Toyota US Woordfees 2022: Afrikaans herontdek by feeste

  • 0

Lara Aucamp (Foto verskaf)

...
Ek is iemand wat redelik verskil van die Afrikaanse wêreld waarin ek grootgeword het. Ek het nooit gedink dat Afrikaans êrens is waar ek kan inpas nie. 
...

Lara Aucamp het Afrikaans grootgeword, maar werk al haar hele volwasse lewe lank in ’n Engelse omgewing. Sy het onlangs die Tuin van Digters en ’n deel van die Toyota US Woordfees bygewoon. In die proses kon sy Afrikaans as’t ware “herontdek”, het sy vir Izak de Vries vertel.

Kom ons begin algemeen. Hoe het jy die Tuin van Digters in Wellington en die Woordfees op Stellenbosch ervaar?

Ek het dit ongelooflik geniet. Dit is ’n groot voorreg om soveel kuns en kultuur te geniet. Ek het oorspronklik gedink dat dit net ’n goeie verskoning is om saam met spesiale mense te kuier. En ek was verbaas oor hoe besonders Tuin van Digters en Woordfees was. 

...
Dis die eerste keer dat ek regtig die taal geniet het. Omdat ek so lank afstand van die taal af gehad het, kon ek dit soos nuut ontdek. Ek het altyd die woorde verstaan, maar het begin om die taal op ’n ander vlak te verstaan en waardeer.
...

Was jou ervaring anders as wat jy verwag het, of redelik soos jy verwag het dit sou wees?

Dit was vir seker anders as wat ek verwag het. My algemene indruk van die taal was dat dit redelik wit, konserwatief en verkramp is. Maar ek was heeltemal verkeerd.

Tuin van Digters het veral ’n baie groot indruk gemaak op die manier waarop ek die taal sien. Dit was wonderlik om te sien hoe soveel verskillende tipes mense die taal hulle eie maak. Jonk, oud, queer, en alle rasse. Daar is iets baie mooi daaraan as mense wat so verskillend is, iets groter gemeen het wat hulle almal met mekaar verbind. 

Jy woon gereeld boekbekendstellings by. Was die ervaring by die twee feeste dus anders of baie dieselfde as die bekendstellings wat jy al bygewoon het?

Boekbekendstellings is ’n goeie manier om ’n voorsmaak te kry van die wêreld wat ’n boek oopmaak, en om die outeur effens te leer ken.

Maar die manier waarop literêre kuns uitgedruk word by Tuin van Digters en die Woordfees, is op ’n totaal ander vlak. Daar is soveel verskillende maniere waarop hulle woorde lewe gee. Ek het veral die musiek en toneelstukke geniet. 

Lara (links) by die Tuin van Digters saam met Remona Voges (Foto: Izak de Vries)

Jy praat wel Afrikaans en het in Pretoria skoolgegaan. Is dit reg?

Ek het in Pretoria grootgeword met Afrikaans as my huistaal. En het in Afrikaans skoolgegaan. Maar het nooit regtig die taal geniet nie. Ek dink dit het hoofsaaklik te doen met die assosiasies wat ek met die taal verbind het. 

Lara saam met die joernalis Adéle Changuion by die Toyota US Woordfees (Foto: Izak de Vries)

Jy het toe op Stellenbosch studeer en het ’n nagraadse diploma in bemarking gedoen. Jy sê self dat jou denke deesdae in Engels is. Hoe so?

Selfs al is Stellenbosch ’n Afrikaanse Universiteit, het ek daar vir die eerste keer in my lewe Engelse vriende gemaak. Vandag werk ek in ’n Engelse omgewing, die meeste van my vriende is Engels, en al die media wat ek inneem, is Engels. Ek het met tyd inderdaad oorgeskakel en vandag dink ek in Engels. Ek verstaan Afrikaans en kan dit praat. Maar ek is definitief stadiger in Afrikaans, want ek is nie meer gewoond om daarin te dink nie. 

Nou goed. Jy het vir my en ’n hele aantal ander vriende gesê dat jy Afrikaans byna herontdek het by die twee feeste. Wat bedoel jy daarmee?

