oorwegend en oral net bemoei is met allerhande ernstige kwessies, en tweedens, waarom kan kinders nie soms met lewenservarings en perspektiewe anders as hulle eie gekonfronteer word nie? Ek sluit aan by diegene wat hulle afkeer uitgespreek het jeens die onsinnige wyse waarop Van Coller homoseksualiteit as “maatskaplike en persoonlike probleem” gelyk aan molestering en verkragting afmaak. Dit was ondeurdag, en om nou te probeer argumenteer dat lesers moedswillig een of ander nuanse nie raaklees nie, is verspot, soos Jean Meiring duidelik in sy stuk op LitNet (24 Julie) aantoon, en Sonja Loots ook tereg in haar rubriek in Rapport (24 Julie) uitwys. En laat ek dit onomwonde stel: Jeugverhale kan hulle met kwessies soos dié in Hough se romans bemoei, maar ook identiteitskwessies betrek, en ons moet versigtig wees om nie al hierdie dinge ondeurdag saam te voeg (soos Van Coller blykbaar het) as sake van dieselfde aard nie.

Van Coller het in van sy antwoorde op die kritiek aangevoer dat syne ’n beskouing is wat hy wetenskaplik sal verdedig. Dit suggereer amper dat so ’n antwoord die saak finaal en beslissend sal oplos. Maar hoe sal hierdie verdediging daar uitsien? Iemand sou ’n studie kon onderneem wat die Afrikaanse jeugliteratuur van die afgelope tydperk in oënskou neem. So ’n studie sou verkieslik soveel jeugverhale moontlik binne ’n bepaalde afgebakende tydperk (byvoorbeeld 2011 tot 2021) in ag moet neem. Daarna sou daar gekyk moet word na die inhoud van die verhale om te bepaal watter temas en tendense in die boeke aan bod kom. Wat is die profiel van die skrywers? Is hulle mans of vroue, gevestigde of debuutskrywers, en hoe is hulle in die literêre sisteem gesitueer? Watter soort hoofkarakters tref ons aan? Seuns of dogters, of iemand wat as niebinêr identifiseer; wit, swart of bruin? Waarmee bemoei die tekste hulle? Identiteitskwessies of maatskaplike uitdagings – geeneen nie of albei? En dan, wanneer al hierdie inligting bepaal is, kan die navorser begin afleidings maak. Wat is populêr en wat word dikwels aangetref? Hoe lyk die resepsie van hierdie tekste en temas? Ontwikkel die literatuur oor die dekade wat oorweeg word en hoe vergelyk dit met ouer jeugverhale? Uiteindelik dan ook, wat sê dit alles moontlik oor die tyd waarin ons ons bevind en oor die letterkunde? Is die jeugliteratuur se bemoeienis met al die dinge waarteen Van Coller te velde trek, ook dan noodwendig ’n negatiewe verwikkeling? Ek is nie seker dat ’n navorsingsondersoek hieroor ’n klinkklare oordeel kan of moet vel nie.

Verder sou die gevolgtrekkings waartoe daar in so ’n studie gekom word, die konteks van die literêre sisteem in ag moet neem. Dit beteken dus dat daar benewens die inhoud van die tekste wat wel verskyn het, ook ander bepalende faktore is. Hoe voorskriftelik is uitgewers aan skrywers oor waaroor jeugverhale moet handel? Hoe word die voorkeure van jong lesers self bepaal en hoe word dit deur uitgewers en skrywers in ag geneem? Welke invloed het die menings van volwasse lesers, akademici, onderwysers, resensente en boekverkopers op jeugverhale? Wat dus hier ter sprake is, is dat die verskillende en diverse rolspelers binne die Afrikaanse letterkunde en uitgeebedryf die publikasie van jeugverhale op komplekse en waarskynlik verrassende wyses beïnvloed. Dit beteken nie dat daar sprake van ’n sinistere, politiek korrekte of woke kabaal is nie, maar eerder dat ons te make het met ’n ingewikkelde proses waartoe baie mense bydra en waarin hulle ook ’n belang het. En die gevolgtrekkings van enige studie gaan nie eenvoudige antwoorde opdis nie. Dit sal inteendeel wys hoe kompleks die hele sisteem van jeugverhale waarskynlik is. Hierdie sisteem pas hom deurgaans aan by die veranderende tegnologie en die beskouings van die tyd, so dit verander al vir dekades, en sal aanhou verander.

Uiteindelik is dit deur hierdie selfde sisteem dat Droomwa en Skilpoppe my as tiener bereik het en daartoe gelei het dat hierdie (en talle ander) romans wel op my ’n indruk gemaak het. En hoe dankbaar is ek nie dat die verhaalwêrelde in hierdie boeke nie net oor gemaklike, argetipiese en eenvoudige mense se lewens gehandel het nie, want dit het my jong self laat besef dat almal se lewens nie soos myne is nie en dat my lewe nie ’n soort norm of standaard is waarvan verskillende lewens ’n sogenaamde afwyking is nie.

 

Die bydraes vir LitNet se miniseminaar, “Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era”, word hier vrygestel:

Miniseminaar: Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era

Lees ook:

Omstredenheid en kleuter-, kinder- en jeugliteratuur

Wydlopende kommentaar deur akademici op Van Coller-debat

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

Gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke

Trompie ’n chauvinis?

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé

Jeugboeke se storm en drang: Onstuimige gesprekke en versugtings na tienerreekse wat die ouers onthou

  • 1

Kommentaar

  • Joan Hambidge

    Reinhardt Fourie slaan die spyker op syn kop. Jou lewe is nooit nie die norm of standaard nie en dit is hierom belangrik om jong lesers aan ander kulture en lewenswyses bloot te stel. Barrie Hough se tekste het 'n belangrike impak gehad en 'n standaard gestel. Tye verander.
    As jong gay-kind het ek enorme vevreemding ervaar met kinder- en jeugboeke. Ek was nie daar nie, soveel as wat ek die Maasdorp-reeks geniet het, was ek buite alles. Toe het ek skelm grootmenseboeke begin lees en besef jeugverhale gee 'n on-werklike beeld. Al is dr Serfontein van Keurboslaan steeds 'n rolmodel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top