Toyota US Woordfees 2022: Boekemacrazies by die Toyota US Woordfees

  • 0

’n Onsie (Foto verskaf)

Trisa Hugo en Analize Viljoen van Boekemakranka deel hulle indrukke van die pas afgelope Woordfees. Izak de Vries het met hulle gesels.

Trisa en Analize, julle het Boekemekranka begin as ’n aanlyn ontmoetplek. Nou het julle die Toyota US Woordfees bygewoon, mense se hande geskud en drukkies uitgedeel. Hoe voel dit om agter die skerm uit te glip en mense in die oë te kyk?

Trisa: Toe Zelda Bezuidenhout ons eendag in ’n ligte oomblik die Boekemacrazies noem, het ek geweet ek moet haar leer ken. Analize was met die 2020 Woordfees gelukkig genoeg om haar te ontmoet, en hierdie jaar was dit ook my beurt om die vriendskap wat in 2020 ontstaan het, van virtueel na realiteit te neem. Daar was trane en koffie betrokke, soos dit vriendinne betaam. We do it Wild!

Op ’n meer ernstige noot, dit was ’n voorreg vir ons om Boekemakranka te verteenwoordig en deurlopend indrukke op Facebook en Instagram oor spesifieke produksies te plaas, maar ons wil graag ook ons oorkoepelende indrukke plaas. Ek was meestal by skywersgesprekke, maar Analize kon ook van die musiek en teater bywoon. ʼn Groot lekkerte was dat die skrywers ons ken (en herken) van ons aanlyn gesprekke. Selfs die kort kuiers by die Plataankafee is, soos altyd, op sigself kreatief.

Analize: In ons skrywersgesprekke van die afgelope twee en ’n halfjaar het ons baie skrywers aanlyn ontmoet. Ons het gereeld ook ná die gesprek aangehou kuier en dit after parties begin noem. Ons het almal die fisieke kontak met mense gemis deur die pandemie, maar ek het ook besef dat die digitale wêreld tog wel ’n leemte gevul het. Om baie van die mense uiteindelik in lewende lywe te ontmoet was vir my ongelooflik lekker. In baie gevalle het dit gevoel soos om ou vriende weer te sien na ’n lang tyd. Wat ek ook weer besef het, is dat mense inherent eintlik sommer net flippen nice is en dat feeste soos die Woordfees almal bymekaar bring.

Trisa: Ek stem só saam met Analize hier. Daar was ’n skrywer wat tranerig was en oor my arm gevryf het: “Dis so lekker om weer aan mense te kan vat.” Ons almal het op ons eie manier moes cope met die gebrek aan fisieke kontak met ander eende van ons dam die afgelope twee jaar. Tog het ek gevoel asof meer drukkies uitgedeel is hierdie jaar. Dit was goed so.

(Foto: Izak de Vries)

Ek het ook in Zelda vasgeloop. Hier gesels sy met Erhardt Thiel, die skepper van die iMadiba-kunswerke.

Suid-Afrika is bevoorreg om talle boekfeeste te hê. Hoe vergelyk die 2022 Toyota US Woordfees met ander feeste wat julle al bygewoon het?

Trisa: In kort, dit voel asof die Toyota US Woordfees die enigste fees is wat my as leser ag in die verskeidenheid wat hulle aanbied. Boekgesprekke het gewissel van boeke oor historiese figure, ernstige boeke en temas soos die pseudogeskiedenis, tot vroulike begeerte en hoe om die lewe te kies en depressie te hanteer. Wat ook lekker was, is dat daar verskeie temagesprekke was, pleks van net oor ’n enkele boek. Dit pas my wye leessmaak soos ’n handskoen.

By ander feeste waar ek al was, het dit die indruk gelaat dat die organiseerders se eie smaak die toon aangee by die keuse van gesprekke. Een fees ignoreer alles wat Afrikaans is. Régtig?

Analize: Ek was lanklaas by ’n ander fees, en ek dink nie ek kan dit eintlik vergelyk nie, omdat ek op daardie stadium nog nie self ’n skrywer was, of baie skrywers geken het nie. Daar was dalk vir my ’n wyer fokus as wat ek nou het. Omdat ons Boekemakranka begin het, is boeke en skrywers nou ons fokus. Ek hou juis van die Woordfees omdat dit hier op my drumpel plaasvind en alles het wat ek wil sien.

Daar is baie om oor te gesels, maar gee eers vir ons julle algemene indrukke van die Toyota US Woordfees.

Trisa: Die organiseerders verdien ’n yslike klop op die skouer. Waar ek was, het alles seepglad verloop. Werkers was deurgaans uiters vriendelik en behulpsaam. Produksies was op tyd, toerusting het gewerk en alles het oënskynlik baie glad verloop. Ek kon sien dat daar aandag aan die kleinste detail gegee is, soos toilette wat gediens word en silwerskoon gebly het.

