Dan Sleigh skryf VOC se retoervlootstelsel en die oorsprong van verwoestende pokke aan die Kaap oop

  • 0

By die lees van Retoervloot – Kaapstad en die VOC in 1713 (Tafelberg, 2022), Dan Sleigh se mees onlangse geskiedeniswerk, meld ’n magdom indrukke hulle by ’n leser aan, oor die aard van ondernemingsgees en die ingewikkelde, droewige, dinamiese en steeds uitkringende nalatenskap daarvan.

Sleigh het Willem de Vries se vrae beantwoord.  

Dan Sleigh (Foto: Naomi Bruwer)

Jy word internasionaal as een van die voorste kenners van die era van die VOC beskou. Was daar enigiets spesifieks wat jou belangstelling in die geskiedenis omgesit het in ’n passie daarvoor? Wat het tot die skryf van Retoervloot aanleiding gegee? 

Die motivering was hoofsaaklik die plesier van VOC-studies, as gevolg van die interessantheid, onuitputlike rykdom en veelvuldige beloning daarvan.

Aan die inligting wat in Retoervloot gepubliseer is, het al lank ’n behoefte in VOC-historiografie bestaan, eerstens oor die beheer en werking van die stelsel, tweedens oor die oorsprong of bron van die 1713-pokke-epidemie.  

In ’n lesing in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere in Pinelands het jy vertel van die internasionale aandag wat daar vir die VOC-geskiedenis in byvoorbeeld Japan bestaan. Hoe is dit gesteld met VOC-bakens en -toerisme elders? Wat sou jy graag in hierdie verband in die Kaap wou sien gebeur?

Die VOC se nagelate erfenis word internasionaal gedeel. Die Japannese regering het in 2011 die VOC se dubbelverdieping-, driegewelpakhuise in Hirado heropgerig en ’n pragtige museum daarin geplaas. Hulle het ook die VOC se kunsmatige eiland in die baai van Nagasaki herbou, die geboue weer opgerig en gemeubileer, ’n replika-retoerskip ingeslote, ter wille van toerisme. In Indonesië en Sri Lanka is VOC-geboue gerestoureer en ingespan vir amptelike gebruik en toerisme. In Nederland publiseer die toerisme-owerheid geïllustreerde handleidings in verskillende tale oor VOC-oorblyfsels en -museums in verskeie stede en streke, soos The VOC guide for North Holland van ongeveer 20 bladsye vir onder andere Hoorn, Enkhuizen, Texel en Huisduinen. Daar is minstens drie volskaalreplikaskepe vir toeriste om te geniet, in Lelystad, Amsterdam en Rotterdam.

Kaapstad, gestig deur die VOC (daar is nie veel stede in die wêreld waarvan die stigtingsdag bekend is nie) en voorheen die politieke en ekonomiese hoofstad van die kolonie, het ver agter geraak. Hier is geen VOC-museum nie, en oorblyfsels uit die VOC-tyd wys tekens van agteruitgang, verwaarlosing en misbruik. Wat ek onder andere in Kaapstad wil sien, is dat die Stadsraad die stad se unieke identiteit erken, ontwikkel en benut. Ons het meer kleur (vlae, parades) en musiek in die strate nodig, en ons rare en onderwaardeerde Kasteel de Goede Hoop behoort ’n behoorlike, apolitiese Museum van Kaapstad te wees, insluitend ’n maritieme museum, waarin die VOC-tyd sterk verteenwoordig is, en met deeglik opgeleide gidse. Dit het nodig geword dat die stad beheer oor die Kasteel kry en dit tot sy voordeel benut. Ek dink aan iets soortgelyk aan die Museum of London en die Museum van Amsterdam. Daar was reeds in 1996, met die steun van die Nederlandse Konsul, ’n tydelike VOC-uitstalling in die Kasteel, wat daagliks druk besoek is. (Foto’s van die uitstalling en ook die besoekersboek bestaan nog.) In die drie maande vandat Retoervloot verskyn het, is ek deur sewe kultuurgroepe gevra om daaroor te praat. Daar is ’n duidelike verlange na en behoefte aan inligting oor Kaapstad in die Pionierstyd.

Jy skryf oor die Klein Ystyd en die uitwerking wat dit gehad het op internasionale handel en skeepsroetes. Waarom was die handel in speserye so belangrik en die mededinging tussen lande daarvoor so intensief? Bestaan daar enige parallelle wat ’n mens kan deurvoer na vandag?

Speserye is tydens die Klein Ystyd aangewend as medisyne, as preserveermiddel en om vleis meer eetbaar te maak. Maar die grootste aansporing was die winsgrens op Oosterse speserye.

