Baqonde-meertaligheidsprojek: "Laat hulle verstaan" (en laat die tegnologie help)

  • 0

Foto’s van Bassey Antia en Lorna Carson van die Baqonde-projek: verskaf; foto van woordeboek: https://pixabay.com/photos/dictionary-reference-book-learning-1619740/

Baqonde (“Boosting the use of African language in education”) is ’n meertaligheidsprojek waarby die Suid-Afrikaanse universiteite van die Wes-Kaap, Noordwes, KwaZulu-Natal en Rhodes en die Spaanse universiteit Salamanca, die Nederlandse Universiteit van Groningen en die Ierse universiteit Trinity College betrokke is. Die woord Baqonde beteken: "Let them understand." Naomi Meyer het een oggend van die projek se onlangse kongres bygewoon en skryf haar indrukke.


Die dag van die meertaligheidskongres is Stellenbosch so woelig soos ’n skare skoolkinders wat almal verskillende tale praat.

Op die buitewyke van die dorp staan die verkeer stil. Die Woordfees-baniere wapper aan die lamppale.

Tale, sowel as kinders, is op my brein. In die dorp word daar die afgelope paar dae heelwat oor hierdie twee onderwerpe gepraat. Die Trompie-debat woed voort en kring uit na verdere letterkundige gesprekke. Gesprekke óór verskillende tale en ín verskillende tale word gevoer: Gayle, Kaaps, Namakwalandse Afrikaans, Overbergse Afrikaans (lees indrukke van die gesprekke hier en ook hier). Met die Woordfees se Amagama-projek kan Woordfeesgangers Xhosa leer as hulle koffie by die Plataankafee kom drink.

Op pad Melkbosstrand toe navigeer my GPS my deur die kontraste van die Suid-Afrikaanse landskap. Weelderige woonhuise aan dié kant van die snelweg, en aan dáárdie kant die sinkplaathuise waar ek al gehoor het daar in die skole tot sewe verskillende tale in een klaskamer gepraat word, nie almal Suid-Afrikaans nie.

’n Vlugtige gedagte aan toe ek vanoggend vir my kinders sê waarheen ek gaan (“Ek gaan na ’n plek waar mense praat oor hoe om vir kinders in hul eie taal klas te gee”). Hul reaksie? “Ja, dis ’n goeie ding. As elkeen in sy eie taal kan skoolgaan, sal hulle beter verstaan wat die onderwyser sê en die vrae beter kan antwoord.”

Ek draai links by ’n MyCiti-bushalte en op die radio hoor ek: Ons het nog net sewe jaar tyd. Daarna is dit onomkeerbaar en is die aarde vir altyd ekologies onherstelbaar verniel.

...........
Ons het nog net sewe jaar tyd. Daarna is dit onomkeerbaar en is die aarde vir altyd ekologies onherstelbaar verniel.
..........

Vrolike dolfynstandbeelde dans jolig voor die buurhotel, en toe skakel ek my flikkerlig aan om by die konferensie se venue in te draai.

Baqonde (“Boosting the use of African language in education”) is ’n meertaligheidsprojek waarby die Suid-Afrikaanse universiteite van die Wes-Kaap, Noordwes, KwaZulu-Natal en Rhodes en die Spaanse universiteit Salamanca, die Nederlandse Universiteit van Groningen en die Ierse universiteit Trinity College betrokke is.  Die woord Baqonde beteken: "Let them understand."

Die woord Baqonde beteken: "Let them understand."

Ek het die eerste keer hiervan kennis geneem toe ek in 2021 hierdie berig daaroor gelees het.

“Vier Suid-Afrikaanse en drie Europese universiteite het hul kragte saamgesnoer om die gebruik van inheemse tale in tersiêre onderwys moontlik te maak en te bevorder.”

Ek het vantevore met Bassey Antia van die UWK en met Lorna Carson van Trinity College in Dublin oor hierdie projek gepraat.

Albei van hulle het my daarop gewys dat die proses van uitbreiding van Afrika-tale gepaard gaan met heelwat gesprekke en voorstelle, die uitruil van kennis en ’n bewustheid van samelewingspersepsies oor tale.

In ’t kort is die projek se oogmerk om, in ’n land waar die meeste onderrig in die klaskamer nie plaasvind in die taal wat die kinders tuis praat nie, se kennisoordrag in Afrika-tale uit te brei.

Ek wonder of die kursusgangers hier besef hoe baie daar oor taal by ’n kunstefees soos die Woordfees gepraat word? Ek wonder ook of daar by hierdie kongres gedagtes is oor Afrikaans as inheemse taal, oor die belang van elke taal in hierdie land as nasionale skat?

Terwyl ek parkeer, dink ek aan ’n YouTube-video wat my hart gebreek het: “Sink or swim, navigating language in the classroom”.

Ek stap teen die hotel se trap op en onthou tonele uit die video. ’n Xhosasprekende onderwyseres staan voor ’n klaskamer Xhosasprekende kinders en vra die vraag: “In what ways are animals useful to people?” Die kinders is stil. Uiteindelik steek een kind sy hand op. “Dog,” antwoord hy.

