Toyota US Woordfees 2022: Dan Sleigh roskam uitgewers oor verspreiding van pseudogeskiedenis

  • 7

Uitgewers wat hulle aan die verspreiding van pseudogeskiedenis skuldig maak, is voor stok gekry deur die geskiedkundige, skrywer en navorser Dan Sleigh tydens vanjaar se Woordfees in Stellenbosch.

Sleigh, wat bekend is as ’n geskiedenisspeurhond, was in gesprek met die kultuurhistorikus Matilda Burden oor sy omvattende boek Retoervloot: Kaapstad en die VOC in 1713.

Sy boek werp nuwe lig op die destydse retoervlote van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) uit Nederland wat die oseane tussen Europa en die Verre Ooste eeue gelede deurkruis het.

Die gesprek in die Boektent tydens vanjaar se Woordfees het egter veel wyer gedraai as net sy boek. Hulle het ook gekyk na die verskil tussen geskied- en kroniekskrywing.

Sleigh het dit onder meer gehad teen skrywers en uitgewers wat hulle skuldig maak aan die verspreiding van mites en verdraaiings wat ten duurste as geskiedenis aan lesers opgedis word.

Hy het verskeie voorbeelde genoem van sulke mites wat later as die evangelie aanvaar en versprei word. Dikwels is dit egter van alle waarheid ontbloot. Volgens Sleigh moet die uitgewers van sulke boeke in die eerste plek pa staan daarvoor.

Hy sê dit is ’n tendens wat al hoe meer voorkom en draai nie doekies om oor na wie se werk hy verwys nie. Karel Schoeman is een van die bekende  skrywers op wie se werk mens volgens hom nie kan staatmaak as geskiedkundig korrek nie.

Foto van Dan Sleigh: Naomi Bruwer

Nog ’n persoon op wie se historiese stellings mens nie kan peil trek nie, is Lawrence Green, het beide die sprekers gesê. Tog word hy dikwels as ’n gesaghebbende bron aangehaal. Burden sê dit is verstommend hoeveel keer Lawrence Green se naam in die bronnelyste van geskiedkundige werke verskyn. Sy sê dikwels vir haar studente hulle mag hom aanhaal, maar net wanneer dit oor mites en legendes gaan. Sy bronverwysings is volgens beide Burden en Sleigh dikwels net “in the minds of the old people” sonder enige primêre bron om dit te staaf. Dit is goed en wel om hom as ’n volkekundige bron te gebruik, maar as historiese bron moet mens maar mooi trap vir Lawrence Green, sê Burden.

Sleigh sê pseudogeskiedenis is niks anders as vals geskiedenis nie. “Dit is foutiewe inligting wat deur die uitgewer aan u verkoop word teen R360 per boek.”

Hy het verskeie voorbeelde genoem om sy argument te staaf. Een hiervan is die foutiewe opvatting dat die pokke aan die Kaap destyds met ’n Deense skip in die Kaap aangekom het. Tydens die navorsing vir Retoervloot kon Sleigh vasstel watter skip werklik die draer was van die verwoestende epidemie van kinderpokke wat in die Kaap uitgebreek het. Dit was naamlik een van die skepe van admiraal Johannes van Steelant van die VOC se retoervloot.

Sleigh sê dit is uitgewers se plig om hierdie soort pseudogeskiedenis te polisieer.

Nog ’n voorbeeld van ’n mite waarmee ons saamleef, is die mite van die bekende wynplaas Kanonkop in Stellenbosch se kanon. Op hulle webwerf staan daar die naam Kanonkop is afgelei van ’n koppie op die Simonsberg bokant die wynlandgoed van waar daar gedurende die 17de en 18de eeue ’n kanon afgevuur is om die aankoms van seilskepe wat Tafelbaai binnevaar, aan te kondig.