Die stigting van die Generale Vereenichde Geoctroijeerde Oost-Indische Compagnie in 1602 het, soos die Oerknal, geweldige skeppende en vernietigende kragte vrygestel, skryf jy. Watter hiervan was geslaagd in die tyd waarin dit plaasgevind het en wat het later teen die al hoe groter wordende VOC getel? Wat is die vernaamste nawerking van die VOC vandag?

Die meeste van die Kompanjie se ondernemings was geslaagd, anders sou hulle nie kapitaal daarin belê het nie. Die Kaapse maritieme diensstasie was ’n duur mislukking, totdat Jan van Riebeeck die inisiatief geneem het om die diensstasie se produksiestelsel uit die Tafelvallei na die Liesbeeckvallei te verskuif. Wat in later jare teen die VOC getel het, was sy logge, duur administrasie, korrupsie op alle vlakke en aggressiewe Britse imperialisme. Die VOC se vernaamste nalatenskap beskou ek as onder andere die wêreldstad Kaapstad, gestig deur en vir die VOC, sy argief (as ’n bruikbare en betroubare venster op die verlede), die Afrikaanse taal en die Wes-Kaapse bevolking, afstammelinge van Koina, Oosterlinge, Europeërs en Afrikane uit Wes-Afrika, Madagaskar en Mosambiek.            

Die VOC het met sy gedesentraliseerde administrasie en verreikende beleggings in die 1600's amptelik magte uitgeoefen wat tot in daardie stadium net aan ’n soewereine staat behoort het. Dit was danksy die oktrooi van die State-Generaal waaroor jy skryf, ook dat dit die eerste multinasionale maatskappy was. Het enige ander lande in daardie jare ’n soortgelyke benadering aan dié van die VOC kon volg? Hoe het die voorbeeld van Nederland en die VOC verskil van ander lande wat ook magtige handelsvlote gehad het?

Die VOC se vernaamste konkurrente was die Engelse Indiese Kompanjie en daarna die Franse, Sweedse en Deense Oos-Indiese Kompanjies. Die eerste Engelse Kompanjie (India Company) is ouer as die VOC. Ek ken nie die mededingers genoegsaam om punte van verskil te identifiseer nie, maar die VOC het hulle op vele gebiede afsonderlik en ook gesamentlik oortref.

Wat het die VOC vir Nederland beteken en blý speel dit ’n rol in hoe moderne Nederland daar uitsien?

Die Kompanjie was die staat se grootste belastingbetaler, die grootste skeepseienaar (hy was verplig om sy skepe as oorlogskepe aan die Staat beskikbaar te stel), en die land se grootste werkgewer; hy het ook vroue in diens geneem, en moes ’n persentasie van sy winste aan armsorg skenk.  

Sy suksesse was ’n dryfkrag agter die beroemde Goue Eeu, wat onder andere die skilderkuns insluit. Handelaars kon byvoorbeeld skilders betaal vir hul werk, en Oosterse kleurstowwe soos Vermeer se kenmerkende  helderblou verf van lasuursteen gemaak, is deur VOC-skepe aangebring. Vandag is die VOC se ryk nalatenskap in die stede sigbaar, in eeue oue pakhuise en kantoorgeboue met die VOC-monogram wat museums met soewenierwinkels huisves, ’n volhoubare goudmyn vir toerisme. Daar bestaan leerstoele vir Maritieme Geskiedenis by die universiteite van Leiden, Amsterdam en Rotterdam wat studente uit alle dele van die wêreld lok. Belangrike VOC-datums soos Stigtingsdag (20 Maart) en Betawiedag (30 Mei) word jaarliks feestelik deur kultuurgroepe herdenk.

Die enjin van die VOC se mondiale mag en tegnologiese vernuwing was in sy retoervlote gesetel. Hoe het hierdie stelsel in die praktyk gewerk?

Die vraag verg ’n lang, lang antwoord. Die samestelling, voorbereiding, organisasie, bestuur, diens en ontvangs van die vlote is in uitgebreide vorm in Retoervloot te vind.

Aan die hand van admiraal Van Steelant se persoonlike joernaal bied jy aan lesers ’n gedetailleerde beeld van hoe die retoervlootlewe moes gewees het, ook hoedat op ’n spesifieke retoervaart ’n verwoestende kinderpokke-epidemie na Suid-Afrika gebring is (die grootste ramp wat die Kaap ooit getref het, skryf jy), ook dat Van Steelant se persoonlike joernaal die enigste primêre bron van dié inligting is. Hoe het die pokke aan die Kaap versprei?

