Toyota US Woordfees 2022: ’n Akkerboom plant die saadjie van suggestie

  • 0

De Klerk Oelofse in ’n Akkerboom

’n Akkerboom handel oor een man wat ’n ander man se dogter met sy motor doodgery het. Of handel ’n Akkerboom oor die onafwendbaarheid van die feit dat een man ’n ander man se dogter in die toekoms met sy motor sal doodry?

’n Akkerboom was ’n toneelstuk by die Woordfees.

Die stuk is ’n vertaalde werk. Dit is gebaseer op An oak tree deur Tim Crouch. Dit is vertaal en geregisseer deur Nico Scheepers.

Daar is twee akteurs op die verhoog. Een van die twee is De Klerk Oelofse. Die ander akteur word op die aand van die vertoning bepaal. Die ander akteur het die teks nog nooit tevore gelees nie en weet nie wat om te verwag nie. Dit geld beslis ook die gehoor.

Die “ander akteur” toe ek ’n Akkerboom gaan kyk het, was Frank Opperman.

De Klerk Oelofse is ’n hipnotiseur en die ander akteur is iemand wat die hipnotiseur se vertoning kom bywoon omdat hy besef die hipnotiseur was die een wat sy dogter doodgery het, en hy wil afsluiting kry van die gebeurtenis. Hy het haar nooit by die lykshuis gaan groet nie, sy dogter.

Dit is moontlik die storiegegewe. Soos wat die storie ontvou, is daar meer vrae as antwoorde.

Gou besef elke lid van die gehoor dis nie net Frank wat nie weet wat volgende gaan gebeur nie. Niemand van die gehoor is onbetrokke by dié toneelstuk nie. Wanneer De Klerk Oelofse, die hipnotiseur wat die dogter raakgery het, met die gehoor praat, is ’n mens onseker of daar binnekort van almal verwag sal word om ook op die verhoog te stap, om deel te neem aan die drama. Die hipnotiseur het kastig sy krag verloor, maar daar word deurlopend gesuggereer dat enige lid van die gehoor op enige gegewe oomblik tot aksie op die verhoog opgeroep kan word.

’n Akkerboom smokkel genoeg met die gehoor se kop dat die vraag later ontstaan: is enigiets wat in die lewe gebeur, werklik? Die saadjie van vertwyfeling oor die hele droom wat die lewe is, word geplant.

Deelneem aan die drama is ’n tema van die stuk. Is ons nie almal elke dag deel van ’n drama nie? In ’n Akkerboom stel die hipnotiseur die akteur gerus, en paai en troos hy: “Alles gaan OK wees,” en ander kere is sy stem kil en koud: “Frank, gaan sit op daardie stoel en sê: ‘Ja.’”

My jongste kind ken vir De Klerk Oelofse as aanbieder van programme soos Kyk wie praat of as komedie-akteur in Hotel.

Moet De Klerk egter glad nie onderskat nie. Hy lei die toneelstuk met ’n ferm hand. Hy dirigeer, hy is die marionettemeester. Hy is sag en innemend en brutaal en vreesaanjaend. Daar is siniese vrae wat opkom: is hierdie toneelstuk al die tyd die lewe? Is die hipnotiseur die een agter die skerms, wat die lewe se draaiboek skryf en die handpoppe beheer, maak nie saak wat hulle self wil doen nie? Daar is geen vrye wil nie.

Frank Opperman het hom ook baie goed van sy taak gekwyt. En, mag ek byvoeg, die gehoor wat deel was van die vertoning, ook.

’n Akkerboom was een van daardie stukke wat mens laat besef: ’n toneelstuk is nie net ’n soort vertoning op die verhoog waartydens die gehoor kan terugsit en ontspan (so nooi De Klerk Oelofse die gehoor gereeld uit – “sit terug en ontspan!”) nie. Dis ’n toneelstuk wat vir die gehoor sê: omdat jy lewe, kan jy nooit net ’n passasier wees, onbetrokke by die venster aan die uitstaar nie. Jou betrokkenheid is deel van jou lewenstaak. Jy lewe, daarom is jy betrokke.

’n Akkerboom was ’n meestersklas in toneelspel by die Woordfees.

Lees ook:

Toyota US Woordfees 2022: ’n onderhoud oor ’n Akkerboom

Boekemacrazies by die Toyota US Woordfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top