Retoervloot
Dan Sleigh
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624092520
’n Geluk is ’n geluk
.......
’n Geluk is nie iets wat ’n mens aldag tref nie, maar soms gebeur dit wel. Dit het die historikus Dan Sleigh ervaar toe hy toevallig in die biblioteek van die Witwatersrandse Universiteit ’n joernaal ontdek wat die Nederlandse admiraal Van Steelant in 1713 geskryf het oor sy terugvaart uit Batavia na Nederland.
..........
’n Geluk is nie iets wat ’n mens aldag tref nie, maar soms gebeur dit wel. Dit het die historikus Dan Sleigh ervaar toe hy toevallig in die biblioteek van die Witwatersrandse Universiteit ’n joernaal ontdek wat die Nederlandse admiraal Van Steelant in 1713 geskryf het oor sy terugvaart uit Batavia na Nederland. Die joernaal is nog nie vantevore ondersoek nie, en dit bevat waardevolle inligting – Sleigh se geluk is daarom ook ’n geluk vir die lesers van sy jongste publikasie, Retoervloot. Hierin gee die skrywer ’n verkorte, vertaalde weergawe van die joernaal, maar hy bied veel meer as dit – ’n magdom gegewens oor die VOC, oor die “Kaapse vlek” en ook oor die skrywer van die joernaal.
Die oorsaak van die pokke-epidemie aan die Kaap
........
Seker die belangrikste inligting wat uit die joernaal afgelei kan word, is dat die pokke-epidemie wat die Kaap in 1713 getref het, versprei is vanuit die Sandenburg, die boot waarop Van Steelant gevaar het.
.........
Seker die belangrikste inligting wat uit die joernaal afgelei kan word, is dat die pokke-epidemie wat die Kaap in 1713 getref het, versprei is vanuit die Sandenburg, die boot waarop Van Steelant gevaar het. Van Steelant se vyf kinders, wat saam met hom op die boot was, het almal pokke gekry. By die Kaap aangekom, was daar nie ’n mediese amptenaar op die landsboot wat die inkomende bote geïnspekteer het nie, en op land is daar gevolglik geen kwarantynmaatreëls getref teen die verspreiding van pokke nie. Hoewel Van Steelant se kinders toe reeds van hul siekte herstel het, is hul klere in die slawelosie gewas, en vanaf die kinderklere het die pokkevirus deur die slawelosie versprei en van daar deur die hele nedersetting. Uiteindelik het 1 984 mense aan die pandemie gesterf – ongeveer 50% van die bevolking; die Koina is feitlik totaal uitgewis. Sleigh vertel ’n interessante verhaal om te illustreer hoe lank die pokkevirus buite die menslike liggaam kan voortleef. Hy vertel van die graf van ’n pokkeslagoffer wat in 1759 in ’n dorpie in Engeland oopgegrawe is, 30 jaar na sy dood, om plek te maak vir ’n nuwe lyk. Al die begrafnisgangers het pokke gekry, en van hulle af het dit oor die hele dorp versprei.
.........
Hoewel die pokke-epidemie die verreikendste gevolg van die besoek van die retoervloot van Van Steelant was, is geen amptelike melding gemaak van pokke aan die Kaap of aan boord van die Sandenburg nie – nóg in die dagregister van Helot, die waarnemende Kaapse bevelvoerder, nóg in die joernaal van Van Steelant. Onrusbarende inligting word liefs verswyg.
...........
Hoewel die pokke-epidemie die verreikendste gevolg van die besoek van die retoervloot van Van Steelant was, is geen amptelike melding gemaak van pokke aan die Kaap of aan boord van die Sandenburg nie – nóg in die dagregister van Helot, die waarnemende Kaapse bevelvoerder, nóg in die joernaal van Van Steelant. Onrusbarende inligting word liefs verswyg.
’n Komplekse admiraal
Van Steelant was nie net admiraal van die retoervloot nie, maar is ook aangestel as kommissaris wat ondersoek moes instel na die VOC-bestuur aan die Kaap. Uit die verslag wat hy oor die Kaap geskryf het, blyk dit hoe ernstig hy sy werk opgeneem het en hoe noukeurig hy sy werk gedoen het. Hy was een van die min kommissarisse wat werklik vir die burgers van die nedersetting omgegee het en op wantoestande gewys het; hy het skerp kritiek gehad vir die onbekwaamheid van die gesagvoerder Helot. By sy tuiskoms is hy deur die Here Bewindhebbers ondervra en hulle het bevind dat hy ’n regverdige admiraal en ’n bekwame kommissaris was; hulle het hom dan ook beloon met ’n medalje aan ’n goue ketting.