Van Steelant se joernaal is nie die enigste bron van inligting oor die pokke nie, maar die enigste wat jou help om die bron daarvan te identifiseer. Amptelike dokumente soos die Resolusies van die Politieke Raad, Inkomende en Uitgaande briewe en Opgaafrolle bevat ook inligting. Die pokkevirus versprei deur kontak. Van die vlagskip af is dit in die kinders se wasgoed na die slawelosie, van daar af na die burgerslawe, en so na die burgery en Koina. Dit is waarskynlik na die distrikte Stellenbosch en Drakenstein toe gedra deur buitepos Klapmuts se hooiwa. Dit was die Kaap se grootste ramp van die VOC-tyd ten opsigte van sterftes, maar daar was ook groot materiële rampe soos die verlies van nege retoerskepe in die ramp van Junie 1722 en die winterstorm van Julie 1822 wat skade van £25 000 sterling aan regeringsgeboue alleen veroorsaak het.  

Is daar na behore rekenskap van die pokke-epidemie gegee in die VOC se amptelike geskrifte van die tyd, soos Van Steelant se skriftelike verslag aan die VOC? Waaraan kan die hantering daarvan bes moontlik toegeskryf word? Was hier sprake van ernstige nalatigheid deur die VOC?

Dit is onseker of Van Steelant geweet het dat pokke hier uitgebreek het. Dit word nie in amptelike stukke genoem voor die vloot se vertrek nie. Hy noem dit ook nie in sy verslae aan die Here Sewentien nie. Dit kan opsetlik wees, maar dokumentasie daaroor is nog nie gevind nie.  

By verre die grootste slagoffer was die Khoikhoi-bevolking, hul inheemse ekonomie en eie kultuur. Hoe het die VOC hierdie situasie in die Kaap hanteer en wat was die uitwerking van die pokke-epidemie aan die Kaap in die breë?

Openbare samekomste soos kerkdienste, huwelike, groot begrafnisse en vendusies is tydelik gestaak. Geen amptelike plakkate (wette) is vir dié doel uitgereik nie. Die landdros en sy klerke het verlof gevra om nie plase te besoek om opnames te maak of kwartaallikse verslae Kasteel toe te bring nie. Die Politieke Raad het vermoed dat daar nie gesaai en geoes gaan word nie, en het ’n vrag rys uit Batavia aangevra. As gevolg van die skielike tekort aan slawe is die fregat Leijdsman (dieselfde Leijdsman van Van Steelant se vloot) in 1715 met goud, gewere, kruit, lood en alkohol op ’n aankooptog Madagaskar toe gestuur. Ontstamde Koina wat die siekte ontkom of oorleef het, het werk op plase gesoek en moes boerderytegnieke en Nederlands aanleer.

Watter uitdagings het die verwerking van die joernaal aan jou as skrywer gestel?

As skrywer, geen probleme nie. Ek het lank vir die geleentheid gewag en was gereed daarvoor. Dit was moeilik om illustrasies te vind – die Covid-regulasies het verhoed dat ek Europa toe gaan om hulle te versamel, en daarbenewens was verskeie museums en biblioteke vir lank toe en het hulle geen diens gelewer nie. Sommige afbeeldings, soos die skilderye van Van Steelant en van die vloot wat op die boek se omslag afgedruk is, het uit hul bewaarplekke “verdwyn”. 

As jy terugkyk op die navorsing, watter indruk maak Van Steelant vandag op jou? Hoe het die joernaal in die Gubbins-versameling beland?

In die joernaal kom Van Steelant voor as ’n man met ’n hoë rang wat ’n suksesvolle loopbaan agter die rug het, die Kaapse administrasie reggeruk en ’n retoervloot veilig tuis gebring het. Dit is miskien te verwagte, want hy het self die teks geskryf. Ek vermoed dat sy sekretaris, Isaac Scheepers, ’n kopie van die teks gemaak en dit saamgebring het toe hy in 1714 Kaap toe gemigreer het, want dit was ook die rekord van sy eie “groot avontuur”. Gubbins was ’n Africana-versamelaar, en kon dit moontlik op ’n vendusie van Scheepers se nakomelinge bekom het.

Hoe is dit tans gesteld met die bewaring en beskikbaarheid van primêre bronne vir VOC-navorsing in Suid-Afrika? Skenk argiewe en spesiale versamelings genoegsame aandag daaraan? Wat beskou jy as ruimte vir verbetering sodat volgende generasies die verhale en feite van die geskiedenis geredelik sal ontsluit?

