Lindie Stander het waarskynlik nie vreeslik baie bekendstelling nodig nie. Maar nie almal ken haar vir die regte redes nie. ’n Baie publieke ineenstorting, verslawing, Huisgenoot-exposés en die afdanking uit haar rol as die gewilde suster Elise van Binnelanders, is nie noodwendig hoe sy onthou sou wou word nie. Maar dié resilient entjie mens sal nie platgeklap word sónder om weer en weer te probeer om op te staan nie.
In haar boek, Agter my glimlag, vertel sy haar storie. Hoe haar traumatiese kinderlewe, haar disfunksionele verhouding met haar ma, haar selfsabotering en die feit dat sy immer ’n “fringe fokop” is, gelei het tot ’n magdom slegte besluite en hoe hard sy gewerk het (en stééds werk) om gesond te word.
Llandi Beeslaar, bekende aktrise en publieke figuur wat self eerlik is oor haar eie reis met geestesgesondheid, het ’n baie openhartige en heerlik humoristiese gesprek met Lindie gevoer. Stander se “serious droogmaak in my grootmenslewe” word oopgegooi. Sy erken die storie is in your face, brutaal eerlik en nie almal se koppie tee nie. Haar familie en ander rolspelers is vies oor sekere openbaringe, ja, maar sy voel níks in die boek is oorbodig nie. Als dra by tot ’n goeie uitkoms. Dis wel belangrik dat mense weet dat sy verantwoordelikheid aanvaar vir haar slegte besluite. “Maar, Lindie Stander is nou op die beste plek wat sy kán wees,” sê sy.
Dis baie goeie nuus. Sy verdien om te glimlag.
#ToyotaUSWoordfees2022 #WildvirWoordfees #LitNetInstaIndrukke #nadinedoenwoordfees @nakadien #woordfees @woordfees @lindie.stander @llandi_beeslaar