Uit sy joernaal blyk dit dat hy ’n liefdevolle vader was, en die intense smeek- en dankgebede in die joernaal toon sy opregte godsdienssin. Sleigh wys egter ook op ’n skadukant aan sy persoonlikheid: ’n Ernstige aanklag van korrupsie is teen hom gemaak deur sy opvolger as sekunde in Nagapatnam aan die ooskus van Indië. Hoewel hy nie deur die Raad van Justisie in Batavia vervolg is nie, het ’n groot aantal getuies tog beskuldigings van private handel en afpersing teen hom ingebring. Wat ook teen hom tel, is die feit dat hy stilgebly het oor die pokke aan boord van die Sandenburg. Moontlik wou hy verhinder dat sy ’n werk as kommissaris uitgestel word, maar sy stilswye het die Kaap duur te staan gekom. Van Steelant was waarskynlik, in die woorde van die 17de-eeuse Nederlandse digter en dramaturg Joost van den Vondel, “nochte heel vroom, nochte onvroom”.
Opkoms en val van die VOC
.........
Sleigh plaas die joernaal van Van Steelant binne die konteks van die bedrywighede van die VOC. In 1602 gestig, het die organisasie mettertyd in ’n magtige handelsryk ontwikkel. Die kaarte wat by die boek ingesluit is, toon die uitgestrektheid van die gebied waar hulle handel gedryf het.
...........
Sleigh plaas die joernaal van Van Steelant binne die konteks van die bedrywighede van die VOC. In 1602 gestig, het die organisasie mettertyd in ’n magtige handelsryk ontwikkel. Die kaarte wat by die boek ingesluit is, toon die uitgestrektheid van die gebied waar hulle handel gedryf het. Batavia was die sentrum van ’n groot Oos-Indiese invloedsfeer; die hele kuslyn van Ceylon (Sri Lanka) was onder die beheer van die VOC; ook aan die ooskus van Indië het hulle verskeie handelsposte gestig. Die rykdom wat uit hierdie handel voortgevloei het, was onbeskryflik. Samuel Pepys, sekretaris van die Britse admiraliteit, het byvoorbeeld in 1665 die waarde van die goedere op die vloot van admiraal Pieter de Bitter beskryf as “the greatest treasure that ever was together in the world” (25).
Die VOC het van die Nederlandse regering die reg verkry om ’n leërmag aan te hou en oorlog te voer. Hierdie mag is dikwels misbruik. Inheemse hoofde is gedwing om te produseer wat die VOC nodig het, en ongehoorsaamheid is swaar gestraf – die “rebelle” is aangeval en hul oeste is verbrand. Teen die einde van die 18de eeu het die mag van die VOC egter gekwyn. Dit het saamgeval met die oppermag wat die Engelse vloot op see bekom het na oorwinnings in meer as een oorlog teen Nederland.
Die VOC aan die Kaap
Die VOC het radikale veranderinge aan die Kaap aangebring. Geboue is opgerig, waarvan die massiewe Kasteel de Goede Hoop en die Groote Kerk die indrukwekkendste was; ’n kaai is gebou en paaie is gemaak. Nadat Van Riebeeck die boerdery verskuif het van die Tafelvallei na die Liesbeekrivier, het die verversingspos produktief begin raak. Verskeie buiteposte is gestig, wat verder tot die produktiwiteit bygedra het. Soos in die res van die VOC-ryk was hul koms egter nie aan die Kaap goeie nuus vir die inheemse bevolking nie. Die Koina is onderwerp en hulle het die weiding vir hul vee verloor; die Kompanjie het herhaaldelik buiteposte geskep en dan al die weiding in die omgewing opgeëis (148).
Deur werkskepping vir Europeërs en deur die slawehandel het die VOC grootskaalse verplasing van mense veroorsaak, en dit het die samestelling van die bevolking aan die Kaap ingrypend verander. Uit Afrika en uit die Ooste is slawe aangekoop; uit die Ooste het ook bannelinge gekom. Sleigh vertel van prins Tuan Yusuf, leier van die opstand teen die VOC in Makassar, wat ná die onderdrukking van die opstand in 1684 saam met 48 ander persone na die Kaap verban is. Sy woonplek en graf aan die Eersterivier se mond het ’n sentrum geword vir die verspreiding van die Moslem-geloof.
