
Debatte woed tans oor die omstrede aard van kinder- en jeugboekkarakters. Daar heers polemiek rondom die onlangse diskoers rakende randfigure in Afrikaanse kinder- en jeugverhale wat deur Hennie van Coller (2022) in ’n rubriek begin is.

Elize Vos (Foto verskaf)
Van Coller se grootste literêre beswaar was dat ’n sekere polities korrekte voorskriftelikheid bestaan wat kinder- en jeugliteratuur betref en dat dit tot resepmatige boeke lei. Hy meen dat bepaalde temas té veelvuldig in kinder- en jeugliteratuur voorkom en dat ander ontbreek; volgens hom word te veel oor bepaalde maatskaplike en persoonlike kwessies geskryf en word te min aandag aan “gewone” gesinne gegee. Hierdie tendens skryf hy grootliks toe aan die vereistes wat uitgewers aan skrywers stel.
In sy aanvaardingstoespraak van die Hertzogprys vir Dol heuning het SJ Naudé sy bydrae tot hierdie diskoers gelewer. Naudé is van mening dat Van Coller van beter behoort te weet as om homoseksualiteit saam met ander maatskaplike probleme, soos onder meer verkragting en misdaad, oor een kam te skeer (Naudé 2022a; 2022b; 2022c).
Corene de Wet (2022) het in ’n LitNet Akademies-artikel op gendervooroordele in die Trompie-reeks gewys en ter aansluiting by Naudé is sy ook van mening dat in kinder- en jeugboeke nie genoeg ruimte gelaat word vir sogenaamde randfigure nie. Theron (2022) verduidelik dat randfigure bloot karakters is wat anders as die norm is. Dit beteken geensins dat alle randfigure noodwendig sleg is nie. Volgens haar was die tendens sedert die vroeë 1990’s om meer sogenaamde randfigure in jeugboeke uit te beeld onder andere deur skrywers soos Barrie Hough, Leon de Villiers, George Weideman, Elsabe Steenberg, Maretha Maartens en Marita van der Vyver. Onderwerpe soos egskeiding, tienerswangerskap, egbreuk, enkelouergesinne, homoseksuele verhoudings en karakters met donker verledes is die onaangename werklikheid vir die oorgrote meerderheid van die samelewing. Theron benadruk dat “sodra ’n ‘werk’ – teks, kuns, boek, skildery of wat ook al – jou hande verlaat, is die interpretasie daarvan en die betekenis wat daaraan geheg word, nie meer die skepper se eiendom nie”.
Uit bogenoemde menings is dit duidelik dat daadwerklike verskille steeds bestaan oor moraliteit, omstrede kwessies en dan ook per se randfigure in kinder- en jeugliteratuur. Met hierdie bydrae word gepoog om oor hierdie verskille te herbesin en akademiese soberheid te bring. Ek haal graag die woorde van Anne-Marie Beukes, hoof- uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aan: “… dat oop gesprek en debat aan die wese van intellektuele diskoers lê”.

Prente: NB-Uitgewers
Moraliteit en kontroversiële sake
Moraliteit is ’n konsep wat moeilik is om te definieer as gevolg van die diversiteit van mense en hul lewenstyle. Die volgende raakpunte kom egter uit ’n ondersoek na die wye verskeidenheid definisies van moraliteit na vore: Moraliteit is ’n persoonlike en subjektiewe bewussyn van wat goed of kwaad is of van wat reg of verkeerd is in ’n mens se optrede teenoor jouself en ander. Moraliteit impliseer daarom die vermoë om ’n mening uit te spreek oor omstrede sake wat wêreldwyd al hoe meer in kinder- en jeugliteratuur na vore kom. Die Latynse woord controversia beteken letterlik ’n rigtingsverandering van denke – ’n redetwis, dispuut, polemiek of meningsverskil. ’n Kontroversiële of omstrede kwessie is ’n saak wat verskillende individue en groepe op verskillende maniere interpreteer of verstaan en waaroor daar konflikterende menings is. Omstredenheid impliseer die bestaan van ’n aanvegbare saak. Met ander woorde, dit is moontlik om ’n saak anders te beoordeel. Moraliteit kan soos volg opgesom word: Moraliteit beoordeel omstrede of kontroversiële sake. Met ander woorde, moraliteit oordeel of sekere aanvegbare sake (onder andere die hantering van randfigure) in sekere kinder- en jeugverhale reg of verkeerd is.
