Een van my en my vierjarige dogtertjie, Hania, se gunstelingslaaptydstories is Agnès de Lestrada en Valeria Docampo se The Land of the Big Word Factory, ’n sjarmante Franse boek waarvan die Suid-Afrikaanse Engelse uitgawe (deur Charl Cilliers) in 2014 by Protea verskyn het. (Protea Boekhuis het ook ’n Afrikaanse vertaling uitgegee.)
Daar is ’n land, so begin die storie, waar die mense amper nooit praat nie. Die rede vir hulle swye is nie vrees vir die staat of sensuur nie, maar omdat woorde geld kos. Woorde word in ’n groot fabriek vervaardig, en jy moet hulle kan bekostig om hulle te kan gebruik. Sommige woorde is vir almal behalwe die rykes onbekostigbaar duur; die gewone mense gebruik hulle amper nooit nie. Die armes soek in die vullisdromme vir weggooiwoorde …
Die hoofkarakter in die boek, ’n seun met die naam Daniel, is verlief of Hanli. Hy wil vir haar sê: “Ek hou van jou” – maar hy kan dit nie bekostig nie. Hy het nie genoeg geld om daardie woorde te koop nie. Al wat hy het, is drie woorde: kersie, materiaal, en stoel. Hoe gaan hy dit regkry om vir haar te sê hoe hy oor haar voel met net hierdie skamele woorde tot sy beskikking? Om sake te vererger, moet Daniel meeding met Heiko, sy aartsvyand en die seun van baie ryk ouers. Heiko is ook op Hanli verlief, en hy besit al die woorde wat hy nodig het om vir haar te sê dat hy haar liefhet en eendag met haar gaan trou.
Die storie het ’n mooi en romantiese einde. Heiko kry dit nie reg om Hanli se hart met weelderyke taal te wen nie. Daniel se drie woorde, hoe arbitrêr en ontoereikend ook al objektief beskou, is voldoende. Hy verwoord sy liefde en Hanli hoor hom; en sy beantwoord dit met ’n woordelose soen.
Op hierdie punt slaap Hania al, gesus deur ’n storie waarin liefde sterker is as rykdom en egte gevoelens die tekorte van ons vermoë om dit te kommunikeer oorleef. Maar haar pa, self ’n swendelaar van verslete konsepte en halfprys idees, lê nog ’n rukkie langs haar en nadink oor die skreiende waarhede wat in hierdie amper-marxistiese teks vervat word. Nie oor liefde nie, maar oor taal.
Woorde word, anders as in die storie, wel nie in fabrieke vervaardig nie, maar die vermoë om te praat, om in spesifieke kontekste stemhebbend te wees, om die mag te hê om te benoem en te konseptualiseer, is oneweredig tussen mense versprei. Sommiges se woorde weeg swaarder as dié van ander. Sommiges het meer geleenthede om hulle sê te sê. Sommiges se woorde het groter impak. Sommiges se name verskyn nie bloot op strate en geboue nie, dit koloniseer die betekenisruimte en verkry die allure van “common sense”, van vanselfsprekendheid.
Sommiges se werklikheid, hulle ervarings en belange, het tot so ’n mate histories verobjektiveer geraak in die grammatika, semantiek en woordeskat dat hulle kan bekostig om taal as bloot ’n deursigtige, neutrale kommunikasiemedium te beskou.
As taal een van die belangrikste produksiemiddele is van sin en betekenis, van die ontsluiting, toe-eiening en omvorming van die werklikheid, moet ons erken dat daar ook in hierdie domein sprake is van rykdom en armoede, van opgegaarde en oorgedraagde kapitaal en grootskaalse vervreemding, en van ongelykheid en ongeregtigheid. Daarom het elke politieke stryd ’n taalpolitieke dimensie. Wat ook al anders materieel op die spel is, ’n politieke stryd gaan altyd ook oor begrippe, definisies, en spraakregte. Die taal self – die woorde, die definisies, die name en maniere van praat – word ’n objek en terrein van betwisting. Woorde word onaanvaarbaar verklaar, gebreek, toegeëien, en herontplooi – om lig te werp op die ideologiese aard van wat voorheen vanselfsprekend was en om ruimtes oop te maak vir die artikulasie van ander, voorheen gemarginaliseerde, stemme, ervarings en realiteite.