Die taal aan die Kaap is ook deur die aktiwiteite van die VOC beïnvloed. Maleisiese woorde en seemansterme is opgeneem in die Nederlands aan die Kaap en het daardeur deel van die Afrikaanse woordeskat geword. ’n Mooi voorbeeld wat Sleigh noem, het sy oorsprong in die reël op die skepe dat ’n matroos, as hy die derde keer deur ’n onderoffisier geslaan word, mag terugslaan. Van daar die sêding “derde maal is skeepsreg”.
Afdwaalpaaie
Uit die bostaande paragrawe oor die invloed van die VOC aan die Kaap blyk dit reeds dat Sleigh hom nie altyd streng by die bespreking van Van Steelant se joernaal hou nie. Van Van Steelant glip hy maklik oor na Jan van Riebeeck en na Tuan Yusuf. Hy vertel dikwels in die boek van dinge wat slegs rakelings met Van Steelant en sy joernaal verband hou; partykeer selfs van dinge wat nie eens rakelings daarmee verband hou nie. Dit sal sommige lesers pla; ander sal dankbaar wees vir die skat van inligting wat verskaf word, of dit nou ter sake is of nie. Dit is asof Sleigh nie die versoeking kan weerstaan om ’n aantal boeiende en wetenswaardige gegewens oor te dra nie, en baie lesers sal daaroor bly wees. Ek gee ’n paar voorbeelde van sy “afdwaalpaaie”.
In die uiteensetting oor die ontstaan van die VOC se handelsryk en die ontwikkeling van die stad Batavia word ’n volledige lys gegee van ál die VOC se goewerneurs-generaal, van 1610 tot 1796 (36). Die stelling dat Van Steelant se vloot op 51 grade noorderbreedte is, lei tot ’n vertelling oor Pieter de Bitter en sy vloot, wat in 1665 op ongeveer dieselfde plek was. Hierdie vloot het met behulp van Denemarke ’n beslissende oorwinning oor die Britse magte behaal – “een van die hoogtepunte in die Nederlandse maritieme geskiedenis” (262).
Inligting word gegee oor die handelsware wat aan boord van die retoerskepe was – veral van belang vir die handel was peper, speserye en sye. Maar dan kom daar soms verrassende byvoegings: Kaapse leeus, kwaggas en volstruise is as geskenke na Oosterse potentate vervoer, en op ’n keer, in 1623, het prins Maurits gevra dat ’n luiperd, ’n kaketoe en ’n olifant vir hom gebring word.
Wanneer geskryf word oor die verwoesting wat orkane kon aanrig, word vertel wat in 1661 gebeur het met die retoervloot van Aernout de Vlamingh. Besonderhede oor die lotgevalle van elke skip in die vloot word gegee – boeiende leesstof, maar taamlik ver verwyderd van Van Steelant. In die hoofstuk “Opdrifsels” word vertel van die Franse seun wat meer as ’n jaar onder die Xhosas gewoon het onder die stamhoof se beskerming; in die hoofstuk “Afskeid en vertrek” is daar ’n vertelling oor Abraham van der Weyde, stigter van die eerste Vrymesselaarslosie aan die Kaap, wat op ’n noodlottige wyse sy humeur verloor het en toe in ’n tweegeveg gedood is. Genoeg om te toon dat Retoervloot ’n ensiklopedie van boeiende inligting is, met Van Steelant soms op die voorgrond, soms nie.
’n Vlagskippublikasie
Ten slotte moet melding gemaak word van die waardevolle kaarte en tekeninge voor in die boek, die kosbare versameling kleurfoto’s en die pragtige omslag. Om by die taal van die VOC te bly: ’n vlagskippublikasie!
Kommentaar
Beste LitNet,
Kan ik het boek Retoervloot aankopen en in Vlaanderen geleverd krijgen? Ik dank u voor een antwoord.
Vriendelijke groet.
Marc Vandepladutse, Brugge.
Goeiedag Marc Vandepladutse, en dankie vir die navraag. Ek dink die beste sal wees om die uitgewers van die boek hieromtrent te kontak. Hier is hulle besonderhede: https://www.nb.co.za/. Hoop dit help. Met beste wense, groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder
Retoervloot is Jona se walvis wat jou insluk, boeiend juis omdat dit veel meer is as bloot 'n skrywer (gevierde VOC-kenner en romanskrywer) se weergawe van admiraal Steelant se joernaal. Dit is 'n tour de force wat geskiedenis soos diamante uitpak.