Na aanleiding van sensuurwette is vier kategorieë vroeër geïdentifiseer waarvolgens omstrede kwessies in literêre tekste ingedeel kan word, naamlik geweld, politiek, seksualiteit en religie (Fritz en Van der Westhuizen 2010:163–82). Enkele voorbeelde van omstrede kwessies in kinder- en jeugverhale waaroor ’n morele oordeel uitgespreek en in een van die vier genoemde kategorieë ingesluit kan word, is onder andere disrespek teenoor gesag, dwelm- en drankgebruik (of -misbruik), rook, seksuele promiskuïteit, verkragting en molestering, bendes, geweld in skole, kru taalgebruik, eetsteurnisse, enkelouerskap en afwesige ouers, gestremdheid, rassisme en ander stereotipering, en kinderprostitusie. Kinders en die jeug word deur ander media, onder andere films, televisie, die internet, tydskrifte en koerante wyd aan omstrede kwessies blootgestel. Kinder- en jeugverhale, waarvan die inhoud omstrede van aard mag wees, sal waarskynlik deel van kinder- en jeuglesers se leesbelangstellings vorm.
Volwassenes en die moraliteit van jong lesers
Die volwasse rolspelers, soos ouers en onderwysers wat ’n bydraende rol behoort te vervul in die vestiging van moraliteit by kinder- en jeuglesers, openbaar somtyds self teenstrydige waardes en huldig uiteenlopende sieninge oor die blootstelling van omstrede kwessies in kinder- en jeugverhale. Sommiges is van mening dat die leesblootstelling aan omstrede kwessies die kinder- en jeugleser negatief beïnvloed (angsteorie), terwyl ander argumenteer dat kinder- en jeuglesers op hierdie wyse afsluiting vind van hulle eie probleme (katarsisteorie). Hierdie teenstrydige waardes en uiteenlopende sieninge van volwassenes kan tot verwarring by kinders en die jeug lei.
Hoe maak ons kinder- en jeuglesers van ouers en onderwysers se vooroordele vry, en hoe behoort hedendaagse ouers en onderwysers omstrede onderwerpe in kinder- en jeugverhale te benader sonder die vrese en vooroordele van ouer generasies?

Prente: Penguin Random House
’n Wêreld met nuwe reëls
Raad aan ouers en onderwysers wat ’n nuwe geslag lesers voorberei op ’n wêreld waar die reëls van hul voorgeslagte lankal nie meer geld nie, sou die volgende kon wees: Skep tuis en by die skool ’n veilige ruimte waarbinne kinders en leerders ’n gevoel van aanvaarding en wedersydse respek beleef. Hedendaagse jeugdiges behoort te weet dat hulle nie in bepaalde genderrolle vasgevang hoef te word nie en dat hulle keuses het oor waar hulle hul plek in die wêreld kan vind. ’n Intellektuele en oop diskoers behoort oor omstrede kwessies met kinders en leerders gevoer te word, en binne die kind/leerder se ervaringswêreld behoort hy/sy toegelaat te word om op ’n bepaalde teks te reageer en sy/haar mening te verskaf (volgens die resepsie-estetika-benadering). Goeie kommunikasie moet geskep word tussen ouers en onderwysers rakende voorgeskrewe werke van omstrede aard. Dit is voorts belangrik dat ouers en onderwysers ’n bewustheid van en kritiese ingesteldheid teenoor omstrede kwessies by kinders en leerders kweek.
Die fasilitering van kinder- en jeugverhale van omstrede aard kan vir taalonderwysers problematies raak. Juis daarom is dit van kardinale belang dat die onderwysers toegerus is om hierdie netelige situasies in letterkunde met sensitiwiteit te hanteer. Onderwysers wat wegskram van hierdie omstrede onderwerpe in kinder- en jeugliteratuur en wat nie hierdie onderwerpe in die klaskamer met hul leerders wil medieer en fasiliteer nie, of liewer nie wil hê dat hierdie omstrede tekste vir hul leerders voorgeskryf word nie, bied nie meer ’n oplossing vir hierdie probleem nie. Die vraag moet eerder wees watter effektiewe metodes gebruik kan word om hierdie omstrede sake met die leerders in die klaskamer te fasiliteer.