Dit is waarom ons in ’n land soos Suid-Afrika soveel tyd daaraan spandeer om te baklei oor woorde – hoe hulle gedefinieer moet word, waarna hulle verwys, wie hulle mag gebruik. Die woord rassisme is ’n goeie voorbeeld. Is rassisme enige vorm van vooroordeel en diskriminasie op grond van ras, wat beteken dat wit én swart mense rassisties kan wees, en dat hulle rassisme dus ekwivalent is? Of is rassisme die historiese uitspeel van ’n pseudowetenskaplike ideologie van rassehiërargie en spesifiek wit superioriteit, wat beteken dat alhoewel swart mense bevooroordeeld kan wees teenoor wit mense, rassisme spesifiek verwys na die onderwerping en uitbuiting van almal wat nie “wit” is nie? Dit gaan nooit net oor die woorde self en hulle “korrekte” gebruik nie; ’n suiwer analitiese benadering is ontoereikend om die wilde waters van taalpolitiek te navigeer.
Die dominante groeperinge in ’n samelewing, wie se werklikheid nog verskans word deur die vanselfsprekendheid van woorde (al kom dit toenemend onder druk, en juis daarom), reageer dikwels met irritasie en selfs bespotting op hierdie dimensies van taalpolitiek; op semiotiese skermutselinge en die skynbare onsinnigheid van konseptuele dekonstruksie en nuutskepping. Die inkorting van spraakregte (dink aan die kriminalisering van raspejoratiewe) word gesien as ’n aanslag op ’n demokratiese vryheid. Die skep van nuwe terme, dikwels ad hoc en vreemd op die oog en oor (dink aan die debat oor die gebruik van die woord womxn), word dikwels gesien as ’n vorm van “newspeak”, soos George Orwell teen uitgevaar het. Pogings om die historiese sedimente van rassisme, seksisme en ander vorme van dehumanisering in taal uit die weg te ruim, word gemaklik afgemaak as “politieke korrektheid”.
Dit is egter reduksionisties en uiteindelik reaksionêr. Alhoewel ’n mens natuurlik ’n kritiese ingesteldheid moet behou, is deelname aan hierdie soort taalpolitiek noodsaaklik vir ons selfbegrip (veral ons selfbegrip soos dit ontwikkel in gesprek met ander) en die omvorming van die werklikheid op so ’n manier om dit meer te maak: meer inklusief, meer menslik, meer genuanseerd, en sagter.
Reg aan die einde van The Land of the Big Word Factory onthou Daniel dat hy nog een woord oor het, ’n laaste woord om nie net sy liefde aan Hanli te bevestig nie, maar om aanspraak te maak op die wêreld. Dit is, inderdaad, die woord meer.
https://www.litnet.co.za/challenge-language-post-apartheid-south-africa/
https://www.litnet.co.za/litigating-multilingualism/
https://www.litnet.co.za/comments-on-the-revised-language-policy-for-higher-education-2017/
Kommentaar
Wat n lieflik verbeeldingryke verhaal rondom ’n baie ernstige tema ... die besitreg van woorde. Onmiddellik anders as die skrywer wat die storie eintlik as ’n dekmantel gebruik om die daders van apartheid-rassisme weereens met ’n woordspies te verwond, dink ek aan die groter, Lewende Woord wat uit die geestesdimensie kom en vlees word en met sy tong kom woorde praat in tyd. Hoe Sy woorde oorlog maak teen die leuentaal van die bose wat betekenis en waarheid omdop en verwrong. Politiese korrektheid oopvlek as huigelary en eerder waarheid in liefde as vrymakend kom offer.
Daar was nog nooit op aarde ’n volk of mensdom sonder skuld of sonde nie, maar gelukkig is daar is wel vergifnis vrylik en in grootmaat beskikbaar. Hoekom is dit dat die sonde van apartheid goddelike onvergifnisstatus bereik het? Het dit wraak geword, hierdie woorde wat soos spiese steek?
Haai nee, gaan lees die artikel weer maar hierdie keer sonder enige vooropgesette idees. Dalk verbaas dit jou om te sien wat daar staan.
Baie dankie vir hierdie insiggewende rubriek, Desmond!
Ek het nou die dag van die strand af gaan visvang. Pleks van 'n vis, kry ek toe 'n lampie aan die hoek, en sowaar hy het nog gebrand!
Orraait! as jy so tien jaar by jou dogtertjie se ouderdom byvoeg, sal ek my lampie doodblaas.
Tyd 'spandeer'?
Sjoe, wat 'n meevoerende verhaal is dit nie. Ek kan my indink watter blywende impak pa se storie op sy dogtertjie het en verewig sal hê.
Tel jou woorde, woorde verteenwoordig wys- of dwaasheid, woorde skep altyd iets en is nooit neutraal nie en woorde is, inderdaad, duur. Koester die woorde wat jy het en gebruik dit spaarsaam (komende van 'n grootbek soos ek).
Jy bereik daardeur altyd ... meer.