Reaksie op Andrew Nash: “Kan die Akademie uitnemendheid oorleef?”
Diskoersreeks by Toyota-US Woordfees, 13 Oktober 2022.
Baie dankie aan die organiseerders van die Toyota US Woordfees vir die vriendelike uitnodiging aan my om vandag te reageer op Andrew Nash se boeiende voordrag oor die vraag of die akademie “uitnemendheid kan oorleef”. Dit is veral vir my ’n voorreg om ’n verhoog te deel met Andrew Nash, my vriend en kollega oor ’n periode van 50 jaar. Ons was saam eerstejaars in 1972 en sedertdien studente van die filosofie, en lesers sowel as kritici van mekaar se werk.
Tyd laat nie toe vir ’n uitvoerige analise van my kant nie; ek sal, soos ek versoek is, volstaan met enkele perspektiewe in reaksie op Andrew se lesing.
..........
Wat ’n mens eerste opval, is die ironie vervat in die titel van sy voordrag: “Kan die akademie uitmuntendheid oorleef”? In terme van die heersende ideologie oor die aard en gehalte van akademiese instellings word die vraag dikwels presies andersom gevra: “Kan akademiese werk wat nié aan die vereiste van uitnemendheid voldoen nie, oorleef?”
.............
Wat ’n mens eerste opval, is die ironie vervat in die titel van sy voordrag: “Kan die akademie uitmuntendheid oorleef”? In terme van die heersende ideologie oor die aard en gehalte van akademiese instellings word die vraag dikwels presies andersom gevra: “Kan akademiese werk wat nié aan die vereiste van uitnemendheid voldoen nie, oorleef?” Andrew se titel sou die indruk kon skep dat hy die idee en moontlikheid van uitnemende werk aan universiteite en kolleges volledig afwys, en dat werk wat aan hierdie instellings gedoen word, op eie pote staan, ongeag enige waardeoordeel wat oor sodanige werk gevel sou kon word.
Soms kom hy nogal gevaarlik naby aan die ontwikkeling van so ’n idee; na aan die einde van sy referaat voer hy aan:
Uitnemendheid is ’n leë kategorie; dit word bepaal deur waarmee jy kan wegkom. Dit verander heeltyd om aan te pas by dit wat vir selfbevordering nodig is, en bou daarmee ’n etos wat nie verder as selfbevordering kan sien nie.
...........
Uitnemendheid is ’n leë kategorie; dit word bepaal deur waarmee jy kan wegkom. Dit verander heeltyd om aan te pas by dit wat vir selfbevordering nodig is, en bou daarmee ’n etos wat nie verder as selfbevordering kan sien nie.
............
Die rede daarvoor is dat “akademiese prestasie hoofsaaklik in kwantitatiewe terme beskou moet word en deur burokratiese prosedures gemeet (moet) word”.
Is die implikasie hiervan dat die idee van gehaltewerk aan die universiteit daarom eenvoudig laat vaar moet word? Het die onderskeid tussen waarheid en leuen, opinie en toetsbare kennis, doksa en episteme, inderwaarheid obsoleet geword, soos meermale aangevoer deur die Amerikaanse pragmatistiese denker Richard Rorty?
So ’n verwyt teen Andrew se referaat sou nie geregverdig wees nie. Die probleem met wat ons toenemend by universiteite sien, is nie die ideaal van uitnemendheid as sodanig nie. Die probleem is die wyse waarop aan hierdie ideaal inhoud gegee word. Die probleem is dat wat ons onder “uitnemendheid” verstaan, burokraties gekonsipieer en opportunisties gemanipuleer word – tot by die punt waar bedrog (Andrew se woord is “verneukery”) willens en wetens gepleeg word. As gevolg hiervan word die vermeende “evaluering” van akademiese werk deur die vryemarkstelsel uitgebuit as ’n bron van beduidende kommersiële winste.
Die werklik ontstellende aspek van so ’n praktyk is die minagting vir die waarheid. Daarmee bedoel ek ’n standpunt wat aanvoer dat die onthulling van wat werklik die geval is, nie meer van belang is in akademici se werk nie. Anders gestel: Waarheid word nie meer beskou, soos in die ou korrespondensieteorie van waarheid, as die adaequatio rei et intellectus, die ooreenstemming tussen dinge in die wêreld en die menslike intellek, nie. Die idee van uitmuntendheid wat Andrew so sterk afwys, beskou die soeke na waarheid as niks meer nie as die siniese eksploitasie van sogenaamde kennisprodusente met die oog op winste.
...........