Verdere beeldmateriaal volg. Dis baie duidelik dat die kinders in die klas nie verstaan wat die onderwyseres vra nie.

In ’n daaropvolgende stuk beeldmateriaal word ’n klas wit, Engelssprekende kinders in Xhosa vrae gevra en daar word van hulle verwag om dit in volsinne te beantwoord. Nie een van hulle kry dit reg nie.

Wanneer die kinders om terugvoer gevra word, sê een van die Engelse seuns dat hy skuldig voel omdat hy in sy eie taal kan skoolgaan en nie kan verstaan hoe daar van die Xhosasprekende kinders verwag kan word om in Engels skool te gaan nie.

Dan betree ek die konferensie en moet my herinner dat dit idealisties sal wees om verwagtinge te hê dat hierdie gespreksgeleentheid die hele situasie in die land sal omkeer.

Tot my spyt het ek die vorige seminare van hierdie konferensie misgeloop. Lorna Carson uit Ierland se aanbieding handel oor tegnologiese toepassings en hoe dit ’n moontlikheid is om ’n nuwe taal aan te leer.

Lorna voel passievol oor wetenskapfiksie as genre en gebruik dit as invalshoek vir haar seminaar.

“Any story will be improved if you put it on a spaceship,” sê sy, en dis haar gedagtes agter die speletjies wat sy rondom die aanleer van taal ontwerp het.

............
As dit kom by die aanleer van ’n nuwe taal, is pret en spel haar fokus. Hoe leer mens ’n ander taal aan? Dalk nie deur so oorweldig te voel oor al die uitdagings van meertaligheid nie. Miskien deur middel van wat Lorna aan die kursusgangers demonstreer. Speletjies met verskillende doelwitte.
.............

As dit kom by die aanleer van ’n nuwe taal, is pret en spel haar fokus. Hoe leer mens ’n ander taal aan? Dalk nie deur so oorweldig te voel oor al die uitdagings van meertaligheid nie. Miskien deur middel van wat Lorna aan die kursusgangers demonstreer. Speletjies met verskillende doelwitte.

Selfone word uitgehaal, liggies flikker in die konferensielokaal.

Terwyl die konferensiegangers speel, praat Lorna ook oor taalpersepsies in Europa.

“In many contexts some of the learners are discouraged from using their home languages in the classroom. So the Baqonde project is encouraging the children to be proud of their languages.”

En ’n speletjie waartydens mense pret kan hê met woorde en nuwe woorde kan ontdek, is reeds ’n manier om mense van hul vooroordele ten opsigte van tale te bevry. Geen taal is ontdaan van hoër funksies nie.

...........
Geen taal is ontdaan van hoër funksies nie.
...........

Ek dink aan my gesprek met haar toe ek haar gevra het wat werklik ontwikkel moet word as dit kom by taalontwikkeling – die taal self, of mense se persepsies oor die taal? Haar reaksie was dat mens soms hoor “that certain academic words can exist only in certain languages … people tend to think higher-order thinking is therefore possible only in certain languages, like English and Afrikaans. But Swahili? I mean, can you learn enough in it … can you do a degree through it, I mean really? ’Oh, the language does not have the technical words …’, so there is a diminishing of the language by saying something like this.  But in fact every language is able to convey higher-order thinking, abstraction and so forth. Because the very nature of human language is that we acquire language because of our need to make and convey meaning … to make ourselves known.”

Lorna laat konferensiegangers in ’n ander speletjie met BabelAR kennismaak. Dis ’n KI-karaktertjie wat al die tale in die wêreld kan praat. Saam met hom vertrek almal in die lokaal op ’n narratiewe reis en leer nuwe woorde.

Sy keer terug na die wetenskapfiksie- en storie-tema.

“There is an engaging story behind the character. The emotions and the storytelling parts are important. A narrative story game. It aims to show children the value of the languages they speak. (Society also needs to show children the value of their mother tongue. How? By creating jobs, by positive social interaction.)”

Mantoa Motinyane van Noordwes-Universiteit reageer op Lorna se aanbieding en noem dat sy vanuit die perspektief van ’n ouma kan sien hoedat hierdie speletjie met ’n drakiefiguur haar kleinkinders sal motiveer om ’n ander taal aan te leer.

Ja, daar is belemmerings en hindernisse wat veroorsaak dat ons mekaar nie verstaan nie. Daar is die gewig van oorweldiging weens die omvang van die meertaligheidskompleksiteit.

...........
Lorna Carson se aanbieding toon dit is moontlik om brûe oor hindernisse te bou.
.............

Lorna Carson se aanbieding toon dit is moontlik om brûe oor hindernisse te bou.

Op pad huis toe skakel ek weer die radio aan.

Iemand moet van die Baqonde-projek kennis neem. Voordat daar verdere onomkeerbare skade aan mense se tale en lewens aangerig word.

Lees ook:

BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson

BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia

Toyota US Woordfees 2022-diskoers: Konteksveranderinge in die Afrikaanse letterkunde

I wish I'd said: an interview with Mantoa Motinyane

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top