Dis die eerste keer dat ek regtig die taal geniet het. Omdat ek so lank afstand van die taal af gehad het, kon ek dit soos nuut ontdek. Ek het altyd die woorde verstaan, maar het begin om die taal op ’n ander vlak te verstaan en waardeer. Ek is iemand wat redelik verskil van die Afrikaanse wêreld waarin ek grootgeword het. Ek het nooit gedink dat Afrikaans êrens is waar ek kan inpas nie. 

...
My Afrikaanse agtergrond maak dit taamlik maklik om Nederlands te verstaan. Ek geniet Nederlands. Maar ek dink ek het die Afrikaans meer geniet – veral omdat ek dit voor my oë kan sien groei en verander.
...

Jy het ’n aantal Afrikaanse boeke gekoop, selfs al was van hulle in Engels beskikbaar. Was dit ’n nuwe ervaring?

Dit is vir seker ’n nuwe ervaring. Ek lees gereeld, maar ek lees Engels. Die laaste keer dat ek ’n Afrikaanse boek gelees het, was op hoërskool, en selfs dit was nie omdat ek dit gekies het nie. Dis die eerste keer dat ek ooit Afrikaanse boeke gekoop het omdat die taal vir my mooi is. 

Sondag 9 Oktober, tussen die twee feeste, het ek tyd met my kinders spandeer. Laatmiddag het ek jou raakgeloop in die Waterfront met jou geliefde en twee ander vriendinne. Een van hulle het Kaaps grootgeword, maar het met ons Engels gepraat. Wat sou jy vir haar sê – sal sy welkom voel by die twee feeste?

Ek dink sy sal definitief welkom voel en dit baie geniet. Ek en sy het gesels oor die verhouding met die taal waarin ons grootgeword het, en die assosiasies wat ons self daarop projekteer. 

Ek dink veral Kaaps is ongelooflik belangrik vir Afrikaans. ’n Taal wat nie verander nie, is ’n taal wat stadig doodgaan. Die Kaapse digkuns wat ek by Tuin van Digters beleef het, is iets so mooi en uniek wat lewe in die taal in asem. 

Ek vermoed jy crush so ’n bietjie op Antjie Krog ná die paar dae. Is ek verkeerd?

Hahahaha, geen kommentaar nie … 

By Tuin van Digters is daar elke nou en dan Nederlands gepraat. Hoe het jy dit ervaar?

My Afrikaanse agtergrond maak dit taamlik maklik om Nederlands te verstaan. Ek geniet Nederlands. Maar ek dink ek het die Afrikaans meer geniet – veral omdat ek dit voor my oë kan sien groei en verander. Ek het veral die Kaaps by Tuin van Digters geniet. Omdat ek hoofsaaklik in ’n Engelse omgewing is, en in Pretoria grootgeword het, is dit nie iets waaraan ek vantevore baie blootstelling gehad het nie. Ek waardeer hoe lewendig en kleurvol Kaaps is. 

Jy het aanlyn bespreek vir Tuin van Digters, en waar ek en jy stukke saam gaan kyk het by die Woordfees, het jy ook dié besprekings aanlyn gedoen. Jy is ’n aanlyn spesialis – hoe goed of swak was die ervaring?

Woordfees het Webtickets gebruik vir besprekings. Dit was baie maklik, en laat mens toe om op baie verskillende maniere te betaal. Vir Tuin van Digters was dit iets waar mens persoonlik ’n boodskap stuur en bespreek en dan geld oorbetaal. Dit is nie ’n probleem nie, maar dit sal waarskynlik makliker aan hulle kant bestuur as hulle na ’n aanlyn besprekingsisteem sou oorskakel. 

Enige ander opmerkings of kommentare?

Ek is dankbaar dat ek die taal kon herontdek. Tuin van Digters en die Woordfees het my gehelp om met ander oë na Afrikaans te kyk. En ek het vir die eerste keer begin lief raak vir die taal. 

Lees ook:

Boekemacrazies by die Toyota US Woordfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top