Daar moet egter gewaak word teen ’n eensydige benadering wanneer kinder- en jeugverhale met leerders gefasiliteer word. ’n Teks moet vanuit verskillende perspektiewe benader word en die konteks én teksbelewing van leerders moet in ag geneem word. Onderwysers moet onthou dat die verlede nie aan huidige waardes gemeet kan word nie en daarom is dit belangrik om die verhaal binne die bepaalde historiese tyd waarin dit geskryf is, te beoordeel. Terselfdertyd kan ouer tekste ’n nuttige aanknopingspunt vir die fasilitering en mediëring van ’n huidige omstrede kwessie wees. Deur bepaalde aspekte in die verhaal self (byvoorbeeld deur die karakters se handeling) kan negatiewe waardes binne die verhaal uiteindelik herstel, omgekeer, verander of aangepas word om die bedoelde positiewe waardes te beklemtoon.
In die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklarings vir alle skoolfases (DBO 2011), wat grondslag vind in die Grondwet van Suid-Afrika (1996), word inklusiwiteit, sosiale geregtigheid en gelykheid, asook diversiteit as fundamentele beginsels vir onderrig gepropageer. Kritiese denkers moet gekweek word wat gereed sal wees vir die uitdagings van die 21ste eeu. Soveel te meer behoort onderwysers daarom te fokus op die studie van kinder- en jeugverhale waarin morele kwessies geïntegreer is. Die kritiese lees van kinder- en jeugverhale is nodig waar veral ongelykhede tussen verskillende rasse en binne dieselfde geslag uitgelig en bespreek word. In die beheerde klaskameromgewing kan gesprekke met die leerders oor omstrede kwessies ontlok word sonder dat die onderwyser se moontlike vooroordele en standpunte die leerders tot meningvorming mag beïnvloed. Onder die mediëring van die onderwyser kan die leerders se eie ontdekking van die oorsake en gevolge van, en moontlike oplossings vir, sulke kwessies (onder andere boelie- en homofobiese gedrag en gendervooroordele) bydra tot die terapeutiese waarde wat in hierdie tipe kinder- en jeugverhale verskuil is. Sodoende kan leerders gelei word om hulself en ander te aanvaar as unieke skepsels met goed en kwaad en kan hulle hul eie waardeoordele ontwikkel om empaties teenoor andere te wees. Die leerders behoort die lees van verhale te geniet, en wanneer hulle met omstrede kwessies gekonfronteer word, moet hulle uiteindelik afsluiting van hulle eie probleme vind sodat die lig van hoop weer vir hulle aangesteek word.
Bronne geraadpleeg
Departement van Basiese Onderwys. 2011. Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklarings. Pretoria: Staatsdrukker.
De Wet, C. 2022. Gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke. LitNet Akademies, 19(2). https://doi.org/10.56273/1995-5928/2022/j19n2d3
Fritz, MJ en ES van der Westhuizen. 2010. Omstrede kwessies en teksinterne korrektiewe in Skilpoppe van Barrie Hough, Literator, 31(2):163–82.
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. 1996.
Meyer, N en A Theron. 2022. Jeugboeke se storm en drang: onstuimige gesprekke en versugtings na tienerreekse wat die ouers onthou. LitNet Akademies-onderhoud, 14 Julie. https://www.litnet.co.za/jeugboeke-se-storm-en-drang-onstuimige-gesprekke-en-versugtings-na-tienerreekse-wat-die-ouers-onthou/
Naudé, SJ. 2022a. SJ Naudé kap na Van Coller, vra vir ruimheid in Hertzogprys-toespraak. Netwerk24.
—. 2022b. SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys. LitNet Akademies (Seminare en essays). https://www.litnet.co.za/sj-naude-se-toespraak-by-ontvangs-van-die-hertzogprys.
—. 2022c. Persverklaring: Dol heuning wen nog ’n prys – en die skrywer maak sy stem dik. (PRH/LAPA-Uitgewersportaal). https://www.litnet.co.za/persverklaring-dol-heuning-wen-nog-n-prys-en-die-skrywer-maak-sy-stem-dik.
Van Coller, H. 2022. “Gewone mense” word al hoe meer randfigure. Netwerk24.
Die bydraes vir LitNet se miniseminaar, “Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era”, is hier beskikbaar:
Lees ook:
Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie
Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé

