Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika deur Herman Giliomee, Bernard Mbenga, en Bill Nasson (redakteurs): ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika
Herman Giliomee, Bernard Mbenga, en Bill Nasson (redakteurs)
Tafelberg-Uitgewers
ISBN: 9780624092315 

  1. Inleiding

Gedurende my deurlees van Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika besoek ’n verpleegster my aan huis. Dat ’n jong Afrikaanse seun soos ek geskiedenis bestudeer vir ’n lewe gee dié tannie baie hoop, seg sy – sy en haar man is self baie lief vir geskiedenis Sy vra waaroor doen ek navorsing. “Die NG Kerk se teenstand teen kommunisme tydens apartheid, Tannie.” Haar hoop raak vinnig wanhoop. Sy reageer mismoedig: “Kan ons nou nie apartheid maar los nie – dis mos iets van die verlede!”

............
Keer op keer kry ek die vraag: “Nou watse geskiedenis leer jy?” Die vraag drup van die skeptisisme. Ek weet wat steek agter die vraag: Glo jy die nuwe regime se verhaal of glo jy in die “ware” geskiedenis van die vorige bedeling?
..............

Die ironie gaan haar verby. Ek is wel nie verbaas nie. Keer op keer kry ek die vraag: “Nou watse geskiedenis leer jy?” Die vraag drup van die skeptisisme. Ek weet wat steek agter die vraag: Glo jy die nuwe regime se verhaal of glo jy in die “ware” geskiedenis van die vorige bedeling?

So word historiese “waarhede” teen mekaar gestel wat deurdrenk is met nasionalistiese impulse, een uit die heersende ideoloë van die verlede en die ander uit die hede. En ek kan my nie met een van die twee vereenselwig nie. Geskiedkundiges behoort trouens selde met nasionalistiese eenvoud saam te stem. Die verlede is, nes die hede, te morsig, verweef en dinamies om in enige nasionalistiese narratief te verval. Charles van Onselen, een van ons vooraanstaande geskiedskrywers, gaan verder en beklemtoon tereg die geskiedkundige se plig om heersers se pogings om die verlede toe te eien vir eie gewin te stuit. Hy sluit sy laaste boek, The night trains, af met: “... but all historians have to aspire to writing about the past in ways that cannot readily be appropraited by the ruling classes of the day.” Want, waarsku hy, “[they] wish to make knowledge about the past the servant of a present that they alone wish to define and inflict on the citizenry” (2019:213).

Die lys gesoute skrywers van Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika, met redakteurs Hermann Giliomee, Bernard Mbenga en Bill Nasson wat voor vat, neem hierdie verantwoordelikheid ernstig op. Die boek bied ’n verhaal aan wat beide historiese en hedendaagse nasionalistiese verdraaiings van die verlede ondermyn.

Die vraag is wel of hierdie tweede uitgawe ’n waardige opvolger van die eerste een is.

 

  1. Geskiedskrywing teen die grein van nasionalisme en populisme

Geskiedskrywing kan beoordeel word onder andere deur te kyk na die mate waarin dit eenvoudige nasionalistiese narratiewe ondermyn. Verantwoordelike historici gaan moeisaam om met die grysheid, die deurmekaarspul van die menslike verlede om te verstaan en kan daarom nié netjiese en eensydige weergawes wat deur eietydse nasionaliste, of populiste in die breë, verkwansel word, aanvaar of glo nie. Anthony Smith, ’n sosioloog wat in nasionalisme spesialiseer, gaan hiermee akkoord en voeg by dat veral geskiedkundiges van die skerpste opponente en kritici van nasionalisme is. Dis veral in die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog dat geskiedkundiges aan nasionalisme “a variety of harmful consequences, ranging from absurd social and cultural policies to totalitarian terror and global destabilisation” toegeskryf het (1992:58). Smith gee wel toe dat geskiedkundiges ook histories van nasionalisme se mees prominente skeppers en aanhangers was. Hulle het dikwels “the moral and intellectual foundation for an emerging nationalism” gebied (1992:58). Dit is ook die geval in Suid-Afrika, waar geskiedskrywing die intellektuele onderbou van die koloniale en nasionalistiese projekte gebied het. Dit is dus belangrik vir kontemporêre geskiedskrywing om beide huidige en historiese vereenvoudigings te weerstaan, en Nuwe geskiedenis word ook so geposisioneer. Uit die staanspoor staan dit krities teenoor magshebbers se misbruike van geskiedenis vir historiese metanarratiewe. Dat koloniale interaksie voorheen voorgestel was “as pioniers se inspuiting van die Europese beskawing en moderniteit in ’n land van agterlike en meesal ondankbare stamgebonde ’hordes’” word afgemaak as bog. Ook die “kru rassistiese leerstellings” van wit historici van vorige dekades, waar die Boer-Brit-, of Afrikaans-Engels-paradigma so oorheers het dat swart mense gereduseer was tot die “naturellevraagstuk/-probleem”, word streng veroordeel (Nuwe geskiedenis, bl xiii). Die boek is ’n afstammeling van oorspronklike werke soos The Oxford history of South Africa (1969), wat ’n “koloniale feeverhaal” van die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse samelewing uitgedaag het. Dit beur voort om vereenvoudigde nasionalistiese narratiewe teen te staan tot vandag, 2022, waar ’n opwelling van “eietydse Afrikanistiese geskiedskrywing waardeur die kollig op heroïese weergawes van die struggle teen apartheid die apartheidstaat en wit minderheidsregering val”, gekompliseer word (xiv). Daarteenoor bied dit ’n korrektief: “Die essays streef om growwe skeeftrekkings en vooroordele in die Suid-Afrikaanse historiografie van die verlede reg te stel, terwyl dit ’n vars historiese weergawe wil gee” (xiv). En dit met die diepte van akademiese navorsing en toeganklikheid van ’n maklike naslaanboek met illustrasies, kassies en tydlyne om lesers op enige vlak deur die verlede van Suid-Afrika te lei.

Penguin Random House South Africa

Die boek bestaan uit vier dele waarin die growwe skeeftrekkings deurgaans reggeruk word. Soos reeds genoem, word vorige idees oor die ontstaansgeskiedenis van Suid-Afrika reeds uit die staanspoor uitgedaag. Die eerste deel steun op deeglike argeologiese en geografiese studies om die Suid-Afrikaanse verhaal sowat twee miljoen jaar terug te gaan haal. Dit strek deur die Steen- en Ystertydperk tot by die stigting van die vroegste nedersettings en die begin van koloniale verowering. Daarna dek deel twee die transformasie van die politieke terrein in die vroeë 19de eeu aan die hand van verwoestende oorloë in die binneland. Aan die Kaap, onder Britse bewind, is daar amper ’n liberale rigting ingeslaan, maar daar is toe na nasionalisme gedraai. Die stryd om beheer van Suid-Afrika se minerale wat uitgeloop het op die Suid-Afrikaanse Oorlog en die daaropvolgende Uniewording in 1910, word in deel drie ondersoek. Die laaste deel dek die dekades na die einde van die Tweede Wêreldoorlog en strek oor die apartheidsjare, die struggle teen die wit minderheidsregime, die oorgang na apartheid, en die demokratiese jare onder ’n ANC-regering.

Die rits akademiese skrywers neem verantwoordelike besluite in hul benaderings en skroom nie om met historiografiese tekortkominge, metodologieë, debatte of mites te worstel nie. Daar is byvoorbeeld ’n duidelike verduideliking oor rotskunsdatering, en uitgebreide kommentaar oor hoe historici inheemse bronne soos mondelinge tradisie en bronne in inheemse tale ontgin. Lesers word ook gereeld bewus gemaak van historiografiese ontwikkelings, debatte en perspektiewe, soos by besprekings oor die redes vir die Mfecane, idees van Afrikaner-uitverkorenheid, beweegredes vir die Suid-Afrikaanse Oorlog, en die impak van die Waarheid-en-versoeningskommissie. Geskiedkundige mites, soos dat die Europeërs en swart Afrikane Suider-Afrika gelyktydig binnegekom het, kry ook die nodige aandag.

Dit is dus duidelik dat hierdie saamgestelde boek gesitueerd is in algemeen aanvaarde akademiese praktyk. Daarby lei dit die gewone leser om te verstaan hoe geskiedenis as vakgebied beoefen word.

Jonathan Ball Publishers

 

  1. Wat is nuut aan hierdie nuwe(r) geskiedenis?

Die bostaande is grotendeels oorgedra van Nuwe geskiedenis se eerste weergawe. Wat is dan nuut aan Nuwe geskiedenis?

..............
Wat is dan nuut aan Nuwe geskiedenis?
.............

Voor die inhoud onder die loep kom, wil ek graag teen die grein die boek op sy buiteblad beoordeel. Met die eerste oogopslag neem mens kennis van die nuwe formaat en ontwerp. ’n Dik hardebandboek in ’n rooi omslag begroet die leser. Gekleurde bladsyrande maak dit maklik om tussen hoofstukke te onderskei, en twee boekmerklinte maak plekhou maklik. Dit is opvallend tot watter mate hierdie boek in sy fisiese vorm verskil van sy voorganger, en hoe dit die persepsie beïnvloed. Beide se inhoud dra vanselfsprekend dieselfde gravitas – die lys van gerespekteerde argeoloë, sosioloë, politieke wetenskaplikes en historici bewys dit – maar die formaat waarin dit verpak is, maak hier saak. Die doel van Nuwe geskiedenis, soos die redakteurs self in die voorwoord verklaar, is om ’n wetenskaplike dog toeganklike verhaal van die verlede aan die breë publiek te vertel. Dit wat eens ’n toeganklike koffietafelboek was waarvan die glanspapierblaaie gewag het om oopgeslaan te word, is opgevolg met ’n statige boekrakboek wat optel en lees ontmoedig. Vergeleke met sy voorganger het Nuwe geskiedenis minder foto’s en grafika. Dit is te verstane dat hoë drukkoste waarskynlik die uitgewers se beweegrede hier was. Tog sou mens verwag het dat geen koste ontsien behoort te word op puntenerige proeflesers om die omvattende bibliografie se bronverwysings ooreenstemmend te kry nie, of om lastige notas wat sekerlik bedoel was vir die uitlegspan, soos op bladsy 31, te verwyder nie.

Die bostaande relaas is uiteraard subjektief en triviaal. Die inhoud is van groter belang. Dit verg doelgerigte vergelykende leeswerk om uit te pluis wat nuut is in hierdie uitgawe van Nuwe geskiedenis. Die hoofstukke en die kerninhoud van sy voorloper blyk behoue te gebly het, terwyl moeite gedoen is om ’n groter diversiteit van skrywers te betrek om bykomende brokkies by te werk. Dan is daar die byvoeging van ’n nuwe kernhoofstuk aan die einde van die boek. Bill Nasson behartig die laaste hoofstuk met sy kenmerkende skerpsinnigheid en oog vir ironie. Met so ’n algemene historiese verhaal is die beginpunt makliker om vas te stel as die einde. Die redakteurs wys tereg ook daarop dat “sommige lesers sal dink dat dit nie regtig ’geskiedenis’ is om ’n tydperk so onlangs soos die laaste 25 jaar in oënskou te neem nie, veral as ’n mens in ag neem hoeveel daarvan noodgedwonge onseker menings, geleentheidsbespiegelinge en tentatiewe voorspellings is” (xxiv). In teenstelling met die deeglike verduideliking oor waar die boek se beginpunt lê, is die einde vaag gelaat – in elk geval, wanneer eindig geskiedenis dan nou werklik? Dit lyk of die laaste hoofstuk losweg die laaste dekade en ’n half dek, maar geen historiese merker of konkrete tydlyn word gebruik om die leser te oriënteer nie. Dit voel of mens in die middel van ’n storie hang. En inderwaarheid is dit presies waar lesers van die boek hulle in 2022 bevind: in die middel van tyd tussen ’n verlede van kolonialisme, apartheid, reënboognasie-idealisme en korrupsie, en ’n onvoorspelbare toekoms.

Terselfdertyd laat hierdie “einde” toekomstige lesers met meer vrae oor die oomblik waarin Suid-Afrikaners van die 2010’s en 2020’s hulle bevind het. Wat wel na vore kom, is ’n eendimensionele verhaal van die Suid-Afrikaanse samelewing. Toegegee, die boek het ’n “bepalende beklemtoning van die galvaniserende kragte van die politiek en ekonomie” (xv). Tog verweef voorafgaande hoofstukke dit wat buite die formele politiek aan’t gebeur was, met heersende magte om die spanning wat dikwels tussen dié twee bestaan het, te beskryf. Met ’n komplekse verlede soos Suid-Afrika s’n behoort verweefde geskiedskrywing standaard wees. Hierdie verweefdheid verdwyn in hierdie laaste hoofstuk en die daaropvolgende epiloog. Die verhaal van korrupsie, wanbestuur en magshonger politici word meesterlik gesintetiseer, maar ’n eng blik op die land se nabye verlede word weergegee: een waar die ANC, en die grootmanne wat die land regeer, die enigste lens is om sin te maak van ’n komplekse samelewing.

................
Met ’n komplekse verlede soos Suid-Afrika s’n behoort verweefde geskiedskrywing standaard wees. Hierdie verweefdheid verdwyn in hierdie laaste hoofstuk en die daaropvolgende epiloog. Die verhaal van korrupsie, wanbestuur en magshonger politici word meesterlik gesintetiseer, maar ’n eng blik op die land se nabye verlede word weergegee: een waar die ANC, en die grootmanne wat die land regeer, die enigste lens is om sin te maak van ’n komplekse samelewing.
.................

Die gevolg is dat toekomstige lesers nie kennis gaan maak met ’n rits historiese faktore wat prominent gestaan het in die 2010’s en 2020’s nie.

Die oormatige fokus op die ANC as Suid-Afrika se formele heersende mag verdoesel Suid-Afrikaners se reaksies op die regerende party se onbeholpenheid wat in die laaste hoofstuk beskryf word. Ontnugtering met die huidige bestel het na byna drie dekades op verskeie manier begin manifesteer. Die eerste opvallende leemte is die weglating van die verskeie Fallist-bewegings. Vir ’n nuwe generasie universiteitstudente en jong denkers was die Rhodes- en Fees Must Fall-veldtogte bepalende oomblikke om uiting te gee aan frustrasie oor die bagasie van die verlede en die status quo van die hede. Die meriete en prominensie van die bewegings behoort betwis te word, maar dat dit ’n belangrike episode in die onlangse verhaal van Suid-Afrika is, is beslis.

..............
Die eerste opvallende leemte is die weglating van die verskeie Fallist-bewegings. Vir ’n nuwe generasie universiteitstudente en jong denkers was die Rhodes- en Fees Must Fall-veldtogte bepalende oomblikke om uiting te gee aan frustrasie oor die bagasie van die verlede en die status quo van die hede. Die meriete en prominensie van die bewegings behoort betwis te word, maar dat dit ’n belangrike episode in die onlangse verhaal van Suid-Afrika is, is beslis.
...............

Daaruit het sluimerende perspektiewe oor dekolonialisering, radikale ekonomiese hervorming en die aftakeling van voortgesette wit oorheersing hoofstroomwasdom bereik.

Verder is daar so te sê geen sprake van populistiese reaksies op die onbeholpe staat nie. Xenofobie word in die verbygaan genoem, maar daar is geen poging om sin te maak van die verskynsel nie, nog minder van hoe opportuniste op die grond en binne die formele politiek hierdie narratief inspan vir goedkoop gewin nie. Daarby kan populiste wat ras- en etniese verskille uitbuit, gevoeg word. Etniese mobilisering in KwaZulu-Natal wat ingespan kon word tydens die gewelddadige onluste in 2021 en moderne Afrikaner-laertrekkery word nie verreken in die verhaal van Suid-Afrika in die laaste 15 jaar nie. Die georkestreerde uitbuiting van rasseretoriek deur Jacob Zuma se mediatrawante van Bell Pottinger wat witmonopoliekapitaal in Suid-Afrikaner se kele af gedruk het, word ook onvermeld gelaat. Hierdie leemtes verberg ook hoe populiste en opportuniste die geskiedenis misbruik. Die Fallist-beweging, etniese mobiliseerders en politieke partye steun op verskeie perspektiewe, soms ook mites, van die verlede om narratiewe vir eie gewin te skep. Die eendimensionele blik op Suid-Afrika se onlangse verlede lei ons dus nie na ’n dieper verstaan van ons huidige oomblik nie, maar spreek uitbuiters vry van enige verwronge misbruik van die geskiedenis. In pluralistiese samelewings waar mag vele vlakke het, is dit ook moontlik vir enige instelling, etniese groep, party of populis om die geskiedenis te verdraai op ’n soortgelyke manier as nastionaliste. Dis hierteen dat die geskiedkundige net so moet teenstand bied.

In kontras met voorafgaande hoofstukke word opposisie politiek geïgnoreer weens die oordonderde fokus op die regerende party. ’n Kassie op bladsy 648—9 oor 2021 se plaaslike verkiesing gee ’n duidelik oorsig van die oploop en uitslae, maar wend geen poging aan om die dinamika van opposisie politiek en wat dit van die Suid-Afrikaanse samelewing sê, te verduidelik nie. In die hoofteks bly die Demokratiese Aliënasie en Economic Freedom Fighters randfigure. Die oploop van die laasgenoemde se stigting en ondersteuning word nie eers erken nie terwyl hul invloedryke leier Julius Malema nêrens ’n verskyning maak nie. Die verhaal van die DA, die land se tweede grootste party, se snelle groei, stagnasie, en toe dramatiese verkrummeling hoort tog van belang te wees om die 2010e en 2020s te verstaan; veral nog in ag genome dat die ANC-regering in die selfde tyd ’n uiters ongunstige rekord van dienslewering getoon het.  

Dis gerieflik om ’n lys op te stel van wat nie in so ’n omvattende boek of in ’n hoofstuk is nie. Tog, as daar ’n kassie kan wees oor die “wonder van Afrikaans”, waarin daar oor ses bladsye die verhaal van die taal se opkoms en klaarblyklike ondergang beskryf word, behoort daar rekening gehou te kan word met faktore soos dié waarop hier bo gewys is. Dit is immers nie net ’n lys gebeure nie, maar patrone van ontnugtering, intergroepspanning, samewerking en vernuwing wat na vore kom in reaksie op ’n swak staat. Die kwessies wat onaangeraak is in die bygewerkte hoofstuk en epiloog, is nie leemtes in besonderhede nie, maar tekenend van ’n skeefgetrekte poging om die huidige bestel se metanarratief te ondermyn. In die proses om so eng daarop te fokus om die ANC-regering te kritiseer (en as daar een ding is wat dié regime verdien, is dit alle kritiek wat hulle toekom!), verdwyn die onderliggende strominge van die nabye verlede wat die toekoms van Suid-Afrika kan bepaal. Sodoende word Suid-Afrikaners dan uitgebeeld as onbeholpe onderdane van die staat met geen agentskap nie. Die geskiedkundige behoort hier in te tree om dit wat nie so voor die hand liggend is nie, uit te wys om sodoende die nasionalistiese en populistiese metanarratief van dié wat aan bewind is, te ondermyn.