Die gedreun van die kanon sou volgens die landgoed se webwerf die sein wees aan plaaslike boere wat wag om die 50 km lange reis na die hawe aan te pak om hul waens met vars vrugte en groente te laai met produkte om te ruil.

Green was een van dié wat daardie storie oorvertel het en later is dit as die waarheid aanvaar. “Dit is egter niks anders as ’n legende nie, maar mens kan dit nie vir Kanonkop se mense vertel nie want hulle wil dit nie hoor nie,” het Sleigh gesê.

Sleigh sê kanonkoppe is die hele Wes-Kaap vol. Die doel van die kanonne was om as alarmstelsel te dien om die burgers op te roep om gereed te maak as die Kaap verdedig moet word. Dit het niks met boere en hulle produkte te doen gehad nie.

Dit is maar net een van die vele mites wat as geskiedenis aan goedgelowiges opgedis word, maar daar is verskeie ander, sê Sleigh.

Hierdie mites van die Kaapse geskiedenis is volgens hom die gevolg van massa-onkunde, gebrekkige onderwys en programme op populêre radiostasies soos RSG wat sy opvoedkundige plig versaak deur mites en pseudogeskiedenis uit te saai.

Volgens Sleigh is daar ou mites wat baie onskuldig is, soos die mite dat Suid-Afrika ’n reënboognasie is. Of die mite dat die suidoostewind oor die Kaapse Vlakte waai. Die waarheid is dat die suidoostewind net in die stadskom waai en nie oor die Kaapse Vlakte nie.

Die nuwe mites wat geskep word, is egter minder onskuldig. Hulle word soms met opset geskep met een of ander politieke doel of ideologie voor oë. Een so ’n voorbeelde is die amandelheining wat deur Van Riebeeck aangeplant sou gewees het om die verskillende rasse aan die Kaap van mekaar te skei en uitmekaar te hou.

“Selfs oudpresident Thabo Mbeki het hierdie mite as ’n feit verkondig toe hy die Waarheid-en-versoeningskommissie se verslag in ontvangs geneem het tydens sy presidentskap.” Sleigh sê die waarheid is dat daar nooit so ’n heining in Van Riebeeck se tyd bestaan het nie.

Nog ’n moderne mite is dat Van Riebeeck die Khoi-tolk Krotoa (Eva) verkrag het. Daar bestaan geen geloofwaardige bronne wat dit bevestig nie, maar tydens ’n program op RSG oor Krotoa is daar drie maal na die verkragting van Krotoa verwys. Selfs die Wes-Kaap se provinsiale regering versprei hierdie mites wat in omloop is.

Sleigh het verskeie ander soortgelyke voorbeelde aangehaal van swak navorsing wat as die waarheid opgedis word.

Hierdie mites het volgens hom gewoonlik ’n ideologiese basis. Hy sê mens leer egter om die retoriek daarvan raak te sien. “Hulle gebruik vae terme soos ’narratiewe’ vir wat in werklikheid net ’n storie is. Hulle neem gewoonlik ook ’n subjektiewe standpunt in. Dit is hulle eerste loopgraaf, maar as jy hulle uit daardie loopgraaf jaag, spring hulle na die tweede loopgraaf en dit is emosie.”

Wetenskaplike navorsing vereis van ’n historikus om primêre bronne te raadpleeg en nie op sekondêre bronne staat te maak nie. Hy of sy moet moreel neutraal bly en alle subjektiwiteit afsweer. Die waardes en oordele van die hede mag ook nie deur die geskiedskrywer op die verlede toegepas word nie, sê Sleigh.

Mense soos Karel Schoeman en Gustav Preller was volgens hom nie geskiedskrywers nie, maar kroniekskrywers wat nie die geskiedenis wetenskaplik ondersoek het nie.

Een van die internasionale boeke wat hy uitgesonder het as pseudogeskiedenis wat groot reklame gekry en roem verwerf het, is 1421: The year China discovered the world deur Gavin Menzies. Hy beweer in die boek dat die vlote van Chinese admiraal Zheng He die Amerikas besoek het voor die Europese ontdekkingsreisiger Christopher Columbus in 1492.