Die stelle waar die skrywers sit, was so mooi en smaakvol. Dit was ’n voorreg om verlede jaar en Julie vanjaar die Woordfees op televisie te kon volg, maar hierdie vibe van ’n regte fees kan mens nie in jou sitkamer kry nie, al kan jy die akteurs se uitdrukkings en danspassies beter sien. Ek het weggegaan op ’n high, soos net hierdie tipe kreatiwiteit vir my kan gee. Baie dankie! En soos wyle Margot Luyt altyd haar program afgesluit het: Alles van die aller-, áller-, ALLERbeste vir die volgende fees.

Analize: Mens kan deur die jaar konserte, boekbekendstellings, kunsuitstallings en toneelopvoering bywoon, maar ’n fees het net so ’n ander vibe. Dis wat jy kry as jy ’n klomp mense vir ’n week lank aan die beste van kunste in die land blootstel. Dis waaroor almal praat, dis waarvoor almal daar is, en dis altyd asof daar ’n gemoedelike, gesamentlike doel is. Die Woordfees is elke jaar vir my ’n hoogtepunt, dié keer dalk meer so omdat ons twee jaar moes wag. 

Ek stem ook met Trisa saam oor die organisering – dit was puik. Die produksies wat ek bygewoon het, was van hoogstaande gehalte.

Julle het Boekemakranka begin as ’n wilde idee. Daarmee het julle uiteindelik talle mense se lewens positief beïnvloed. Veral gedurende inperking was Boekemekranka ’n manier om kontak te behou met ander in die boekbedryf. As julle nou wilde idees vir bestuur van die Toyota US Woordfees moet gee, wat sou dit wees? Vanjaar se tema was nie verniet “Wild” nie.

Trisa: Op ’n sekere stadium van die Woordfees, by produksies waar nog baie oop sitplekke is, stel dit beskikbaar aan studente teen ’n kwart van die prys. Dink dalk aan meer geleenthede wat tussenin geskep word waar studente byvoorbeeld kaartjies kan wen deur iets soos ’n kort debat met ’n 3-minute-spreekbeurt. Jonger mense móét meer betrek word – daar is ’n geslag getroue Woordfeesgangers wat nou die skrywersgesprekke se venues volsit wat binnekort nie meer gaan kans sien daarvoor nie. 

Analize: Ek weet ek maak nou ’n Pandoraboks oop, maar ek dink daar kan dalk meer gratis aanbiedinge wees. Wat van byvoorbeeld live musiek by die Plataan, of dalk by ’n biertent op ’n sekere tyd van die dag? Oop mikrofone, talentkompetisies. Dit kan plaaslike talent wees. 

Dis interessant. Die ATKV het wel by vorige feeste ’n oop platform geskep vir optredes. Mag ek ’n paar opvolgvrae vra oor julle wilde idees? Kom ons begin by gratis. Ek het verskeie diskoersgesprekke bygewoon wat gratis was, en deeglik in die feesbundel en aanlyn aangekondig is. Hulle was vol. Die gesprekke by die Plataankafee was natuurlik ook gratis. Sou julle dus iets anders wou sien? 

Trisa: Ek het elke keer as ek verby ’n nabygeleë restaurant stap, gedink dat dit lekker sou wees as hulle oorreed kan word om sulke vinnige goedjies aan te bied. Sommer net ’n vraag of twee oor iets relevant tot die fees, en die regte antwoord wen ’n bier. Om sulke kolle van buzz te skep dwarsdeur die dorp. Meer informeel as die gewone diskoerse, om aan te vul.

Analize: Ek weet dat sulke dinge reeds gedoen was, en dat daar reeds gratis aanbiedinge is, maar ek dink veral aan mense wat vir die dag daar is en dalk drie ure of so tussen produksies het om te verwyl.  

Jy kan na die program kyk, maar dan moet jy na ’n ander bladsy blaai en na elke afsonderlike event se beskrywing en toegangsprys gaan kyk. Sit dit dalk sommer in die dagprogram dat ’n sekere event gratis is.

Twee van die bestuurders van ’n string busse (Foto: Izak de Vries)

Is julle bewus daarvan dat talle skoolkinders toegang gekry het tot van die produksies? Dis nie aan die groot klok gehang nie, maar by van die vertonings is kinders uit arm skole met busse ingery.