............
Die kwessies wat onaangeraak is in die bygewerkte hoofstuk en epiloog, is nie leemtes in besonderhede nie, maar tekenend van ’n skeefgetrekte poging om die huidige bestel se metanarratief te ondermyn. In die proses om so eng daarop te fokus om die ANC-regering te kritiseer (en as daar een ding is wat dié regime verdien, is dit alle kritiek wat hulle toekom!), verdwyn die onderliggende strominge van die nabye verlede wat die toekoms van Suid-Afrika kan bepaal. Sodoende word Suid-Afrikaners dan uitgebeeld as onbeholpe onderdane van die staat met geen agentskap nie. Die geskiedkundige behoort hier in te tree om dit wat nie so voor die hand liggend is nie, uit te wys om sodoende die nasionalistiese en populistiese metanarratief van dié wat aan bewind is, te ondermyn.
................

In die epiloog skryf Nasson tereg dat die ANC in die onlangse jare “bly vasklou aan sy rare ritueel van toeëiening [sic] as die natuurlike verpersoonliking van nasionale eenheid. Dié mantra bly ’n soort titelakte vir sy voortsetting as die gesalfde regering in Suid-Afrika” (657). Dit is dan teenstrydig om hierdie mantra te ondermyn deur die regerende party die enkele spil te maak waarom die laaste dekade en ’n half se geskiedenis geskryf is.

  1. Slot
.............
In 2022 staan Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika nog sy plek vol as ’n waardige bron voor hierdie ou land met sy vele stories wat in een verhaal vloei. Mites word weerlê, debatte word uitgewys, balans word nagestreef, en kompleksiteit word omarm.
................

In 2022 staan Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika nog sy plek vol as ’n waardige bron voor hierdie ou land met sy vele stories wat in een verhaal vloei. Mites word weerlê, debatte word uitgewys, balans word nagestreef, en kompleksiteit word omarm. Vir die kompleksiteite van die Suid-Afrikaanse samelewing in die 2010’s en 2020’s sal egter op ander bronne gesteun moet word – hier dink mens aan die onlangse History of South Africa from 1902 to the present (2021) deur Thula Simpson. Tog, in sy geheel bring Nuwe geskiedenis Suid-Afrikaanse lesers na ’n beter geheelbeeld van die verhaal waarvan hulle deel vorm. Nuwe geskiedenis bind die Suid-Afrikaanse gemeenskap in ’n goue draad (soos die een wat op die voorblad pronk) aan hulle verlede en noop ons om aanhoudend te vra, à la Anton Goosen: “Wie is die ons in ’ons vir jou, Suid-Afrika?’”

 

Bibliografie

Giliomee, H, B Mbenga en B Nasson (reds). 2022. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. 2de uitgawe. Kaapstad. Tafelberg.

Simpson, T. 2021. History of South Africa from 1902 to the present. Kaapstad. Penguin Books.

Smith, AD. 1992. Nationalism and the historian. International Journal of Comparative Sociology, XXXIII(1–2):58—80.

Van Onselen, C. 2019. The night trains: moving Mozambican miners to and from the Witwatersrand mines, 1902–1955. Johannesburg. Jonathan Ball.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: 1795 deur Dan Sleigh

Toyota US Woordfees 2022: Dan Sleigh roskam uitgewers oor verspreiding van pseudogeskiedenis

Afrikaanse geskiedskrywing: ’n Nuwe geslag, ’n nuwe ruimte, ’n nuwe uitdaging

The lie of 1652 deur Patric Mellet: om die verlede te herverbeel

Geskiedskrywing in die "Nuwe Suid-Afrika" – om te vergewe sónder om te vergeet

Sol Plaatje: A life of Solomon Tshekisho Plaatje, 1876‒1932 deur Brian Willan: ’n resensie

Om jou ’n Zoeloemonarg raak te verbeel: Johann Lodewyk Marais oor die uitbeelding van Shaka

Sol T Plaatje: A life in letters – edited by Brian Willan and Sabata-mpho Mokae

New African Graphic Novel Launches

History Matters by Bill Nasson – a book review

Historiese relevansie en betekenisvolheid

Milner – last of the empire-builders by Richard Steyn: a book review

LitNet: Jou nuwe geskiedenis

Die Afrikaners: ’n onderhoud met Hermann Giliomee oor die boek en die kykNET-reeks

History of South Africa from 1902 to the present, ’n lesersindruk

Paul Murray takes a look at the Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top