VOC-dokumente in die Wes-Kaapse Argief is in goeie hande, maar opvoeding, opvoeding en nogmaals opvoeding is nodig om die behoorlike bewaring en benutting volhoubaar te maak. Opvoeding is ook nodig om die publikasie en verspreiding te bestry van pseudogeskiedenis deur gewetenlose skrywers met ideologiese oogmerke en hul uitgewers wat meer in korttermynwinste as in opvoeding, verspreiding van inligting of etiek belang stel. As dit nie bestry word nie, kan pseudogeskiedenis deur die uitbuiting en massamisleiding van oningeligtes ’n nuwe verwoestende epidemie word.   

Retoervloot verskyn in die era van COVID-19. Bied die geskiedenis vir hedendaagse lesers en besprekings interessante parallelle wat betref die hantering van die twee epidemies, en hoe daar in verskeie eras op so ’n reeks uitbrekings gereageer word?

Omdat pokke nog nie tevore aan die Kaap voorgekom het nie, het ervaring sowel as kundigheid in 1713 ontbreek. Die verwarde reaksie van politici op COVID-19 in 2020 dui hoofsaaklik op swak regering.  

Nederlandse seelui en die retoervlootlewe het tale verryk, ook aan die Kaap. Retoervloot het ’n verklarende woordelys wat dit dan ook ryklik illustreer. Watter woorde en terme in Afrikaans (en Engels) kan ’n mens vandag herlei na gebruik op die destydse retoervlote? En hoe het dit gebeur dat byvoorbeeld die Koina indertyd toenemend ’n proto-Afrikaans gepraat het? Watter rol het die retoervlote aan die Kaap daarin gehad?

Ek weet nie waarom die Koina toenemend ’n proto-Afrikaans gepraat het nie, maar dit is byvoorbeeld waar ten opsigte van Kok se Griekwas wat tot by die Vaalrivier getrek het en die Afrikaners, gewapen en te perd, wat struikrowers geword het. Ek stem nie saam met die teorie dat vroeëre Afrikaans reeds voor Van Riebeeck se aankoms in Tafelbaai se strand gepraat is nie. Daardie teorie berus op ongetoetste aannames. Die werklike toestand aan die Kaap ten opsigte van kommunikasie, ná 50 jaar van Nederlandse skeepsbesoeke, word op 7 April 1652 deur Van Riebeeck in die Dagregister beskryf. Hy het ’n beperkte getal matrose aan wal gestuur om vis te vang en na briewe te soek. Hulle kom terug met vis wat hulle in die Soutriviermond getrek het, briewe en twee inboorlinge. Een is Autshomao, ’n Strandloper wat naby die see woon en in die beste posisie sou wees om Nederlands aan te leer. Deur middel van handgebare en enkele Engelse woorde (dus, geen Nederlands of Afrikaans nie) verstaan Van Riebeeck dat daar van hulle geen vee te kry sal wees nie, omdat “hulle maar (bestaans-) vissers is”.

Skeepsvaart in die VOC-tydperk het tot groot vindingrykheid te midde van groot gevare op die oop see en aan verraderlike kusgebiede gelei. Wat is voorbeelde hiervan wat jou bybly?

Besonder interessant is die waarneming van natuurverskynsels – Van Steelant weet aan die voorkoms van die see dat hy op die Agulhasrif is; aan weerlig in Februarie dat hy naby die Kaap is; en deur die aanwending van gisbestek, by gebrek aan kennis of middele om die lengtegraad te bepaal, om te navigeer.

Jy skryf in Retoervloot oor die kuns om alles in ’n skeepsruim te kon verpak vir ’n reis wat maande sou duur – alles van peperkorrels tot porselein en vate wyn tot, by tye, selfs lewende olifante en "fraaije gestreepte woudezels" (kwaggas). Wat kon alles skeefloop op ’n retoervaart as daar nie behoorlik na die pakwerk omgesien is nie?

’n Menigte dinge kon skeefloop, moontlik met noodlottige gevolge. Enkele voorbeelde: Enigiets wat nie seevas besorg is nie, sal rondval as die skip rol, self skade opdoen en ook skade veroorsaak aan die skip en bemanning. Vrag van bepaalde kleure of reuke wat met ander vrag in aanraking kom, kon dit kontamineer en waardeloos maak.    

Kaapstad, destyds "de Caabsche vleck", was aanvanklik ’n ongewilde verversingsplek, skryf jy. Wat het die meeste daartoe bygedra dat dit in die jare daarna aangegroei het tot ’n maritieme diensstasie?