Sleigh sê die Suid-Afrikaanse regering was so trots op hulle Oosterse kamerade dat hulle ’n hele uitstalling daarvan in die Kaap gereël het, maar dit is alles fiksie. Daar is selfs ’n webwerf wat hierdie boek bladsy vir bladsy uitmekaar skeur en as fiksie ontbloot.

Sommige van hierdie skrywers is volgens Sleigh niks anders as patologiese leuenaars nie. Hulle kaap en verdraai die geskiedenis en verkondig dit dan as die evangelie.

Hy sê  dit is alles gemik op ideologie om die oningeligtes ’n rat voor die oë te draai om openbare denke te manipuleer.

Selfs Tafelberg Uitgewers, wat sy eie boeke uitgee, het al minstens een pseudogeskiedenis-publikasie die lig laat sien. Dit is deur die Wes-Kaapse biblioteekdiens geadverteer as niefiksie, en word deur die Universiteit Stellenbosch aangekoop vir die gebruik van hul personeel en studente. Selfs ’n predikant, wie se naam hy nie wou noem nie, het die boek by lesers aanbeveel asof dit geskiedenis is.

Sleigh sê die vraag wat mens jou moet afvra, is of die uitgewer meer belangstel in korttermynwins as in etiek en waarheid wanneer hulle sulke boeke publiseer.

Volgens hom is dit niks anders as ’n misdaad nie. “As dit pseudogeskiedenis is, moet hulle nie die lesers wysmaak dit is niefiksie nie, want dan word dit onder ’n vals etiket verkoop. Dit is gif en mislei die onkundige publiek en versprei selfs verdraaide inligting onder Kaapse toergidse. Dit veroorsaak ook verwarring in museums, wat bydra tot algemene veronnoseling, onder die publiek,” sê Sleigh.

Lees ook op Voertaal en LitNet:

Eeue oue joernaal onthul geheime van Nederlandse retoervlote

Dan Sleigh skryf VOC se retoervlootstelsel en die oorsprong van verwoestende pokke aan die Kaap oop

Retoervloot deur Dan Sleigh: ’n resensie

  • 7

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Ek het dit ook onlangs teengekom dat dr Dan Sleigh van die hedendaagse pogings deur selfs prominente taalkundiges in boeke en artikels, om die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans te herverbeel en te verouder na die 1400's, as pseudogeskiedenis ontbloot.

  • Bravo, Dan. So bly jy kan nog mense reghelp en baie, baie dankie vir jou woordskepping "veronnoseling".

  • Prof Johan Fourie slaan die mite op sy kop dat vroeë burgers armlastig en kriperend was met sy argiefstudies, wat duidelik wys dat Kaapse burgers, in vergelyking met Amerikaanse landelike burgers destyds, net só goed indien nie beter af nie (in die geval van wyn- en brandewynboerderye) was as hul Amerikaanse tydgenote.

  • Philip Cronjé

    Hoor, hoor, Dan!
    Ek het onlangs 'n boek van Gustav Preller in 'n tweedehandse boekwinkel uitgekrap, gekoop en met groot opwinding begin lees. Na die eerste paar bladye wat Preller my oor die Voortrekkers in Suidwes wou wys maak, kon ek nie meer nie. Daar staan dit nou in my boekrakkie. Geen wonder dit was in so 'n goeie toestand in die eerste plek nie.

  • Petrie Coetzee (Dr)

    Ek het goeie rede om Dan Sleigh se kommentaar en siening oor geskiedskrywing te ondersteun en te glo. Dankie Dan Sleigh. 👏

  • Ons het meer Dan Sleighs nodig om die verdraaide feite wat aan skoolkinders as evangelie opgedis word, te ontbloot.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top