Die idee van uitmuntendheid wat Andrew so sterk afwys, beskou die soeke na waarheid as niks meer nie as die siniese eksploitasie van sogenaamde kennisprodusente met die oog op winste.
.............
Tereg verwys Andrew in hierdie verband na Harry Frankfurt[i] se essay On bullshit waarin die Princeton-filosoof treffend argumenteer dat daar ernstiger akademiese wangedrag is as bloot leuens, plagiaat of bedrog; daar is “bullshit”, dit is kennisaansprake waar alle ag wat op waarheid en betroubaarheid geslaan word, met minagtende onverskilligheid bejeën word, en ’n gehoor/lesers enigiets wysgemaak word, nie ter wille van betroubaarheid nie, maar ter wille van subjektiewe effek.
Ek kan oor die veragtelikheid van al hierdie verwikkelinge nie anders as om van harte met Andrew saam te stem nie. Hy is ook grootliks reg in sy kritiek op ranglyste vir universiteite sowel as wat betref die akkreditasie en befondsing van navorsingsuitsette. Andrew voel, sedert ek hom leer ken het, baie sterk oor die akademiese en morele plig op nuwe dosente om hul voortdurend besig te hou met onderrigvernuwing en nuwe kursusse wat verantwoord is in die konteks van die samelewing waarin die universiteit sig op ’n gegewe moment bevind. Nuwe kursusse is (hoef ek u egter skaars te herinner – en ek sê dit op grond van my 40 jaar se ervaring) deksels baie werk. Dit is weliswaar geen verskoning nie. Wat wel problematies is, is wanneer akademici terselfdertyd voortdurend deur die bestuur daaraan herinner word dat die universiteit waarvoor hulle werk, ’n navorsingsgedrewe universiteit is en dat navorsing daarom voorrang behoort te geniet – bes moontlik om die redes wat Andrew vermeld, soos die makliker kwantifisering van navorsingsuitsette as dié van onderrig.
Daar is wel een oorweging rondom die praktyke van ranglyste vir universiteite en akkreditasie van akademici waarby Andrew nie heeltemal uitgekom het nie – waarskynlik vanweë die tydsbeperking. Dit is die problematiek wat opgeroep word deur die grootte en kompleksiteit van hedendaagse universiteite en die uitdagings daaraan verbonde om sulke instellings effektief en suksesvol te bestuur. Kom ons bly ter plaatse. Stellenbosch se studentetal stap aan na 35 000 en sy begroting is rondom die R6 miljard. Om so ’n instelling te bestuur verg, om die minste daarvan te sê, beduidende kennis en vernuf. Daarby funksioneer die universiteit in ’n konteks waarin ranglyste eenvoudig aan die orde van die dag is. Ek wil graag die rektor of sentrale bestuur sien wat in hierdie tyd kan omdraai en openlik kan verklaar dat ons plek op ranglyste voortaan hoegenaamd nie in ag geneem sal word nie. ’n Mens kan weliswaar die caveat byvoeg dat “ranglyste van kennis geneem moet word, maar nie oormatig ernstig nie”, soos ons al talle kere gehoor het. Nogtans kan ek u feitlik waarborg dat ’n plek op ranglyste feitlik sonder uitsondering die eerste item is op elke geleentheid waar verslag gedoen word oor die werk van die US. Dit geld sover ek weet feitlik elke ander universiteit in die land, laat staan nog in die buiteland.
Laat my herhaal: Ek dink nie uitmuntendheid is as sodanig die groot probleem nie. Die probleem is hoe om aan uitmuntendheid inhoud te gee. Jy kan dit nie vermy om na uitmuntendheid te verwys as jy ’n hedendaagse universiteit moet (probeer) bestuur nie. Maar wat beslis kan en moet gebeur, is dat die wanpraktyke rondom die verstaan en implementering van “uitmuntendheidsmaatreëls” ontmasker en bestry kan word, soos deur Andrew aangedui.
...........
Ek dink nie uitmuntendheid is as sodanig die groot probleem nie. Die probleem is hoe om aan uitmuntendheid inhoud te gee. Jy kan dit nie vermy om na uitmuntendheid te verwys as jy ’n hedendaagse universiteit moet (probeer) bestuur nie. Maar wat beslis kan en moet gebeur, is dat die wanpraktyke rondom die verstaan en implementering van “uitmuntendheidsmaatreëls” ontmasker en bestry kan word, soos deur Andrew aangedui.
............
Wat kan ons doen, of behoort ons te doen, om aan die ideaal van uitmuntendheid ’n akademies en moreel verantwoorde beslag te gee? Ons het min tyd om hieroor te praat, maar hopelik sal hier nog vorentoe veel oor gedink word.
Ter beantwoording van genoemde vraag sou ek graag twee sake wou onderskei. Die eerste het te make met ’n vernuwende waardeoriëntasie in die selfverstaan van universiteite. Die tweede is ’n wyd erkende, dog kwalik effektief toegepaste, bestuursmeganisme vir die proses van soeke na geloofwaardige uitmuntendheid.
Wat die eerste betref, sluit ek graag aan by Andrew se besonder waardevolle opmerkings oor die noodsaak van integriteit in die akademiese praktyk:
Die onderliggende visie van die voorstanders van uitnemendheid is van ’n wêreld waar alles beplan kan word, ook insig en inspirasie. Dit is ook ’n visie waar daar uiteindelik ook uit alles ’n wins gemaak kan word, alhoewel die akademie nog iets van ’n langtermyn belegging is. Maar dit is nie hoe opvoeding werk nie, en ook nie die intellektuele lewe nie, binne die akademie of daarbuite. ’n Fabriek kan so werk, as al die masjinerie reg werk en die werkers is almal op hulle poste. Maar die menslike verstand is nie soos ’n masjien nie; mense ontdek hulle eie belangstellings en insigte, eerder as om net bevele te volg. Dikwels is dit nie gesag of uitnemendheid wat mense erken en volg nie, maar iets soos die egtheid waarmee iets geglo of gesê word, of die integriteit waarmee die betrokke persoon leef. Jy leer by mense wat self glo wat hulle sê, eerder as dié wat ’n indruk wil maak.
Dit gaan, in wat in hierdie aanhaling aangevoer word, oor die hoogste waarde wat die intellektuele lewe kan verwerf. Andrew wys die begrip uitnemendheid as kenmerk van hierdie soeke na integriteit terstond af. Maar ek sou versigtiger wou oordeel. Integriteit soos hy dit omskryf aan die einde van sy voordrag, is inderdaad een van die belangrikste inhoudsgewers van uitnemendheid. Uitnemendheid is nie die vyand nie. Die vyand is die uitbuiting, meganisering, kommersialisering en verburokratisering van uitnemendheid. Oor laasgenoemde, stem ek volmondig met Andrew saam en sou ek ook wou pleit vir ’n herbesinning oor hoe aan ’n universiteit oor die gehaltevraag gedink moet word. Ek kom self baie lank – meer as 40 jaar – saam met eindelose weergawes van sogenaamde prestasiebeoordelingstelsels en -vorms by die US aan. Die mees blywende indruk wat hierdie reeks eksperimente by my gelaat het, is die oorheersende onwennigheid, ongedurigheid en onvergenoegdheid wat dit bly skep het.
Dit bring my by my tweede vraag, die vraag na of daar praktiese maatreëls is vanuit die toepassing waarvan uitmuntendheid wel geloofwaardig nagestreef kan word sonder die ontsporings waarop Andrew tereg gewys het.
...........
In die akademie is ewekniebeoordeling wel ’n evalueringsmeganisme wat, hoewel sekerlik nie volmaak nie, tog sigself as redelik betroubaar bewys het. Ewekniebeoordeling toon ten minste op ’n bevatlike skaal aan waarom modelle van gehaltebeoordeling wat aan die sakewêreld ontleen is, nie in die universiteit kan werk nie.
.............
In die akademie is ewekniebeoordeling wel ’n evalueringsmeganisme wat, hoewel sekerlik nie volmaak nie, tog sigself as redelik betroubaar bewys het. Ewekniebeoordeling toon ten minste op ’n bevatlike skaal aan waarom modelle van gehaltebeoordeling wat aan die sakewêreld ontleen is, nie in die universiteit kan werk nie. Een van die moeilik oorkombare probleme met ’n effektiewe ontwikkeling van ewekniebeoordeling van alle dosente, navorsers, bestuur en ondersteuningsdienste aan ’n universiteit is egter die omslagtigheid en tydrowendheid daarvan. Die beste uitkoms alhier lyk vir my in hierdie stadium na ’n omvattende (nie slegs finansiële nie!) oudit elke tien jaar waarin ’n universiteit van hoek tot kant bekyk word, tekortkominge uitgewys word en aksieplanne geformuleer word. Los die akademici vir die res dan asseblief sover moontlik uit.
Ek sluit af met enkele kriptiese opmerkings oor die taalkwessie, wat Andrew ook aangesny het. Eerstens: Ek stem met hom saam oor die ongunstige posisie waarin kolonialisme kleiner tale geplaas het. Los die akademici.
...........
Ek is ewe hartlik oortuig daarvan dat dit kaf is (sou ook ’n ander medeklinker kon gebruik!) dat die gebruik van Engels ’n voorwaarde vir uitnemendheid in die akademie is.
............
Ek is ewe hartlik oortuig daarvan dat dit kaf is (sou ook ’n ander medeklinker kon gebruik!) dat die gebruik van Engels ’n voorwaarde vir uitnemendheid in die akademie is.
Wat Afrikaans as moontlike voertaal op Stellenbosch betref, net die volgende:
-
- Waar dit gaan oor die voertaal, veral die onderrigtaal, aan ’n universiteit, is dit onvermydelik dat pragmatiese oorwegings die deurslag moet gee. Wat ook al onder die banier van ideologie oor taal en universiteite aangevoer word, feit bly dat ons in die klaskamer so effektief moontlik moet probeer kommunikeer. Dosente soos ek hulle ken, stel nie belang in taalbevordering nie, slegs in effektiewe kommunikasie met hul studente. Dis hoekom ’n universiteit ’n taal nie kan red nie. In die konteks van die fakulteit waarin ek werk, beteken dit eenvoudig dat Engels die heersende omgangstaal geword het.
- Die druk dat ons Engels moet gebruik, kom, anders as wat baie mense dink, nie op uit die geledere van die bestuur, senaat, fakulteitsrade of raad nie. Dit kom van die studente (met enkele uitsonderings wat in die laaste twee jaar wel voorgekom het). Die algemene patroon bly egter dat daar, sekerlik in die modules waarin ek en my kollegas klasgee, nooit ’n groep van meer as 5% van ’n klas is wat onderrig in Afrikaans verkies nie – meestal niemand nie. ’n Dosent wat op hierdie dag en datum sonder die instemming van sy/haar studente in Afrikaans klasgee, sal uitgejou word en baie negatief betreffende sy/haar onderriggehalte geëvalueer word. Geen dosent van wie ek weet, sien vir laasgenoemde kans nie, en so ’n eventualiteit sal sleg op sy/haar prestasiebeoordeling reflekteer. Waarmee ek wel saamstem, is dat studente se algemene bedrewenheid in Afrikaans en Engels aan die afneem is. Die redes daarvoor is nie heeltemal duidelik nie, maar ek het ’n sterk vermoede dat dit veel te make het met TV en sosiale media. Dit gaan egter sekerlik nie besleg word deur ’n gans nuwe US-taalbeleid nie.
- Een van die vernaamste beletsels vir grootskaalse onderrig in Afrikaans aan die US is die harde feit dat al meer dosente wat nie Afrikaans magtig is nie, aangestel word, oorwegend omdat hulle die beste kandidate vir die pos is. Die beleid wat vereis dat ’n dosent binne twee jaar na aanstelling Afrikaans magtig sal wees, is meer as 20 jaar gelede reeds afgeskaf, en ’n poging om so iets te laat herleef, het geen kans op sukses ie en sal waarskynlik op heftige teenstand en verwyte van rassisme strand.
- Ek stem saam dat dit ironies en waarskynlik onregverdig is dat ’n koloniale taal soos Engels so ’n sterk posisie verwerf het. Feit is dat dit ’n verskynsel is wat nie uniek aan Stellenbosch of Suid-Afrika is nie. Engels figureer inderwaarheid deesdae as ’n lingua franca oor die hele wêreld, analoog aan die wyse waarop Latyn die lingua franca van die Middeleeue was. Die twee universiteitsisteme is weliswaar baie verskillend en moeilik vergelykbaar. Tog wil ek ten slotte wel aanvoer dat, by al die tekortkominge en aberrasies van ’n lingua franca in ’n globaliserende wêreld, daar tog ook onomstootlik voordele aan verbonde is. Tensy ons bereid en in staat is om die moeite en koste van enorme en gesofistikeerde vertalingsdienste aan te gaan, dui die ervaring by alle internasionale kongresse wat deesdae plaasvind, op die waarde van ’n lingua franca soos Engels. Ons kan ten minste kommunikeer!
[i] Frankfurt, H. 2005. On bullshit. Princeton: Princeton University Press.
Lees ook:
Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC
A comment on Peter Kallaway’s book titled The changing face of colonial education in Africa
Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is
University seminar: Language of instruction – how do we respond responsibly?
BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson
Reguit met Robinson: Is transformasie bloot ’n mooi woord vir die US?
Theuns Eloff: Aftakeling van Afrikaans as akademiese taal universiteite se eie skuld
Kommentaar
Andrew Nash sal sekerlik self sy sê wil sê op die mê van Skellumbos Joeniewersitie se godvrugtige filosoof. Maar wanneer hy die ‘onderrigtaalkwessie’ aanroer - hy kon seker nie anders nie - neem mens weer eens gelate kennis van die etiese denker se ‘pragmatisme’, só oorspronklik en só moedig: “Eet kaf - ‘n duisend vlieë kan immers nie verkeerd wees nie!”
Baie dankie, Anton, vir jou reaksie op my Woordfees-voordrag. Dit lyk my ons stem in meeste opsigte saam dat die strewe na uitnemendheid, soos gemeet deur ranglyste, op 'n ramp afstuur. Maar vir jou is die beslissende faktor die grootte en kompleksiteit van die universiteit.
Jy skryf: "Stellenbosch se studentetal stap aan vir 35,000 en sy begroting is R6 miljard. . . . Daarby funksioneer die universiteit in 'n konteks waarin ranglyste eenvoudig aan die orde van die dag is. Ek wil graag die rektor of sentrale bestuur sien wat in hierdie tyd kan omdraai en openlik verklaar dat ons plek op ranglyste hoegenaamd nie in ag geneem sal word nie."
Ek stem saam dat rektore en sentrale bestuurslede met die heersende orde sal saamgaan. Dit is hoe hulle in daardie posisies gekom het. Maar daar is twee vrae wat daarop volg. Eerstens, moet ons nie die heersende orde verwerp as dit verkeerd is nie? Tweedens, hoekom het universiteite (voltydes, hoog betaalde) rektors nodig? Vir 'n groot deel van Stellenbosch se geskiedenis het hulle met 'n voorsitter van die senaat klaargekom, wat vir 'n termyn van twee jaar gedien het, en dan teruggegaan het na die lesingsaal en hulle gewone akademiese verpligtings.
In al die jare wat ek by die akademie betrokke was, meen ek dat die celebrity rektore en vise-rektore meer probleme geskep het as enigiets anders. Hulle voorgangers het verstaan dat die komplekse leer- en onderrigproses nooit adminstratief beheer kan word nie, en het nie probeer om dit te doen nie.
Dit is ook daarom dat die vooraanstande universiteite (Oxford, Harvard, maar veral die gesogte klein voorgraadse kolleges in die VSA) soveel kleiner is as bv. Stellenbosch en UCT.
Die jongste BON Nieuwsflits (BON = Beter Onderwijs Nederland) bevat 'n klompie inisggewende argumente oor die skadelike gevolge van die Verengelsing van universiteite in Nederland (ja, hulle ly aan dieselfde siekte) wat sekerlik ook op ons situasie hier in die Suiderland betrekking het. Met die nodige erkenning en vir dit werd is, lys ek die argumente hier:
• studenten die een volledig Engelstalige bacheloropleiding volgen, leren geen academisch Nederlands en leren hun vak niet uitleggen aan een breed Nederlandstalig publiek, wat de kloof tussen de universiteit en de rest van de samenleving vergroot;
• studenten die een volledig Engelstalige bacheloropleiding hebben gevolgd, functioneren minder goed in een grotendeels Nederlandstalige arbeidsmarkt en maatschappij, wat de studenten schaadt, en ook de samenleving;
• het sterk verminderde belang dat de universiteit hecht aan het Nederlands leidt tot minder betrokkenheid bij en samenhang met de andere onderwijsniveaus, en ook tot het minder serieus nemen van Nederlandse taalvaardigheid in het voortgezet onderwijs, mbo en hbo;
• volledig Engelstalige bacheloropleidingen zijn minder toegankelijk voor studenten die een migratieachtergrond hebben of relatief meer moeite hebben met taal;
• in volledig Engelstalige bacheloropleidingen kunnen docenten geen Nederlandstalige onderzoeksliteratuur voorschrijven, noch van studenten verwachten dat zij zich verdiepen in verschijnselen waarvoor kennis van het Nederlands vereist is, wat leidt tot inhoudelijke verschraling en een grotere afstand van de universiteit tot de rest van de samenleving;
• een onbeheersbare toestroom van internationale studenten leidt tot minder bekostiging per student, grootschaliger onderwijs en meer werkdruk door een ongunstiger student-stafratio, een steeds nijpender tekort aan studentenkamers en verdringing van studenten bij numerus fixus-studies.
Anton van Niekerk spandeer baie tyd om te verduidelik dat "uitnemendheid" op sigself nie die probleem is nie, maar die neo-liberale betekenis daarvan. Dit was uit die staanspoor van Nash se betoog tog voor-die-hand-liggend; ek weet nie hoekom mors hy soveel paragrawe daaroor nie.