Trisa: Nee, ek het dit nie geweet nie. Dalk sou dit help as ons wat van ander dorpe kom, geweet het daarvan, dan kon ons as feesgangers dit in ons dorpe help bemark het aan die fees as geheel. As kinders gratis toegang kry tot XX, gaan ouers sekerlik ook kaartjies koop vir iets anders? Dis net ’n wilde gedagte, maar dalk sou dit die ouers aanspoor om ’n dag Stellenbosch toe te ry? Frazer Barry word gesien as ’n meningsvormer in ons gemeenskap (ek self seker ook in ’n mate) – ons sou kon help daarmee. So sal daar seker in elke dorp iemand wees.

Analize: Nee, ek was nie bewus daarvan nie. Ek het nie spesifiek daarna opgelet nie, maar ek glo ook nie dat ek skoolkinders gesien het by enige van die produksies of gesprekke wat ek bygewoon het nie.

Die US Woordfees se WOW-program doen ook baie om kinders by die fees te betrek. Meestal gratis. Is dit bekend in julle kringe?

Trisa: Ek weet van die projek die afgelope paar jaar, maar ek het nog niemand daaroor hoor praat nie.

Analize: Ek weet van die ATKV se skoletoneel.

Studente is ’n ander spesie. Maar ek wil my verstout om te sê dat ek julle dikwels daar by die Bier met Beer Adriaanse gesien, baie besig om gemelde studente ore aan te sit. Vertel meer?

Trisa: Dis Analize wat so slim is! Ek was so trots op haar dat sy die studente ’n ding of twee kon wys, al kon ek nie daar wees nie.

Analize: Ek en Joha van Dyk, wat ek by die fees die eerste keer ontmoet het, het op die sypaadjie aan die gesels geraak en besluit om iets te gaan drink om verder te gesels. Toe ek weer sien, sit ons aan ’n tafel en ons is deel van die vasvra. Toe wen ons span! Hulle vra toe of ek die volgende dag weer gaan en ek het eers gedink ek sal nie kan nie, maar ek is toe betyds. Dié keer het ek ons span op die verhoog gaan verteenwoordig en ons het weer gewen! Dit was groot pret!

Kom ons sluit af. Wat sou julle heeltemal anders wou doen? Kritiek dus, as daar is?

(Foto: Izak de Vries)

Trisa: My enigste kritiek waar iets kon verbeter, was dat ek die mense by die Toyota-bussies glad nie kon bereik op die foonnommer wat in die feesboekie gepubliseer was nie. Hulle het aanvanklik ook nie geweet waar Oude Leeskamer is nie, maar hulle het later verskoning gevra daarvoor.

Alles het gewerk – ek kan regtig nie enige kritiek lewer nie. Die mense, veral in Erfurthuis, kon nie vriendeliker en meer behulpsaam wees nie.

ʼn Totaal wilde voorstel: Ek was heeltyd dors, en my botteltjie water leeg. Ek het visioene gesien van ’n student op ’n outydse roomyskarretjie wat deur die dorp ry en botteltjies yskoue water verkoop.

Analize: Hoewel ek saam met Trisa was toe sy nie ’n bussie kon kry om ons op te laai nie, was ek die res van die tyd baie beïndruk met die vervoer. Die ouens het spesiaal moeite gedoen om my by my bestemmings te bring, en veral met laataand geleenthede het hulle baie seker gemaak dat ons presies weet waar hulle ons weer sal kom haal. Hulle was dan ook klokslag weer betyds om mens op te laai en veilig tot by jou motor te bring.

My grootste kritiek is dat skrywersgesprekke op dieselfde tye plaasgevind het. Ek moes telkens kies tussen twee skrywers, en selfs ’n paar maal vir ’n halfuur na een luister en uitglip voor die einde om by die volgende een te kan wees. Omdat daar tye van die dag was wanneer daar nie skrywersgesprekke plaasgevind het nie (veral met fiksieskrywers), dink ek dit kon anders geskeduleer gewees het.

Baie mense het aan my ook genoem dat kaartjies baie duur was. Ek weet dat dit ’n moeilike kwessie is, maar daar moet maniere wees om dit meer bekostigbaar te maak. Dalk ’n feespas wat mens toegang gee tot ’n sekere aantal produksies, of dalk selfs meer as een tipe pas, met verskillende pryse. 

Ek dink ook die skrywersgesprekke is te duur. Daar sal meer bywoning wees as dit goedkoper is – báie goedkoper. Skrywers doen dit gratis, en wil graag boeke verkoop. Dalk moet mense wat die boek kan wys, gratis kan inkom? Of daar kan ook ’n bondelprys wees, miskien iets soos ’n aantal gesprekke vir elke boek wat jy koop. 

Allerlaaste woorde?

Die Boekemacrazies sê dankie! Dit was ’n voorreg en ons sien julle volgende jaar!

Lees ook:

Toyota US Woordfees 2022: Afrikaans herontdek by feeste

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top