Aanvanklik, in die Pionierstyd, kon besoekende matrose en soldate wat Ooste toe of huis toe wou vaar, hier van hul skepe gelig word om met die swaar werk te help (hout kap, bou, slote grawe) om ’n funksionerende skeepsdiensstasie aan te lê. Kos was min, skeepsvoorsiening was swak en moeisaam, en kanse vir ontspanning min. Nadat die diens behoorlik gevestig was, was daar eet- en drinkplekke, ’n behoorlike hospitaal en veel minder hardearbeid. 

Die Kaap was vanaf die jare 1700 kosmopolities danksy die ontmoetings tussen mense, kulture en denkwyses. Wat sou die aankoms van ’n retoervloot aan die Kaap beteken vir die plaaslike inwoners in daardie tyd, sowel as vir die VOC?

Die koms van die jaarlikse retoervloot in die laatsomer of herfs (schepentyd, oorlammentyd) het saamgeval met die swakste seisoen vir vars groente, maar dit was ook ’n vrolike tyd wat alle sosiale groeperings geraak het, met ongekende aktiwiteit op die reede, die proviandering van die vloot, tot drie duisend besoekers wat Oosterse ware te koop aanbied, winste in die drankhandel, losieshuise en tavernes, groter kerkbywoning en voller kollekteborde, bevorderings of afdankings in die administrasie, familie en vriende wat emigreer, en die groot afskeidsfees waarheen vooraanstaande Kapenaars genooi is.

Kaapstad se maritieme geskiedenis bly met die hede verweef. ’n Boek soos Retoervloot wys hoedat die geskiedenis ’n gesprek tussen eras en beskouings behels. Dit laat ’n mens dink aan die voorbeeld van die Golden Acre, vroeër genoem die Goue Akker, ’n naam wat dateer van lank voor verdiepinggeboue aan die Kaap verrys het en waaroor jy al voorheen geskryf het. Vertel iets meer hiervan, en die rol daarvan wat die retoervlote betref het.

Die belang en sukses van die maritieme aanvullingsdiens in Tafelbaai, soos oor 143 jaar deur die Kompanjie se retoervlote bewys, het ’n aanloklike teiken van groeiende Britse imperialisme geword. Die fisiese aanslag op die Kaap het van 1778 tot 1806 geduur. As hawestad op ’n belangrike seeroete in die Britse Ryk het Kaapstad, sy regering en bevolking ná 1795 ’n verreikende metamorfose beleef.   

As jy nou terugkyk op die navorsing vir Retoervloot en die groter navorsing waaruit dít ontstaan het, wat is die indruk wat die verhale van hierdie geskiedenis op jou maak? Bied die VOC-geskrifte en geskiedenis vir jou steeds en nuwe raaisels? Soms skryf ’n mens iets om dit dan te verstaan. Was daar vir jou in hierdie verband so iets toe jy aan die boek geskryf het? 

Beslis. Net enkele van vele voorbeelde: Was daar iets soos aangebore of natuurlike immuniteit teen pokke? Wat het ds Francois Valentyn bedoel toe hy in 1714 skryf dat hy ’n meerman in die see sien swem het? Waarom is die Kaapse brouer Mensinck nie in 1713 as medepligtige aangekla vir die moord op hul kind deur sy bysit nie? 

Waaraan werk jy tans?

Op die oomblik is ek met dringende bewarings- en omgewingsprojekte besig. 

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Retoervloot deur Dan Sleigh: ’n resensie

Eeue oue joernaal onthul geheime van Nederlandse retoervlote

Lees ook op LitNet Akademies en LitNet:

Die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see

Nederlandse seemanstaal en Afrikaanse uitdrukkings – ’n onderhoud met Annél Otto en Else Boekkooi

Lees ook op Voertaal:

Jan van Riebeeck en Krotoa se tyd: 10 verrassende feite

Een onderzoek als een spannend jongensboek

Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg: Struisbaai 1722 deur Jan Malan: ’n resensie

"'Vêrlander'-tentoonstelling geeft de Griekwa’s hun waardigheid terug"

Een boek dat alles heeft: Niels Posthumus neemt afscheid van Zuid-Afrika

Alle problemen begonnen met Van Riebeeck: de verbazende oogst van tien jaar journalistiek werk in Zuid-Afrika

Slavernij in Azië op de kaart

Hoeveel het Jan van Riebeeck gedrink op die Drommedaris?

Afrikaans: 10 kitsfeite

Intercontinental entanglements: slavery, Dutch colonialism and post-colonial identifications

Voertaal: De pruik van Jan van Riebeeck

Juni: Keti Koti maand – bezinningsmaand

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top